Monday, August 3, 2015

Spiritueel of Materieel

In haar boek "Eastern Body, Western Mind" skryf Anodea Judith dat ons agterkom dat die oosterlinge innerlik ryk is, dog uiterlik arm, en westerlinge uiterlik ryk, maar innerlik arm is.  Haar boek se doelwit is om oosterse denke rondom chakras en westerse idees oor ontwikkeling met mekaar te versoen, veral rondom die westerse ontwikkeling volgens Maslow.  Dit is nie daarop wat ek wil ingaan nie, maar veral vandag rondom wat ons barometers is waaraan ons geluk en sin in die lewe MEET.

Dit is heel duidelik dat vreeslik baie mense in die westerse wereld deesdae soek na iets meer as net materialisme.  Ons sien die hoeveelheid oosterse invloede in wat mense aanhaal, deel op facebook en die hoeveelheid boeke wat op ons rakke is.  Dit wil voorkom asof ons ingesteldheid en barometers vir geluk begin skuif het van die een kant om sukses te koop, eerder na 'n soeke na innerlike harmonie om sodoende meer vervuld te voel.

Ons sien ook baie meer mense wat begin om hulle lewens af te skaal en bereidwillig is om 'n eenvoudiger lewe te leef en gelukkig te wees, eerder as om net die bankbalans en groot motors te jag. Ek dink dit het baie te doen met twee faktore, die eerste is ons het in ons ouers en ervarings self agtergekom dat geluk nie in dinge is nie, maar eerder gevind word in onsself.  Tweedens het die omstandighede van die  ekonomiese krisis in die wereld mense hulle barometers laat hersien.  Ek het 'n ou klient gehad wat gelde by my bele het in die tyd toe ek nog by Liberty Life was, wat daarop aangedring het dat ek vir hom die kluis wys waar ons sy gelde gaan hou. 

Vandat geld virtueel geraak het en nie meer tasbaar nie, het geld sy romantiek verloor.  Ek het steeds my beursie met geld wat my oupa en ouma bymekaar gemaak het, en dit is maar net anders om 'n muntstuk in jou hande vas te hou as om jou bankbalans op 'n skerm te sien.  En ek dink die virtualiteit van geld het sy romantiek nie net verloor nie, maar daarmee saam het ons die waarde van dinge wat dit kan koop anders begin sien.  Hier in ons veertigs is on sanders as in ons twintigs, want ons het nie meer uitknipsels van Golf GTI's op ons mure nie, maar wys eerder vir mense ons vakansiefoto's.  Soos jy ouer word het ons begin besef dat dinge WAT jy koop nie vir jou sin in die lewe gee nie, maar eerder ervarings van die lewe.  Meer pa's is by hulle kinders se sport- en kultuuraktiwiteite vandag as in die vorige geslag.  Ons is bereid om produktiwiteit en die najaag van kapitalisme op die agtergrond te skuif.  Dit is amper asof ons in die idée van die prediker in die Bybel begin besef het dat dit soms 'n gejaag na wind is, en ons probeer om ons lewens te balanseer tussen hierdie dinge.

Ek was op 'n stadium, kom ons noem dit nou maar bevoorregd in finansies en in besittings.  Ek het nou nie in 'n kasteel gewoon nie, maar ons het gemaklik geleef.  Dit het tot baie konsekwensies in my lewe gelei waarop ek nie nou in detail wil ingaan nie.  Maar soos ek dinge nagejaag het, het die al meer en meer verantwoordelikhede en doelwitte gebring. 

Ek onthou dat ons elke jaar ons kontrakte moes hernu by die maatskappy om jou kontrak te behou.  Elke jaar het jy 'n groter en groter doelwit gekry om net jou werk te behou, en daarmee saam het die spanning en dramas al meer geword.  Dit het vir my so geword dat ek naderhand aan niks anders gedink het as werk en maniere om geld te maak, en al minder oor die dinge waarvoor ek nou kans kry om oor te dink.  Dit was waar ek my balans verloor het, alhoewel mense toe baie respek vir my gehad het.  Ek onthou hoe belangrik dit vir my geword het om elke maand in die top 5 te wees en aande en naweke gewerk het om daarby uit te kom.  So word ons soms so ingetrek in die verdienste van geld, dat ons nie daaruit kan kom nie.  So word dit vir sekere mense dat jy naderhand niks anders in jou lewe belangrik ag nie, en al meer en meer ingesuig word in 'n sinnelose lewe.  Moenie 'n fout maak nie, dit is heerlik om te kan koop wat jy wil he en ook om te kan gaan vakansie hou waar jy wil sonder om jou te bekommer oor geld.  Dit is heerlik, tot ek een vakansie daar by Groot Brakrivier saam met my gesin is en myself uitvang dat ek alweer die hele tyd sit en planne maak en my bekommer oor my besigheid. 

Vandag sit ek in 'n ander posisie, waar ek nie genoeg geld het om alles te bekostig nie.  Ek bly nie meer in die mooi huis nie, en ek kan nie meer die motor van my drome elke 6 maande vervang nie, inteendeel, ek ry weer met my studentekarretjie.  En ek dink dit is wat Anodea Judith bedoel met uiterlik ryk en innerlik arm, want wat is die punt dat jy alles het in die lewe, maar jou siel gaan verlore.  En net soos met die ryk jong man, het ek besef dat ons hele samelewing ook ingesluk is deur die idée van mense met geld en materiele dinge is suksesvol, en die wat dit nie het nie, hulle het moeilikheid.  Ek het gesien dat my vriendekring al hoe kleiner word, want hulle verstaan dit nie waarin ek nou is nie, en omdat ons barometer van sukses op 'n sekere manier werk, dink hulle minder van my, en se selfs reguit vir my dat hulle respek vir my verloor het.  Die beginsel is, ek is bekommerd oor 'n samelewing waar dit alles NET gaan oor een ding, en waar mense nie sukses op die korrekte manier nastreef nie.  Ons kyk neer op mense met minder as ons.  Kyk maar na kinders en hoe hulle altyd net meer en meer en beter en beter soek.  Wie het hulle dit geleer? 

Aan die ander kant van Anodea se redenasie, dink ek ook nie die antwoord vir geluk daarin gelee is om erens op 'n ashoop te sit en te dink dat dit werklike geluk is nie.  Daar is natuurlike behoeftes wat ons en ons kinders het wat aan voldoen moet word, en dit is weereens waar die idée van balans inkom.  Aan die een kant is dit belangrik om te verstaan dat werklike geluk wel van binne en van die geestelike siel afkomstig is.  Daar is by my geen twyfel dat ek eerder saam met 'n geestelike sal wil sit en praat oor die werklike dinge van die lewe as by 'n braai waar almal spog oor hulle besittings, maar nie werklik oor die lewe kan filosofeer op praat nie.  Natuurlik is dit my persoonlikheid ook wat daardie behoefte het, maar ek dink julle verstaan waaroor dit gaan.

Die Bybel leer ons tog dat daar 'n prioriteitslys is waarin dinge moet gebeur.  Die Bybel leer dat ons eers die Koningkryk van God moet soek en Sy geregtigheid voordat al die dinge ons toegevoeg gaan word.  Duidelik leer ons daaruit dat al die rykdom in die wereld tot ons beskikking is, maar geen werklike sukses sal ooit kom voor ek nie die spirituele in my voed nie.  Voordat my siel nie vervuld is nie, kan en sal geen biljoen of Bugatti my gelukkig maak nie, want ek gaan soek die regte ding op die verkeerde plek.  Hoe baie keer hoor jy mense se dat wanneer hulle daardie werk kry of wanneer hulle in hulle droomhuis bly dat hulle dan sal gelukkig wees.  Studies is al gedoen onder persone wat 'n Ferrari aanskaf, en gemiddeld 'n maand na die aankoop, begin hulle reeds soek na die nuwe model en sit hulle name op die waglys.  Soos hier kan statistiek ons natuurlik enige ding laat bewys wat ons pas, en hier pas dit my nou.

Ek dink wat die Bybel ons wil leer is nie dat daar fout is met besittings nie.  Dit is die algemene idée wat vir eeue in godsdienste voorop gestaan het.  Wat die Bybel ons eintlik leer is dat spiritualiteit KAN bestaan sonder materialisme, maar materialisme NIE sonder spiritualiteit nie.  So, soms moet ons 'n oomblik stilstaan en kyk na ons barometer waarmee ons na ander mense en onsself kyk.  Wanneer jy vriende en mense om jou beoordeel, moet dit altyd EERS wees vanuit die spiritualiteit.  As die skrywers van sukses-sprokies vir ons vertel dat ons onsself moet omring met suksesvolle mense, moet dit eers gaan oor hulle spirituele sukses voordat dit oor enige iets anders in hulle lewens handel.  Wanneer ons kinders leer om vriende te maak, soek ons nie die "rykste" kind in die skool uit om mee vriende te wees nie, ons soek daardie kinders met die regte waardes wat hulle sal uitdaag om beter mense se wees.  Die vraag is hoe ons dit toepas in ons volwasse lewens.  Miskien moet ons gaan stilstaan en ons waardesisteem beoordeel en terug te tree en terug te gaan na wat God ons in die Bybel geleer het. 

