Tuesday, March 14, 2017

Mag jy vir God kwaad word?

'n Klompie jare gelede sit ek een middag langs die swembad by die Wildekus, en langs my op een van die stoele kom sit 'n oom en ons begin gesels. Hy vra my uit oor wat ek doen, en ek se toe dat ek 'n dominee is. Hy vra my toe 'n baie interresante vraag, hy vra my toe om 'n mens vir God kan of mag kwaad word? Dit vang my effens onverwags, en ek vra toe vir hom om my so 'n bietjie insig te gee oor die agtergrond van sy vraag. Hy vertel my dat sy vrou so 'n paar weke voor ons ontmoeting oorlede is aan kanker. Hy vertel ook van sy diepgewortelde geloof in God en dat hy en almal om hom so hard vir sy vrou se herstel gebid het, en God het nie sy gebede verhoor nie. Dit is hoekom hy wil weet of ons vir God mag kwaad wees, want eintlik is hy, want hoekom het God sy sielsgenoot van hom weggeneem?


Van die begin van tyd vra mense hoekom God toelaat dat slegte dinge met Sy kinders gebeur, en goeie dinge met mense wat nie in Hom glo nie. Ek dink, dat met enige ding in godsdiens, is die antwoorde nie altyd so eenvoudig nie. Die antwoord wat ek op die oom se vraag toe gee is, ek dink mens mag vir God kwaad wees, maar mens moet die konteks ook sien, want jou begrip en denke oor wie en wat God is is van kardinale belang.


Hierdie naweek het ek weer 'n ervaring gehad van iemand wat volgens my baie fundamentalisties in hulle geloof is. Die persoon bid en glo voorwaar dat iets met hulle gaan gebeur, want hulle het daarvoor gevra en God se mos in die Bybel dat ons net moet vra dan kry ons dit. Maar wat gebeur as God dit nie vir ons gee nie, nie ons gebede verhoor nie? Binne hierdie raamwerk, en soos met die oom ook, lei dit tot allerhande gevoelens en emosies oor God, en baie kere ook tot die verval van 'n geloof. Ek is jammer dat ek nou hier fundamentaliste tipeer, maar ek dink julle sal verstaan wat ek bedoel.


As dominee het ek elke keer aan die einde van die Belydenisklas-sessie, vir die kinders gevra waarvoor ek moet bid. Dan was dit altyd een of ander toets wat die week voorle. Dan het ek altyd gevra of, as ek daarvoor bid, wat ek moet vra? Moet ek bid dat die toets maklik moet wees, of dat dit soos die spreekwoordelike beker by hulle moet verbygaan, of moet ek bid dat hulle energie en lus sal ontwikkel om lekker hard vir die toets te leer? Julle kan dink wat gewoonlik die opdrag was, en dit was dat die toets eenvoudig nie moet plaasvind nie. Ek het altyd gelag, en dan maar gebid dat hulle krag en lus sal kry om hard te leer, wat natuurlik nie dit is wat die kinders voor wou bid nie.


Hierdie voorbeeld leer ons baie van gebed en ons verhouding met God. Ek glo met alles in my dat God die skepper en onderhouer van alles is, en dat alles vir Hom moontlik is. My lewe alleen is vol wonderwerke, so ek het nie eers nodig om te verwys na voorbeelde uit die Bybel nie. Maar soms kry ek die idee dat mense net vir die wonderwerke bid, die uitkoms wat op 'n wonderbaarlike wyse opgelos moet word, iemand moet gesond word en nie sterf nie. Natuurlik is dit moontlik vir God, en daar is voorbeelde waar Jesus mense uit die dood opgewek het, of laat loop het. Niemand kan met God se almag stry nie, wel nie met my nie. Dit is dan, wanneer die wonderwerk nie plaasvind nie, dat ons soos die oom wat sy vrou verloor het, soms ons geloof in twyfel trek, of soos die oom gevra het, vir God kwaad te kan wees.


Ons vergeet soms dat die Onse Vader ons met 'n wonderlike einde toerus rondom wat gebed is, en in welke gesindheid jy moet bid, en dit is "laat U wil geskied". Ek dink dit is die oplossing van die raaisel, want vir my is my hele lewe in God se hande, en ek is in 'n afhanklike verhouding met God. Ek bid elkgeval op 'n manier wat vir my werk, en dit is na 'n preek een oggend van Ds. Sors Geldenhuys. Hy het gese dat gebed eintlik is soos om op 'n bankie in die park met God te praat, oor alles, jou drome, jou ideale, jou hartseer, jou krisis of sommer net oor enige ding wat in jou lewe is. Dit is nie nodig vir hoogdrawende woorde of uitsprake nie.


Ek is so dankbaar vir daardie beeld van God in my, want dit het baie vrae en dinge in my lewe vir my uitgeklaar. Dit het die beeld in my kop geskep, waar, omdat God my Vriend is, ek my lewe met Hom deel, elke deel daarvan. Ek kan vir Hom vertel hoe ek bang is, dat ek graag wil he dat die situasie weg moet gaan, dat ek graag krag en geloof verlang om deur dit te kom, en dat ek leiding nodig het rondom 'n oplossing ens. Nou nie dat ek dink ek so spesiaal is nie, maar dit help my om die konteks in ag te neem in my gebed, en eintlik op die ou einde dit alles in God se hand te los, wat Hy ookal besluit. Ek dink as dit jou ingesteldheid is, dan maak dit gebed iets meer as net 'n angsroep van desperaatheid. Dit ontneem gladnie die geloofskomponent in God nie, inteendeel, dit is vir my 'n beter opsie vir my, want dit is juis onderdanigheid aan die Almagtige God, teenoor 'n voorskriftelike en hoogmoedige voorskrywende houding van my af van wat ek wil he moet gebeur.


