Thursday, December 25, 2014

Kraakvars Kersfees

Een van die wonderlikste boodskappe van Kersfees, was nog altyd vir my die feit dat God vir ons 'n "nuwe" kykie gee van Wie en Wat God is. Vir eeue sit mense en wonder en redeneer oor God. Almal van ons het 'n ander manier wat ons Godsbeeld werk, maar vir my is dit wat met Christus se geboorte gebeur ongelooflik. Dalk so effens anders as wat jy mag dink vandag.


Jesus se geboorte, wys vir ons 'n ander sy van die Godsbeeld. Natuurlik vind ons die dele oor Liefde en Genade, maar meer as dit nog, Jesus kom wys vir ons deur sy lewe hoe ek en jy met God kan handel. Daardie voorbeeld is asemrowend vir my, want alhoewel ons deur die Ou Testament baie verhale kry wat ons probeer wys, is Jesus se manier iets spesiaal. Dit is ook die eerste keer in die Bybel waar ons leer dat ons ook, "in Christus" God se kind is. In Christus se boodskap en Deur Sy voorbeeld leer ons op 'n asemrowende manier wat ons verhouding met God is en moet wees.


Wat verbysterend is, is dat Jesus IN die wereld kom leef het. Hy het al dieselfde uitdagings beleef as wat ek en jy elke dag in leef. Jesus het mense gehad wat Hom gehaat het, mense wat Hom geboelie het. Hy het in die woestyn Sy eensaamheid beleef, Hy het beleef hoe die bose Hom probeer verlei na die skadukant. Hy was ook minderwaardig hanteer, en mense was haatdraend teenoor Hom. Jesus was ook uitgekryt, daar is op Hom gespoeg en vele geleenthede het Hy ook met pyn en twyfel gesit. Daar in die tuin van Getsemane wys Hy ook sy menslikheid deur vir God te vra om die beker by hom te laat verbygaan. Maar twee dinge staan uit in Jesus se lewe, Sy totale vertroue in God dat God in beheer is, en tweedens wys Hy teenoor alle mense Sy vergewensgesindheid. Aan die kruis se Hy: "Vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie". Jesus verstaan dat mense om Hom net mense is, met foute, met idees en natuurlik ook met boosheid IN hulle.


Jesus se boodskap is egter heel eenvoudig rondom die lewe, vertrou in alles op God en vergewe almal om jou. Kersfees kan vir jou oor baie dinge gaan, familie, vriende, geskenke ens. Daarmee is daar absoluut niks fout nie, maar as jy die twee dinge miskyk, mis jy die hele doel van die boodskap.


Vertroue op God


Deur my lewe het baie aaklige dinge met my gebeur, dinge wat my siel gebreek het. Daagliks sukkel ek met depressie en 'n gevoel dat ek niks werd is nie. Soms voel dit asof God my vergeet het en asof ek totaal alleen gelaat word in die woestyn. En in daardie boodskap voel dit asof die bose deel in my daagliks die oorhand kry in my kop. Dit voel vir my asof daar nie 'n toekoms is nie, en ek is bang vir die lig in die tonnel, want ek dink dit is, uit ervaring, 'n trein wat aankom. Mense om my glo my nie meer nie, en baie mense skryf my af. Die stukkie krag wat ek oor het om op te staan, gebruik ek om te probeer, maar soms voel dit asof my drome nooit bereikbaar sal wees nie. Elke dag voel asof ek voor die tyd al dink en weet dat dit wat ek aanpak gaan misluk.


Ek lees, ek skryf en ek bid, maar dit voel asof ek soos Job net nooit suksesvol sal wees nie. Ek probeer hard, en ek pak dinge aan, net om weer oor en oor teleurgesteld te wees. Mense om my haat my, kritiseer my en soek my ondergang. Ek vra en dink en bid om vergiffenis, en vra myself soms af wat ek verkeerd gedoen het om hierdie lewe te verdien? En ek vra myself af vandag, so met kersfees, of die fout nie maar net op een plek le nie, my tekort aan vertroue in God. Van kleins leer ons dat JY die argitek van jou eie lewe is, so, is jou mislukkings ook net JOU toedoen?


