Thursday, June 21, 2012

Wat jy kry is wat jy sien!


Toe kom en gaan die eksamen toe nou Dinsdag en ek is so verheug dat dit verby is.  Hierdie eksamen het soveel opwinding verskaf wat ek met ‘n pre-eksamen blog verduidelik het, maar daar is ‘n hele storie wat gevolg het na die vorige blog.

Maandagaand voor die eksamen het ek ‘n krapperigheid in my oog ontwikkel.  Gelukkig het ek oogdruppels in die yskas gehad wat ek gedink het die probleem sou oplos.  Ek het druppels uit die yskas gaan haal en nadat ons dit ingegooi het eers agtergekom dat dit die verkeerde druppels was.  Mia, my dogtertjie was by ‘n oogspesialis wat vir haar druppels voorgeskryf het wat haar oogspiere verslap en haar pupille vergroot.  Ek moet sê, die krapperigheid in my oog was weg, maar ek het begin stress, maar darem gedink dat dit uitgewerk sal wees teen die volgende oggend. 

Toe ek Dinsdagoggend wakker word, het my oë gelyk asof ek op dwelms is.  Ek kon vêr sien, maar van naby sien was daar nie sprake nie, alles was ‘n waas.  Jy kan dink hoe moedeloos ek was na al die voorbereiding om nou met so ‘n agterlosigheid my kanse op die slaag van die eksamen in die wiele te ry.  Ek kry toe ‘n “clicks brilletjie” om te fokus en te lees, maar dit het baie inspanning geverg.  Dit is nou 3 dae later en ek kan al amper begin lees, maar jy kan jou voorstel hoe ‘n groot skok dit op jou sisteem is om binne ‘n paar ure jou 20-20 visie te verloor en nie te sien nie.

Ek is ‘n groot voorstander van Louise Hay se werk, veral “Healing your life”.  Die onderbou van haar werk is dat ons denke en emosies ‘n fisiese uitwerking het op ons.  Met ander woorde beteken dit dat alles wat ek dink ‘n werklikheid word in die fisiese wêreld.  Ons lees selfs in die Bybel daarvan dat jy nie eers sonde moet “bedink” nie, want dit is dan dieselfde as wat jy dit gedoen het.  Ek weet dat as ek die vers mooi analiseer dit dalk nie presies dieselfde beteken as wat Louise Hay bedoel nie, maar die beginsel is dat ons ons denke moet oppas.

Die agtergrond van my eksamen is die volgende.  Ek het ‘n nagraadse kwalifikasie in Finansiële beplanning en toe die wetgewing ingekom het dat almal hierdie eksamens moes aflê, het ek van die begin af gedink dat dit ‘n klomp nonsens is.  In my kop het ek geskop daarteen om die eksamen te gaan skryf.  Die afsnydatum vir alle adviseurs om die eksamen te skryf is 30 Junie 2012 en soos julle kan sien het ek dit tot die laaste week uitgestel om te gaan skryf. 

Kan dit dalk wees dat ek met my onderbewuste denke my situasie van “blindheid” fisies veroorsaak het?  Louise Hay gaan ook vêrder in haar werk en neem die fisiese kondisie en maak ‘n konneksie met watter tipe emosies dit kan veroorsaak.  Die oog en enige kondisie daarvan is die visie van die toekoms.  Amper kan ‘n mens dit terugbring daarnatoe dat ek nie kans gesien het om die eksamen te skryf nie. 

Louise Hay se denke lei ons ook om te verstaan dat niks toeval is nie en dat alles met ‘n doel gebeur en dat dit ons is wat dinge veroorsaak.  Daar is ander denke wat weer glo dat alles in God se hande is en dat alles wat gebeur “pre-destined” is.  Ek stoei nogal lank in my lewe oor hierdie idee, want ek glo eerder dat daar ‘n balans in alles is.  Ons is nie poppe waarvan God alles aan toutjies beheer en waar ek geen seggenskap het oor wat met my gebeur nie.  Ons het, tesame met die plan van God, ook beheer oor ons aksies, denke en emosies.

Maar alles begin by wat ek dink en wat ek voel.  Dit maak dit eintlik gevaarlik om so daaraan te dink, want jou denke kan dalk ook lei daartoe dat jy onbewustelik ‘n proses aan die gang sit wat verkeerde druppels in jou oë laat gooi.  Jou aksies is nie net “random” nie, al dink ons dinge is “toeval”. 

So sit ek vandag en wonder oor al die ander dinge wat ek dink oor die lewe.  Ek sit en wonder wat hierdie dinge in my lewe tot gevolg het of kan hê in die toekoms.  As ek so luister na mense om my en wat hulle denke is en standpunte, dan wonder ek nie meer hoekom die wêreld so deurmekaar lyk nie.  Mense wat dink dat alles toelaatbaar is, maak hulle hulleself nie oop vir die “toeval” van verkeerde middels wat in hulle oë beland nie?  Mense wat dink dat almal sleg is, gaan hulle nie “toevallig” in ‘n wêreld leef waar almal sleg gaan wees nie?  Wanneer ek dink dat almal leuenaars is, gaan ek nie “toevallig” mense om my hê wat vir my lieg nie? 

Ek glo nie in toeval nie, want daar is veel meer dinge in my lewe waar ek die uiteinde van dinge kan terug spoor na my denke en aksies.  Ons gee so maklik die skuld vir dinge aan ander mense en hulle aksies, asof ons dink dat ons uitgelewer is aan die noodlot.  Dit gaan nie net oor die negatiewe nie, maar in hierdie situasie bied dit ook aan my ‘n ongelooflike geleentheid.  As ek weet dat ek saam met God die skepper is van my eie lewe, kan ek dus vandag opstaan en verantwoordelikheid neem vir die lewe wat ek geskep het en kan ek weet dat ek môre vir myself ‘n fantastiese lewe kan skep.

Maar voordat ek 'n huis kan bou, moet ek eers ‘n plan opstel.  Hoe lyk die plan van die lewe wat jy wil bou?  Pas op wat jy dink, want dit is hoe jou huis gaan lyk!

 

 

No comments:

Post a Comment