God is almagtig en kan alles doen, daaroor is daar nie twyfel nie, maar vir my is geloof in God nie om alles te kry wat ek soek of verlang nie, maar om alles te kry en te verlang wat God vir my wil gee. Omstandighede gebeur nie met jou as 'n toets van jou geloof nie, en in dieselfde opsig mag jy nie situasie gebruik of misbruik om God se Almag en Liefde te toets nie. Natuurlik vra ek ook vir die wonderwerke, en ek het baie in my lewe gekry, maar baie kere het die beker van seer en verlies nie by my verbygegaan nie. Die toets van my geloof is om my hele lewe met God te deel, elke gedagte, elke idee en elke situasie, selfs die wat niemand ooit van sal weet nie, maar God doen wel.


Die antwoord op die vraag van of jy vir God kan kwaad wees, hang af van jou beeld van God. As jy iets van God vra, en Hy dit nie vir jou gee nie, is jy nie besig met Godsdiens nie, maar met 'n sirkus-opvoering waar God Homself aan jou moet bewys om deur hoepels te spring. En ook, om werklik eerlik te wees, is daar niks wat jy kan doen, geen hoepels wat jy deur kan spring sodat God vir jou alles gee wat jy vra nie. God is 'n God van genade, deernis en liefde. Dit is wat geloof is, die erkenning van jou afhanklikheid van God en jou nederige onderdanigheid aan Sy Goddelikheid en Almag!

Jy mag!

Ons leef in 'n voorskriftelike wereld. Selfs nog voor jy gebore word, word daar reeds verwagtinge van jou geskep. Van die dag dat jy gebore word, leer jou ouers jou sekere dinge, vanuit hulle ervarings of vanuit die ervarings van die samelewing. Die doelwit daarvan, net sodat julle besef dat dit nie kritiek is nie, is sodat jy kan funksioneer in 'n latere tyd in 'n samelewing waarvan jy nie kan ontsnap nie. Reels en regulasies is dinge wat nodig is vir 'n wereld om te kan draai.


In dieselfde asem leer ons ons kinders dat hulle hulleself moet wees, en dat hulle kan doen en word net wat hulle eendag wil wees. Ek het van kleins af hiermee geworstel, aangesien ek deurmekaar was, want die verwagtinge wat van my geskep is, die lyne waarbinne ek moet funksioneer, maak nie werklik plek vir kreatiwiteit nie. So word ons groter, en dan paai ons onsself met die idee dat ons gelukkig darem die kleure van die potlood kan kies, alhoewel die samelewing van ons verwag om tussen die lyne in te kleur.


Van kleins af het my ma altyd vir my gevra, oor my manier van denke, oor hoekom ek altyd anders wil wees. Ek het baie daaroor gewonder, want ek dink nie ek is so anders nie, ek konformeer want ek het geleer dat as ek dit nie doen nie, dan word ek gekritiseer. En dit is nie my ma se skuld nie, maar eerder die wereld waarin ons leef, want om "anders" te wees, is soms moeiliker as om maar net jou grys vervelige pakkie aan te trek en te doen wat almal doen. Uiteindelik word ons soos die African Grey pappegaai wat se vlerke geknip word, en wat in die hoek sit en maar leer om te praat sodat ons as "oulik" verklaar kan word.


Die wereld rondom ons is stukkend van mense wat sit en kripeer in hoekies, met drome en ideale wat nooit verwesenlik word nie. Ons sit met 'n geslag kinders wat met ongelooflike stress sit, want ons plaas dit op hulle. Elke dag voer mense 'n stryd tussen wie hulle graag wil wees, en wat van hulle verwag word om te word. Baie van ons keuses rondom 'n loopbaan, verhoudings, studierigting en dag tot dag funksionering is gebasseer op dinge en verwagtinge van die samelewing. Net om dit vir 'n oomblik te balanseer, ek praat nou nie hier van radikale aksies nie, want die samelewing het sekere reels nodig om te kan funksioneer.


Ek wonder welke keuses ek in my lewe sou gemaak het, of nie gemaak het nie, as dit nie was vir hierdie verwagtinge nie. Ek vang myself nou hierdie blog skryf 2:00 in die oggend. Ek is nie vaak nie, en terwyl ek hier met my koppie koffie sit, voel ek skuldig dat ek nie gaan slaap nie. Maar ek het nie nodig om lank te slaap nie, maar weereens besef ek hoe moeilik dit vir my is om myself toe te laat om te wees wie ek is.


Ek lees baie oor produktiwiteit en oor menswees in die algemeen, en een ding sien ek loop soos 'n goue draad deur al die geskrifte, en dit is dat gelukkige en suksesvolle mense, daardie is wat hulleself ken en hulleself toelaat om te wees wie hulle is. En 'n groot deel daarvan is dat hulle hulleself toelaat om te "mag", eerder as om beperkings op hulleself te stel. Selfs jou "slegte" attribute kan tot jou voordeel tel as jy dit weet, want dan beplan jy jou lewe rondom dit. Ek onthou dat my ma altyd vir my op skool gese het dat ek moet weet dat ek lui is, en daarom eerder my naweek se huiswerk die vrydag moet doen, want ek gaan beslis nog luier wees Sondag middag om dit te doen.


Deel van die toelaat-proses in elke deel van jou lewe, gaan ook met kritiek gepaard. Oorsaak en gevolg is deel van alle dele van jou lewe, maar dit geld nie net vir die mense wat buite die lyne inkleur nie, maar ook vir die wat binne die lyne inkleur. Ek leef 'n vol lewe, en ek hou daarvan om stories te vertel van toe ek op skool en universiteit was, van die mense wat ek op my pad ontmoet het, kleurvolle mense wat my baie geleer het van die lewe, en natuurlik van myself. Ek dink terug oor die keuses wat ek gemaak het, en ek dra die konsekwensies daarvan.

