Wednesday, October 28, 2015

Die Duiwel se vatkans!

Van die begin van tyd het daar die idee bestaan dat daar in die wereld goed en sleg is.  Die goed word gewoonlik aan 'n Goddelike figuur toegeken, en die slegte aan die Bose, in watter vorm ookal.  In jou lewe kom jy ook soms oor die pad van dinge wat vir jou voel asof dit nie pas nie, dit wat nie vir jou werk nie, en dan noem ons dit ook maar boos.  Alle mense, selfs jy, word soms geteken as 'n wese met hierdie dualisme in jou, jou lig kant en jou donker kant.  Soms lees ons die storie van die twee honde wat in jou woon, die goed en die sleg, en die een wat jy die meeste voed is die een wat later die ander een ook opeet.


Ek wil nie nou in 'n teologiese diskussie verval oor die bose en in watter tipe vorm dit aanneem en of daar iets soos 'n hel is nie.  Ek glo egter soos hier bo dat ons elkeen die bose en die goeie in ons het en dat ons elke dag in elke situasie 'n keuse maak tussen die twee.  Hierdie dualisme in ons het ek al baie oor geskryf, en ook dat daar 'n "plek" vir die goeie en die slegte in die lewe is, want beide leer jou die lesse wat jy nodig het om te leer.


Daar is sekere dinge wat van kleins af by my vasgesteek het, en een daarvan is om nooit die bose 'n vatkans in jou lewe te gee nie.  Wat eerstens vir my beteken het dat daar in elke situasie van die lewe beide kante gaan wees, so, net soos met enige "afhanklikheid", le die eerste stap in die erkenning daarvan.  Saam met dit, het ek ook besef dat ek graag nie die "mag" in my lewe vir die bose of die negatiewe dinge wil gee nie.  Natuurlik gaan daar situasies wees waar jy dit kies, wetend of onwetend, maar oor die algemeen is ek die een wat graag die halwe deel van die water soek, en nie kerm oor die bose in my bestaan nie. 


Ek sien soveel mense om my elke dag, in my persoonlike lewe en ook in my werksomstandighede met kollega's en kliente, waar almal soveel makliker die keuse maak na die pessimisme en vrees.  En soos in my vorige blog oor dat jy nie aan jouself moet doen wat jy nie wil he ander aan jou moet doen nie, leer ek dat JY soms jou eie grootste vyand is.  Ek se gladnie daarmee dat daar nie realiteite is wat op jou lewe 'n invloed het nie, maar wel dat jy in elke situasie die keuse kan uitoefen oor hoe jy daarmee gaan handel.  En soms gee ons deur ons keuses aan die negatiewe en die bose 'n vatkans in ons lewens.  Ek het die laaste paar weke enorme issues met sekere dinge in my lewe wat nie reg loop nie, en so kom ek vanoggend 3 uur toe ek nog wakker le dat ek soveel spanning het en die bose die geleentheid gee om my nagrus op te foeter.


Jy sien, wat gebeur is die volgende.  Jy het 'n situasie in jou lewe wat plaasvind, of wat jy meeste van die kere "dink" gaan plaasvind.  Nou leef ons mos in die idee dat jy god van jou eie lewe is, en dat alles in jou lewe perfek moet uitwerk.  Maar nou neem die stemmetjie in jou kop oor wat jou laat dink dat dinge nie gaan uitwerk nie, en dan sneeubal die gedagtes in jou.  Vrees neem oor en jou keel trek toe en jou maag kramp.  Jy kom nie eers agter nie, maar kort voor lank is jy vasgevang in die mag van hierdie gedagtes, dat jy aan niks anders kan aandag gee nie.  So gaan dae en nagte by jou verby en jy leef al IN die drama wat nog nie eers plaasgevind het nie, of nooit SAL plaasvind nie.  Onthou, emosies word nie net spandeer en gevoel IN die situasie nie, maar selfs al dink jy daaraan.  Die Bybel leer ons die konsep, in die konteks van sonde, dat as ek selfs net iets "dink", dit is asof dit reeds plaasgevind het. 


Nou, drie dinge gebeur, jy spandeer AL jou energie aan die probleem eerder as die oplossing.  Die attitude van vrees en worry beteken nie dit gaan weggaan nie, die toets en die D-Dag is oppad.  Die vrees steel al jou energie en laat jou met verminderde krag om eerder effektief die situasie te hanteer.  Toe ek op skool was en atletiek gedoen het, kon ek soms nie die nag voor die tyd slaap nie, en daar in my blokke het my hande gebewe.  Die vraag is hoekom?  Dit was die vrees vir verloor en dat ek myself gaan teleurstel.  Nou, wat het die nag wakkerle my in die sak gebring?  Ek is nie goed uitgerus nie en my liggaam kan nie optimaal funksioneer nie, so, my vrees vir die resies het reeds al my energie gesteel, en my kanse om die resies te wen verminder.


