Tuesday, December 2, 2014

Blokkiesraaisel lewe

Ek is absoluut versot op blokraaisels. Ek dink soms dat as dit nie was vir die blokraaisels nie, daar dalk minder Huisgenoot verkope sou wees. Maar dit is so lekker om 'n blokraaisel te voltooi, en soos ek vandag in opgewonde sien dat daar 'n skoon een is wat ek nog nie mee begin het nie, dink ek toe dat 'n blokraaisel dalk net soos die lewe is. Die lewe is natuurlik 'n raaisel, en dit is soms vir ons onmoontlik en voel soos 'n onbegonne taak.


DEELNEEM


Ek vind dit vreemd as ek by mense kom wie se blokraaisels in die Huisgenoot blanko is. In ons huis het ons altyd baklei oor wie die blokraaisels kry. Die lewe is natuurlik 'n keuse, soos alles. Jy het 'n keuse of jy wil deelneem of nie. Net omdat jy nie blokraaisels van jou lewe wil invul nie, beteken dit niks nie. Jy het die keuse of jy die uitdaging wil aanvaar of nie. Niemand dwing jou nie.


Ek het die afgelope ruk soveel ouer familielede van my ontmoet met my oom se besoek. Wat my die heel meeste opval is dat sommige van hulle, en dit is hartseer, hulle fut vir die lewe verloor het. Hulle is en lyk nie meer lus om te lewe nie. Dit wil soms voorkom asof hulle die lus vir die blokraaisel van die lewe verloor het, en dink dat hulle al genoeg ingevul het, al is dit nie klaar nie. Natuurlik besef 'n mens dat dit net in sekere gevalle is wat jou blokraai altyd perfek klaargemaak word.


Die lewe het soveel mooi in, en soveel genot. Vir baie is die blokraaisel een groot stress, terwyl vir ander is dit een groot stuk pret. Ek geniet dit vreeslik om dit te doen, So loop die lewe met elke mens, maar as jy nooit deelneem aan die blokraaisel nie, hoe sal jy ooit weet hoeveel pret dit kan wees. Soms sien ons op die blanko blokraaisel 'n klomp moeilike woorde, dan dink ons sommer summier dat ons eerder nie gaan deelneem nie. Sommige mense wat ek ken dink so oor die lewe en sien net die moeilike woorde raak, maar, die blokraaisel bestaan ook uit 'n hele klomp "maklike" antwoorde wat almal behoort te ken. Ek verstaan dat, soos die tyd loop, jy reeds in jou lewe die maklike antwoorde ingeskryf het, en dan bly net die moeilikes oor, dit is verstaanbaar. Maar, om 'n begin te maak, begin by die maklike woorde, eers.


Die Budha het een keer sy pad verloor en nie her of derwaarts geweet nie. Toe kom hy by 'n Olifant wat hom baie goeie raad gee, en dit is, gaan terug na die begin en probeer weer. Veral wanneer mense depressief is staar hulle hulleself vas teen die groot woorde en die moeilike uitdagings van hulle lewens. Partykeer moet jy teruggaan na die begin, na dit wat jy ken en waaroor jy beheer kan uitoefen, om sodoende weer "beheer" oor jou lewe te voel. Die lewe is nie gebou deur groot tree nie, maar in baba-treetjies. Maar dit is soms die baba-treetjies en die woordjies wat jy ken, wat jou die leidraad bied tot die groot antwoorde wat jou skielik met trots vul.


PENCIL IT IN


Niks frustreer my soveel soos 'n blokraaisel wat onnetjies is met 'n klomp doodgekrapte letters en woorde nie. Wanneer jy effektief 'n blokraaisel invul, gebruik 'n potlood. 'n Potlood laat jou toe dat jy kan uitvee en van voor af kan begin. Dit gee jou die geleentheid dat jy jou foute kan gaan regmaak. Sommige mense gaan die blokraaisel lewe in met "permanent markers", wat jou absoluut geen beweegruimte tot verandering bied nie. Die lewe is plooibaar, veranderbaar en dinamies. Leef so met jouself en met mense om jou, dat jy altyd die geleentheid kry om te verander. Soms is ons aksies van so 'n aard dat ons onsself met die permanente marker in 'n hoek inverf, wat ons nooit kan verander nie.