My oudste seun Hugo is matriek hierdie jaar, en so sit ek en wonder wat ek sou gedoen het as ek kon teruggaan in tyd en weer my lewe van matriek af kon her-leef. Ek sou dalk dinge effens anders gedoen het, maar toe pak een stukkie vrees my beet, en dit is, wat as ek dinge wat my lewe maak wat dit is gemis het. Wat daarvan as ek nie by 'n plek was om mense te ontmoet nie, of 'n ander besluit geneem het? Toe besef ek die volgende, en dit is dat my lewe, met al sy uitdagings, dalk nie so sleg is soos ek soms dink nie.


Konsekwensies van ons dade inhibeer ons baie kere, en keer dat ons dinge doen wat ons graag wil of moet doen. Die probleem van konsekwensies, is dat selfs om niks te doen nie, ook konsekwensies dra. Ek doen dinge wat ander mense baie krities oor is, maar dit beteken nie dat ek dit nie mag doen of nie moet doen nie. Iemand se nou die dag vir my 'n skokkende ding oor my lewe, en dit is: "Jy het die reg om jouself te wees verbeur". En dit is vir my baie vreemd gewees, want dit is hoe ek my hele lewe gevoel het. Is dit nie maar hoe ons van kleins af gedril word nie, en is dit nie dalk wat ons elke dag met onsself, met ons huweliksmaats en ergste nog met ons kinders doen nie. Ons se vir hulle dat om in ons lewens te wees en te funksioneer in die samelewing verg van hulle om hullesefl op te gee, hulle kreatiwiteit te stop en op te hou om hulleself te wees.


Ek onthou in die tyd toe ek nog dominee was, en ek hoor dit vandag nog by tieners en mense wat ongelukkig is, twee dinge. Die eerste is, hulle word nie toegelaat om te wees wie hulle is nie, in die uitspraak "my ouers of huweliksmaat HOOR my nie". Die tweede is, hulle word voorgeskryf oor hoe om te leef, ons skep verwagtinge van mense in soverre ONS vir hulle die prentjie gee om in te kleur. Maar die belangrikste nog, en ek herhaal dit weer, die gelukkigste en suksesvolste mense is die wat hulleself hoor en hulleself toelaat om te wees wie hulle is, en wat ook daarmee saam vir hulleself 'n blanko papier gee sonder lyne en hulleself toelaat om te wees wie hulle is, en te se: "Ek mag".


Ek kry baie kere kritiek oor my blog, nie soseer oor die inhoud en idees nie, maar oor die manier wat ek skryf. Dit het in verlede jaar my veral gevang, want ek het nie nog kritiek nodig gehad nie, want ek het genoeg in my lewe gehad. Tot ek besef het dat die taal en manier hoe 'n mens skryf, of dit nou literer korrek is, en of dit soos myne is waar ek sommer net my idees sonder beplanning in weird sinsbou doen, my nie mag inhibeer om my idees te deel nie. Ek het besef dat dit oor my en my prosesse gaan en nie oor wat ander noodwendig daarvan dink nie. Ek mag, en natuurlik dra ek die konsekwensies daarvan in kritiek, maar in plaas van om op te hou skryf omdat ek bang is vir kritiek, vat ek die kritiek en probeer ek om te leer om my sinsbou en struktuur van die blog te verbeter.


Maar dit is maar net nog een voorbeeld van waar ek die verwagtinge van wat 'n blog is of moet wees, die voorsprong gegee het, soveel so dat ek gedink het dat ek nie mag nie. En so kan ek etlike voorbeelde noem waar ons dit doen, selfs ook in ons negatiewe dinge. Soms het jy nodig om te huil, al is jy 'n man, want jy mag. Soms mag jy depressief voel, want jy mag. Soms mag jy net op die bank le en niks doen nie, want jy mag. Net so mag jy ook kwaad word, want jy mag.


Ek dink dat om die konsekwensies te dra van 'n lewe waarin jy jouself en ander toelaat, beter konsekwensies is as 'n wereld waarin ons mekaar se vlerke knip. Dit is dalk hoekom die wereld so lyk, want niemand vlieg hoog genoeg om vir ons prentjies te skets van hoe wonderlik die lewe kan wees nie.

Thursday, March 9, 2017

Die Laai

Omtrent elke huis het so 'n laai, waar ons al die dinge sit wat ons nie weet wat om mee te doen nie. Daar is ou Betamax afstandbeheer, ou batterye, dalk 'n stuk van 'n gebreekte sonbril wat jy in Margate gekoop het in matriek en natuurlik 'n paar los bruin sente so tussen die stof in die hoek. O Ja, en dan ook daardie handleiding van daai eerste Mikrogolfoond wat jy by Russels in 1980 gekoop het, nie meer het nie, en so twee of drie van sussie se waterverf prentjies wat sy in Graad 1 gedoen het. Om een of ander rede is ons almal nie lus om dit weg te gooi nie, want dalk het ons op een of ander stadium dit weer nodig.

Vanoggend kyk ek so na ons kassie, en wonder hoe 'n sielkundige ding dit is ons lewe is, en hoeveel van ons nie ook in ons koppe so 'n "kop-laai" het met baie herinneringe wat geen bydrae tot ons lewens maak nie, maar ons met ons saamdra vir jare en dekades. Net soos wat ons nie die goeters in die laai weggooi nie, is ons ook skugter om ons kop-laai ook leeg te maak. Hoeveel dinge dra jy met jou saam nie, haat, woede, seer, hartseer, trane, verlies ensovoorts?

