Wednesday, June 13, 2012

Mike en die blik verf

Mike kry werk om die wit lyne op die teerpaaie te verf.  Sy eerste uitdaging is die lang reguit stuk pad tussen Beaufort-Wes en Colesberg.  Na die eerste dag is sy baas baie beïndruk, want hy het ‘'n stuk van 3 km op sy eie geverf, waar die gemiddeld so 800 meter is.  Die volgende dag verf hy 1,5 kilometer, die derde dag 500 meter en so word dit al hoe minder.  Sy baas is toe baie bekommerd en vra hom hoekom dit so is.  Mike antwoord:  “Meneer, dit word al hoe minder want weet jy hoe vêr is dit om elke keer terug te stap na die blik verf daar aan die begin?”

 

 

Soms voel dit asof dit al hoe moeiliker word om vordering te maak.  Dit voel soms vir jou dat jy vashaak en selfs met die mooiste bedoelinge kry jy dit nie reg om gelukkig en opgewonde die dag van vandag te leef nie.  Dit is natuurlik baie simplisties om te dink dat daar een antwoord is wat vir alle mense die oorsaak is, maar baie mense se probleem is dieselfde as Mike s’n.  Ons verfblik het êrens vasgehaak en elke liewe dag gaan ons eers weer al die pad terug na die verfblik.  Dit kan natuurlik ‘n pynvolle ervaring wees waarheen ek teruggaan, maar ook êrens waar ek sukses beleef het, wat soms meer gevaarlik kan wees.

 

 

Mike kan nou wawiele maak soos hy wil, die pad moet geverf word, vandag en vorentoe.  Mike sal baie vinnig moet leer om hierdie haakplek te oorkom, want anders gaan hy beslis sy werk verloor.  So moet ons ook leer om die haakplekke in ons lewens te oorkom, maar hoe doen ‘n mens dit?

 

 

1.  Vergewe:

 

 

Dit is een van die mees basiese beginsels wat ons dwarsdeur die Bybel lees.  Soms voel dit of ons nie die blik verf kan skuif nie, want dit is te swaar.  Vergiffenis is om te voel dat daar ‘n las van jou skouers af is.  Jy voel lig skielik weer asof jy energie het, dat jy lig en beweegbaar is.  Dit is nie net om ander mense te vergewe nie, maar soms ook jouself.  Jy sal moet leer om nie sulke groot “grudges” te dra teenoor dinge wat gebeur het met jou nie.  Daar is baie redes hoekom mense aan jou dinge gedoen het, wat nie altyd “aspris” en met opset was nie.  Hulle optrede was dalk deel van hulle eie prosesse en dalk voel hulle ook enorme skuld teenoor jou vir wat hulle aan jou gedoen het.  Dalk voel hulle niks nie, maar vergiffenis is so absoluut noodsaaklik vir jou om vorentoe te gaan.

 

 

Veral in verhoudings leer ons uit die Bybel dat die liefde nie boekhou van die kwaad nie.  Soveel van ons is elke liewe dag in ons redenasies met mekaar vasgevang in die kwaad wat ons voel iemand ons aangedoen het.  Dit maak ons sulke ou suur mense, want die tekort aan vergiffenis is ‘n gif wat jou hele lewe en elke faset gaan vergiftig.   Sommige van ons is onder die indruk dat vergiffenis iets is wat eers kan kom wanneer iemand my om verskoning kom vra.  Dit gaan dalk nooit gebeur nie, want mense dink almal anders oor situasies wat gebeur het.  Vergiffenis handel nooit oor “hulle” nie, maar oor “jou”. 

 

 

Vergiffenis handel ook nie oor “regmaak” nie, want aan gedane sake is daar geen keer nie.  Vergiffenis handel ook nie oor om iemand “terug te kry” nie.  Vergiffenis is iets wat uit jouself kom en vergiffenis is iets wat jy VIR JOUSELF alleen doen.  Sommige mense loop rond met sulke enorme emmers vol haat van wat ander mense aan hulle gedoen het.  Die ander persoon het intussen salig onbewus van jou pyn en haat aanbeweeg met hulle lewens.  Sonder vergiffenis laat ons toe dat die insident en die mense wat verantwoordelik was elke liewe dag van ons lewens ons beïnvloed.  Hoekom sal ons oor en oor die pyn wil ervaar as ons dit kan hanteer met liefde vir onsself en vergiffenis.

