Monday, December 1, 2014

Klasgemiddeld

Hierdie tyd van die jaar voel dit asof almal besig is met een of ander eksamen. Dit is gewoonlik die tyd wat ouers verskriklik bekommerd is, en irritasies in 'n huis loop maar hoog. Kinders se X-Box voordele en selfoongebruik word ingeperk, en daar is nie tyd of kans vir braai of funksies as 'n familie nie. Ek onthou hoe erg eksamens vir my was, spesifiek toe ek op skool was, want 'n mens moet allerhande vakke leer wat nie werklik jou forte of belangstelling is nie.


Wanneer die uitslae uitkom, is dit altyd 'n groot spanning, want ons word getoets aan die punte wat ons kry. Nou die dag kom Hugo, my oudste, by die huis met 'n punt wat nie heeltemal voldoen aan die vereistes wat ons, en hyself, gestel het nie. Sy response is vir my so tipies van hoe ek ook op skool opgetree het, want skielik gooi hy die klasgemiddeld voor ons. Hy wys met groot trots uit dat almal swak gedoen het, en dat hy gelukkig bo die gemiddeld presteer het.


In my antwoord klink ek toe vir myself net soos my ma toe ek op skool was. Sy het altyd vir my gese dat 'n mens jouself meet aan jou eie standaarde, en nooit aan die klasgemiddeld nie. Wat belangrik is van dit, is dat ons moet besef in die lewe dat daar wel 'n "gemiddeld" is in alles in die lewe. Mense wat dinge bereik in hulle lewens, is gewoonlik die wat bo-gemiddeld presteer en wat aan hulle eie verwagtinge voldoen. Indien jy altyd volgens die gemiddeld gaan meet, gaan jou lewe altyd gemiddeld wees. Dit is die een kant van die muntstuk wat ons nooit moet vergeet nie.


KONTEKS IS BELANGRIK


Wat egter belangrik is, is dat ons altyd die konteks ook in berekening moet bring. Ons sien om ons soveel kinders wat allerhande drastiese stappe neem, veral wanneer hulle nie aan vereistes voldoen nie. Ons as ouers wil graag dat ons kinders beter lewens as ons moet leef. Ons verwag van hulle meer as wat ons ooit van onsself verwag het. Ek vang myself en my vriende om my uit dat ons nou net so klink soos wat ons ouers geklink het toe ons kinders was. Ons word self die "gemiddeld" en die "mode". Op Facebook sien ek hoe ouers allerhande dinge neerskryf oor die eksamen, en ook hoe trots hulle op hulle kinders is. Die Bybel waarsku ons daarteen dat die oordeel waarmee ons oordeel, oor ons ge-oordeel gaan word. Ek wonder soms, wanneer ons kinders na ons kyk, watter tipe voorbeeld ons aan hulle stel.


Ek self wat groot mislukkings in my lewe deurgaan, kyk soms in skaamte in my kinders se oe. Maar een ding wat ek deur al die sukkeltye geleer het, is deernis. Dit is nie altyd maklik om op alle silinders te vuur nie. Soms is daar omstandighede, presies soos 'n klasgemiddeld, waaroor jy geen beheer het nie. Soms is daar daardie een vak wat jy eenvoudig nie baas kan raak nie, want dit is nie in jou beheer of in jou greep om dit te vermag of deur te kom nie.


Ek kyk na die wereld om my, en ek sien gebroke en stukkende mense. Die lewe verwag soms van ons baie meer as wat ons kan vermag. Elke dag is 'n eksamen, en soms is jy net eenvoudig nie opgewasse teen dit nie. Jy word telkens deur die mense om jou uitgetrap omdat jy ook soms onder die gemiddeld, of onder die verwagting presteer. Mense gebruik allerhande anti-depresante om hulle lewens beter te maak. Soms moet ons, met onsself en veral met ons kinders, effens deernis te ontwikkel met wat gebeur en die punte wat ons behaal.


Beteken dit nou dat ons nooit beter probeer wees nie? Beslis nie, al wat ek daarmee probeer se is dat ons moet besef dat die klasgemiddeld en omstandighede soms 'n rol speel. Nie almal kan 9 onderskeidings in matriek behaal nie. In dieselfde asem is ons ook bewus daarvan dat nie almal wiskunde aanleg het nie, en om van almal te verwag om dit te kan doen, is onrealisties. So, die klasgemiddeld bly belangrik, maar net as 'n aanduiding. Wat belangrik is in die lewe, is nie wat ander se doelwitte en verwagtinge van jou is nie, maar jou eie. Maar, jou doelwitte moet altyd binne konteks wees, en gefundeer in die realiteit. Die klasgemiddeld is vir jou 'n aanduiding van hoe maklik of hoe moeilik 'n vak is, en jy kan daardie realiteit nooit miskyk nie. Maar belangrikste van alles is dat die klasgemiddeld nooit vir jou 'n verskoning mag word om jou potensiaal mis te kyk nie. Die klasgemiddeld is en mag slegs 'n aanduiding wees, maar nooit 'n verskoning om nie die beste te wees wat jy kan wees nie. Dit is die balans.


EIE DOELWITTE


Die klasgemiddeld is ook iets wat jou "insluit", maar dit is nooit jy en jy alleen nie. Ons wil almal 'n individu wees, maar solank ons onsself met ander vergelyk, sal jy nooit een wees nie. Ons gooi maklik die klasgemiddeld uit as ons kinders dit as konteks vir ons vertel, en ons se dat dit onrealisties is. Maar is ons verwagtinge van hulle nie net so onrealisties nie. Jy kan in die lewe NET jou eie doelwitte volg, nie dit wat ander van jou verwag, of wat ander vermag nie. Ons as ouers is vinnig om vir hulle te vertel dat hulle hulleself nie met die norm van die klasgemiddeld mag vergelyk nie, maar in welke mate doen ons dit? Uit my persoonlike ondervinding die laaste klompie jare, sien ek dat ons altyd mense meet, en van hulle ontslae raak wanneer hulle nie aan ons vereistes voldoen nie. Veral wanneer dit handel oor sukses en geld, beoordeel ons mense baie aan die uitslae, en nooit oor die insette wat hulle lewer nie.


OORDEEL EN DEERNIS


Ek weet ek skryf baie oor oordeel, dalk vat ek dit baie persoonlik op, maar ek hoor elke dag hoe mense net oordeel en oordeel. Ons loop daagliks met weegskale rond en ons meet almal. Ek wonder soms of dit gebore is uit ons Calvinistiese opvoeding en idee oor God? Ek se daarmee gladnie dat daar nie tyd en plek is vir be-oordeling nie, en ook nie dat jy nie self mag besluit wat vir jou werk en nie werk nie.


Een van die redes hoekom ek so glo in die boodskap van die Nuwe Testament, en dit antwoord dalk hoe ek oor oordeel dink, is die idee van genade. Ons leef in 'n wereld waar ek die hele tyd NET op die punte en die rapport fokus. As my lewe so ingestel is om alles te meet en te analiseer, gaan ek nooit lewe nie. Genade beteken dat daar wel toetse en rapporte in ons bestaan is, maar God kyk nie NET daarna nie. Vir God is dit belangrik WIE daaragter staan en ons werklike menswees. Genade is ook belangrik, want dit leer ons dat ek nie elke dag NET my kind kan beskou na aanleiding van sy/haar punte nie. In God se oe is daar nie 'n skaal nie, daar is geen oordeel nie, daar is geen rapport nie. Ek dink dit is wat Jesus se koms in die Nuwe Testament ons geleer het, dat ons niks kan verdien nie. Wat sou jou en my lewe uit bestaan het as God ons net gesien het in ons rapport?