Dalk het die tyd in jou lewe gekom om jou kop-laai te hanteer, die ou batterye wat net suur lek weg te gooi. As ek na my lewe kyk is daar 'n klomp groot olifante in die laai, dinge wat my ongelooflike hartseer en pyn veroorsaak het. En al is daar sekere dae wat ek nie daaraan dink nie, "clutter" dit tog my lewe, keer ook dat ek nuwe beter en mooier gedagtes in my laai kan pak. Hierdie dinge is funksioneel gewees op 'n sekere tyd, dit het krag gegee aan die afstandbeheer, maar nou, nou vat dit net plek op in my lewe.

Dit wat met jou gebeur het het sy doel gedien op 'n sekere tyd, en as jy die mikrogolfoond se handleiding weggooi, beteken nie dat jy van dit vergeet het, of nie onthou hoe lekker jy kos daarin gemaak het nie. Dit beteken net dat dit geen doel in jou lewe meer dien nie, so wat is die punt om dit te hou.

Maar om die kop-laai leeg te maak is net so moeilik as om daardie laai in die huis se inhoud in die asblik te gooi. Die maklikste manier is om te besef dat as iets nie 'n bydrae tot jou lewe maak nie, dit dalk nie goed is vir jou om dit te hou nie. Dinge wat in die verlede met jou gebeur het, was daar vir 'n doel, en dalk hou die laai jou terug om te lewe. Dit herinner jou dalk ook aan JOU mislukkings, en hoe swak die mikrogolfoond werklik was. Die tyd het gekom om skoon te maak, die lesse te leer en aan te beweeg. Betamax is vervang met VHS, Video masjiene met DVD's en toe Blueray, en deesdae is alles op die internet beskikbaar. Soos met die Betamax afstandbeheer, herinner dit jou soms ook hoe ver jy gekom het en gegroei het van daardie tyd af.

Maar besef dat jy dit nie meer nodig het nie, want dit hou jou dalk terug om die nuwe en beter weergawe van jou lewe in te lei. En die volgende, behalwe die besef, is om fisies die ding op te tel en in die asblik te gaan gooi. Dit gaan nie outomaties gebeur nie, jy moet werk insit. En soos met die Betamax afstandbeheer, die wete dat jy dit nie meer nodig het nie, gee jouself die toestemming om dit weg te gooi, want jy mag. So moet jy dalk die mense wat die seer in jou laai gepak het vergewe, dalk jouself ook. Jy kan iets aan die verlede doen, jy kan dit op 'n ander manier sien, en dit is dat dit nie meer nodig is in jou lewe nie. Dit beteken nie dat dit nie seer of sleg was of dat iemand jou wel te na gekom het nie, net soos die batterye op 'n stadium eg was en gewerk het. Dit beteken net dat jy aanbeweeg en aanvaar. Te veel en te lank laat ons hierdie pap batterye toe om ons te bly vergiftig, en mense om ons jare na die tyd steeds seer te maak.

Gooi uit deur te vergewe, te aanvaar en maak dan nuwe foute en bou nuwe herinneringe in jou kop-laai.

Sunday, February 19, 2017

Die sagte woord

Die Bybel leer ons in Spreuke 15:1 dat die "sagte woord die grimmigheid afkeer".


As ek so om my kyk, dan wonder ek of ons hierdie raad van die wyse Salomo ooit al in ons lewens raakgelees het. Ons word grootgemaak, veral ons mans, om sterk en "tough" te wees. Pa's veral verwys na hulle seuns as "bulle" en "ysters", want op 'n manier is dit wat ons dink hoe seuns moet wees vir die regte lewe daar buite.


Ek onthou toe ek in Graad 9 was, en besluit het om Tik as vak te neem hoe al die ander seuns gefrons het en vir my gese het dat ek 'n "sissie" is. Om dit nog verder te vat het ek ook nog in die koor gesing, volkspele gedoen en aan redenaars aan deelgeneem. Om een of ander rede was die feit dat ek altyd A-Span rugby gespeel het, ondergeskik aan hoe ek tipeer is. Vandag sit daai selfde ouens my met heimwee en aankyk as ek, sonder om op die sleutels te kyk, met al 10 my vingers met spoed kan tik. Vandag kan ek my kinders help om redenaars toesprake te skryf, ja, al is hulle seuns.


Vandeesweek sit ek en praat met 'n pa wat my oor my seuns uitvra, en as jy my ken weet jy ek is ongelooflik lief en trots op hulle. Hy vra my uit oor waar hulle skoolgaan, en ek se: "Pretoria Boys High". Sonder om te blik of te bloos vertel hy vir my hoe sleg hulle rugby is op hierdie stadium. Hy vra toe of my seuns rugby speel, waarop ek natuurlik antwoord dat hulle hokkie speel. Hy se toe dat sy seuns ook wil hokkie speel, maar dit is nie 'n spel vir seuns nie, dit maak hulle sag. Ek verander toe maar die onderwerp na sy polisse toe, aangesien hy seker nog nooit daai skool se eerste hokkiespan in aksie gesien het nie.


Ons verwys graag na die lewe as hard en moeilik, en erens in ons denke het dit by ons vasgesteek dat om in daardie wereld te kan leef, jy sterk, groot en bombasties moet wees. Ek veralgemeen nou baie, maar ek dink julle verstaan wat ek daarmee bedoel. Ons het 'n oer-idee dat net die sterkstes sal oorleef. Hierdie vers in Spreuke is eeue terug geskryf, in 'n konteks waar dit dalk nog waar was, want mense was nie so intellektueel soos nou nie. Die mense van daardie tyd kon nie werklik verstaan wat die woorde bedoel nie, maar wat vir my verstommend is, is dat ons in ons tyd dit ook nie lekker verstaan nie, wat nog gepraat daarvan om dit toe te pas.