Wanneer ons na ander kyk, wees versigtig watter maatstaf jy gebruik om hulle mee te toets.  Wees versigtig om nie die boek aan sy omslag te oordeel nie, maar eers die boek se inhoud kans te gee om ons te verras met die mooi wat daarin geskryf is, die inhoud.  Dit is maklik om te se dat dit meer oor die innerlike as die uiterlike gaan, maar in watter mate lieg ons vir onsself om die teenoorgestelde te doen.  Dit is natuurlik ook veral waar wanneer dit by jouself kom.  Beoordeel jy jouself, jou geluk en jou sukses aan uiterlike of innerlike dinge of die innerlike?  Dit is nie maklik om alles te verloor nie, maar soos ek voorheen gese het, materialisme kan nie sonder die innerlike bestaan nie, maar die innerlike en wie jy is, in wie jy glo bly vir altyd, met of sonder die materialisme.

Soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al die ander dinge sal jou bygevoeg word.  En al word dit jou nie bygevoeg nie, is jy steeds gelukkig en suksesvol, en wanneer dit jou bygevoeg word kan jy dit met 'n ander dankbaarheid en visie geniet!

Friday, July 31, 2015

Alles is balans

Vanoggend staan ek op en skielik word ek herinner aan die woorde van die 1983 song van Depeche Mode, "Get the balance right".

There's more besides joyrides
Little house in the countryside
Understand, learn to demand,
Compromise, sometimes lie
Get the Balance right, get the balance right
Be responsible, respectable,
Stable but gullible
Concerned and caring, help the helpless
But always remain ultimately selfish
Get the balance right, get the balance right
You think you've got a hold of it all
You haven't got a hold at all
When you reach the top, get ready to drop
Prepare yourself for the fall, you're gonna fall
It's almost predictable
Don't take this way, don't take that way
Straight down the middle until next Thursday
Push to the left, back to the right
Twist and turn 'til you've got it right
Get the balance right

Ek het so baie al gepraat van die werk van Dr. John DeMartini wat juis handel oor balans.  Sy uitgangspunt is dat alles in die heelal in balans funksioneer.  Wat veral interresant is, is hoe 'n mens dit in jou persoonlike en emosionele lewe kan toepas.  Eintlik wee tons dit instinktief, en ons probeer om dit te doen, maar dit moet tog 'n kognitiewe besluit wees.  Wanneer jy kognitief en bewustelik besig is met jou problem en uitdagings, word jou lewe werklik beter.  Bewussyn van jouself en jou gevoelens is dit begin van groei, sukses en geluk. 

Gister is my seun op die enkel raakgeslaan in die hokkie oefening, en eintlik gekrul van die pyn, want dit is net daar waar sy pads nie meer bykom nie. 
Ek het hom so bietjie samboksalf gesmeer, en die oomblik toe ek aanbeveel dat hy dalk moet hospitaal toe gaan vir plate, voel hy skielik beter.  Dit is wat balans doen, want dit help ons eintlik net om dinge in perspektief te stel.  As jy nou vanoggend deur die intensief by Little Company of Mary gaan stap en sien hou mense veg vir hulle lewens, gaan jou probleme skielik vir jou anders lyk. Vir sekere mense maak hierdie tipe van aksies nie sin nie, want dit verander nie jou probleem nie, en ja, ek erken dit.  Mense vra my baie keer hoe ek dit regkry om te midde van groot drama positief te kan bly.  Dit is natuurlik 'n baie moeilike vraag, maar kom ons probeer dit antwoord.
1.      Persoonlikheid
Ons verskil van mekaar, en daarom is daar 'n deel van jou wat jou oor die algemeen in 'n outomatiese modus plaas om dinge op 'n sekere manier te hanteer.  Hieraan kan ons bitter min doen, want dit is dalk in jou DNA ingeskryf oor hoe jy sekere situasies hanteer.  Dit beteken nie dat dit altyd maklik is om so positief te wees nie, dit is steeds 'n inspanning en vat baie werk, al lyk dit asof dit van self kom, kom dit eintlik net vir sekere mense makliker as vir ander.
2.       Uitkyk op die lewe
My uitkyk is dat alles wat gebeur, of ek dit nou as drama, hartseer, geluk of vrede sien, het 'n plek in my lewe.  Ek leer uit dit wat gebeur elke liewe dag, en ek SOEK na die rede vir alles.  Uit my blog sal jy sien dat ek baie dink oor dinge, en daarom het die neerskryf van my idees my uitsorteer en balanseer geword van my eie lewe.  In verhoudings is dit natuurlik baie stressvol om die persoon the wees wat altyd positief is, want ander sien dit nie altyd soos ek nie.  Ek glo ALTYD dat dinge sal uitwerk, en as dit nog nie uitgewerk het nie, dan sal dit.  Ek kyk deur die geskiedenis van mense wat groot hoogtes bereik het, en een ding wat jy baie van hulle sien, is dat hulle NOOIT hulle geloof verloor het in hulleself of die droom wat hulle het nie.  Dit was natuurlik vir hulle belangrik om 'n paar ompaaie te loop om sekere dinge eers te kon leer of doen, maar hulle het hulleself oorgegee aan die proses.

My ander uitkyk op die lewe is dat jy jou gedagtes kan programmeer om enige iets te doen.  Om jou persepsie teenoor 'n saak te verander, bring dit in jou bewussyn, en ek glo dat elkeen van ons die keuse het HOE ek gaan reageer op 'n situasie.  Elke probleem word vir my 'n proses waarin ek kan leer om in balans te leef en die balans te bring.  Ek verstaan dat die persoon wat nou vandag met my ongeskik is, deur hulle eie prosesse gaan.  Nie alles wat almal doen gaan oor MY nie, want ek is nie die sentrum van die Universe nie.  Ek verstaan ook dat wat ek sien hoe mense my hanteer, vir my 'n alarm laat afgaan het dat ek nog nie my balans gevind het in die situasie nie, en daarom moet ek aan myself werk, want alles is net 'n spieelbeeld van wat ek oor myself kan sien.
3.        Jy IS nie jou omstandighede nie
Ons word so maklik ingetrek by dinge rondom ons, dat ons vergeet dat my omstandighede my nie mag of kan definieer nie.  Ek kan baie voorbeelde opnoem van mense met gestremdhede wat op 'n verhoog staan en vir ons leer dat jy jouself definieer, en nie jou omstandighede nie.  Ek vind dit baie inssiggewend dat mense vir my vertel dat hulle gaan gelukkig wees wanneer hulle dit of dat gaan doen of kry.  Moet vir geen oomblik dink dat ek nie swaar in die lewe gehad het nie.  Ek het grootgeword met 'n pa wat 'n alkoholis was en dit kon my gebreek het, maar dit het nie.  Ek het huwelike gehad  wat nie uitgewerk het nie, maar het dit my gebreek, nee.  En so kan ek aanhou met voorbeelde uit my lewe.  Ek sal nie se dat ek 'n robot is nie, maar ek kan wel se dat ek bewustelik verstaan het wat aangaan om my, weereens in die wete dat ek in elke omstandigheid kan besluit hoe ek wil reageer en wil optree. 

Daar mag tye wees waar jy in trane wil uitbars, ongelukkig voel oor wat iemand doen of nie doen nie, maar as jy jou omstandighede die mag in jou lewe gee, sal jy altyd 'n pion van jou lewe wees.  As jy die mag van jou lewe vir wie of wat ookal gee, is dit JY wat die mag weggee, niemand kan dit by jou vat nie.  Te veel van ons soek en wag vir dinge om OM ons te gebeur, of iemand of iets om my gelukkig te maak.  Mense wat suksesvol is in wat hulle ookal doen, is juis die wat TE MIDDE van hulle omstandighede gedoen het wat hulle wou, en nooit die beheer van hulle drome van ander of omstandighede afhanklik gemaak nie.
4.        Aanvaarding
Saam met bogenoemde, is die aanvaarding van jou lewe en omstandighede die waarheid waarvan die Bybel praat, want dit is deur die aanvaarding wat ek Vryheid kry.  Daar is sekere dinge wat ek niks aan kan doen nie, veral my verlede, maar deur te aanvaar verander ek en neem ek die mag uit die situasie.  Aanvaarding beteken nie dat jy net oor jou moet laat loop nie, inteendeel, aanvaarding gee jou mag om aan te gaan met wat jy besig is en juis te leef. 

Maar aanvaarding is nie altyd so maklik nie, dit is 'n konstante proses.  My aanvaarding kom deur dat ek mense en situasies nie altyd kan verander nie, dis nie DSTV en jy sit met 'n remote nie.  Ek sien dit soos met 'n film wat op TV afspeel, en ek kyk dit, maar of ek volledig vir altyd gaan inkoop en dink dat dit die enigste film is wat bestaan, verskraal ek my lewe.  Aanvaarding is om te besef dat die film wat ek kyk daar is vir 'n rede, ek kan dit kyk, analiseer en vat wat ek dink belangrik is en die res kan ek los.  Aanvaarding is baie keer die een ding wat ek kan doe nom balans in my lewe te bring. 

