Thursday, September 29, 2016

Wieletjie Wiskunde

Ons lewens, en veral ons verhoudinge met ander mense is soms gevul met 'n klomp uitdagings. Ons analiseer daagliks die mense om ons, stel vir hulle uitdagings en toetse van dinge waaraan hulle moet voldoen om deel van ons lewens te wees. Sekere dinge moet gebeur vir ons om hulle toe te laat om met ons saam te leef. 'n Vriend van my beskryf praktiese romantiese verhoudings met 'n ruiltransaksie, ek doen 'n ding om iets by jou te kry en ek weerhou weer van myself as ek sekere dinge nie by jou kry nie. Soos my vriend se oor Valentine's dag, dat die kaartjies eintlik moet lees: "I have traded love with you very successfully this year".


Mense analiseer hulle geluk of ongeluk by hulle gekose maat op grond van sekere kriteria. Of ons nou hou daarvan of nie, dit is nou maar net hoe dit is. Verhoudinge word prakties bepaal op grond van wat jy daaruit kry. Ek dink soms dat ons nooit liefde sal verstaan soos hoe God dit geskep het nie. God se liefde het beslis niks uit te waai met verdienste nie, maar genade. As ek so om my kyk na mense se gebroke lewens, dan sien ek dat ons nie mekaar met genade hanteer nie. Miskien moet ons in ons verhoudinge ophou praat van liefde en begin praat van "ek het genade vir jou". Genade, soos ek dit verstaan, het nie te doen met enige mate van verdienste nie, want dit beteken dat ek nie vir jou enige toetse gee nie, of hoepels skep waardeur jy moet spring nie.


Dink net hoe hopeloos ons lewens sou gewees het, as God nie 'n God van genade is nie? Iemand se nou die dag die woorde: "Jy kan nie van God verwag om …... as jy nie …..". So dink ek toe by myself wat in daardie persoon se kop leef oor God, want dit is beslis nie hoe ek God sien of opsom nie. Die God wat ek aanbid, is 'n God wat weet en verstaan dat ek net menslik is. Dit is 'n God wat verstaan dat almal van ons in opregtheid probeer leef en bestaan. Dit is 'n God wat nie die half-leeg glas van my lewe op fokus en my daaroor kasty nie, maar die God wat die glas as geheel sien.


Paulus het agtergekom dat mense vir wie hy gepreek het ook nie die konsep van Genade baie mooi verstaan het nie. Die gemeente vra vir Paulus of hulle meer sonde moet doen sodat die genade moet toeneem. Selfs die grote Paulus het te staan gekom teen die idee van verdienste. Maar genade beteken ook nooit, en dit is wat mense verkeerd verstaan, dat jy net moet terugsit, doen wat jy wil en alles sal net OK wees nie. Veral wanneer dit by verhoudings met mense kom, jy moet, net soos in jou geloof elke dag probeer om beter te wees. Jy moet sag en plooibaar wees, jy moet na iemand se behoeftes kan kyk en self uit genade nie opsetlik doen wat jy weet die ander persoon gaan seermaak nie. Maar ek glo dat mense "verkeerd" teenoor mekaar optree wanneer hulle nie genade verstaan of voel in hulleself nie. Nou moet ek ook eerlik wees oor verdienste, want dit is ook natuurlik makliker om genadig te wees en genadig en in liefde teenoor iemand te leef as jy genade van hulle kant af ook ervaar. Dit probleem in ons verhoudngs is oor die algemeen dat ons eers "verwag" van die ander persoon om genadig of liefdevol te wees, voordat ons dit vir hulle gee of doen.