Ek het nou die voorbeeld van ons kultuur en rugby en mans genoem, maar ervaar ook in hierdie tyd van verandering 'n vreemdheid onder beide geslagte. In die week sien ek maar net weer hoe twee mense in 'n verhouding mekaar vermorsel. Hoe meer 'n mens dink hulle moet net aanbeweeg, hoe meer word die stryd gevoer met die mond, hard en woord. Ek het nog altyd die standpunt gehandhaaf dat ek kan sien hoeveel respek en liefde mense vir mekaar in 'n verhouding gehad het, in die manier hoe hulle opbreek wanneer hulle besef hulle is nie vir mekaar bedoel nie.


Moet nie vir een oomblik dink dat ek nie ook soms my speelgoed gooi of kwaad word vir mense en situasies in my lewe nie. Maar ek het ook al besef, dat in tye soos dit, wanneer ek so 'n tantrum gooi, dit nooit goed afloop nie. Na die tyd is mens altyd spyt oor wat jy gese of gedoen het, want in alle eerlikheid het dit maar oor jou ego gegaan. En in sulke tye, veral in retrospeksie van wat gebeur het, besef jy net dat sulke baklei-sessies, niemand iets in die sak bring nie. Dit is juis IN die situasie, waar iets gebeur het wat dit uitgelok het, wat beide mense emosioneel is en op die verdediging uit is, waar jy nie moet praat oor die situasie nie. Dit is juis in sulke tye wat jy eers moet afkoel, jou gedagtes agtermekaar moet kry, en wag vir 'n rustige tyd om oor dinge te praat. Dit is gewoonlik ook so dat as jy dit tyd gee, jy soms nie eers oor dinge hoef te praat nie. Na jare van praat en luister na mense, wonder ek ook soms of al die gepratery oor dinge ooit iets oplos.


Ek dink dat al die gepratery van mense oor hulle eie gevoelens handel, en jy kan niemand om jou dwing om te verander om jou te pas nie. Verandering is iets wat uit jouself kom en self in iemand anders moet plaasvind. Die enigste plek waar ek gesien het dat praat werklik help, is in verhoudinge waar mense reeds liefde, respek en 'n sagte-woord kommunikasie stelsel het. Dit beteken nou ook nie heeltemal dat jy nie vir jou kinders moet se dat hulle die tandepaste se doppie moet opdraai nie.


Die fout wat ons baie keer maak as ons na hierdie vers kyk, is om te dink dat jy moet stilbly, wat dit beslis nie is nie. Die vers praat van die manier hoe ons dinge se en met mekaar omgaan. Dit rig ons in die rigting daarvan om anders met mekaar en ons woorde om te gaan. Dit leer ons dat jy nie vet op die vuur moet gooi en die situasie moet vererger nie, maar eerder is die sagte woord water op die vuur wat die verwoestende vlamme laat verdwyn en die vuur hanteerbaar laat smeul.


Ons verwys baie keer daarna dat "good guys finish last", en dit is dalk waar in 'n sekere konteks, veral as jy na die lewe verwys as 'n stryd of 'n resies, wat ek nie dink dit is nie. Ons verwys ook daarna om "die minste te wees", wat die idee gee dat die lewe 'n geveg is, wat ek ook nie glo dit behoort te wees nie. In hierdie week verwys 'n persoon na verhoudings as 'n spel, en dat jy altyd "one up" moet wees, die hef in die hand moet kry. Ek glo nie dat enige verhouding of die lewe in sy geheel so 'n stryd is nie, en dit is dalk hoekom die wereld lyk soos hy lyk. Die een wil net beter as die ander wees, wen, die meeste wees, en sodoende sien ek 'n wereld om my van verloorders, mense wat deur ander plat geslaan is, stukkend.


As jy 'n metafoor vir die lewe soek, dan is dit eerder vergelykbaar met 'n dans. Jy word gelei deur die musiek, soms nie heeltemal jou smaak nie. Jy word dalk gevra om te dans, nie deur jou ideale idee van die ou met die kuif en die ses-pak magie nie. Jy het dalk 'n bad hair day, of jou rok sit bietjie knap, of die kos wat by die funksie bedien word is nie heeltemal Michelin vlak nie. Beteken dit dat jy nie die dans mag geniet nie? Jy kan dalk nie dans nie, of jy doen die robot-dans of die spreier, maar beteken dit nou dat jy nie mag dans of die musiek mag geniet nie. Al waar ek wel kan sien wat die dans onsmaaklik mag maak, is indien jy op mekaar se tone trap wat jou van ritme af kan vat, of jou tone kan laat bloei. Jy het nie nodig om 'n professionele danser te wees om op die dansvloer te mag wees nie, God het jou genooi na die dans, en jy mag daar wees.


Die vers gee ons ook nie die gerusstelling dat jou lewe "plain-sailing" gaan wees nie. Die vers leer ons egter om anders na die lewe te kyk. Dit gaan dalk nie perfek wees nie, maar deur die hele tyd hard daarteen en met mekaar te baklei, gaan jou niks in die sak bring nie, inteendeel, dit gaan die genot wat daar wel in die lewe is, ook nog van jou ontneem.


Die laaste, en miskien die belangrikste boodskap van die vers vir my is dat ons ook met onsself en in onsseld en teenoor onsself, ook sagter moet wees. Onthou, jy dans ook met jouself, jy sien ook jou refleksie in die spieel, en ja, jy is nie die perfekte danser nie, maar wie is? Die lewe is hard, dit het sy uitdagings, en dit is nie altyd jou skuld nie. Die vers herinner ons dat daar grimmigheid gaan wees, mense en situasies wat jou gaan uitdaag rondom die stryd, maar leer die sagte woord aan, fluister vir jouself dat jy goed genoeg is, dat jy die dans mag geniet, eerder as om uit te lag en te skree.