In Depeche Mode se song verwys hulle na die teenoorgesteldes, en saam met aanvaarding verstaan ons ook dat die lewe tussen hierdie twee pole gaan wees van waar dinge my pas en waar dinge my nie pas nie.  Soms is ons ongelukkigheid omdat alles nie net 'n joyride is nie, maar 'n verantwoordelikheid op 'n ander plek.  Eenvoudig is dit dalk hoekom ons so min van Maandae hou, want dit balanseer die lekker van die naweek uit.  Aanvaarding is om dinge te sien soos dit is en wat dit is, en dan aan te beweeg en verder te lewe, in die wete dat alles in die lewe, hoe ek dit ookal sien, 'n rol in my lewe speel.  Vir my as gelowige, vertrou ek ook in 'n God wat in beheer is, en waarvan ons leer dat Hy ook soms sy mense deur dinge gesit het wat nie lekker was vir hulle nie.  Maar ek glo ook in 'n God wat die balans ook bring, en daarom aanvaar ek alles wat in my lewe gebeur in vertroue dat God in beheer van hierdie hele film is wat in my afspeel elke dag.
5.        Drome
Soms is ons so vasgevang deur die dinge wat ons weerhou en keer van ons drome, dat ons ophou droom.  Ons hou ons oog op die dinge wat "probleme" is, en vat ons visie af van dit wat ons wil en moet doen hier op aarde.  Natuurlik is dit so dat groot drome ook groot obstacles het.  Suksesvolle mense en gelukkige mense is iemand wat hulle laat SUIG deur hulle droom, eerder as om te fokus op al die dinge wat nou of in die toekoms in die pad daarvan te kan staan.
Mense wat respek afdwing, is mense wat nie opgee op hulle drome wanneer die opdraende en slaggate kom nie, maar wat hulle oog hou op die kruin van die berg wat hulle besluit het om te klim.

Thursday, July 9, 2015

Sin in jouself

Ek loop so deur Exclusive Books en kyk na al die boeke. Daar is fiksie, DIY, Filosofie en Sielkunde boeke opgestapel. Een idee pak my toe beet, nl die stoei waarmee die mens probeer sin maak van hulle lewens.

Op die stoele sit mense en lees, die een ou lees Osho se filosofie, n meisie sit met n trourok boek, n ander oom weer met n motortydskrif. Op die grond sit n dogtertjie en sy lees n Barbie boekie terwyl haar ma op die stoel sit en deur n Sielkunde boek blaai. Elke mens is anders, ons belangstellings verskil, maar erens daarbinne soek ons na sin vir ons bestaan.

Ek het grootgeword met 2 ouers wat elkeen verskillend hulle soeke uitgeleef het. My ma is n of het n baie sterk realistiese uitkyk op haar lewe. Gekoppel met haar wiskunde en musiek agtergrond maak dit sin dat 1 en 1 twee is, soos ons nou maar sal definieer as realisties. My pa aan die ander kant het nooit die geleentheid gekry om te studeer nie, alhoewel hy baie van sy talente probeer uitleef het, was sy kop altyd in die wolke. Alhoewel 1 en een 2 is, was hy nooit tevrede met sy lewe nie. Hy wou altyd meer en anders, wat hom uiteindelik in sy siel laat sterf het. In die proses het hy ook my ma en my lewe saam afgetrek, emosioneel en prakties.

Dit was altyd vir my baie moeilik om tussen die 2 plekke en mense te leef, want ek is dalk meer "onrealisties" in my opmaak. Ek is meer n half vol glas mens en gesukkel om die twee punte bymekaar uit te bring. Intussen het ek baie gegroei, in die besef dat daar nie reg of verkerrd is nie. Daar is net jy, wie jy is en wat jy is, en dat ek eintlik n waardevolle les moes aanleer van balans. 

Realiteit word soms afgemaak as "reg" en dromers as "verkeerd". Of so het ek dit vir lank gesien en gerebelleer teen die konstante realiteite van die lewe. Die lewe is eintlik eenvoudig, dit is net wat dit is. Ek het in myself probeer om verskillende dinge te wees, geskop teen wie ek is, en soos in Exclusive Books eerder die "regte" boeke gekies as boeke wat ek "wou".

So kyk mens terug na jou lewe en kan mens baie mooi sien hoekom jy jou keuses gemaak het. Dit is eenvoudiger so want jy kan die hele prentjie sien. Dit word ook gevaarlik want jy leef soms net in die verlede. Soms word ek kwaad vir nuwe idees dat jy "net" in die nou moet leef, terwyl dit soms onnatuurlik is. Hoekom sou God vir ons geheue gegee het, en daarmee saam analitiese denke waarmee ons verlede kan ontrafel? Soms voel dit asof ons sin wil vind in die onnatuurlike, die "ander" boek wil lees wat nie ek is nie. Soms om ander te beindruk, maar soms omdat ek glo dat ek nie my natuurlike self wees "mag" wees nie.

Uit my lewe het die feit dat my pa "aangejaag" het, my gedwing om n deel van my menswees te misken. Ek het myself gedwing om die "regte" ding te doen. My lewe was vir lank vol van n klomp boeke, mense en optrede wat ek nie met my hele hart in kon glo nie. Ek kon dit baie goed doen, want soos elke ding wat ons onnatuurlik doen, bestudeer ons dit van buite en kan jy dit met presisie toepas. Dit klink vreemd, maar onnatuurlike "jy-wees" is makliker, want dit is klinies en presies. Jy is nie in dit nie, en daarom kan jy die vangplekke sien en vermy. Dit is makliker om in n inkleurboek die olifant tussen die lyne in te kleur. Dit is moeiliker om jou eie prentjie te skets sonder aanwysing of leiding. Maar hoeveel van ons spanning en drama word veroorsaak deur die verveling om iemand anders se prentjie in te kleur? Jy wen dalk al die pryse, maar dit is nie "jy" nie. Maar, omdat ons aanvaarding soek, teken ons nooit ons eie prentjie nie, omdat ons hoor dat dit "verkeerd" is om "anders" te wees en te dink. So word ons almal soos wilde perde wat ingebreek word en in n kampie bly, onder beheer.

Soms voel die wereld vir my dat jy deur die dieretuin stap, jy sien al die pragtige mense wat in hulle hokke op en af loop. Mooi getem en beheerbaar, want dis anders en beter vir die wereld om n leeu agter tralies as in die wildtuin op voet te sien. Die rede is dat dit nie noodwendig die dier in die hok is wat beskerm word nie, maar eerder beter is vir die toeskouers. 

En ek is ook skuldig daaraan, ons almal is. Ons wil ons mense en ons idees en denke eerder op hok hou, want n mak dier is makliker beheerbaar. As ek na die wereld om my kyk, ja, klomp hokdinge soos Eskom werk nie, en mense doen mal dinge en maak foute, maar dit was en is altyd hulle wat "anders" was wat die mensdom vorentoe gevat het. Hulle wat eenvoudig hulleself nie laat inhok deur die "aanvaarbare" of deur die onmoontlike nie. Ek glo dat alles in die lewe moontlik is, niks is onmoontlik nie. Ek glo ook nie in die "norm" nie, selfs die bybel leer ons dat wat vir een persoon verkeerd is, nie noodwendig vir die ander een is nie. 

Natuurlik werk die lewe so dat ons saam moet leef en mekaar in ag moet neem. Maar in ag neem beteken nie dat ek soos jy hoef te dink en doen nie, en ook een mens akkommodeer makliker iemand wat jou akkomodeer. Dit is n sielkundige feit dat as ons veilig voel om onsself te wees ons gemakliker funksioneer. Die bybel vertel ons dat jy jou naaste moet liefhe, SOOS jouself. Jy moet altyd eerste kom in jou lewe, jou drome, jou ideale en ook jou grille en geite. Natuurlik bepaal die liefde komponent van daardie vers dat daar n fyn balans is in die grense tot die mate wat jy jouself prysgee, of van ander verwag om prys te gee.

So, jy skuld jouself die lewe, en mense wat jy kies om saam te leef die son wat oor hulle skyn. Weereens roep ons die konsep van balans om ons te help. Ons is op ons gelukkigste as mens wanneer ons so binne balans funksioneer.

Ek is bewus van die voorbeeld van Jesus wat as dienaar Homself gegee het om gekruisig te word. Maar in so baie van ons analises in die Bybel, kyk ons mis dat die bogenoemde NIE beteken het dat Jesus oor Hom laat loop het nie. Neem ook ons moderne ikone soos Nelson Mandela, Ghandi en moeder Theresa, almal wonderlike mense, maar in die voorbeeld van Jesus hulle eie radikale boodskappe rigied verkondig. Nogal vreemd dat mense wat radikaal ander hulle selfwees uitleef juis die mense word wat vir ander kan leef? Dit dwing respek af en dek die tafel vir hulle om juis dienaar te wees. Ons wil maklik mense uitwys as selfsugtig, terwyl vir jouself te kies juis nie mense veroordeel nie. Selfsugtige mense is veral nie die wat vir hulleself kies nie, maar in hulle verhoudings opsetlik andrr wil seermaak. Dit is die ander kant van die munstuk om iemand se slaaf te wees. Slawe en selfsugtiges "hang" soos parasiete aan ander en trek ander mense af. Om eerlik jouself te wees en te kies vat dus niks weg van ander nie, inteendeel skep dit vir ander die ruimte om op hulle eie manier te ontwikkel. 

Soms stap ons in mense se lewens in soos in Exclusive Books en wil ander boeke wat ons pas in hulle hande stop. Soos ons grootword besef ons tog dat jy dit nie mag doen nie. Te veel kere wil ons mense in ons lewens kies en soos n beeldhouer hulle kap om ons idees te pas. Dan gebruik ons verskonings dat ons ondervinding het of omgee. Natuurlik mag jy jou opinie lig, maar wetend dat dit gebasseer is op jou idees, jou ervaring en jou drama. 