As ek weer kan terugkeer tot die voorbeeld van God, God het nie gewag vir ons as mense om eers gelowig te wees, eers die regte dinge te doen voordat Hy ons genadig was of is nie. Dit het by God self ontstaan, te midde van ons sondigheid, te midde van wie ek en jy was of is. Nou verstaan ek ook dat dit ongelooflik moeilik is vir iemand wat in 'n verhouding van mishandeling is om hieraan te dink, want ek dink ook nie dat God dit vir jou in die oog het nie. Ek praat dus hier nie van ekstreme scenario's nie, maar as ek eerlik moet wees, Jesus het te midde van die dood, spot en kruisiging tog liefde gewys. Moeder Theresa het ook gese dat jy goed aan ander sal doen, hulle dit terug in jou gesig gaan gooi, maar dit beteken nie dat jy moet ophou om goed te doen nie. Jy sien, liefde en genade is, hoe ons ookal daaroor dink, niks met iemand anders of verdienste uit te waai nie, dit kom net uit jouself, net van jouself af.


Liefde en Genade is twee konsepte wat onvoorwaardelik is en moet wees. Hoe iemand aan die ander kant van jou daarop reageer is 'n bysaak. Dit gaan oor wie jy is! Jy het geen beheer hoe mense om jou reageer of optree nie, en natuurlik het jy altyd die opsie om te beoordeel wat jy van hou en nie van hou nie, maar die beoordeling mag nooit jou liefde en genadiglikheid VIR hulle wegneem nie.


Ons het almal wiskunde nodig vir ons funksionering in die wereld, al is dit net om jou bankrekening te balanseer. Maar vir dit het jy nie 'n BSC in wiskunde nodig nie. In skole deesdae is daar wiskunde vaardigheid wat as vak geneem kan word, alombekend as "wieletjie wiskunde". Dit is 'n basiese verstaan van wiskunde, maar dit gee jou nie toegang tot Universiteit nie. Ons verwag soms van mekaar om die toetse van die lewe te skryf, maar ons het almal net wieletjie wiskunde as vak gehad. Ons is dan altyd verstom as die mense om ons nie die derdejaars BSC wiskunde kan deurkom nie. God se genade sien juis raak dat ons wieletjie wiskunde het, nie al die antwoorde het nie, maar Hy bly lief vir ons sonder om ons vir ons beperkende kennis te veroordeel.


Hierdie idee van Genade is nie net van toepassing op ons geloof en verhoudinge met ander nie, maar ook belangrik vir ons belangrike verhouding met ons self. Soms verwag ons van ons self om die onmoontlike te doen, en wanneer ons nie die toets slaag nie, kasty ons ons tot in die graf. Ons kyk na al die toetse wat ons in die verlede geskryf het en gepluk het, ons stress ons tot die dood toe oor die toetse wat kom en ons voel nie gereed om dit te gaan skryf nie. Dit beteken beslis nie dat jy nie vir jouself groot ideale mag stel nie, en natuurlik ook nie dat jy maar net sit en alles in jouself aanvaar en agteroor sit nie. Dit beteken net dat nie almal 100% van die tyd vol punte kry vir alle vakke en alle toetse nie. Soms moet jy die toets makliker maak, en veral verstaan dat jy net 'n mens is, wat beteken dat jy net wieletjie wiskunde het om op terug te val, en nie altyd van jouself moet verwag om daarmee die Universiteits eksamen te gaan skryf nie. Met hierdie kennis van jouself, wees dalk ook so bietjie meer genadig met jouself vandag. Dalk moet jy vandag net so bietjie rustig vat, stil word in jouself en met meer deernis jouself benader.


Dit is soms nie wie en wat ons is wat ons moedeloos en depressief maak nie. Dit is die verwagtinge wat ons van onsself en mense om ons het wat ons teen die grond slaan. Mense gaan jou teleurstel, veral as jy van hulle dinge verwag wat hulle nie kan nie. Net omdat hulle nie die groot eksamen deurkom nie, beteken nie dat hulle nie probeer nie. Hulle daag op, hulle is deel van jou lewe, en hulle gaan sit tog en probeer om jou toetse te skryf. Vat vandag die vrees uit hulle harte, die spanning van non-performance en van geweeg te word en te lig bevind te word. Hanteer hulle met deernis en jouself ook. Miskien is vandag die dag wat jy hierdie ter harte neem, en sagter is met jouself en met ander, want onthou, almal het net wieletjie wiskunde!

No comments:

Post a Comment