Monday, September 3, 2012

Sindrome vir alles!

 

Dit voel vir my asof ons deesdae in 'n wêreld leef waar daar 'n naam en sindroom vir elke tipe optrede is. Toe ek klein was, was daar stoute kinders en soet kinders, niks van hiper-aktiwiteit of aandag afleibaarheid nie. Soet kinders het swieties gekry en die stoute kinders het pak-slae gekry. Vandag het alles 'n naam en dit voel asof alles in die lewe “relatief” geword het. Niks voel asof dit meer klinkklaar is nie en mense leef in 'n wêreld vol stippelyne en verskonings.


Moet vir geen oomblik dink dat ek sindrome afmaak asof dit nie bestaan nie, maar die vraag kom by my op of ons nie dinge in die lewe te veel kompliseer nie? Maak ons nie dalk die lewe te kompleks nie, en was die lewe nie maar makliker toe dinge “swart” en “wit” antwoorde gehad het nie?


Gisteroggend sit ek in die kerk en luister na die boodskap wat gehandel het oor die dors na God en Sy nabyheid. Immanuel het weer die voorbeeld gebruik van Steven Covey waar hy met 'n houer verduidelik het dat ons die groot en belangrike dinge eerste in die houer (ons lewens) moet plaas en dan eers kom daar plek vir die ander kleiner en minder belangrike dinge. Dit het my tussen die oe geslaan, want ek dink dat my lewe presies die teenoorgestelde is. Ons is so besig om oor die lewe te filosofeer dat die lewe by ons verbygaan en ons soms nooit by die essensie uitkom nie. Ons lewens word gevul met filosofiee en diagnoses, terwyl dit eerder dalk moet handel oor die essensie van menswees. So wonder ek of kinders met allerhande leerprobleme nie dalk eerder liefde kortkom nie. So wonder ek of huwelike nie eerder ondersteuning en nabyheid soek nie. So wonder ek of mense nie eerder al die baadjies en redenasies van en oor God moet laat staan en in God alleen glo nie. Ek wonder of ons nie eerder ons lewens moet onkompliseer en al die dinge wat 'n skeiding maak tussen ons en wat werklik belangrik is eerder moet uitpak as om nog dinge te probeer inpak nie.


In die voorbeeld van die houer van gister, sien ek soveel mense wat eerder nog sand bygooi om te dink dat dit meer plek sal maak vir die klippe. Wat egter moet gebeur is dat ek die sand en klein klippies van ontslae moet raak en van voor af moet begin pak aan my lewe. Sodoende moet ek ook leer om eers van al die verskonings en redenasies en sindrome te vergeet en altyd by die essensie te begin. Die Bybel leer ons baie mooi dat ons eers die koningkryk moet soek en dan sal al die ander dinge in plek val in ons lewens. In etlike voorbeelde in die Bybel sien ons dat ons soms gedwing word om dit te doen deur omstandighede. Jy word dalk siek of jy verloor jou werk of jy gaan deur 'n opbreek van 'n verhouding. Dan word dit belangrik dat jy moet leer en moet luister na hierdie alarmklokke wat afgaan, en nie nog verskonings en nog sindrome in jou houer moet inlaat nie. Soms word dit belangrik om in sulke moeilike omstandighede dalk “springcleaning” van jou lewe te doen.


Sommige mense redeneer dat om in God te glo nie 'n waarborg is dat dinge in jou lewe in plek sal val nie. Ander sal weer redeneer dat ek nie net tot God moet bid wanneer dit met my sleg gaan nie. Ander sal weer redeneer dat dit die konteks is wat my lewe regeer en omstandighede wat dinge omverwerp waaroor ek geen beheer het nie. Dalk is vandag die dag wat ons so bietjie vergeet van al die verskonings, redenasies, kontekste en sindrome. Miskien word vandag die dag wat ek besef dat ek niemand die skuld kan gee vir die feit dat alles nie in my houer pas en ek nie die lewe het wat ek soek nie. Miskien word vandag die dag wat ek gaan stilstaan en my verantwoordelikheid in die skepping van my houer se inhoud erken en aanvaar.


As ek op vakansie gaan en besef dat dit my verantwoordelikheid is om te sorg dat my tas gepak is met alles wat ek gaan nodig kry, kan ek niemand anders blammeer as myself indien ek iets by die huis vergeet het nie. Hierdie verantwoordelikheid dink mense het te doen met harde werk en word baie keer gebruik om mense om my te kasty wanneer dinge nie uitwerk nie. Verantwoordelikheid is egter bevrydend wanneer ek besef dat ek 'n wonderlike wêreld kan skep vir myself om in te leef.


Mense gebruik die term “vreemd” wanneer hulle sien dat dinge uitwerk soos hulle dit graag wou gehad het en ander mense gebruik weer die term “toeval”. Ek dink jy kan die wêreld waarin jy WIL leef vir jouself laat gebeur, nie met towerstaffies nie, maar met werklike en konkrete dinge soos jou denke en aksies.


Ek het so 'n paar maande gelede by 'n plek begin werk met ongelooflike opgewondenheid oor wat hulle MY kan bied. Intussen het ek gesien dat hierdie aanbod nie heeltemal vir my gegee het wat ek verwag het nie. Deur die tyd het ek begin om meer en meer negatief te word oor die makelary. Omstandighede het daartoe gelei dat dinge vanoggend baie verander deurdat ons kommissie drasties gesny gaan word. Ek kan nou baie maklik hulle die skuld daarvoor gee, of na omstandighede wat hulle genoodsaak het om dit te doen. Vandag staan ek op en vat verantwoordelikheid en ek dink dat ek deur my negatiwiteit dit geskep het. Niks in die lewe wat goed en mooi is kan gebore word uit negatiwiteit nie. Eintlik gaan dit nie oor positief of negatief nie, maar eerder oor die eiertjies wat ek le. Ek kan nie hoendereiers le en verwag daarvan om vir my krokodille op te lewer nie, en dan blammeer ek nogals ook die hoendertjies omdat hulle nie krokodille is nie. Ek kan baie filosofeer oor wat fout geloop het, terwyl dit heel eenvoudig is, dit is die oorsprong se verantwoordelikheid.