Mens bak baie dinge in n oond, maar nie alles wat jy bak is dieselfde nie. Die basiese beginsels mag ooreenstem, maar temperatuur, die pan en die bestandele verskil. Dit is hoekom sielkundiges geleer word om te luister eers, nie jou eie opinie te lig nie, want dit is gebasseer op ervarings wat gladnie noodwendig inpas by ander se lewens nie. En om eerlik te wees, niemand het die mag en pag en kennis om ander werklik van raad te bedien nie, en soms kan ons raad mense op n dwaalspoor bring.

Hou jou maar eerder by jou eie denke van jou lewe, sorteer jouself uit en spandeer energie op jouself. Wees vir ander n plek waar hulle sonder oordeel rustig hulle eie boeke in jou teenwoordigheid kan kom lees, sonder oordeel, sonder snaakse kyke en met totale vryheid. Weet en verstaan dat elkeen op sy eie reis is, en jy hulle moet toelaat. 

Verder in die analogie van naaste soos jyself, n mens lees baie van hoe iemand oor hulleself dink, uit hoe hulle ander hanteer. Wat jy van ander dink is n spieelbeeld van hulle lewens en hoe hulle hulleself sien. Dit is moeilik vir mense om "andersheid" te hanteer of buite hulle verwysingsraamwerk te funksioneer. Iemand wat sy hele lewe in Pretoria bly kan onmoontlik vir jou aanwysings gee vir Londen. Dit is hoekom jy ander se opinies moet en kan aanhoor, maar altyd met n knippie sout dit nie persoonlik opneem nie, hulle kommentaar se meer van hulleself as van jou. Dit beteken nie dat jy nooit mag of moet luister vir ander nie, maar altyd binne konteks. Daarom is dit belangrik om mense om jou te verstaan eers, weet van waar hulle dinge se, en dit so te analiseer. Dit bly egter jou besluit wat jy gaan lees en waaraan jy jouself blootstel.

Dus, jou lewe is elke dag oop voor jou met legio moontlikhede. Jy kan en mag lees wat jy wil. Jy mag jouself blootstel net waaraan jy wil. Lees JOU boek eers, moenie so ingestel wees op wat ANDER lees en doen nie. Jy kan luister na ander se boekstories, maar het nie nodig om die boek jou eie te maak nie. Vind SIN in die lewe deur jouself te aanvaar. En soms, geniet wat jy lees, alles het nie nodig om n handboek te wees nie, vergeet om iets te moet leer. Wees jouself, leef jou eie lewe, want dan sal jy sin vind in ander en hulle in jou!

Sent from my iPhone

Thursday, December 25, 2014

Kraakvars Kersfees

Een van die wonderlikste boodskappe van Kersfees, was nog altyd vir my die feit dat God vir ons 'n "nuwe" kykie gee van Wie en Wat God is. Vir eeue sit mense en wonder en redeneer oor God. Almal van ons het 'n ander manier wat ons Godsbeeld werk, maar vir my is dit wat met Christus se geboorte gebeur ongelooflik. Dalk so effens anders as wat jy mag dink vandag.


Jesus se geboorte, wys vir ons 'n ander sy van die Godsbeeld. Natuurlik vind ons die dele oor Liefde en Genade, maar meer as dit nog, Jesus kom wys vir ons deur sy lewe hoe ek en jy met God kan handel. Daardie voorbeeld is asemrowend vir my, want alhoewel ons deur die Ou Testament baie verhale kry wat ons probeer wys, is Jesus se manier iets spesiaal. Dit is ook die eerste keer in die Bybel waar ons leer dat ons ook, "in Christus" God se kind is. In Christus se boodskap en Deur Sy voorbeeld leer ons op 'n asemrowende manier wat ons verhouding met God is en moet wees.


Wat verbysterend is, is dat Jesus IN die wereld kom leef het. Hy het al dieselfde uitdagings beleef as wat ek en jy elke dag in leef. Jesus het mense gehad wat Hom gehaat het, mense wat Hom geboelie het. Hy het in die woestyn Sy eensaamheid beleef, Hy het beleef hoe die bose Hom probeer verlei na die skadukant. Hy was ook minderwaardig hanteer, en mense was haatdraend teenoor Hom. Jesus was ook uitgekryt, daar is op Hom gespoeg en vele geleenthede het Hy ook met pyn en twyfel gesit. Daar in die tuin van Getsemane wys Hy ook sy menslikheid deur vir God te vra om die beker by hom te laat verbygaan. Maar twee dinge staan uit in Jesus se lewe, Sy totale vertroue in God dat God in beheer is, en tweedens wys Hy teenoor alle mense Sy vergewensgesindheid. Aan die kruis se Hy: "Vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie". Jesus verstaan dat mense om Hom net mense is, met foute, met idees en natuurlik ook met boosheid IN hulle.


Jesus se boodskap is egter heel eenvoudig rondom die lewe, vertrou in alles op God en vergewe almal om jou. Kersfees kan vir jou oor baie dinge gaan, familie, vriende, geskenke ens. Daarmee is daar absoluut niks fout nie, maar as jy die twee dinge miskyk, mis jy die hele doel van die boodskap.


Vertroue op God


Deur my lewe het baie aaklige dinge met my gebeur, dinge wat my siel gebreek het. Daagliks sukkel ek met depressie en 'n gevoel dat ek niks werd is nie. Soms voel dit asof God my vergeet het en asof ek totaal alleen gelaat word in die woestyn. En in daardie boodskap voel dit asof die bose deel in my daagliks die oorhand kry in my kop. Dit voel vir my asof daar nie 'n toekoms is nie, en ek is bang vir die lig in die tonnel, want ek dink dit is, uit ervaring, 'n trein wat aankom. Mense om my glo my nie meer nie, en baie mense skryf my af. Die stukkie krag wat ek oor het om op te staan, gebruik ek om te probeer, maar soms voel dit asof my drome nooit bereikbaar sal wees nie. Elke dag voel asof ek voor die tyd al dink en weet dat dit wat ek aanpak gaan misluk.


Ek lees, ek skryf en ek bid, maar dit voel asof ek soos Job net nooit suksesvol sal wees nie. Ek probeer hard, en ek pak dinge aan, net om weer oor en oor teleurgesteld te wees. Mense om my haat my, kritiseer my en soek my ondergang. Ek vra en dink en bid om vergiffenis, en vra myself soms af wat ek verkeerd gedoen het om hierdie lewe te verdien? En ek vra myself af vandag, so met kersfees, of die fout nie maar net op een plek le nie, my tekort aan vertroue in God. Van kleins leer ons dat JY die argitek van jou eie lewe is, so, is jou mislukkings ook net JOU toedoen?


Ek wil vandag voor God op my kniee gaan en die grootste sonde van alles bely, die feit dat ek nie meer in God se plan vir my lewe glo nie. Ek vra om verskoning dat ek in depressie is, want dit is die gevoel dat jy van God verlate is, terwyl jy nooit is nie. Ek vat vandag die voorbeeld van Jesus dat ek sal opstaan en die lewe leef wat God vir my geskenk het, en dat ek sal leer en vorentoe beweeg. Ek sal in Jesus se voorbeeld verstaan dat die lewe nie volmaak is nie, maar dat God in die onvolmaaktheid wonderwerke doen en Hom steeds met My bemoei.


Ek sal my oe oopmaak en sien hoe God wel vir my ongelooflike dinge gee en doen, en dat ek eerder moet fokus op wat ek het, teenoor wat ek nie het nie. Ek sal God vertrou dat alles ten goede meewerk, en eerder glo dat God vir my is, en dat my lewe nie hoef volmaak te wees nie, want die wereld is nie. Dat ek eerder moet verstaan dat God die lewe GEE en dat dit kosbaar is, en dat ek eerder moet ophou top en wonder, terwyl 'n wonderlike lewe my verbygaan. Vandag is die dag dat jy moet besef dat die grootste geskenk wat jy ontvang het, die lewe is, en die feit dat God so baie moeite gedoen het deur Sy Seun te stuur, ons moet herinner hoe belangrik die lewe is.


Haatdraend


Afrikaans is seker een van die tale waarin woorde ongelooflike betekenis dra, en so self-verduidelik dat jy eintlik niks verder oor die woord kan se nie. Die woord "haatdraend" is een daarvan. Die eerste persoon teenoor wie jy haat dra, is baie keer jouself. Mense leef met spyt en verwyt oor keuses wat hulle gemaak het, en natuurlik ook oor keuses wat hulle nie gemaak het nie, of verkeerd gemaak het. Mense loop vir jare rond in hierdie verwyte, wat die dryfsand is wat daagliks probeer om jou in te sluk. Sommiges van ons se neuse steek net-net uit, en hierdie haat van onsself het die uiteinde dat jy daarin verdrink.


Alhoewel God ons as volmaak geskep het, moet ons verstaan dat ons nie die mag en pag besit om perfekte besluite en keuses te maak nie. Ons is menslik, en dit beteken eenvoudig dat ons feilbaar is. Jesus se boodskap van Sy lewe was een van vergiffenis, maar daarmee saam ook die feit dat God ONS so liefgehad het, dat Hy Jesus na ons gestuur het om 'n gebroke wereld heel te maak. Laat hierdie kersfees jouself toe om jouself te sien soos God jou sien, as 'n spesiale wese, iemand wat vir God belangrik is. Sien jouself as 'n wese wat deur God vergewe is, so hoekom nie jouself vergewe in die proses nie. Dalk is dit hoekom ons ons naaste nie kan liefhe soos ons moet nie, want ons het onsself nie lief nie. Hou op om jouself te kasty oor die verlede, sien jouself in die lig wat God jou sien en kry jouself lief soos wat God jou liefhet.