Die tweede ding wat gebeur is dat dit die NOU steel van my.  Dit is nou nie kernfisika nie, maar jy leef NET in die nou.  Baie mense leef in die toekoms en dink aan more, of hulle lewe in die verlede en so vergeet hulle om vandag aan die rose te ruik.  Die Bybel leer ons ook dat jy jouself nie oor more moet bekommer nie, want dit sorg vir homself.  Nou hoor ek weer jou praktiese kant wat se dat jy tog nie jou kop in 'n gat kan druk en die toekoms moet afskryf nie.  Dit is baie waar, maar hier gaan dit nie oor dat jy nie aan more "dink" nie.  Die beste voorbeeld hier kry ons in die spel van Gholf.  Jy kom van die bof af waar jy die gaatjie begin, en ja, jou doelwit IS die setperk en om jou bal in die gaatjie te kry.  Jy begin nie NOU al vrees oor daardie moeiike setperk nie, jy dink en het beheer EERS oor hierdie hou wat jy nou speel.  Jou doelwit bly dieselfde, maar die vrees vir die toekomstige hou neem jou fokus weg en lei daartoe dat jy meer kere HIERDIE hou van NOU laat misluk.  En as jy hierdie hou laat misluk, dan bou die druk soveel meer op daardie laaste set om die bal in die gaatjie te slaan.  Dieselfde geld vir die fokus op die vorige hou of gaatjie se mislukking of sukses, dit neem emosioneel oor, want gedane sake het nie keer nie.  Al wat belangrik is is hierdie oomblik waarin jy leef.  Waar jy vandaan kom en wat jou doelwit is bly dieselfde.


Die derde ding is dat ons leer in die Bybel van die bose wat se dat dit rondloop soos 'n brullende leeu.  Wat dit beteken, is dat hierdie negatiewe gedagtes NET so moeilik is om toe te pas as positiewes.  Maar hierdie bose dinge soos vrees en pessimisme kom na jou toe soos 'n roofdier, kort voor lank is jy in 'n hoek gedryf, want jy het dit nie verwag nie.  Geen mens gaan soek na die negatiewe per se in die lewe nie, dit SOEK jou.  En soms, net soos met roofdiere, word die swakstes onder ons eerste gevang.  Het jy al agtergekom dat die gevoelens van negatiwiteit en vrees gewoonlik kom wanneer jy op jou swakste is?  Dit is wanneer jy die donker hond in jou meer voer as die ligte een, dan gaan dit oorneem en sterker wees, en kort voor lank is die ligte kant van jou so hulpeloos dat dit gaan le of sommer net op die plek vrek.


Dit behoort ook nie kernfisika vir jou te wees nie, maar die realiteit hardloop nie weg nie.  Baie suksesvolle mense  se graag dat hulle nie fokus op die probleem nie, maar soek na die oplossings daarvan.  Meeste situasies wat jou laat vrees het aksie nodig en saam met aksie goeie uitgewerkte planne.  Hoe meer jy beplan en nugter kan dink, hoe meer bring jy die situasie onder beheer.  As jy die bose 'n vatkans gee in jou lewe, steel dit "spasie" in jou brein.  Staan op, gaan sit by 'n stuk papier met 'n pen en beplan HOE om die situasie te hanteer en soek vandag na oplossings, eerder as om onvoorbereid met vrees BY die situasie uit te kom en te besef dat jy dalk tien teen een, as jy nugter en objektief kon dink, 'n maklike oplossing kon gevind het.


Die laaste punt wat ek jou mee los vanoggend is, 99% van al jou vrese word nooit waar nie, die ander een persent is beslis, en dit kom gewoonlik wanneer jy nie soek na oplossings nie, en 99% van dit wat jy vrees kan opgelos word met eenvoudige en nugtere beplanning.  Mense gaan deur hulle lewe met pessimisme en 'n gemoed van opgee teenoor die druk van vrees, en sodoende mis hulle elke wonderlike geleentheid om te lag in vandag.  Moenie aan hierdie negatiewe emosies die mag gee nie, slaan dit op hok soos 'n wilde leeu.  Weet en besef dat al hierdie denke jou gaan kom soek, dalk deur 'n gesprek van iemand of 'n whatsapp of tyding wat jy oor die foon ontvang.  Dit gaan jou kom soek, maar onthou altyd, die leeu "bekruip" jou nie, hy brul, so let op en besef waar en wanneer hy beplan om toe te slaan.



No comments:

Post a Comment