"Be kind to each other" Ellen Degeneres


Tuesday, November 8, 2016

Vertroue in donker wolke

Die mensdom is behep met tyd, almal het 'n kalender of een of ander tipe van plek waar jy die tyd kan sien.  Die aarde werk ook met dae en seisoene, en ons hele lewe word daardeur beheer.  Daar is 'n tyd om te plant en 'n tyd om te oes, 'n tyd om wakker te word en 'n tyd om te gaan slaap, en sodoende kom ons nooit weg van tyd nie.


Geduld is natuurlik iets wat ons nie het nie, veral as dit kom by die groot dinge in die lewe.  Aanlyn aankope op die internet se grootste probleem is dat mense nie hou van wag nie, as ek iets gekoop het wil ek dit onmiddelik kan gebruik.


Die laaste paar maande is ek gekonfronteer met so 'n wag-situasie.  Dit is moeilik om te wag en te bly glo as huur betaal moet word, en ander dinge jou aandag verg.  Dit is ook ongelooflik uitdagend om jou geloof te behou, al glo jy dat dinge op sy tyd gebeur soos die Bybel ons leer.  Dit word nog erger as jy begin voel dat die dinge om jou uitmekaar val, want jy kan nie die tyd beheer nie.


Vandag sit ek en ek wonder oor my toekoms, my lewe vorentoe.  Met alles in my glo ek dat die dinge gaan uitwerk soos ek gebid en soos ek vertrou, maar die prys wat ek intussen daarvoor betaal en mense om my ruk my uitmekaar.  Dalk voel jy ook so oor soveel dinge, dalk is jy op die ashoop weggegooi soos 'n lappop, dalk is jy finansieel onderdeur, dalk sien jy op na die eksamen of welke ding ookal jou in die lewe nou pla.


Wat doen 'n mens in sulke situasies, wanneer jou geduld opraak en wanneer jy voel asof daar geen hoop meer is nie.  Een ding weet ek verseker, en dit sal ek in my hele lewe bly glo, want dit het al soveel keer met my gebeur, en dit is dat God in beheer is, al dink jy nie so nie.  Dit is moeilik om God se hand in die proses te sien en te wonder oor hoekom dinge met jou gebeur.  Maar een ding getuig ek vandag van, ek sal nooit ophou bid, ophou glo en ophou vertrou nie, want God is in beheer, ongeag hoe swaar en donker die wolke rondom jou is.  Hou goeie geloof, nie moed nie!!!

Thursday, September 29, 2016

Wieletjie Wiskunde

Ons lewens, en veral ons verhoudinge met ander mense is soms gevul met 'n klomp uitdagings. Ons analiseer daagliks die mense om ons, stel vir hulle uitdagings en toetse van dinge waaraan hulle moet voldoen om deel van ons lewens te wees. Sekere dinge moet gebeur vir ons om hulle toe te laat om met ons saam te leef. 'n Vriend van my beskryf praktiese romantiese verhoudings met 'n ruiltransaksie, ek doen 'n ding om iets by jou te kry en ek weerhou weer van myself as ek sekere dinge nie by jou kry nie. Soos my vriend se oor Valentine's dag, dat die kaartjies eintlik moet lees: "I have traded love with you very successfully this year".


Mense analiseer hulle geluk of ongeluk by hulle gekose maat op grond van sekere kriteria. Of ons nou hou daarvan of nie, dit is nou maar net hoe dit is. Verhoudinge word prakties bepaal op grond van wat jy daaruit kry. Ek dink soms dat ons nooit liefde sal verstaan soos hoe God dit geskep het nie. God se liefde het beslis niks uit te waai met verdienste nie, maar genade. As ek so om my kyk na mense se gebroke lewens, dan sien ek dat ons nie mekaar met genade hanteer nie. Miskien moet ons in ons verhoudinge ophou praat van liefde en begin praat van "ek het genade vir jou". Genade, soos ek dit verstaan, het nie te doen met enige mate van verdienste nie, want dit beteken dat ek nie vir jou enige toetse gee nie, of hoepels skep waardeur jy moet spring nie.


Dink net hoe hopeloos ons lewens sou gewees het, as God nie 'n God van genade is nie? Iemand se nou die dag die woorde: "Jy kan nie van God verwag om …... as jy nie …..". So dink ek toe by myself wat in daardie persoon se kop leef oor God, want dit is beslis nie hoe ek God sien of opsom nie. Die God wat ek aanbid, is 'n God wat weet en verstaan dat ek net menslik is. Dit is 'n God wat verstaan dat almal van ons in opregtheid probeer leef en bestaan. Dit is 'n God wat nie die half-leeg glas van my lewe op fokus en my daaroor kasty nie, maar die God wat die glas as geheel sien.


Paulus het agtergekom dat mense vir wie hy gepreek het ook nie die konsep van Genade baie mooi verstaan het nie. Die gemeente vra vir Paulus of hulle meer sonde moet doen sodat die genade moet toeneem. Selfs die grote Paulus het te staan gekom teen die idee van verdienste. Maar genade beteken ook nooit, en dit is wat mense verkeerd verstaan, dat jy net moet terugsit, doen wat jy wil en alles sal net OK wees nie. Veral wanneer dit by verhoudings met mense kom, jy moet, net soos in jou geloof elke dag probeer om beter te wees. Jy moet sag en plooibaar wees, jy moet na iemand se behoeftes kan kyk en self uit genade nie opsetlik doen wat jy weet die ander persoon gaan seermaak nie. Maar ek glo dat mense "verkeerd" teenoor mekaar optree wanneer hulle nie genade verstaan of voel in hulleself nie. Nou moet ek ook eerlik wees oor verdienste, want dit is ook natuurlik makliker om genadig te wees en genadig en in liefde teenoor iemand te leef as jy genade van hulle kant af ook ervaar. Dit probleem in ons verhoudngs is oor die algemeen dat ons eers "verwag" van die ander persoon om genadig of liefdevol te wees, voordat ons dit vir hulle gee of doen.


