Tuesday, July 31, 2012

Die mondeling

Op Universiteit het ons in Teologie verskriklik baie mondelinge eksamens gehad.  Dit is seker een van die moeilikste eksamens wat jy kan aflê, nie omdat die werk wat ons geleer het so moeilik is nie, maar omdat daar soveel meer faktore is wat ‘n rol speel.  Een van die faktore is dat die professor jou totaal kan “nail” as hulle nie van jou hou nie, of as hulle besef dat jy nie jou werk ken nie.  Dit is verder moeilik, aangesien elke persoon ander tipe vrae kan kry oor dieselfde onderwerp, wat hierdie tipe eksamens en uitslae glad nie objektief maak nie.

 

Ek het een keer in ‘n Kerkgeskiedenis mondeling 53% gekry.  Ons was 2 persone wat saam die mondeling gedoen het, en ek het gevoel dat ons beide omtrent dieselfde hoeveelheid kennis gehad het van Calvyn.  Die ander persoon het 62% vir die eksamen gekry.  Ek het baie hieroor gewonder, want hoe bepaal 'n mens of een persoon 53% kry en die ander persoon 62%.  Ek sou dink dat ek mense wat niks weet nie 0% sou gee, die wat die werk ken 50% en die wat briljant was 80%.  Dit klink meer logies om sulke lekker ronde getalle te gebruik, want hoe moeilik is dit om persentasies van 2% of 3% te bepaal?

 

Wat ek dink wel ‘n rol gespeel het, is dat die professor in Kerkgeskiedenis nie baie van my gehou het nie, omdat ek by Jool betrokke was, en hy nie gedink het dat dit plek is vir ‘n Teologie student nie.  Die ander persoon wat saam met my die mondeling gedoen het was redakteur van die Teologiese blad.  Die professor se ingesteldheid teenoor my en my mede student het ‘n ongelooflike rol gespeel in die punte wat ons toegeken is.  

 

In my denke was ek natuurlik in ekstase dat ek deurgekom het, want ek het nie my werk geken soos van my verwag nie, maar my gladde mond het my deurgetrek.  Ek het my nie op Universiteit aan ander se punte gesteur nie, maar die metode van punte toekenning was tog vir my vreemd.  Wat ek wel geleer het is dat ek vir die moeilike vakke waar die prof.  nie van my hou nie, harder moes leer, aangesien ek ook die hekkie van hulle subjektiwiteit moes oorkom, en nie net die ken van die werk nie.

 

Ons hele lewe is maar een groot eksamen met dieselfde subjektiwiteit wat toegepas word.  Elke dag ken die lewe rondom ons punte toe aan elke mens wat asemhaal.  Of dit in jouself is en wat jy van jouself dink, wat jou lewensmaat jou toeken of jou kinders of baas of wie ook al.  Soms spot ons dat ons as mense slegs nommers geword het, en op ‘n manier is ons lewens vol punte uit ‘n honderd. 

 

Verskillende tipes eksamens:

 

Daar is mondelinge eksamens, gewone vraestelle en dan is daar ook “aap-raaisels”.  Aap-raaisels is die tipe eksamen waar jy slegs een opsie kan kies, daar is geen plek vir verduideliking nie.  Gewone vraestelle toets jou kennis, en ek dink mondelinge eksamens is so gekies omdat dit nie net jou kennis toets nie, maar ook jou interpretasie en toepassing van die kennis. 

 

Mense verskil van mekaar:

Mense verskil van mekaar, en as dit by eksamens kom is daar sekere tipes eksamens wat sekere mense se opmaak beter pas.  Vir my is ‘n “aap-raaisel” seker die moeilikste, aangesien daar slegs swart en wit van toepassing is.  Daar is geen plek vir verduideliking of opsies nie, jy is alleen vasgevang in ‘n reg of weg situasie.  Daar is nie plek vir “gorrel” nie. As jy natuurlik jou werk goed ken, dan word hierdie tipe eksamen die beste toets van jou kennis, want die regte antwoord is voor jou.