Daagliks leef ons in 'n wereld waar mense teenoor JOU haatdraend is. Daar is mense daarbuite wat teleurgesteld is en voel wanneer jy nie ondergaan nie. Soms is daar niks wat jy daaraan kan doen nie, maar as jy kan probeer. Onthou altyd dat, wanneer mense jou haat, hulle besig is met hulle eie prosesse in hulle lewens. Mense het hulle eie idees, hulle eie pyn en hartseer, en daarvoor moet jy deernis toon. Wees teenoor sulke mense liefdevol, want hulle is in jou lewe met 'n doel, maar hulle weet ook nie wat hulle doen nie. Soms moet jy mense toelaat om te leef, en selfs te haat, want dit is hulle proses. Een fout wat ons maak is om hulle haat deel van jou lewe te maak. Ons het self soveel probleme in onsself, en daar is nie nog plek in jou lewe om eienaarskap te aanvaar vir ander se haat en probleme nie. Soms is die beste manier van 'n saak uitsorteer, om hulle te los. Ek ervaar daagliks baie mense in my lewe wat my haat, maar net omdat ek my steur daaraan, beteken nie dat ek dit kan oplos nie. Dit is hulle stryd, en dit is hulle wat dit met HULLE God en HULLE geloof moet oplos.


En die haat in jouself oor ander? Ons hele lewe, en as jy jouself 'n Christen noem, is om in alle omstandighede die Liefde te kies, bo enige ander emosie of aksie. Dit is vir ons moeilik, veral wanneer ons dink dat iemand ons te na gekom het, of ons ondergang soek. Jesus gee ons die boodskap aan die kruis, dat ons moet vergewe en in Liefde moet leef. Dink jy vir 'n oomblik dat die vir Hom maklik was om in daardie oomblik, aan die kruis, te vergewe en te vergeet? As mens is dit nie maklik nie, maar dit is die boodskap van Jesus se geboorte, om ANDERS op te tree as wat jou natuur jou wys. En verder nog, jy het lief en leef in liefde nie omdat mense dit verdien of nie verdien nie. Jy is lief vir mense om jou, oor wie JY is. Jy is 'n liefdevolle mens, want JY is kind van God. Geen mens kan ooit werklik liefde "verdien" nie. As jy eers wag vir dit om te gebeur, sal jy dit dalk nooit kry nie. Wanneer JY besluit om in liefde te leef teenoor alles en almal, te midde van wie hulle is en wat hulle doen, dan eers verstaan jy die boodskap van Kersfees. Dit is in daardie oomblik waar jy daagliks God se liefde deur die koms van Christus kan ervaar. Mense is nie volmaak nie, mense is daagliks besig met hulle eie persoonlikhede en hulle eie ervarings, en jy kan slegs klippe gooi, wanneer JY volmaak is, en jy is nie.


Selfs Jesus wat, soos ons glo volmaak was en selfs Goddelikheid in Hom gehad het, het nie eers geoordeel en met haat in Sy hart geloop nie. Wie gee jou dan die reg om dit met ander om jou te doen, maak nie saak wat hulle aan jou doen nie. Die wereld het liefde nodig, en selfs al gee die lewe nie vir jou liefde nie, gee dit in elkgeval. Die boodskap van Jesus was ook dat ons nooit die liefde van God kan verdien nie, of liefde in die algemeen nie. God het JOU lief, period, sonder verdienste, te midde van jou foute en nukke en grille. God het JOU lief, of jy HOM liefhet of nie, deur genade. Dus, hou op om ander te haat, hou op om ander se ondergang te soek, of te blammeer. Want sonder liefde is jou lewe gedoem, en sonder liefde is jy niks meer as 'n galmende simbaal nie.


Wanneer jy dus vandag Kersfees ervaar, gaan vertrou met jou hele hart op die God wat jou skepper, onderhouer en redder is. Gaan vertrou dat die God waaroor vandag gaan, met jou hele hart, al is dit tot aan die kruis. Verstaan dat dit die God is wat jou selfs voor jou geboorte SYNE genoem het, en dat daardie God jou, met jou nukke en grille, met jou persoonlikheid, met jou pyn en hartseer, nooit sal los nie. Anders sou God die wereld maar net laat vergaan het sonder om Jesus te stuur.


Gee al jou haat oor aan God, laat Jesus se boodskap jou genees van al jou haat teenoor jouself, teenoor die wat jou haat en die wat jy haat. Dalk is vandag die dag wat jy 'n whatsapp stuur aan iemand wat jou haat, of iemand wat jy haat, wat jou gaan toelaat om dit te laat gaan.


Anders mis jy die boodskap van Jesus en Kersfees, en was alles wat God deur Jesus vir jou gedoen en gewys het, absoluut verniet.


Geseende Kersfees aan jou en jou mense, en mag die liefde van Jesus jou dag vul, en jou lewe oorneem!

Tuesday, December 2, 2014

Blokkiesraaisel lewe

Ek is absoluut versot op blokraaisels. Ek dink soms dat as dit nie was vir die blokraaisels nie, daar dalk minder Huisgenoot verkope sou wees. Maar dit is so lekker om 'n blokraaisel te voltooi, en soos ek vandag in opgewonde sien dat daar 'n skoon een is wat ek nog nie mee begin het nie, dink ek toe dat 'n blokraaisel dalk net soos die lewe is. Die lewe is natuurlik 'n raaisel, en dit is soms vir ons onmoontlik en voel soos 'n onbegonne taak.


DEELNEEM


Ek vind dit vreemd as ek by mense kom wie se blokraaisels in die Huisgenoot blanko is. In ons huis het ons altyd baklei oor wie die blokraaisels kry. Die lewe is natuurlik 'n keuse, soos alles. Jy het 'n keuse of jy wil deelneem of nie. Net omdat jy nie blokraaisels van jou lewe wil invul nie, beteken dit niks nie. Jy het die keuse of jy die uitdaging wil aanvaar of nie. Niemand dwing jou nie.


Ek het die afgelope ruk soveel ouer familielede van my ontmoet met my oom se besoek. Wat my die heel meeste opval is dat sommige van hulle, en dit is hartseer, hulle fut vir die lewe verloor het. Hulle is en lyk nie meer lus om te lewe nie. Dit wil soms voorkom asof hulle die lus vir die blokraaisel van die lewe verloor het, en dink dat hulle al genoeg ingevul het, al is dit nie klaar nie. Natuurlik besef 'n mens dat dit net in sekere gevalle is wat jou blokraai altyd perfek klaargemaak word.


Die lewe het soveel mooi in, en soveel genot. Vir baie is die blokraaisel een groot stress, terwyl vir ander is dit een groot stuk pret. Ek geniet dit vreeslik om dit te doen, So loop die lewe met elke mens, maar as jy nooit deelneem aan die blokraaisel nie, hoe sal jy ooit weet hoeveel pret dit kan wees. Soms sien ons op die blanko blokraaisel 'n klomp moeilike woorde, dan dink ons sommer summier dat ons eerder nie gaan deelneem nie. Sommige mense wat ek ken dink so oor die lewe en sien net die moeilike woorde raak, maar, die blokraaisel bestaan ook uit 'n hele klomp "maklike" antwoorde wat almal behoort te ken. Ek verstaan dat, soos die tyd loop, jy reeds in jou lewe die maklike antwoorde ingeskryf het, en dan bly net die moeilikes oor, dit is verstaanbaar. Maar, om 'n begin te maak, begin by die maklike woorde, eers.


Die Budha het een keer sy pad verloor en nie her of derwaarts geweet nie. Toe kom hy by 'n Olifant wat hom baie goeie raad gee, en dit is, gaan terug na die begin en probeer weer. Veral wanneer mense depressief is staar hulle hulleself vas teen die groot woorde en die moeilike uitdagings van hulle lewens. Partykeer moet jy teruggaan na die begin, na dit wat jy ken en waaroor jy beheer kan uitoefen, om sodoende weer "beheer" oor jou lewe te voel. Die lewe is nie gebou deur groot tree nie, maar in baba-treetjies. Maar dit is soms die baba-treetjies en die woordjies wat jy ken, wat jou die leidraad bied tot die groot antwoorde wat jou skielik met trots vul.


PENCIL IT IN


Niks frustreer my soveel soos 'n blokraaisel wat onnetjies is met 'n klomp doodgekrapte letters en woorde nie. Wanneer jy effektief 'n blokraaisel invul, gebruik 'n potlood. 'n Potlood laat jou toe dat jy kan uitvee en van voor af kan begin. Dit gee jou die geleentheid dat jy jou foute kan gaan regmaak. Sommige mense gaan die blokraaisel lewe in met "permanent markers", wat jou absoluut geen beweegruimte tot verandering bied nie. Die lewe is plooibaar, veranderbaar en dinamies. Leef so met jouself en met mense om jou, dat jy altyd die geleentheid kry om te verander. Soms is ons aksies van so 'n aard dat ons onsself met die permanente marker in 'n hoek inverf, wat ons nooit kan verander nie.


Wanneer jy soms vashaak by 'n moeilike woord, word dit belangrik dat jy die woorde wat reeds ingeskryf is, moet gaan herondersoek. Ek sien baie mense wat vashaak in hulle lewens, wanneer hulle weier om hulle woorde, hulle manier van denke, uit te daag en te her-evalueer. Een ding is seker, en dit is hoekom jy met 'n potlood moet skryf, niemand het die totale waarheid en al die kennis en pag om alles altyd 100% reg te kry in hulle lewens nie. Daar is telkens nuwe waarhede en nuwe sinonieme wat in die blokkies kan pas om jou tot nuwe antwoorde te kan lei.