Gisteraand kyk ek 'n program: "The Bible" op History Channel. Dit gaan toe oor die Ou Testament, van Moses tot by Dawid. Daar is so 'n duidelike boodskap van die menslikheid in al hierdie "mense van God". Hulle probeer almal so hard om te wees wat God van hulle "verwag", en telkens val hulle. Hulle word gesalf as God se keuse vir die volk, maar die hele tyd faal hulle. Een ding is duidelik in al hierdie verhale, God besef hulle menslikheid. God besef dat alhoewel hulle hard probeer, hulle maar net mense is, hulle maar net presteer volgens die "klasgemiddeld". Oordeel God hulle daarvoor? Natuurlik is daar deur die verhale konsekwensies vir hulle dade, maar die konsekwensies kom net wanneer hulle nie meer God eerste stel nie. God het hulle aangestel, wetende dat hulle mense is, maar wanneer hulle optree soos die ander mense en God vergeet, dan kom die konsekwensies.


Dan kom die wonderwerk altyd van God se kant. Hulle kry steeds die geskenk, te midde van die feit dat hulle "onderpresteer" het, want God is lief vir hulle. Wanneer hulle hulle beroep op die genade, dan gee God steeds vir hulle die "prys". Die hele boodskap van die Nuwe Testament is dat ons MOET ons bes probeer, maar of ons nou suksesvol is, of nie, God vergewe ons steeds daarvoor. God se deernis gaan nie oor ons prestasies nie, maar oor die feit dat ons Sy kinders is. Ons dink soms ons oordeel "uit liefde", maar ek het al in my lewe ervaar hoe daardie "verskoning", mense uitmekaar skeer. Ek het gesien hoe kinders totaal en al rebelleer, wanneer hulle nie gehoor of gesien word nie. Ek het ouers gesien wat kinders se potensiaal totaal gebreek het, deur hulle kinders konstant uit te kryt.


Een ding wat ek ook gesien het, en dit is ook die gevaar van "oordeel", is dat die Bybel ons ook leer dat "wat jy saai, sal jy maai". Ek het al gesien dat kinders opgee op die lewe, en presies die mislukkings wat hulle ouers van hulle dink, begin uitleef. "Jy dink mos ek is 'n mislukking, nou sal ek maar dit", of "ek sal nooit goed genoeg wees nie, so wat is die punt om te probeer?". Ons moet in ons saamleef met ander mense altyd besef, dat niemand jou die mag en pag gegee het om ander so te behandel nie. Mense kan net groei in goeie grond, en sonder liefde is daar net negatiwiteit en hartseer in ons.


VERANTWOORDELIKHEID


Beteken dit dan nou dat ons maar moet opgee in die lewe en net doen wat ons wil? Gladnie, die gemeente vra ook vir Paulus: "moet ons dus meer sonde doen sodat die genade kan toeneem?" Jy sien, om in genade en met genade te leef is nie "menslik" maklik nie. Die menslike manier is oordeel en veroordeel.


Een ding van die klasgemiddeld wat ons soms vergeet, is my insette en verantwoordelikhede teenoor die klasgemiddeld. Onthou, die gemiddeld word bepaal deur almal betrokke se punte bymekaar te tel, en te verdeel deur die hoeveelheid deelnemers. Elke puntjie wat jy ekstra verdien, verhoog die klasgemiddeld. In daardie opsig moet ons ons verantwoordelikheid teenoor menswees aanvaar en besef. Hoe beter elke mens probeer leef, hoe meer inspireer jy die mense om jou om ook beter te wees en te wil wees. Dit is maklik om te oordeel, maar wat doen jy daaraan? 


Ons is soms op die pawiljoen besig om te skree vir die spelers op die veld wat hulle moet doen, maar jy neem nooit deel aan die spel en probeer 'n verandering bring nie. Soms voel jy magteloos, maar weet een ding, jy kan nie die hele klas se eksamens vir hulle skryf om die gemiddeld te lig nie, net jou eie punte behaal. Leef jou eie lewe, probeer jou bes, stel jou doelwitte, maar die belangrikste van alles, LEWE. Net soos eksamen en punte nie al is waaroor die lewe gaan nie, kry die balans en gaan hou soms vakansie. Maak plek en tyd om te rus en jou rek te laat slap word, want 'n rek wat heeltyd styf bly, verweer en verloor tog sy effektiwiteit.

No comments:

Post a Comment