Ek kan ook 'n sindroomnaam uitdink daarvoor soos dat ek nie goed genoeg is nie, of ek kan dit noem dat ek nooit suksesvol sal wees nie of dat dit maar weer 'n bewys is van my onvermoë om suksesvol te wees. Gaan kyk maar in die spiëel en dink aan al die sindrome wat jy jouself toesnou oor hoekom jou lewe nie uitwerk soos jy graag wil nie. Dit is egter nie kernfisika nie, dit is logika. In rekenaartaal praat hulle van “garbage in, garbage out”. As ek nie 'n goeie skrywer is nie, kan ek nie skielik van hierdie woordverwerker verwag om die boodskap self te verander en beter te word nie. Elke letter en elke woord wat ek skryf kom by jou uit en word uitgedruk presies soos wat ek dit tik, sonder uitsondering.


Ek dink die lewe is eenvoudiger as wat ons dink, maar dit gaan oor hoe ons dink. Daar was 'n pa wat 'n worsbroodjie stalletjie gehad het voor die JSE in Johannesburg. Hy het hard gewerk sodat sy seun 'n aandele makelaar kan word. So 'n jaar gelede kom die seun by sy pa terwyl sy broodjies afgelewer word. Hy vra sy pa: “Hoekom bestel pa so baie broodjies, besef pa nie dat ons in 'n resessie is nie?” Die pa luister toe vir sy seun en bestel toe elke dag net minder en minder broodjies, alhoewel hy elke dag alles verkoop. Na so 'n maand bestel en verkoop hy net 5 broodjies die dag, en toe sy seun daar verbykom, sê hy vir hom: “Jy was reg my kind, ons is in 'n resessie, waar ek verlede maand 1000 broodjies verkoop het, moet ek nou maar toemaak, want ek het vandag net 5 verkoop”.


Ek kan al die name in die wêreld uitdink vir hoekom my lewe uitwerk soos dit uitwerk, maar verantwoordelikheid beteken ook om te erken dat jy alleen die inpakwerk gedoen het in jou houer. Soms sien ek mense wat eenvoudig bek-af voor hulle houers sit en ongelukkig is en iemand blammeer oor hoekom hulle lewens so lyk. Hulle blammeer hulleself en kry hulleself jammer en versuiker dit met 'n sindroomnaam, of hulle sit met hulle hande in hulle hare om te wonder hoekom “God” dit aan hulle doen. Miljoene boeke is al oor hierdie onderwerp geskryf en elke dag vra mense hulleself af na die sin van die lewe. Miljoene mense dra hulle morsdood aan die baggasie van hulle houers wat verkeerd gepak is, sonder om te besef dat dit ek en ek alleen is wat die pakwerk doen.


Die lewe is geensins anders as toe ons klein was en daar nie sindroomname was nie, en vir miljoene jare was dit so gewees. Ek dink ons word almal so geinspireer deur die paralimpiese spele waar jy mense sien sonder bene en arms wat ongelooflike dinge vermag. Elkeen van hulle kon seker op 'n hopie op die bank gaan sit het en gedink het dat hulle niks kan doen aan hulle lewens nie, omdat hulle een of ander gebrek het. Die teenoorgestelde is egter waar en dit is dat hulle opstaan en opdaag en 'n lewe skep vir hulleself. Ek sien hulle glimlag en blydskap om te kan deelneem en te kan wen, te midde van wat gebeur. Almal van ons kan soveel stories opnoem soos ons wil oor die rede hoekom my lewe nie is wat dit is nie, maar min kan opstaan en te midde van omstandighede die lewe leef wat hulle soek.


So met die aanbreek van die lente kry 'n mens soms nuwe inspirasie om dinge aan te pak. Miskien is vandag die dag wat ek moet vergeet van my “gestremdheid” en my omstandighede en my tekortkominge en my hartseer en sindrome en pyne. Miskien is vandag die dag wat ek houer uitpak en van voor af begin om te pak aan my houer en seker te maak dat ek dit REG doen. Begin met God, dan met jouself, dan met jou lewensmaat, dan met jou kinders, dan met jou familie, dan met jou vriende en dan eers kom al die dinge in jou lewe indieselfde volgorde reg.


As ek die hele tyd van mense verwag om my jammer te kry vir my omstandighede, gaan niks verander in my lewe nie. As ek nie die pyl uit die koker haal om die bokkie te skiet nie, gaan my familie honger ly. As ek nie die telefoon optel en die persoon bel wat ek moet bel om 'n polis aan hulle te verkoop nie, gaan ek nie een polis verkoop nie. Die Bybel stel dit tog ook duidelik dat ek my brood op die water moet werp, wat eintlik net beteken dat ek nie kan aanhou om te wag vir dinge om met my te gebeur nie, want daar bestaan nie so iets nie. Al dink ek dinge gebeur met my, is dit en bly dit altyd ek wat dit LAAT gebeur.


Kom ons staan op van die bank af waar ons onsself jammer kry oor ons “gestremdheid” en dae aaneen filosofeer oor hoekom en waarom, en kom ons gaan pak vir die reis wat vandag begin. Neem dan jou houer op en gaan skep die lewe wat jy soek en verdien, want as jy dit met God aan jou sy doen is alles moontlik!






No comments:

Post a Comment