 

Vir sekere mense is gewone vraestelle ook moeilik.  Ons het een keer by Professor Johan Heyns ‘n vraestel in Dogmatiek geskryf wat gehandel het oor ‘n boek wat hy geskryf het by name: “Raakplek tussen hemel en aarde”.  Baie van die ouens wat saam met my studeer het was briljant in “aap-raaisel” vakke soos Grieks en Hebreeus waar slegs een antwoord korrek is.  Prof Heyns stap die oggend in die lokaal in en deel die antwoord boeke uit.  Nadat almal boeke gekry het stap hy na die swartbord en skryf die volgende op die bord:  “God – 100 punte – 4 ure”. 

 

Sommige ouens het hulle hande opgesteek en hom oor hierdie vraag aangevat.  Ek kan onthou dat die een student aan hom gevra het: “Prof, ek het dan die boek geleer, het ek die verkeerde boek geleer?”  Die ander van ons was egter opgewonde oor die vraag en het presies verstaan wat ons moet doen.  Dit was vir sommige studente die moeilikste vraestel in hulle lewens, vir sommige van ons die maklikste en lekkerste.

 

Oor ons verskille is daar geen twyfel nie en ook verkies ons die tipe eksamens wat van mekaar verskil.  Maar een ding is waar en dit is dat suksesvolle mense daardie mense is wat aanpas by veranderende omstandighede.  Jy kry mense wat eenvoudig so gemaklik is met die lewe dat dit nie saak maak watter tipe eksamen hulle kry nie, hulle sal deurkom.  Dan is daar sekere mense wat so vasgevang is in hulle eie manier, dat hulle, al ken hulle die werk, weier om ‘n eksamen te skryf net omdat die formaat hulle nie pas nie.  Soos baie dinge in die lewe is die antwoord tot geluk eintlik eenvoudig en reg voor ons.  Iemand wat so vas staan by hulle denke gaan nooit die eksamen deurkom nie en nooit die sukses behaal wat hulle moet behaal nie.

 

Kom ons wees nou maar eerlik, almal van ons het ‘n manier wat ons persoonlikhede die “beste” pas.  Ek is nie ‘n swart en wit mens wat in een antwoord glo nie, so ‘n mondeling sal my beter pas.  Jou maat is dalk weer ‘n wiskundige wat alles swart op wit glo en vir wie daar nie redenasies moet of kan wees nie.  Die uitdaging vir alles in die lewe is nie wie jy is of wat jou die gemaklikste laat voel nie, maar eerder dat jy enige eksamen kan skryf, maak nie saak wat die formaat daarvan is nie. 

 

Al wat tel van die eksamen is die punt wat toegeken word.  As jy na jou lewe kyk en dit wat van jou gevra word, wat is jou uitslag?  Maar daar is 2 punte wat mense toegeken word, die eerste is natuurlik die punt wat jy jouself gee as jy uit die eksamen stap wanneer almal jou vra hoe die eksamen gegaan het, en dan die finale punt wat mense om jou jou gee.  In die laaste eksamen wat ek ‘n paar weke gelede geskryf het, was ek nederig en ek wou nie te optimisties wees nie, en toe die uitslag kom was dit min of meer dieselfde as wat ek gedink het dit gaan wees. 

 

Wat is die punt wat jy jouself gee as jy oor jou lewe kyk?  Soms is ons te hard op onsself, want ons kan nie vir alle eksamens 100% kry nie, maar jy kan ook nie alles druip nie.  Soms het jy nodig om na jou punte te kyk en jouself te motiveer om harder te werk. 

 

Soms is daar verskonings, soos ek wat die verkeerde oogdruppels in my oog gegooi het, maar ek het dit nie as 'n verskoning gebruik om nie die eksamen af te lê nie.  Partykeer is kry ons terugvoer van die mense om ons wat vir ons punte gee.  Soms voel dit vir jou asof jy meer kry as wat jy gedink het en in ander gevalle kry jy minder.  