 

 

2.  Laat gaan:

 

 

Die Bybel leer vir ons dat wanneer ons vergiffenis ontvang het van God, Hy nooit ooit weer daaraan dink nie.  Soms vergewe ons onsself en ander mense, maar ons kan dit eenvoudig nie laat gaan nie.  Soos reeds genoem, daar is niks wat jy nou aan die situasie kan doen nie.  Ek kan dit vergelyk met Mike wat terugstap na die verfblik daar aan die begin waarvan die verf lankal onbruikbaar en dik geword het.  As iets nie bruikbaar is vir jou pad vorentoe nie, hoekom gaan jy dan elke keer terug daarheen, net om elke keer herinner te word dat die pad terug sonder enige vrugte is. 

 

 

Elke keer wat jy dit terugroep in jou gedagtes, maak jy jouself weer bewus van die pyn, wat weer lei daartoe dat jy van vooraf sal moet vergewe.  Dit is ‘n bose kringloop wat nie positief bydra tot vandag nie.

 

 

Om te vergewe en te laat gaan beteken ook nie dat dit wat aan my gedoen is “reg” was nie.  Ek stem saam dat dit vol pyn en baie trane kon gewees het, maar as dit jou lewe vandag negatief laai is daar nie plek daarvoor in jou lewe nie.  Ek sien soveel mense wat met hierdie totale haat saamleef elke dag en soos die monnike in die Middeleeue dink dat dit goed is om hulleself elke dag te kasty met die pyn uit die verlede.  So ontmoet mense nuwe lewensmaats, maar herhaal die prosesse van die verlede elke dag, amper asof hulle hulleself nie ‘n wonderlike lewe toewens nie en glo dat hulle gelukkig “mag” wees nie.

 

 

3.  Gun jouself ‘n nuwe blik verf:

 

 

Ek wonder hoeveel van ons besef die wonder van vandag en van die lewe van elke dag?  Ons is soms so vasgevang in ou patrone dat ons totaal vergeet van die wonder wat elke dag om ons gebeur.  Ons is so besig om ander te verwyt en onsself te pynig dat ons totaal vergeet van die wonder om my vandag.  Ek weet dat wanneer jy by sielkundiges sit in sessies jy oor en oor die verlede moet herroep om dit te revalueer.  Dit beteken nie dat jy dit oor en oor moet herhaal nie, die doelwit daarvan is vir jou om die verfblik te erken vir wat dit is en te her-definieer, sodat jy kan vergewe en kan aanbeweeg.

 

 

Gun jouself die lewe deur vergiffenis en deur te laat vaar wat jy niks aan kan verander nie.

 

 

4.  Kom oor jouself:

 

 

Ons leer uit die Bybel dat jy nou naaste moet liefhê soos jouself, maar ek voel dat ons in ‘n wêreld leef waar die skaal soveel swaai na die individu, dat ons dink dat ons die sentrum van die heelal is en dat alles en almal na ons pype moet dans.  Die lewe kan nooit so werk nie, want elke klippie wat in die water val maak sy eie kringetjie om die middelpunt, maar tegelykertyd val daar miljoene klippies elke dag wie se kringetjies mekaar beïnvloed.  Alhoewel jou lewe en kringetjie vir jou die heel belangrikste is, moet jy verstaan dat dit nie net JOU dammetjie is nie.  Jy is deel van ‘n groter geheel. 

 

 

Mike kan spring soos hy wil, maar as hy nie wakker skrik nie, gaan hy sy werk verloor.  Hy is dalk die eerste paar dae belangriker en beter gewees as sy medewerkers, maar dit gaan oor vandag en nou.  Ons kan nie verwag dat die lewe my anders moet hanteer omdat ek dink dat ek spesiaal is nie.  Elkeen is spesiaal, maar niemand is meer spesiaal as al die ander mense wat God geskep het nie.

 

 

Dit help ons baie met vergiffenis, as ons besef dat mense om ons dalk dinge doen of gedoen het omdat hulle op daardie oomblik gedink het dat dit die regte ding is.  Die Four Agreements leer ons dat ons dinge nie so persoonlik moet opneem nie en in beginsel leer ons daaruit juis dat ons nie moet dink dat almal om ons ‘n komplot teen ons het nie.  Mense leef hulle lewens, jy ook en ons maak keuses wat ander mense seermaak of gesond maak, nie altyd met die intensie om JOU te kruisig nie.

 

 

“Here, gee my die krag om te verander wat ek kan en die besef wat ek nie kan nie en die insig om die verskil te ken”

1 comment:

  1. Ek dink ek moes die lees. Vir my is punt 3 belangriker, want self waarde was my swakpunt (was)> Nou dat ek besig is om dit te verander om meer waarde in myself te sien, nou is ek daartoe in staat om te vergewe maar net so belangrik, om te laat gaan. Punt vier sorteer homself so vinnig uit, want dis nou nie meer oor my nie, maar wat ek kan doen om vir ander 'n lig te kan wees. Mooi saamgevat Deon.

    ReplyDelete