Soms dink ons dat 'n potlood 'n "swakkere" keuse is, of dat dit nie "goed" genoeg is nie. Ons dink dat as ons met 'n pen skryf alles beter sal wees. In die tyd toe NASA ruimte toe is, het hulle so gesukkel om met penne in die ruimte te skryf, dat hulle 'n kompetisie uitgevaardig het om die probleem op te los. Een persoon het toe gewen en al wat hy aanbeveel het is dat hulle potlode gebruik wat nie swaartekrag nodig het nie.


Ons is baie maklik om ons standpunt te gee en ons stempel permanent op mense af te druk, dat ons soms vergeet dat ons nie al die kennis in die lewe het nie. Ons is dinamiese wesens wat leef in 'n dinamiese wereld wat daagliks verander. Wees versigtig dat jy nie met jou idees so permanent is, dat daar nie plek tot verandering en besinning is nie.


DIE OPSTELLER


Soos met die blokraai, glo ons tog dat God die opsteller van ons lewe is. Daar is geen twyfel dat elke gedeelte van die blokraai op die ou einde fyn beplan is, en dat alles wel gaan pas. Dit lyk soms asof woorde onmoontlik is en dat dit nie gaan inpas nie. Maar so deur die proses kry jy wel sekere aanduidings dat daar nie foute is nie.


Te midde van die feit dat dit nie altyd sin maak nie, moeilik is of onmoontlik voel, verander totaal wanneer ek weet dat op die ou einde alles gaan sinmaak, gaan inpas en sal werk. Ek is nooit 'n voorstander gewees van die poppespel-idee van God met ons alleenlik, en dat alles 'n paadjie het nie. Maar ek het natuurlik altyd vrye wil, maar geloof dat God dit alles ten goede sal laat meewerk.


LEIDRADE


Die blokraaisels het wit en swart blokkies. Die wit blokkies is vir die antwoorde en die swart blokkies bevat leidrade van wat in die wit blokkies geskryf kan word. Stel jouself voor as jy sonder leidrade die blokraaisel moet invul? Dit sal totale chaos wees. Die lewe is net so vol leidrade en informasie. Soms ken jy nog nie die antwoord nie, en moet jy op 'n ander plek begin. Sommige van die blokraaisels maak die begin effens makliker met foto's van bekende mense wat se name jy moet invul. Daar is altyd leidrade wat van die opsteller af kom.


Ek dink dat dit makliker is om blokraaisels te doen, wanneer jou kennis van die lewe beter is. Vir die onthalwe, hang dit totaal af wat jou verwysingsraamwerk is. Ek sukkel nogal om die foto's en name van die sepie-akteurs te herken, want dit is nie noodwendig my forte of belangstelling nie. Soms word jy deur die blokraaisel gedwing om jouself uit te daag met iets wat jy nog nooit van gehoor het nie. Die lewe dwing ons soms ook in rigtings waar ons moet funksioneer wat buite ons verwysing en idees van die lewe is. Ons dink soms dat dit sinneloos is, maar in werklikheid het ons dit nodig, want sonder hierdie uitdagings gaan ons dalk nooit die leidrade kry vir die volgende fase van die blokraai nie.


Maar daar is ook ander wonderlike leidrade wat ons kry. Dit is die leidraad van die ander woorde wat reeds neergeskryf is in die wit blokkies. Ons sien in blokraaisels dat die een ding na die ander lei, en so besef 'n mens dat geen ding in jou lewe, geen woord wat jy neersit, sonder plek of sonder nut is nie. Elke ding het sy plek, hoe sinneloos ookal die woord vir jou lyk, hy het 'n plek. Op dieselfde manier, pas jou verlede en al jou ervarings presies in jou lewe in, dit maak dit moontlik vir jou, en is soms nodig om leidraad te wees vir daardie lang onmoontlike woord wat jy mee sukkel. Sonder daardie naam van die sepiester wat vir jou sinneloos is, is dit dalk net die A-Ha leidraad wat jy nodig het. Niks in die lewe is sinneloos en sonder plek nie, wees dus oplettend oor alles om jou, in jou verlede en jou hede.


EKSTERNE HULP


Ons probeer almal die blokraaisel eers tot op 'n punt invul wat ons self kan uit ons eie kennis. Maar soms onthou ons nie wie die persoon in die Bybel is nie, maar dan is daar eksterne hulp. Soms moet jy maar gaan oplees of naslaan of iemand vra. Ek dink ons is soms so nederig of bang dat mense gaan dink dat ons dom of stupid is, en dan vra ons nie vir hulp nie. Partykeer is dit nodig om met mense te praat en nie net jou eie kop te volg nie. Soms het jy eenvoudig nie die antwoorde nie, en dan word jy kwaad en ongelukkig, en dan lyk jy NOG meer na 'n fool as wat jy sou gevra het. Ek kyk nou die dag 'n fantastiese program op YouTube oor die "art of asking". Om mense te vra om jou te help is menslik, net soos enige ander ding in ons lewens. Vra mense vir hulp, hulle kan net "nee" se, maar soms kan hulle "ja" se en vir jou antwoorde gee.


Ek wil my soms dood lag as ek besig is met 'n blokraai, en dan lees ek die leidraad en dink dit moet een of ander komplekse woord wees. Dit alles net om te besef dat die woord dalk 'n heel eenvoudige een is. Vra hulp, soek hulp en sodoende maak 'n klomp woorde daarna vir jou sin wat jy nooit voorheen raakgesien het nie.


AFSTAND


Ek is nou op daardie ouderdom waar ek 'n ou brilletjie nodig het om die leidrade se klein lettertjies te kan sien. So het ons ook soms nie net hulpmiddels van 'n bril nodig nie, maar afstand. Ek staar myself soms blind na die leidrade, en sien nie dinge op 'n afstand nie.


Ons is natuurlik grootgemaak met die idee dat ons almal alles ONMIDDELIK binne 'n sekere tyd moet invul in ons blokkies. Partykeer verstaan en besef 'n mens dat jy dalk 'n breuk moet vat van jou "uitdaging". Soms is dit belangrik om die blokraaisel 'n dag of twee te los, oor welke rede ookal. Soms help dit om die blokraaisel 'n dag of twee te los en weer net bietjie jou bearings te kry. Dit het al gebeur dat na 'n paar dae se afstand van die uitdaging, ek skielik sommer 'n klomp woorde op 'n oomblik raaksien wat ek nooit voorheen kon nie.


GENOT


In al die jare van blokkiesraaisels, het ek nog nooit enige een ingestuur vir die kompetisie nie. Dit genot daarvan is vir my goed genoeg. Ons is soms so ingestel op ons doelwitte en die prys en al die tipe dinge, dat ons blokraaisel 'n hel word. Ons dink ons MOET dit perfek doen, ons mag GEEN foute begaan nie, want ons het die kompetisie voor ons.


Nie alles in die lewe is 'n wedstryd of 'n resies nie. Die lewe is beslis ook nie een van dit nie. Die Prediker in die Bybel leer ons dat as alles as 'n wedstryd gesien word, niemand ooit wen nie, dit kom tot niks. Wat hy ons wel leer is dat ons dit kan geniet, onsself kan uitdaag om meer en meer kennis te kry. Ons kan vrae vra oor ons lewens en nuwe dinge leer, maar sonder dat daar noodwendig 'n prys MOET wees.


Ons word moeg as ons altyd 'n prys en 'n uitkoms najaag. Soms is die blokraaisel net die blokraaisel, en die lewe net die lewe. Dit kan geleef word, sonder dat daar noodwendig SIN in dit is. Dit is 'n vreemde konsep, maar soms gaan die lewe ons verby, en sit ons met 'n vol blokraaisel en al die antwoorde vir al die vrae, en wat dan? Ek het alles REG gedoen, maar nooit geleef nie, ek het al die hartseer en pyn en trane, sonder 'n prys op die einde.


Leef vandag en nou, leef voluit en geniet wat daar te geniet is. Ruik die blomme, gaan staan in die reen, en gaan LEEF.

Monday, December 1, 2014

Klasgemiddeld

Hierdie tyd van die jaar voel dit asof almal besig is met een of ander eksamen. Dit is gewoonlik die tyd wat ouers verskriklik bekommerd is, en irritasies in 'n huis loop maar hoog. Kinders se X-Box voordele en selfoongebruik word ingeperk, en daar is nie tyd of kans vir braai of funksies as 'n familie nie. Ek onthou hoe erg eksamens vir my was, spesifiek toe ek op skool was, want 'n mens moet allerhande vakke leer wat nie werklik jou forte of belangstelling is nie.


Wanneer die uitslae uitkom, is dit altyd 'n groot spanning, want ons word getoets aan die punte wat ons kry. Nou die dag kom Hugo, my oudste, by die huis met 'n punt wat nie heeltemal voldoen aan die vereistes wat ons, en hyself, gestel het nie. Sy response is vir my so tipies van hoe ek ook op skool opgetree het, want skielik gooi hy die klasgemiddeld voor ons. Hy wys met groot trots uit dat almal swak gedoen het, en dat hy gelukkig bo die gemiddeld presteer het.