Wanneer jy soms vashaak by 'n moeilike woord, word dit belangrik dat jy die woorde wat reeds ingeskryf is, moet gaan herondersoek. Ek sien baie mense wat vashaak in hulle lewens, wanneer hulle weier om hulle woorde, hulle manier van denke, uit te daag en te her-evalueer. Een ding is seker, en dit is hoekom jy met 'n potlood moet skryf, niemand het die totale waarheid en al die kennis en pag om alles altyd 100% reg te kry in hulle lewens nie. Daar is telkens nuwe waarhede en nuwe sinonieme wat in die blokkies kan pas om jou tot nuwe antwoorde te kan lei.


Soms dink ons dat 'n potlood 'n "swakkere" keuse is, of dat dit nie "goed" genoeg is nie. Ons dink dat as ons met 'n pen skryf alles beter sal wees. In die tyd toe NASA ruimte toe is, het hulle so gesukkel om met penne in die ruimte te skryf, dat hulle 'n kompetisie uitgevaardig het om die probleem op te los. Een persoon het toe gewen en al wat hy aanbeveel het is dat hulle potlode gebruik wat nie swaartekrag nodig het nie.


Ons is baie maklik om ons standpunt te gee en ons stempel permanent op mense af te druk, dat ons soms vergeet dat ons nie al die kennis in die lewe het nie. Ons is dinamiese wesens wat leef in 'n dinamiese wereld wat daagliks verander. Wees versigtig dat jy nie met jou idees so permanent is, dat daar nie plek tot verandering en besinning is nie.


DIE OPSTELLER


Soos met die blokraai, glo ons tog dat God die opsteller van ons lewe is. Daar is geen twyfel dat elke gedeelte van die blokraai op die ou einde fyn beplan is, en dat alles wel gaan pas. Dit lyk soms asof woorde onmoontlik is en dat dit nie gaan inpas nie. Maar so deur die proses kry jy wel sekere aanduidings dat daar nie foute is nie.


Te midde van die feit dat dit nie altyd sin maak nie, moeilik is of onmoontlik voel, verander totaal wanneer ek weet dat op die ou einde alles gaan sinmaak, gaan inpas en sal werk. Ek is nooit 'n voorstander gewees van die poppespel-idee van God met ons alleenlik, en dat alles 'n paadjie het nie. Maar ek het natuurlik altyd vrye wil, maar geloof dat God dit alles ten goede sal laat meewerk.


LEIDRADE


Die blokraaisels het wit en swart blokkies. Die wit blokkies is vir die antwoorde en die swart blokkies bevat leidrade van wat in die wit blokkies geskryf kan word. Stel jouself voor as jy sonder leidrade die blokraaisel moet invul? Dit sal totale chaos wees. Die lewe is net so vol leidrade en informasie. Soms ken jy nog nie die antwoord nie, en moet jy op 'n ander plek begin. Sommige van die blokraaisels maak die begin effens makliker met foto's van bekende mense wat se name jy moet invul. Daar is altyd leidrade wat van die opsteller af kom.


Ek dink dat dit makliker is om blokraaisels te doen, wanneer jou kennis van die lewe beter is. Vir die onthalwe, hang dit totaal af wat jou verwysingsraamwerk is. Ek sukkel nogal om die foto's en name van die sepie-akteurs te herken, want dit is nie noodwendig my forte of belangstelling nie. Soms word jy deur die blokraaisel gedwing om jouself uit te daag met iets wat jy nog nooit van gehoor het nie. Die lewe dwing ons soms ook in rigtings waar ons moet funksioneer wat buite ons verwysing en idees van die lewe is. Ons dink soms dat dit sinneloos is, maar in werklikheid het ons dit nodig, want sonder hierdie uitdagings gaan ons dalk nooit die leidrade kry vir die volgende fase van die blokraai nie.


Maar daar is ook ander wonderlike leidrade wat ons kry. Dit is die leidraad van die ander woorde wat reeds neergeskryf is in die wit blokkies. Ons sien in blokraaisels dat die een ding na die ander lei, en so besef 'n mens dat geen ding in jou lewe, geen woord wat jy neersit, sonder plek of sonder nut is nie. Elke ding het sy plek, hoe sinneloos ookal die woord vir jou lyk, hy het 'n plek. Op dieselfde manier, pas jou verlede en al jou ervarings presies in jou lewe in, dit maak dit moontlik vir jou, en is soms nodig om leidraad te wees vir daardie lang onmoontlike woord wat jy mee sukkel. Sonder daardie naam van die sepiester wat vir jou sinneloos is, is dit dalk net die A-Ha leidraad wat jy nodig het. Niks in die lewe is sinneloos en sonder plek nie, wees dus oplettend oor alles om jou, in jou verlede en jou hede.