 

Niemand is perfek nie:

 

Almal wil graag 100% in elke eksamen van die lewe kry, maar dit is hoekom daar 'n punt is wat jou laat slaag, want ons kan nie vir elke eksamen 100% kry nie.  Ons verwag van die mense om ons en in besonder ons kinders om te voldoen aan sekere vereistes, omdat ons glo dat mense altyd beter kan doen.  Daar is natuurlik 'n stadium waar jy die punte van mense om jou moet aanvaar en waar jy moet ophou om meer te verwag.  Die oomblik wat jy besef dat jy nie perfek is nie, hou jy op om van ander te verwag om perfek te wees. 

 

Niemand het dieselfde aanleg nie:

 

My ma het jare lank wiskunde gegee vir matriekleerlinge en vertel altyd die storie van oueraande waar ouers vir haar vra wat hulle kan doen om hulle kinders se punte te verbeter.  Soms is haar antwoord moeilik gewees want sommige kinders het net nie die aanleg vir wiskunde nie en die punte wat hulle kry is fantasties as jy hulle agtergrond en aanleg in ag neem. 

 

Ons is tog slim genoeg om te verstaan dat almal nie dieselfde is nie en dat ons dus nie van almal dieselfde kan verwag nie, maar in die praktyk vergelyk ons en stel ons verwagtinge aan mense wat totaal buite hulle vermoëns is en as hulle dan nie presteer nie, dan blameer ons hulle daarvoor.  My oudste het baie goed akademies op skool weggespring en soos tye vorder word die werk al hoe moeiliker.  Ons verwag van hom die beste, maar vergeet ook soms dat dit dalk nie sy belangstelling is nie.  Ons vergeet dat daar ander dinge is waarin hy briljant is, soos om op te noem wie akteurs of sangers is wat op die televisie is.  Ons moet lief wees vir mense om ons in lyn met wie hulle IS en nie oor wie hulle moet word vir ons om hulle te aanvaar nie.  Ons moet raaksien waar hulle moeite doen met plekke waar hulle nie soveel insig of talent het nie.

 

Ons hou daarvan om geprys te word:

 

Daar is nie een mens op aarde wat nie erkenning soek vir hulle insette nie.  Die wêreld werk met prysuitdelings, gradeplegtighede en sertifikate wat toegeken word.  Ons verstaan tog baie goed dat as iemand nie 'n prys wen nie, min mense vir die kompetisie gaan inskryf.  Ons verstaan ook dat ons mense prys, want as iemand suksesvol voel motiveer dit mense om beter te wees.  Ek word so moeg vir mense wat ander die hele tyd aftrek en kritiseer en laat sleg voel oor hulle talente en hulle punte.  Dalk is vandag die dag wat jy begin om mense om jou eerder te prys oor wat hulle reg doen, as te kritiseer omdat hulle nie voldoen aan die vereistes nie.  Miskien is vandag die dag wat jy eerder moet fokus op die somme wat mense reg doen, eerder as die paar wat hulle verkeerd doen. 

 

Die maatstaf waarmee jy meet:

 

Daar is ook in elke eksamen ‘n derde punt en dit is die klas gemiddeld wat gegee word.  Dit is nou daardie punt wat weerspieël hoe moeilik of maklik die eksamen was en wat eintlik so bietjie almal om ons se punte in perspektief stel.  Die wêreld waarin ons leef vandag is nie maklik nie, van daar dalk die rede dat die klas gemiddeld af is van wat dit was ‘n paar jaar gelede.  Miskien moet ons hierdie gemiddeld so bietjie in aanmerking neem en nie mense se punte sommer net op hulle eie sien nie.

 

Miskien is hierdie die dag wat jy jouself so bietjie asem ruimte gun en jouself op die skouer klop oor wie en wat jy is.  Miskien voel jy effens beter as jy eerlik is en verstaan dat daar sekere dinge van jou verwag word wat nie maklik is nie en wat dalk 'n tipe eksamen is wat jou so bietjie meer toets as die gewone. 

 

Vandag is dalk die dag wat jy die mense om jou erkenning gee vir wat hulle vermag het en veral in ag neem wat in die wêreld gebeur.

 

Miskien is vandag die dag wat jy nie nodig het om jouself met ander te vergelyk om te bepaal of jy goed genoeg is nie, maar dit in jou hart te glo!

 

 

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment