Wednesday, November 12, 2014

Realiteit en Drome

Iemand vertel vir my hierdie oulike storie van die man wat vreeslik depressief was. So sit hy die aand weer buite op 'n tuinstoel en huil en kry homself jammer. Sy vrou stap na hom toe en se: "Aai, my man, dit kan tog nie so erg wees nie, daar is soveel dinge om voor dankbaar te wees in ons lewens". Hy antwoord haar: "Nee daar is nie". Sy se: "Ag nee my man, kyk net hoe mooi kom die maan daar oor die bome op". En hy antwoord: "Ja sien jy, nou kom die maan ook nog op".


Ek vind dit vreeslik insiggewend hoe ons as mense nie glo in dinge soos die Law of Attraction nie. Miskien het dit te doen met die feit dat ons een groot fout maak in ons denkproses. Kyk na die storie hier bo, die realiteit van die man se gemoedstoestand, is so oorweldigend dat hy gladnie die mooi kan raaksien van die maan nie. Wat ons doen, en dit is hoekom ons lewens in sulke haglike toestande soms is, is dat ons onderskeid maak tussen die "realiteit" (gewoonlik die negatiewe dinge) en die "droomwereld" (gewoonlik die positiewe). Ek toets mense baie en ek kom agter dat ons glo dat die positiewe, die lekker van die lewe, net 'n droom en ideaal is. Hulle sal jou altyd terugbring na die "realiteit" van wat werklik is, soos pyn, lyding, hartseer, drama en baklei.


Vanoggend praat iemand met my oor die foon, en so sien ek dit presies weer. Dit is 'n reenerige dag in Pretoria, en sy reaksie is: "Wat 'n mistroostige, depresiewe dag". Natuurlik skyn die son nie vandag nie, en ja, jy gaan erens natreen, en natuurlik op sulke dae word dinge uitgestel by skole wat kinders na uitgesien het. Maar is dit 'n mistroostige dag? Vir iemand anders kan dit 'n wonderlike dag wees, want nou kan hulle lekker pannekoek eet, of erens 'n heerlike glasie rooiwyn. Erens is dit dalk vir iemand 'n kans om saam met 'n geliefde heerlik knus onder 'n duvet te sit en 'n lekker film te kyk. Ek glo dat alles in die lewe wel hierdie "realiteit" inhou van die reen, maar dit is alles net 'n persepsie van hoe ek dit hanteer en uitleef. In elke deel van my bestaan het ek die keuse van hoe ek dit wil hanteer.


Toe ek so 6 jaar oud was, het my ouers in die A Capella koor gesing, en ons was op 'n reis Europa toe. Die een vlug het ons van Switzerland geneem na Amsterdam, maar dit het so gesneeu dat ons vir 'n ruk lank gestrand was om te wag om op te styg. Twee dinge het my opgeval, die een is dat die hele koor onmiddelik die "vervelige" tyd opgemaak het, en net daar in die lughawe vir die ander passasiers konsert gehou het. Almal kon natuurlik daar gesit en hulleself jammer gekry het, maar 'n "realistiese" en negatiewe insident in iets wonderliks verander. Die tweede les wat ek geleer het, was net nadat ons uiteindelik opstyg en deur die grou swaar wolke gebreek het, het die son heerlik van bo op die wolkemassa geskyn. Dit het my as 'n klein kindjie opgeval dat, alhoewel daar wolke "voor" die son is, en ons die son nie kan sien nie, die son steeds daar is. Dit is net so realisties en bewysbaar as die wolke wat jou dag mistroostig maak.


Wanneer ek negatief en depressief is, wat baie gebeur, kom ek vinnig agter dat ek my vasstaar in die wolkmassa voor my, en dan dink jy soms dit gaan nooit weggaan nie. Jy vergeet soms dat daar 'n son is wat jy net nie kan sien nie. Dit is natuurlik ook die fout wat die realiste maak is om dan skielik vir jou te verwyt dat jy nie die wolke raaksien nie. Dit is gladnie waar nie, ek is geheel en al bewus van die wolke, en ek ry maar my sambreeltjie saam en stop maar op 'n plek waar ek nie nat gaan reen nie.


