Thursday, July 19, 2012

Die potjies wat onnodig opgaar

In ons huis probeer ons om netjies te leef met kaste en rakke waar elke ding sy eie plek het.  ‘n Mens weet nou deur ondervinding  dat jou siel rustig is wanneer jou omgewing rustig lyk.  Daar is een probleem en dit is so 10 keramiek potjies wat op die koffietafel en in rakke in die kombuis staan.  Daar was in die verlede vetplantjies daarin geplant, maar hulle is nou leeg en staan rond.  Dit is pragtige potjies, maar die probleem is dat hulle nou die plekke is waar alles eenvoudig ingedruk word. 

Daar is strokies, los sente, kryte, penne, blokkies, oorbelle, pille en peaceful sleep daarin.  Dit raak nogal frustrerend, veral as die res van die huis georganiseerd is, omdat daar geen sisteem aan die potjies gebind is nie.  Ek dink dat as ons mooi soek, die Kruger-miljoene dalk ook in een van die potjies versteek is. 

Iemand vra nou die dag my uit oor “karma” en wat karma is.  Ons weet dat dit ‘n term is wat gebruik word in Oosterse godsdienste wat in sy essensie eintlik maar beteken dat elke gedagte en aksie ‘n string van gevolge het.  In die Oosterse godsdienste gee hulle die voorbeeld van ‘n skoenlapper wat sy vlerke klap en al is dit hoe klein, veroorsaak hy ‘n stormwind êrens vêr van hom af met die klap van sy vlerke.  Hulle bedoel ook daarmee dat selfs die kleinste gedagte of aksie reuse gevolge kan hê. 

Iemand het besluit om die keramiek potjies te koop jare gelede al en nou is die gevolg dat ons dit gebruik as ‘n opstapel plek.  Dit veroorsaak ook hewige frustrasies, want as iets soek is in die huis, al die potjies deursoek word, want jy dink dat dit daar kan wees.  Wanneer die muskiete jou pla, is die peaceful sleep nie in die badkamer se kas nie, maar êrens in ‘n potjie in die kombuis.

Die ander waarheid is dat hierdie sisteem met die potjies nie ‘n bewuste keuse was nie, niemand het opgestaan en gesê dat ons van ‘n sekere oomblik af al die gemors daarin moet sit nie.  Dit is ‘n sisteem wat almal irriteer, maar dit het stelselmatig so ontwikkel en almal dink nou dat dit aanvaarbaar is.  Ek en jy versamel elke dag sulke potjies wat ons later nie eers  meer bewustelik doen nie.  Ons hou nie meer waak oor ons denke en gedagtes en aksies nie en stelselmatig voel ons buite beheer van ons lewens.

Die lewe is een maal gemaak om eenvoudig en georganiseerd te wees.  Elke ding in die lewe is veronderstel om gedefinieerd en georganiseerd op sy plek te wees, maar as ek so na my eie lewe en die lewe van mense om my kyk, voel dit een deurmekaar sisteem is.  Mense het geen sisteem ontwikkel om hulle lewens te organiseer nie.  Mense wat gelukkig is, is mense wat een plek het waar dinge gebêre moet word.  Ons kan dink dat dit vervelige mense is wat so leef en dat daar geen opwinding in hulle lewe is nie, maar dit is juis die teenoorgestelde wat waar is.

Sommige mense het ook 2 of drie moontlike plekke waar hulle dinge kan bêre.  Ons leef juis in ‘n wêreld waar mense legio opsies het en die tydsgees lei daartoe dat mense juis as gevolg van al die opsies, potjies vergader en nooit ‘n daadwerklike besluit neem nie.  In hulle harte skep hulle nooit ‘n sisteem van ontwikkeling nie.  Hulle kry ‘n paar sente in hulle sakke as kleingeld en wanneer hulle by die huis kom, sit hulle dit op die eerste en beste plek.  Môre soek hulle dit weer, maar moet dan hulle hele huis deursoek om te kry wat hulle nodig het.    Maar die gevaarlikste plek om dit te doen, is met ons emosies en met die gevoelens van ander mense.  Mense kan in verhoudings ook net gelukkig wees wanneer hulle weet waar hulle in jou lewe inpas en wanneer jy weet waar jy in hulle lewens inpas.  Mense het definitiewe riglyne nodig, want in onsekerheid raak mense weg.