Ek wil vandag voor God op my kniee gaan en die grootste sonde van alles bely, die feit dat ek nie meer in God se plan vir my lewe glo nie. Ek vra om verskoning dat ek in depressie is, want dit is die gevoel dat jy van God verlate is, terwyl jy nooit is nie. Ek vat vandag die voorbeeld van Jesus dat ek sal opstaan en die lewe leef wat God vir my geskenk het, en dat ek sal leer en vorentoe beweeg. Ek sal in Jesus se voorbeeld verstaan dat die lewe nie volmaak is nie, maar dat God in die onvolmaaktheid wonderwerke doen en Hom steeds met My bemoei.


Ek sal my oe oopmaak en sien hoe God wel vir my ongelooflike dinge gee en doen, en dat ek eerder moet fokus op wat ek het, teenoor wat ek nie het nie. Ek sal God vertrou dat alles ten goede meewerk, en eerder glo dat God vir my is, en dat my lewe nie hoef volmaak te wees nie, want die wereld is nie. Dat ek eerder moet verstaan dat God die lewe GEE en dat dit kosbaar is, en dat ek eerder moet ophou top en wonder, terwyl 'n wonderlike lewe my verbygaan. Vandag is die dag dat jy moet besef dat die grootste geskenk wat jy ontvang het, die lewe is, en die feit dat God so baie moeite gedoen het deur Sy Seun te stuur, ons moet herinner hoe belangrik die lewe is.


Haatdraend


Afrikaans is seker een van die tale waarin woorde ongelooflike betekenis dra, en so self-verduidelik dat jy eintlik niks verder oor die woord kan se nie. Die woord "haatdraend" is een daarvan. Die eerste persoon teenoor wie jy haat dra, is baie keer jouself. Mense leef met spyt en verwyt oor keuses wat hulle gemaak het, en natuurlik ook oor keuses wat hulle nie gemaak het nie, of verkeerd gemaak het. Mense loop vir jare rond in hierdie verwyte, wat die dryfsand is wat daagliks probeer om jou in te sluk. Sommiges van ons se neuse steek net-net uit, en hierdie haat van onsself het die uiteinde dat jy daarin verdrink.


Alhoewel God ons as volmaak geskep het, moet ons verstaan dat ons nie die mag en pag besit om perfekte besluite en keuses te maak nie. Ons is menslik, en dit beteken eenvoudig dat ons feilbaar is. Jesus se boodskap van Sy lewe was een van vergiffenis, maar daarmee saam ook die feit dat God ONS so liefgehad het, dat Hy Jesus na ons gestuur het om 'n gebroke wereld heel te maak. Laat hierdie kersfees jouself toe om jouself te sien soos God jou sien, as 'n spesiale wese, iemand wat vir God belangrik is. Sien jouself as 'n wese wat deur God vergewe is, so hoekom nie jouself vergewe in die proses nie. Dalk is dit hoekom ons ons naaste nie kan liefhe soos ons moet nie, want ons het onsself nie lief nie. Hou op om jouself te kasty oor die verlede, sien jouself in die lig wat God jou sien en kry jouself lief soos wat God jou liefhet.


Daagliks leef ons in 'n wereld waar mense teenoor JOU haatdraend is. Daar is mense daarbuite wat teleurgesteld is en voel wanneer jy nie ondergaan nie. Soms is daar niks wat jy daaraan kan doen nie, maar as jy kan probeer. Onthou altyd dat, wanneer mense jou haat, hulle besig is met hulle eie prosesse in hulle lewens. Mense het hulle eie idees, hulle eie pyn en hartseer, en daarvoor moet jy deernis toon. Wees teenoor sulke mense liefdevol, want hulle is in jou lewe met 'n doel, maar hulle weet ook nie wat hulle doen nie. Soms moet jy mense toelaat om te leef, en selfs te haat, want dit is hulle proses. Een fout wat ons maak is om hulle haat deel van jou lewe te maak. Ons het self soveel probleme in onsself, en daar is nie nog plek in jou lewe om eienaarskap te aanvaar vir ander se haat en probleme nie. Soms is die beste manier van 'n saak uitsorteer, om hulle te los. Ek ervaar daagliks baie mense in my lewe wat my haat, maar net omdat ek my steur daaraan, beteken nie dat ek dit kan oplos nie. Dit is hulle stryd, en dit is hulle wat dit met HULLE God en HULLE geloof moet oplos.