As ek weer kan terugkeer tot die voorbeeld van God, God het nie gewag vir ons as mense om eers gelowig te wees, eers die regte dinge te doen voordat Hy ons genadig was of is nie. Dit het by God self ontstaan, te midde van ons sondigheid, te midde van wie ek en jy was of is. Nou verstaan ek ook dat dit ongelooflik moeilik is vir iemand wat in 'n verhouding van mishandeling is om hieraan te dink, want ek dink ook nie dat God dit vir jou in die oog het nie. Ek praat dus hier nie van ekstreme scenario's nie, maar as ek eerlik moet wees, Jesus het te midde van die dood, spot en kruisiging tog liefde gewys. Moeder Theresa het ook gese dat jy goed aan ander sal doen, hulle dit terug in jou gesig gaan gooi, maar dit beteken nie dat jy moet ophou om goed te doen nie. Jy sien, liefde en genade is, hoe ons ookal daaroor dink, niks met iemand anders of verdienste uit te waai nie, dit kom net uit jouself, net van jouself af.


Liefde en Genade is twee konsepte wat onvoorwaardelik is en moet wees. Hoe iemand aan die ander kant van jou daarop reageer is 'n bysaak. Dit gaan oor wie jy is! Jy het geen beheer hoe mense om jou reageer of optree nie, en natuurlik het jy altyd die opsie om te beoordeel wat jy van hou en nie van hou nie, maar die beoordeling mag nooit jou liefde en genadiglikheid VIR hulle wegneem nie.


Ons het almal wiskunde nodig vir ons funksionering in die wereld, al is dit net om jou bankrekening te balanseer. Maar vir dit het jy nie 'n BSC in wiskunde nodig nie. In skole deesdae is daar wiskunde vaardigheid wat as vak geneem kan word, alombekend as "wieletjie wiskunde". Dit is 'n basiese verstaan van wiskunde, maar dit gee jou nie toegang tot Universiteit nie. Ons verwag soms van mekaar om die toetse van die lewe te skryf, maar ons het almal net wieletjie wiskunde as vak gehad. Ons is dan altyd verstom as die mense om ons nie die derdejaars BSC wiskunde kan deurkom nie. God se genade sien juis raak dat ons wieletjie wiskunde het, nie al die antwoorde het nie, maar Hy bly lief vir ons sonder om ons vir ons beperkende kennis te veroordeel.


Hierdie idee van Genade is nie net van toepassing op ons geloof en verhoudinge met ander nie, maar ook belangrik vir ons belangrike verhouding met ons self. Soms verwag ons van ons self om die onmoontlike te doen, en wanneer ons nie die toets slaag nie, kasty ons ons tot in die graf. Ons kyk na al die toetse wat ons in die verlede geskryf het en gepluk het, ons stress ons tot die dood toe oor die toetse wat kom en ons voel nie gereed om dit te gaan skryf nie. Dit beteken beslis nie dat jy nie vir jouself groot ideale mag stel nie, en natuurlik ook nie dat jy maar net sit en alles in jouself aanvaar en agteroor sit nie. Dit beteken net dat nie almal 100% van die tyd vol punte kry vir alle vakke en alle toetse nie. Soms moet jy die toets makliker maak, en veral verstaan dat jy net 'n mens is, wat beteken dat jy net wieletjie wiskunde het om op terug te val, en nie altyd van jouself moet verwag om daarmee die Universiteits eksamen te gaan skryf nie. Met hierdie kennis van jouself, wees dalk ook so bietjie meer genadig met jouself vandag. Dalk moet jy vandag net so bietjie rustig vat, stil word in jouself en met meer deernis jouself benader.


Dit is soms nie wie en wat ons is wat ons moedeloos en depressief maak nie. Dit is die verwagtinge wat ons van onsself en mense om ons het wat ons teen die grond slaan. Mense gaan jou teleurstel, veral as jy van hulle dinge verwag wat hulle nie kan nie. Net omdat hulle nie die groot eksamen deurkom nie, beteken nie dat hulle nie probeer nie. Hulle daag op, hulle is deel van jou lewe, en hulle gaan sit tog en probeer om jou toetse te skryf. Vat vandag die vrees uit hulle harte, die spanning van non-performance en van geweeg te word en te lig bevind te word. Hanteer hulle met deernis en jouself ook. Miskien is vandag die dag wat jy hierdie ter harte neem, en sagter is met jouself en met ander, want onthou, almal het net wieletjie wiskunde!

Friday, September 16, 2016

Oorfone

Het jy al agtergekom dat mense wat oorfone op hulle ore het, wanneer hulle met jou praat, praat hulle gewoonlik harder en in 'n skree-toon. Elke mens wat leef, soek graag om gehoor en aanvaar te word. As kinders skree ons in rebellie as tieners om aanvaar te word vir wie ons is, te midde van ons ouers se raad en dissipline. As grootmense soek ons aanvaarding by ons mense, ons kinders, ons kollegas en ons huweliksmaats. Almal wil gehoor word.


Tussendeur hierdie proses, kom ons soms agter dat die teenreaksie van die wereld om ons, in meeste gevalle nie een van "hoor" is nie. Meeste van die kere val ons geskree om ons self te wees op dowe ore, want eintlik het almal om ons hulle eie lewens, en almal het oorfone op en kan ons nie hoor nie. Elkeen luister sy eie liedjie in sy kop, en elkeen is besig om uit te skree om aanvaar te word.