Die Bybel herinner ons op baie plekke van hoe ons moet optree en alhoewel dit lyk asof die Bybel homself weerspreek , is daar duidelike riglyne.  Een daarvan is dat ons die duiwel nooit ‘n vatkans moet gee nie, wat eintlik vir ons in ons huis leer dat ons of van die potjies ontslae moet raak of weer plantjies daarin moet plant.  Terwyl die potjies leeg is en deel van ons lewens is, gaan dit vir ons tot in ewigheid probleme veroorsaak.  Miskien moet jy vandag gaan ondersoek instel na die dinge wat jou lewe kompliseer en tot frustrasies in jouself en jou verhoudings lei.  Die Bybel stel dit ook duidelik dat as daar iets is wat jou pla, dat jy dit moet afsny.  Ons is nie bobbejane nie, ons verstaan tog baie goed ons frustrasies in die lewe en kan tog maklik analiseer wat vir ons frustrasies en spanning bring.  Kan ons nie dan tog dit afsny wat in ons pad staan vir geluk en vrede nie. 

Jakobus 4:17 stel vir ons dat as ons weet wat die regte ding is om te doen en ons doen dit nie, dan is dit sonde.  Ons is elke dag gefrustreerd oor al die gemors in die potjies, maar ons hou die potjies en elke dag sit ons meer en meer gemors daarin.  Ek kan nie vir die ander huismense kwaad word omdat hulle gefrustreerd is met die sisteem nie en ek kan ook nie vir die potjies kwaad wees nie.  Net ek kan die potjies in my lewe wat ek verkies bestuur en hanteer.

Miskien het die tyd aangebreek dat jy moet gaan stilsit en dink oor die sisteme in jou lewe.  Ek moet bewus raak van die frustrasie en iets daaraan doen.  Wees eerlik met jouself en besef wat jy gaan doen om jou lewe weer onder beheer te kry en daarop te fokus.  Jy kan besluit om die potjies te behou, maar dan moet jy dit vir jou en die mense om jou definieer.  Jy kan besluit om die potjies uit te gooi en daarsonder klaar te kom, want as dit nie ‘n positiewe bydra lewer tot jou en die mense om jou se bestaan nie, gooi dit weg.  Jy kan jouself en die mense om jou leer om die Peaceful sleep te kanaliseer na die badkamerkas.  Jy kan ‘n spesifieke plek afspreek waar jy al jou strokies en sente versamel.  Jy kan ook plakkers plak op die bêreplekke en mense stelselmatig leer om dinge op hulle plekke te plaas, wat geld vir emosies en praktiese dinge.

As jy jou honde en papegaai kan leer om dinge op ‘n sekere manier te doen, hoeveel te meer kan jy dit self doen?  Ons dink dat ons verhewe wesens is bo diere en as dit so is, moet ons dit tog kan toepas.  Eugene Marais skryf in sy boek: “Die Siel van die Mier”, dat hierdie klein wesentjies ‘n ongelooflike sisteem het waarmee hulle werk wat al vir miljoene jare dieselfde gebly het.  Hierdie klein wesentjies verstaan dat alhoewel die wêreld om hulle verander, daar sekere basiese sisteme is wat dieselfde bly.  Ons as mense maak, moontlik as gevolg van ons intelligensie die fout dat ons dink dat omdat dinge verander, die basiese sisteme nie meer geld nie.  Al het ons selfone, e-mail en fakse beteken dit hoegenaamd glad nie dat ons basiese behoefte van kommunikasie verval nie.  Die feit dat ons die maan kan besoek, beteken nie dat jou lewensmaat nie jou liefde en aanvaarding nodig het nie.  Net omdat jy 3 bediendes het wat in jou huis werk, beteken nie dat jy nie met jou kind kan blokkies bou nie. 

As jy nou ook soos ons uit 2 huise na 1 gesamentlike huis trek, sal jy ook besef dat hoe groter jou huis is, hoe meer dinge versamel jy, maar hoe kleiner jou huis is, hoe meer gemors moet jy weggooi omdat jou huis eenvoudig te klein is om al die gemors te stoor.  Oom Willem Nicol het ‘n fantastiese boek geskryf met die naam:  “Rykdom in Eenvoud”.  Hierdie boek is so van toepassing op die moderne mens wat opgaar en nooit hulle lewens organiseer of van dinge wat onnodig is ontslae raak nie. 

Miskien het die tyd aangebreek in jou lewe om te “spring clean”, stil te sit en af te sny wat onnodig is in jou lewe en jou dag, menswees en verhoudings kompliseer.  Gaan leef eenvoudig en verstaan dat jy nie nodig het om alles op te gaar nie, veral nie dinge wat geen waarde vir jou en jou lewe het nie.

Gaan onkompliseer jou lewe om eenvoudig gelukkig te wees!

 

 

No comments:

Post a Comment