EKSTERNE HULP


Ons probeer almal die blokraaisel eers tot op 'n punt invul wat ons self kan uit ons eie kennis. Maar soms onthou ons nie wie die persoon in die Bybel is nie, maar dan is daar eksterne hulp. Soms moet jy maar gaan oplees of naslaan of iemand vra. Ek dink ons is soms so nederig of bang dat mense gaan dink dat ons dom of stupid is, en dan vra ons nie vir hulp nie. Partykeer is dit nodig om met mense te praat en nie net jou eie kop te volg nie. Soms het jy eenvoudig nie die antwoorde nie, en dan word jy kwaad en ongelukkig, en dan lyk jy NOG meer na 'n fool as wat jy sou gevra het. Ek kyk nou die dag 'n fantastiese program op YouTube oor die "art of asking". Om mense te vra om jou te help is menslik, net soos enige ander ding in ons lewens. Vra mense vir hulp, hulle kan net "nee" se, maar soms kan hulle "ja" se en vir jou antwoorde gee.


Ek wil my soms dood lag as ek besig is met 'n blokraai, en dan lees ek die leidraad en dink dit moet een of ander komplekse woord wees. Dit alles net om te besef dat die woord dalk 'n heel eenvoudige een is. Vra hulp, soek hulp en sodoende maak 'n klomp woorde daarna vir jou sin wat jy nooit voorheen raakgesien het nie.


AFSTAND


Ek is nou op daardie ouderdom waar ek 'n ou brilletjie nodig het om die leidrade se klein lettertjies te kan sien. So het ons ook soms nie net hulpmiddels van 'n bril nodig nie, maar afstand. Ek staar myself soms blind na die leidrade, en sien nie dinge op 'n afstand nie.


Ons is natuurlik grootgemaak met die idee dat ons almal alles ONMIDDELIK binne 'n sekere tyd moet invul in ons blokkies. Partykeer verstaan en besef 'n mens dat jy dalk 'n breuk moet vat van jou "uitdaging". Soms is dit belangrik om die blokraaisel 'n dag of twee te los, oor welke rede ookal. Soms help dit om die blokraaisel 'n dag of twee te los en weer net bietjie jou bearings te kry. Dit het al gebeur dat na 'n paar dae se afstand van die uitdaging, ek skielik sommer 'n klomp woorde op 'n oomblik raaksien wat ek nooit voorheen kon nie.


GENOT


In al die jare van blokkiesraaisels, het ek nog nooit enige een ingestuur vir die kompetisie nie. Dit genot daarvan is vir my goed genoeg. Ons is soms so ingestel op ons doelwitte en die prys en al die tipe dinge, dat ons blokraaisel 'n hel word. Ons dink ons MOET dit perfek doen, ons mag GEEN foute begaan nie, want ons het die kompetisie voor ons.


Nie alles in die lewe is 'n wedstryd of 'n resies nie. Die lewe is beslis ook nie een van dit nie. Die Prediker in die Bybel leer ons dat as alles as 'n wedstryd gesien word, niemand ooit wen nie, dit kom tot niks. Wat hy ons wel leer is dat ons dit kan geniet, onsself kan uitdaag om meer en meer kennis te kry. Ons kan vrae vra oor ons lewens en nuwe dinge leer, maar sonder dat daar noodwendig 'n prys MOET wees.


Ons word moeg as ons altyd 'n prys en 'n uitkoms najaag. Soms is die blokraaisel net die blokraaisel, en die lewe net die lewe. Dit kan geleef word, sonder dat daar noodwendig SIN in dit is. Dit is 'n vreemde konsep, maar soms gaan die lewe ons verby, en sit ons met 'n vol blokraaisel en al die antwoorde vir al die vrae, en wat dan? Ek het alles REG gedoen, maar nooit geleef nie, ek het al die hartseer en pyn en trane, sonder 'n prys op die einde.


Leef vandag en nou, leef voluit en geniet wat daar te geniet is. Ruik die blomme, gaan staan in die reen, en gaan LEEF.

2 comments:

  1. Still, they note that the issues only manifest at the highest detail levels and graphics settings — the vast majority of users are simply unlikely to buy rs gold.One thing that makes the complaint against Nvidia interesting is that the facts of the case aren’t really in dispute.

    ReplyDelete
  2. Dag Maruti
    A jy blansel kan jy 'n grtis blokkiesraaisel hulp program aflaai by:http://blokkiesraaisel.co.za/Help.html
    Groete
    Cobus

    ReplyDelete