Dalk is dit net ek wat in 'n wereld leef, wat gevul is met klomp "realiste" en klomp "dromers". Ek dink die probleem van die law of attraction en hoekom mense nie kan funksioneer nie, want nie een van die twee groepe "leef" nie, is omdat hulle absoluut of in die een of in die ander leef. 'n Mens sal doodgaan van depressie as jy elke dag net in die realiteit van die sleg, die pyn en lyding van die lewe leef. Net so sal jy doodgaan van die honger wanneer jy net in die droomwereld leef en dink dat dinge sommer net gaan verdwyn of uit die lug gaan val vir jou.


Dit is ons "absolute" denke wat die probleem veroorsaak. 'n Vriend van my se altyd: "Bid asof werk nie gaan help nie, en werk asof gebed nie gaan help nie". Ek dink dit vat dit baie mooi saam, want die kritiek wat die twee groepe teenoor mekaar het is juis omdat hulle nie die ander kant insien en balans kan vind in hulle lewens nie. Dit is weer die konsep van En-En, teenoor OF-OF. Ek is die laaste persoon wat dit regkry in my lewe, so ek weet hoe moeilik dit is. Dit is natuurlik wat die Bybel ook bedoel met dat daar 'n tyd vir alles in die lewe is.


Dit is vir ons baie inspirerend om Biografiee te lees van mense wat 'n "onmoontlike" droom gehad het wat stand gevind het in die realiteit. Dit is se, en daar stem ek saam met die groep realiste, en dit is dat as jou droom nie in die realiteit getoets kan word nie, dan is dit net 'n wolkie wat erens in die lug rondsweef. Net so verstaan ek ook dat geen werklike verandering in ons wereld sou plaasgevind het, sonder dat iemand eers 'n droom gehad het nie. Werklike suksesvolle mense, is daardie mense wat "beheer" oor beide "dimensies" van droom en realiteite in hulle lewens het.


Een ding wat ek wel in my lewe besef het, is dat 'n mens se persoonlikheid ook 'n rol speel, saam met jou agtergrond en jou opvoeding. Ek is dalk meer van 'n dromer, aangesien ek meer tussen mense leef wat realiste is. Ek het lank gedink dat die realiste die dromers "aftrek", maar in werklikheid is drome nie "bo" realiteit nie, maar saam met realiteit is drome die ander kant van die muntstuk. Goud word getoets in die smeltkroes van die realiteit, so ook word drome getoets in die realiteit van elke dag.


Een ding wat ons soms vergeet, en dit is waar geloof inkom, is dat daar 'n God is wat oneindig groter is as al ons drome en realiteite. Geen probleem wat jy het is onoorkombaar nie, maar as ek nie die geloof het nie, gaan ek in die modder van my lewe ook bly bestaan. As ek nie my drome aan God toevertrou nie, dan is daar ook geen moontlikheid dat dit ooit sal plaasvind nie. In geloof, word my pyn en lyding minder, en in geloof word die "onmoontlike", moontlik. Dit is natuurlik deur die eeue mense se probleem met geloof, en dit is dalk waar die woorde van in "sonde ontvang en gebore" verstaanbaar word. Maar dit is dalk presies wat God van ons verwag, is om te midde van die wolke oor en om ons, tog altyd te weet en te glo dat die son van Sy genade oor ons skyn, al is dit nie sigbaar nie. Om in jou slegste oomblik te verstaan dat al kan jy dinge nie sien nie, en God dalk ook nie, Hy steeds daar is om oor jou te waak en vir jou uitkoms te gee.


Wanneer jou drome waar word, dan se mense gewoonlik dat jy 'n hero is, maar wanneer dit nie in die realiteit grond vat nie, dan is jy werklik net 'n dromer. As jy net in jou realiteit leef en net jou ogies hou op die riooldam waarin jy is, sal die reuk in jou neus altyd walglik wees, en sal jy nooit die blommetjies gaan ruik nie. In dieselfde sin, is wanneer jy net droom, beland jy ook in die rioolput, so wees maar versigtig om een bo die ander te kies.


Miskien is vandag die dag wat jy moet leer om te balansseer, tussen jou drome en die realiteit, en verstaan dat die een nie sonder die ander kan bestaan nie. Al skyn die son bo die wolke, vat maar 'n sambreel saam.

No comments:

Post a Comment