In my lewe het ek dit al soveel keer ervaar, en soms kom jy op 'n punt waar jy dit ook ervaar. Jy bereik 'n punt waar jou stem so seer word, dat jy stom begin bestaan. Jy begin ervaar dat niemand werklik "omgee" oor wie en wat jy is nie. Jy begin om ook maar net te luister na jou eie lied in jou kop, want wat help dit om uit te skree as niemand wil hoor nie. Jy begin dit uitleef, jou stem raak stil, veral wanneer die mense om jou nie kan luister of wil luister nie. Jy is gelukkig as jy iemand vind wat so nou en dan hulle oorfone afhaal en aandag aan jou stem gee. Jy is nog meer gelukkig as jy iemand kry wat saam met jou onder die oorfone inseil en bereid is om na jou "song" te luister.


Een ding wat jy in die lewe leer, is dat indien jy nie self jou eie oorfone afhaal en luister na die hulpkreet van ander nie, jy ook nooit iemand sal leer ken nie. As ouer leer jy dat ander se musiek wat hulle na luister nie noodwendig jou smaak is nie. Maar in liefde is jy bereid om daarna te luister en hulle erkenning te gee vir hulle eie smaak en menswees. Jy kan tog nie van ander verwag om altyd na jou skree te luister, as jy nie ook bereid is om na hulle te luister nie.


Suksesvolle verhoudinge is wanneer jy bereid is om uit jou idee van die lewe te klim en ander se idee oor die lewe te erken. Ek sien dit baie dat kinders hulle ouers afskryf en ophou praat met hulle, wanneer hulle nie gehoor word nie. Die swaard sny eintlik beide kante toe, want jy moet jou kinders leer om te luister na raad, maar ek dink dat jy nie van iemand kan verwag om hulle oorfone af te haal, as jy nie eers bereid is om joune af te haal nie. As ouer van tieners, met 'n sagte plek vir kinders, sien ek en hoor ek hoe ouers langs die hokkieveld en op Facebook praat, en verstaan ek soms die rebellie van kinders. Ons besef nie altyd dat hierdie kinders in 'n totaal ander wereld en bestel as ons grootword nie, die ritme van hulle liedjies is anders as die waarmee ons grootgeword het. Maar ons besef dit nie, ons hoor dit nie, en soms wil ons dit nie hoor of aanvaar nie.


Die spreekwoord lei: "In times of change, those that adapt wil inherit the earth, while those who don't find themselves beautifully ready for a world that no longer exists". Natuurlik is daar basiese realistiese idees wat altyd bestaan en wat nooit verander nie. Maar soos wat "Sound of Silence" op 'n ander manier deur Rock sangers met 'n ander ritme gedoen kan word, beteken nie dat die "magic" van die song weggaan of nie meer bestaan nie. Dit beteken net dat dit met 'n nuwe ritme en op 'n ander manier gedoen kan word. Dit beteken, dat om jou idees aan te pas, of jou oorfone af te haal, nie beteken dat jy die baba met die badwater moet uitgooi nie. Dit beteken net dat jy oop is vir ander se idees, vir ander se standpunte en vir ander se standpunt. Dit beteken ook dat jy natuurlik jou standpunt kan huldig, maar net omdat die ritme van die lied verander en nie meer deur Simon en Garfunkel gesing word, verkeerd is nie. Dit beteken net egter dat as jy oop en aanpasbaar is, jou lewe soveel meer kleur het, soveel meer geluk inhou as om alles te vermy, te veroordeel en af te jak.


Ek verwys baie kere na die uitspraak van Gary Player wat gese het: "Play the course as it is and not as you would like it to be". As ek na mense om my kyk, besef ek dit terdee, maar ook na myself. Om aan te hou skree vir jouself en soos 'n kind in 'n speelgoedwinkel te skree omdat jy nie jou sin kry nie, maak die lewe onaangenaam, vir jou, die mense saam met jou en ook die hele wereld se mense wat onskuldig in die winkel is. En op die ou einde, 'n kind wat so skree, kry oor die algemeen nooit hulle sin nie, kry nooit die lego wat hulle soek nie.


Die ongelukkigste mense wat ek ooit ontmoet het, is hulle wat nooit hulle oorfone wil afhaal nie. Jy kan probeer nes jy wil, hulle is net nie bereid om hulle oorfone ooit af te haal nie. Hulle is nooit bereid om aan te pas by die nuwe ritme of deuntjie van die lewe nie. Ek het een keer 'n preek geskryf oor Paulus en Barnabas wat saam met Paulus op sendingreise gegaan het. Barnabas se pa is oorlede en het besluit om terug te keur Jerusalem toe om na sy ma te kyk. Paulus het hewig reageer omdat hy blykbaar nie genoeg passie vir die evangelie gehad het nie. Later het Barnabas teen Paulus getuig in Jerusalem. My boodskap die dag het die tema gehad van "Rigied tog buigbaar". Dit beteken dat jy welkom is om te dink dat jy reg is en vas te hou aan wat jy in glo, maar dat jy terselfdertyd moet weet dat net omdat jy dink dat jy reg is, jy nie noodwendig die enigste een is wat reg is nie. Daar is nie net altyd een antwoord vir alles en in alle omstandighede nie.


Die antwoord van 'n suksesvolle, maar nog meer 'n gelukkige lewe is wanneer jy gehoor word, maar ook wanneer jy bereid is om te hoor en waar beide mense hulle oorfone afhaal en na mekaar luister, en selfs ook mekaar se oorfone op te sit. Dit is ook nie nodig om werklik ekstaties mekaar se musiek jou eie te maak nie, maar die bereidheid om te luister is die antwoord. Dit is werklike liefde, bereidheid en openheid tot ander idees.


Vandag is dalk die dag wat jy jou oorfone moet afhaal, en bereidheid moet verklaar om na ander en hulle ritmes en deuntjies te luister.