In my antwoord klink ek toe vir myself net soos my ma toe ek op skool was. Sy het altyd vir my gese dat 'n mens jouself meet aan jou eie standaarde, en nooit aan die klasgemiddeld nie. Wat belangrik is van dit, is dat ons moet besef in die lewe dat daar wel 'n "gemiddeld" is in alles in die lewe. Mense wat dinge bereik in hulle lewens, is gewoonlik die wat bo-gemiddeld presteer en wat aan hulle eie verwagtinge voldoen. Indien jy altyd volgens die gemiddeld gaan meet, gaan jou lewe altyd gemiddeld wees. Dit is die een kant van die muntstuk wat ons nooit moet vergeet nie.


KONTEKS IS BELANGRIK


Wat egter belangrik is, is dat ons altyd die konteks ook in berekening moet bring. Ons sien om ons soveel kinders wat allerhande drastiese stappe neem, veral wanneer hulle nie aan vereistes voldoen nie. Ons as ouers wil graag dat ons kinders beter lewens as ons moet leef. Ons verwag van hulle meer as wat ons ooit van onsself verwag het. Ek vang myself en my vriende om my uit dat ons nou net so klink soos wat ons ouers geklink het toe ons kinders was. Ons word self die "gemiddeld" en die "mode". Op Facebook sien ek hoe ouers allerhande dinge neerskryf oor die eksamen, en ook hoe trots hulle op hulle kinders is. Die Bybel waarsku ons daarteen dat die oordeel waarmee ons oordeel, oor ons ge-oordeel gaan word. Ek wonder soms, wanneer ons kinders na ons kyk, watter tipe voorbeeld ons aan hulle stel.


Ek self wat groot mislukkings in my lewe deurgaan, kyk soms in skaamte in my kinders se oe. Maar een ding wat ek deur al die sukkeltye geleer het, is deernis. Dit is nie altyd maklik om op alle silinders te vuur nie. Soms is daar omstandighede, presies soos 'n klasgemiddeld, waaroor jy geen beheer het nie. Soms is daar daardie een vak wat jy eenvoudig nie baas kan raak nie, want dit is nie in jou beheer of in jou greep om dit te vermag of deur te kom nie.


Ek kyk na die wereld om my, en ek sien gebroke en stukkende mense. Die lewe verwag soms van ons baie meer as wat ons kan vermag. Elke dag is 'n eksamen, en soms is jy net eenvoudig nie opgewasse teen dit nie. Jy word telkens deur die mense om jou uitgetrap omdat jy ook soms onder die gemiddeld, of onder die verwagting presteer. Mense gebruik allerhande anti-depresante om hulle lewens beter te maak. Soms moet ons, met onsself en veral met ons kinders, effens deernis te ontwikkel met wat gebeur en die punte wat ons behaal.


Beteken dit nou dat ons nooit beter probeer wees nie? Beslis nie, al wat ek daarmee probeer se is dat ons moet besef dat die klasgemiddeld en omstandighede soms 'n rol speel. Nie almal kan 9 onderskeidings in matriek behaal nie. In dieselfde asem is ons ook bewus daarvan dat nie almal wiskunde aanleg het nie, en om van almal te verwag om dit te kan doen, is onrealisties. So, die klasgemiddeld bly belangrik, maar net as 'n aanduiding. Wat belangrik is in die lewe, is nie wat ander se doelwitte en verwagtinge van jou is nie, maar jou eie. Maar, jou doelwitte moet altyd binne konteks wees, en gefundeer in die realiteit. Die klasgemiddeld is vir jou 'n aanduiding van hoe maklik of hoe moeilik 'n vak is, en jy kan daardie realiteit nooit miskyk nie. Maar belangrikste van alles is dat die klasgemiddeld nooit vir jou 'n verskoning mag word om jou potensiaal mis te kyk nie. Die klasgemiddeld is en mag slegs 'n aanduiding wees, maar nooit 'n verskoning om nie die beste te wees wat jy kan wees nie. Dit is die balans.


EIE DOELWITTE


Die klasgemiddeld is ook iets wat jou "insluit", maar dit is nooit jy en jy alleen nie. Ons wil almal 'n individu wees, maar solank ons onsself met ander vergelyk, sal jy nooit een wees nie. Ons gooi maklik die klasgemiddeld uit as ons kinders dit as konteks vir ons vertel, en ons se dat dit onrealisties is. Maar is ons verwagtinge van hulle nie net so onrealisties nie. Jy kan in die lewe NET jou eie doelwitte volg, nie dit wat ander van jou verwag, of wat ander vermag nie. Ons as ouers is vinnig om vir hulle te vertel dat hulle hulleself nie met die norm van die klasgemiddeld mag vergelyk nie, maar in welke mate doen ons dit? Uit my persoonlike ondervinding die laaste klompie jare, sien ek dat ons altyd mense meet, en van hulle ontslae raak wanneer hulle nie aan ons vereistes voldoen nie. Veral wanneer dit handel oor sukses en geld, beoordeel ons mense baie aan die uitslae, en nooit oor die insette wat hulle lewer nie.


OORDEEL EN DEERNIS


Ek weet ek skryf baie oor oordeel, dalk vat ek dit baie persoonlik op, maar ek hoor elke dag hoe mense net oordeel en oordeel. Ons loop daagliks met weegskale rond en ons meet almal. Ek wonder soms of dit gebore is uit ons Calvinistiese opvoeding en idee oor God? Ek se daarmee gladnie dat daar nie tyd en plek is vir be-oordeling nie, en ook nie dat jy nie self mag besluit wat vir jou werk en nie werk nie.


Een van die redes hoekom ek so glo in die boodskap van die Nuwe Testament, en dit antwoord dalk hoe ek oor oordeel dink, is die idee van genade. Ons leef in 'n wereld waar ek die hele tyd NET op die punte en die rapport fokus. As my lewe so ingestel is om alles te meet en te analiseer, gaan ek nooit lewe nie. Genade beteken dat daar wel toetse en rapporte in ons bestaan is, maar God kyk nie NET daarna nie. Vir God is dit belangrik WIE daaragter staan en ons werklike menswees. Genade is ook belangrik, want dit leer ons dat ek nie elke dag NET my kind kan beskou na aanleiding van sy/haar punte nie. In God se oe is daar nie 'n skaal nie, daar is geen oordeel nie, daar is geen rapport nie. Ek dink dit is wat Jesus se koms in die Nuwe Testament ons geleer het, dat ons niks kan verdien nie. Wat sou jou en my lewe uit bestaan het as God ons net gesien het in ons rapport?


Gisteraand kyk ek 'n program: "The Bible" op History Channel. Dit gaan toe oor die Ou Testament, van Moses tot by Dawid. Daar is so 'n duidelike boodskap van die menslikheid in al hierdie "mense van God". Hulle probeer almal so hard om te wees wat God van hulle "verwag", en telkens val hulle. Hulle word gesalf as God se keuse vir die volk, maar die hele tyd faal hulle. Een ding is duidelik in al hierdie verhale, God besef hulle menslikheid. God besef dat alhoewel hulle hard probeer, hulle maar net mense is, hulle maar net presteer volgens die "klasgemiddeld". Oordeel God hulle daarvoor? Natuurlik is daar deur die verhale konsekwensies vir hulle dade, maar die konsekwensies kom net wanneer hulle nie meer God eerste stel nie. God het hulle aangestel, wetende dat hulle mense is, maar wanneer hulle optree soos die ander mense en God vergeet, dan kom die konsekwensies.


Dan kom die wonderwerk altyd van God se kant. Hulle kry steeds die geskenk, te midde van die feit dat hulle "onderpresteer" het, want God is lief vir hulle. Wanneer hulle hulle beroep op die genade, dan gee God steeds vir hulle die "prys". Die hele boodskap van die Nuwe Testament is dat ons MOET ons bes probeer, maar of ons nou suksesvol is, of nie, God vergewe ons steeds daarvoor. God se deernis gaan nie oor ons prestasies nie, maar oor die feit dat ons Sy kinders is. Ons dink soms ons oordeel "uit liefde", maar ek het al in my lewe ervaar hoe daardie "verskoning", mense uitmekaar skeer. Ek het gesien hoe kinders totaal en al rebelleer, wanneer hulle nie gehoor of gesien word nie. Ek het ouers gesien wat kinders se potensiaal totaal gebreek het, deur hulle kinders konstant uit te kryt.


Een ding wat ek ook gesien het, en dit is ook die gevaar van "oordeel", is dat die Bybel ons ook leer dat "wat jy saai, sal jy maai". Ek het al gesien dat kinders opgee op die lewe, en presies die mislukkings wat hulle ouers van hulle dink, begin uitleef. "Jy dink mos ek is 'n mislukking, nou sal ek maar dit", of "ek sal nooit goed genoeg wees nie, so wat is die punt om te probeer?". Ons moet in ons saamleef met ander mense altyd besef, dat niemand jou die mag en pag gegee het om ander so te behandel nie. Mense kan net groei in goeie grond, en sonder liefde is daar net negatiwiteit en hartseer in ons.


VERANTWOORDELIKHEID


Beteken dit dan nou dat ons maar moet opgee in die lewe en net doen wat ons wil? Gladnie, die gemeente vra ook vir Paulus: "moet ons dus meer sonde doen sodat die genade kan toeneem?" Jy sien, om in genade en met genade te leef is nie "menslik" maklik nie. Die menslike manier is oordeel en veroordeel.