En die haat in jouself oor ander? Ons hele lewe, en as jy jouself 'n Christen noem, is om in alle omstandighede die Liefde te kies, bo enige ander emosie of aksie. Dit is vir ons moeilik, veral wanneer ons dink dat iemand ons te na gekom het, of ons ondergang soek. Jesus gee ons die boodskap aan die kruis, dat ons moet vergewe en in Liefde moet leef. Dink jy vir 'n oomblik dat die vir Hom maklik was om in daardie oomblik, aan die kruis, te vergewe en te vergeet? As mens is dit nie maklik nie, maar dit is die boodskap van Jesus se geboorte, om ANDERS op te tree as wat jou natuur jou wys. En verder nog, jy het lief en leef in liefde nie omdat mense dit verdien of nie verdien nie. Jy is lief vir mense om jou, oor wie JY is. Jy is 'n liefdevolle mens, want JY is kind van God. Geen mens kan ooit werklik liefde "verdien" nie. As jy eers wag vir dit om te gebeur, sal jy dit dalk nooit kry nie. Wanneer JY besluit om in liefde te leef teenoor alles en almal, te midde van wie hulle is en wat hulle doen, dan eers verstaan jy die boodskap van Kersfees. Dit is in daardie oomblik waar jy daagliks God se liefde deur die koms van Christus kan ervaar. Mense is nie volmaak nie, mense is daagliks besig met hulle eie persoonlikhede en hulle eie ervarings, en jy kan slegs klippe gooi, wanneer JY volmaak is, en jy is nie.


Selfs Jesus wat, soos ons glo volmaak was en selfs Goddelikheid in Hom gehad het, het nie eers geoordeel en met haat in Sy hart geloop nie. Wie gee jou dan die reg om dit met ander om jou te doen, maak nie saak wat hulle aan jou doen nie. Die wereld het liefde nodig, en selfs al gee die lewe nie vir jou liefde nie, gee dit in elkgeval. Die boodskap van Jesus was ook dat ons nooit die liefde van God kan verdien nie, of liefde in die algemeen nie. God het JOU lief, period, sonder verdienste, te midde van jou foute en nukke en grille. God het JOU lief, of jy HOM liefhet of nie, deur genade. Dus, hou op om ander te haat, hou op om ander se ondergang te soek, of te blammeer. Want sonder liefde is jou lewe gedoem, en sonder liefde is jy niks meer as 'n galmende simbaal nie.


Wanneer jy dus vandag Kersfees ervaar, gaan vertrou met jou hele hart op die God wat jou skepper, onderhouer en redder is. Gaan vertrou dat die God waaroor vandag gaan, met jou hele hart, al is dit tot aan die kruis. Verstaan dat dit die God is wat jou selfs voor jou geboorte SYNE genoem het, en dat daardie God jou, met jou nukke en grille, met jou persoonlikheid, met jou pyn en hartseer, nooit sal los nie. Anders sou God die wereld maar net laat vergaan het sonder om Jesus te stuur.


Gee al jou haat oor aan God, laat Jesus se boodskap jou genees van al jou haat teenoor jouself, teenoor die wat jou haat en die wat jy haat. Dalk is vandag die dag wat jy 'n whatsapp stuur aan iemand wat jou haat, of iemand wat jy haat, wat jou gaan toelaat om dit te laat gaan.


Anders mis jy die boodskap van Jesus en Kersfees, en was alles wat God deur Jesus vir jou gedoen en gewys het, absoluut verniet.


Geseende Kersfees aan jou en jou mense, en mag die liefde van Jesus jou dag vul, en jou lewe oorneem!

1 comment:

  1. Nvidia did miscommunicate the specifications of its products and it didmisrepresent those figures to the public (advertising 4GB of RAM when only 3.5GB is available in the majority of cases). The question is whether or not those failings were deliberate and if they resulted in significant harm to buy rs gold.

    ReplyDelete