Wednesday, June 27, 2012

Dit is ernstig?

In verkope leer 'n mens vinnig baie dinge van die menslike psige wat jy moet toepas om suksesvol te wees.  Een hiervan is natuurlik om te luister na die klient, eerder as om met jou eie agenda te gaan en jou wil op die klient af te druk.  Luister en antwoord slegs wanneer dit absoluut nodig is, maar jy moet die klient laat voel asof hy in beheer van die situasie is en in so vêr moontlik moet jy probeer om vir die klient die produk te gee wat sy/haar situasie en behoefte die beste pas.

 

As spesialis in 'n sekere area, word dit soms moontlik om nie oor te neem nie, veral as jy kan sien wat 'n beter opsie is vir die klient.  Veral leer 'n mens redelik vinnig dat om kritiek te gee op bestaande produkte onmiddelik die klient laat toeslaan, aangesien die klient op die produk besluit het op 'n sekere tyd.  Die kritiek is nie werklik gemik op die klient nie, maar op die produk, maar die klient is altyd selfbewus oor besluite en neem die tipe kritiek persoonlik op. 

 

Die “four agreements” se een been is dat 'n mens niks persoonlik moet opneem nie.  Die rede hoekom hierdie been genoem word, is omdat dit menslike natuur is.  Sommige mense doen dit in 'n mindere mate, maar almal is geneig daartoe om so op te tree.  Dit is amper soos die voorbeeld van iemand wat verantwoordelik voel as die kat kleintjies gekry het.  Een ding is seker en dit is dat mense nie hou van kritiek nie selfs al is dit goeie raad wat moontlik kan lei tot 'n beter situasie.

 

Mense wil ook altyd hulle punt staaf en hulleself verantwoord oor besluite wat hulle geneem het.  Dit voel asof hulle aanvaarding soek by ander mense vir die besluite wat hulle geneem het.  Hulle dink dat as ander mense met my saamstem en my punt insien, dat dit 'n sterretjie plaas wat my laat voel dat ek die regte besluit geneem het. 

 

Alhoewel ons graag wil hê dat die lewe anders moet werk, moet ons ook maar eerlik wees dat as ek met mense oor die weg wil kom, mense dinge persoonlik gaan en wil opneem.  Aan die een kant dink ek dat dit so moet wees, want jy moet jouself en dit wat joune is beskerm.  So is mense en soms moet ek die baan speel soos die baan is en nie soos ek wens dit was nie.

 

Aan die ander kant neem ek en jy dinge soms te persoonlik op.  Iemand het een keer die stelling gemaak dat depressie is wanneer ek myself en die lewe te ernstig opneem.  Ek is deffinitief skuldig daaraan, omdat ons almal graag perfek wil wees vir die wêreld en die mense om ons.  Ons wil graag mooi wees in en deur ander mense se oë en voel dat ons belangrik genoeg is.  Miskien is ons behoefte eerder aan liefde en aanvaarding as oordeel en kritiek.  Dalk is ons in onsself steeds daardie graad 6 seun of dogter wat populêr wil wees onder ons maats en 'n tikkie van sukses wil voel.

 

Wanneer iemand dus vir jou raad gee of 'n standpunt het wat nie klop met wat jy dink en glo nie, neem dalk vandag so 'n trappie terug en kyk na die situasie baie mooi.  In die eerste plek is alles wat mense sê nie altyd vêr-oordelend nie, maar dalk be-oordelend.  Tweedens is mense wat jou raad gee besig met hulle eie dinge daar diep in hulle eie koppe en harte.  Jy weet nie altyd wat hulle beweegrede is om met jou te praat nie en so hoef jy ook nie die slegte te kies nie, want dalk bedoel hulle net goed.  Verder weet jy ook dat dinge in jou lewe verander en jy nie dieselfde kan bly nie, so, is dit dus so belangrik dat jy ALTYD reg moet wees. 

 

Soms gaan jy foute maak en dinge doen wat vir ander nie reg of goed is nie, maar dit is JY wat die keuse gemaak het en niemand weet regtig ook hoekom jy dit so gekies het nie.  Jou keuse en optrede is jou eie en het nie nodig om in die oë van ander mense aanvaarbaar te wees nie, dit is JOU lewe en JOU hart en JOU keuse.  Miskien het die tyd gekom dat ons nie meer so ernstig alles bekyk nie.  Miskien het die tyd gekom dat jy die lewe so bietjie laat gaan en minder intens moet leef, want daar gebeur elke dag wonderlike dinge om jou, dat dit nie nodig is om die hele tyd met die “negatiewe” daarvan om te gaan nie.     

 

So moet jy ook nie in jou interaksie met ander probeer reg wees en oordelend wees nie, wat maak dit tog nou saak of iemand van jou verskil of nie?  Dit is nie nodig vir JOU om altyd reg te wees nie.  Almal het die reg om hulleself te wees en in dieselfde asem wil jy ook die reg verdien om jouself te wees, maar jy kan slegs die reg aan jouself gee, as jy ander die reg daartoe gee en andersom.

 

“Moenie die lewe so ernstig opneem nie, dit is net tydelik”

 

No comments:

Post a Comment