Een ding van die klasgemiddeld wat ons soms vergeet, is my insette en verantwoordelikhede teenoor die klasgemiddeld. Onthou, die gemiddeld word bepaal deur almal betrokke se punte bymekaar te tel, en te verdeel deur die hoeveelheid deelnemers. Elke puntjie wat jy ekstra verdien, verhoog die klasgemiddeld. In daardie opsig moet ons ons verantwoordelikheid teenoor menswees aanvaar en besef. Hoe beter elke mens probeer leef, hoe meer inspireer jy die mense om jou om ook beter te wees en te wil wees. Dit is maklik om te oordeel, maar wat doen jy daaraan? 


Ons is soms op die pawiljoen besig om te skree vir die spelers op die veld wat hulle moet doen, maar jy neem nooit deel aan die spel en probeer 'n verandering bring nie. Soms voel jy magteloos, maar weet een ding, jy kan nie die hele klas se eksamens vir hulle skryf om die gemiddeld te lig nie, net jou eie punte behaal. Leef jou eie lewe, probeer jou bes, stel jou doelwitte, maar die belangrikste van alles, LEWE. Net soos eksamen en punte nie al is waaroor die lewe gaan nie, kry die balans en gaan hou soms vakansie. Maak plek en tyd om te rus en jou rek te laat slap word, want 'n rek wat heeltyd styf bly, verweer en verloor tog sy effektiwiteit.

Wednesday, November 12, 2014

Realiteit en Drome

Iemand vertel vir my hierdie oulike storie van die man wat vreeslik depressief was. So sit hy die aand weer buite op 'n tuinstoel en huil en kry homself jammer. Sy vrou stap na hom toe en se: "Aai, my man, dit kan tog nie so erg wees nie, daar is soveel dinge om voor dankbaar te wees in ons lewens". Hy antwoord haar: "Nee daar is nie". Sy se: "Ag nee my man, kyk net hoe mooi kom die maan daar oor die bome op". En hy antwoord: "Ja sien jy, nou kom die maan ook nog op".


Ek vind dit vreeslik insiggewend hoe ons as mense nie glo in dinge soos die Law of Attraction nie. Miskien het dit te doen met die feit dat ons een groot fout maak in ons denkproses. Kyk na die storie hier bo, die realiteit van die man se gemoedstoestand, is so oorweldigend dat hy gladnie die mooi kan raaksien van die maan nie. Wat ons doen, en dit is hoekom ons lewens in sulke haglike toestande soms is, is dat ons onderskeid maak tussen die "realiteit" (gewoonlik die negatiewe dinge) en die "droomwereld" (gewoonlik die positiewe). Ek toets mense baie en ek kom agter dat ons glo dat die positiewe, die lekker van die lewe, net 'n droom en ideaal is. Hulle sal jou altyd terugbring na die "realiteit" van wat werklik is, soos pyn, lyding, hartseer, drama en baklei.


Vanoggend praat iemand met my oor die foon, en so sien ek dit presies weer. Dit is 'n reenerige dag in Pretoria, en sy reaksie is: "Wat 'n mistroostige, depresiewe dag". Natuurlik skyn die son nie vandag nie, en ja, jy gaan erens natreen, en natuurlik op sulke dae word dinge uitgestel by skole wat kinders na uitgesien het. Maar is dit 'n mistroostige dag? Vir iemand anders kan dit 'n wonderlike dag wees, want nou kan hulle lekker pannekoek eet, of erens 'n heerlike glasie rooiwyn. Erens is dit dalk vir iemand 'n kans om saam met 'n geliefde heerlik knus onder 'n duvet te sit en 'n lekker film te kyk. Ek glo dat alles in die lewe wel hierdie "realiteit" inhou van die reen, maar dit is alles net 'n persepsie van hoe ek dit hanteer en uitleef. In elke deel van my bestaan het ek die keuse van hoe ek dit wil hanteer.


Toe ek so 6 jaar oud was, het my ouers in die A Capella koor gesing, en ons was op 'n reis Europa toe. Die een vlug het ons van Switzerland geneem na Amsterdam, maar dit het so gesneeu dat ons vir 'n ruk lank gestrand was om te wag om op te styg. Twee dinge het my opgeval, die een is dat die hele koor onmiddelik die "vervelige" tyd opgemaak het, en net daar in die lughawe vir die ander passasiers konsert gehou het. Almal kon natuurlik daar gesit en hulleself jammer gekry het, maar 'n "realistiese" en negatiewe insident in iets wonderliks verander. Die tweede les wat ek geleer het, was net nadat ons uiteindelik opstyg en deur die grou swaar wolke gebreek het, het die son heerlik van bo op die wolkemassa geskyn. Dit het my as 'n klein kindjie opgeval dat, alhoewel daar wolke "voor" die son is, en ons die son nie kan sien nie, die son steeds daar is. Dit is net so realisties en bewysbaar as die wolke wat jou dag mistroostig maak.


Wanneer ek negatief en depressief is, wat baie gebeur, kom ek vinnig agter dat ek my vasstaar in die wolkmassa voor my, en dan dink jy soms dit gaan nooit weggaan nie. Jy vergeet soms dat daar 'n son is wat jy net nie kan sien nie. Dit is natuurlik ook die fout wat die realiste maak is om dan skielik vir jou te verwyt dat jy nie die wolke raaksien nie. Dit is gladnie waar nie, ek is geheel en al bewus van die wolke, en ek ry maar my sambreeltjie saam en stop maar op 'n plek waar ek nie nat gaan reen nie.


Dalk is dit net ek wat in 'n wereld leef, wat gevul is met klomp "realiste" en klomp "dromers". Ek dink die probleem van die law of attraction en hoekom mense nie kan funksioneer nie, want nie een van die twee groepe "leef" nie, is omdat hulle absoluut of in die een of in die ander leef. 'n Mens sal doodgaan van depressie as jy elke dag net in die realiteit van die sleg, die pyn en lyding van die lewe leef. Net so sal jy doodgaan van die honger wanneer jy net in die droomwereld leef en dink dat dinge sommer net gaan verdwyn of uit die lug gaan val vir jou.


Dit is ons "absolute" denke wat die probleem veroorsaak. 'n Vriend van my se altyd: "Bid asof werk nie gaan help nie, en werk asof gebed nie gaan help nie". Ek dink dit vat dit baie mooi saam, want die kritiek wat die twee groepe teenoor mekaar het is juis omdat hulle nie die ander kant insien en balans kan vind in hulle lewens nie. Dit is weer die konsep van En-En, teenoor OF-OF. Ek is die laaste persoon wat dit regkry in my lewe, so ek weet hoe moeilik dit is. Dit is natuurlik wat die Bybel ook bedoel met dat daar 'n tyd vir alles in die lewe is.


Dit is vir ons baie inspirerend om Biografiee te lees van mense wat 'n "onmoontlike" droom gehad het wat stand gevind het in die realiteit. Dit is se, en daar stem ek saam met die groep realiste, en dit is dat as jou droom nie in die realiteit getoets kan word nie, dan is dit net 'n wolkie wat erens in die lug rondsweef. Net so verstaan ek ook dat geen werklike verandering in ons wereld sou plaasgevind het, sonder dat iemand eers 'n droom gehad het nie. Werklike suksesvolle mense, is daardie mense wat "beheer" oor beide "dimensies" van droom en realiteite in hulle lewens het.


Een ding wat ek wel in my lewe besef het, is dat 'n mens se persoonlikheid ook 'n rol speel, saam met jou agtergrond en jou opvoeding. Ek is dalk meer van 'n dromer, aangesien ek meer tussen mense leef wat realiste is. Ek het lank gedink dat die realiste die dromers "aftrek", maar in werklikheid is drome nie "bo" realiteit nie, maar saam met realiteit is drome die ander kant van die muntstuk. Goud word getoets in die smeltkroes van die realiteit, so ook word drome getoets in die realiteit van elke dag.


Een ding wat ons soms vergeet, en dit is waar geloof inkom, is dat daar 'n God is wat oneindig groter is as al ons drome en realiteite. Geen probleem wat jy het is onoorkombaar nie, maar as ek nie die geloof het nie, gaan ek in die modder van my lewe ook bly bestaan. As ek nie my drome aan God toevertrou nie, dan is daar ook geen moontlikheid dat dit ooit sal plaasvind nie. In geloof, word my pyn en lyding minder, en in geloof word die "onmoontlike", moontlik. Dit is natuurlik deur die eeue mense se probleem met geloof, en dit is dalk waar die woorde van in "sonde ontvang en gebore" verstaanbaar word. Maar dit is dalk presies wat God van ons verwag, is om te midde van die wolke oor en om ons, tog altyd te weet en te glo dat die son van Sy genade oor ons skyn, al is dit nie sigbaar nie. Om in jou slegste oomblik te verstaan dat al kan jy dinge nie sien nie, en God dalk ook nie, Hy steeds daar is om oor jou te waak en vir jou uitkoms te gee.


Wanneer jou drome waar word, dan se mense gewoonlik dat jy 'n hero is, maar wanneer dit nie in die realiteit grond vat nie, dan is jy werklik net 'n dromer. As jy net in jou realiteit leef en net jou ogies hou op die riooldam waarin jy is, sal die reuk in jou neus altyd walglik wees, en sal jy nooit die blommetjies gaan ruik nie. In dieselfde sin, is wanneer jy net droom, beland jy ook in die rioolput, so wees maar versigtig om een bo die ander te kies.


Miskien is vandag die dag wat jy moet leer om te balansseer, tussen jou drome en die realiteit, en verstaan dat die een nie sonder die ander kan bestaan nie. Al skyn die son bo die wolke, vat maar 'n sambreel saam.