Friday, September 16, 2016

Oorfone

Het jy al agtergekom dat mense wat oorfone op hulle ore het, wanneer hulle met jou praat, praat hulle gewoonlik harder en in 'n skree-toon. Elke mens wat leef, soek graag om gehoor en aanvaar te word. As kinders skree ons in rebellie as tieners om aanvaar te word vir wie ons is, te midde van ons ouers se raad en dissipline. As grootmense soek ons aanvaarding by ons mense, ons kinders, ons kollegas en ons huweliksmaats. Almal wil gehoor word.


Tussendeur hierdie proses, kom ons soms agter dat die teenreaksie van die wereld om ons, in meeste gevalle nie een van "hoor" is nie. Meeste van die kere val ons geskree om ons self te wees op dowe ore, want eintlik het almal om ons hulle eie lewens, en almal het oorfone op en kan ons nie hoor nie. Elkeen luister sy eie liedjie in sy kop, en elkeen is besig om uit te skree om aanvaar te word.


In my lewe het ek dit al soveel keer ervaar, en soms kom jy op 'n punt waar jy dit ook ervaar. Jy bereik 'n punt waar jou stem so seer word, dat jy stom begin bestaan. Jy begin ervaar dat niemand werklik "omgee" oor wie en wat jy is nie. Jy begin om ook maar net te luister na jou eie lied in jou kop, want wat help dit om uit te skree as niemand wil hoor nie. Jy begin dit uitleef, jou stem raak stil, veral wanneer die mense om jou nie kan luister of wil luister nie. Jy is gelukkig as jy iemand vind wat so nou en dan hulle oorfone afhaal en aandag aan jou stem gee. Jy is nog meer gelukkig as jy iemand kry wat saam met jou onder die oorfone inseil en bereid is om na jou "song" te luister.


Een ding wat jy in die lewe leer, is dat indien jy nie self jou eie oorfone afhaal en luister na die hulpkreet van ander nie, jy ook nooit iemand sal leer ken nie. As ouer leer jy dat ander se musiek wat hulle na luister nie noodwendig jou smaak is nie. Maar in liefde is jy bereid om daarna te luister en hulle erkenning te gee vir hulle eie smaak en menswees. Jy kan tog nie van ander verwag om altyd na jou skree te luister, as jy nie ook bereid is om na hulle te luister nie.


Suksesvolle verhoudinge is wanneer jy bereid is om uit jou idee van die lewe te klim en ander se idee oor die lewe te erken. Ek sien dit baie dat kinders hulle ouers afskryf en ophou praat met hulle, wanneer hulle nie gehoor word nie. Die swaard sny eintlik beide kante toe, want jy moet jou kinders leer om te luister na raad, maar ek dink dat jy nie van iemand kan verwag om hulle oorfone af te haal, as jy nie eers bereid is om joune af te haal nie. As ouer van tieners, met 'n sagte plek vir kinders, sien ek en hoor ek hoe ouers langs die hokkieveld en op Facebook praat, en verstaan ek soms die rebellie van kinders. Ons besef nie altyd dat hierdie kinders in 'n totaal ander wereld en bestel as ons grootword nie, die ritme van hulle liedjies is anders as die waarmee ons grootgeword het. Maar ons besef dit nie, ons hoor dit nie, en soms wil ons dit nie hoor of aanvaar nie.


Die spreekwoord lei: "In times of change, those that adapt wil inherit the earth, while those who don't find themselves beautifully ready for a world that no longer exists". Natuurlik is daar basiese realistiese idees wat altyd bestaan en wat nooit verander nie. Maar soos wat "Sound of Silence" op 'n ander manier deur Rock sangers met 'n ander ritme gedoen kan word, beteken nie dat die "magic" van die song weggaan of nie meer bestaan nie. Dit beteken net dat dit met 'n nuwe ritme en op 'n ander manier gedoen kan word. Dit beteken, dat om jou idees aan te pas, of jou oorfone af te haal, nie beteken dat jy die baba met die badwater moet uitgooi nie. Dit beteken net dat jy oop is vir ander se idees, vir ander se standpunte en vir ander se standpunt. Dit beteken ook dat jy natuurlik jou standpunt kan huldig, maar net omdat die ritme van die lied verander en nie meer deur Simon en Garfunkel gesing word, verkeerd is nie. Dit beteken net egter dat as jy oop en aanpasbaar is, jou lewe soveel meer kleur het, soveel meer geluk inhou as om alles te vermy, te veroordeel en af te jak.


Ek verwys baie kere na die uitspraak van Gary Player wat gese het: "Play the course as it is and not as you would like it to be". As ek na mense om my kyk, besef ek dit terdee, maar ook na myself. Om aan te hou skree vir jouself en soos 'n kind in 'n speelgoedwinkel te skree omdat jy nie jou sin kry nie, maak die lewe onaangenaam, vir jou, die mense saam met jou en ook die hele wereld se mense wat onskuldig in die winkel is. En op die ou einde, 'n kind wat so skree, kry oor die algemeen nooit hulle sin nie, kry nooit die lego wat hulle soek nie.


Die ongelukkigste mense wat ek ooit ontmoet het, is hulle wat nooit hulle oorfone wil afhaal nie. Jy kan probeer nes jy wil, hulle is net nie bereid om hulle oorfone ooit af te haal nie. Hulle is nooit bereid om aan te pas by die nuwe ritme of deuntjie van die lewe nie. Ek het een keer 'n preek geskryf oor Paulus en Barnabas wat saam met Paulus op sendingreise gegaan het. Barnabas se pa is oorlede en het besluit om terug te keur Jerusalem toe om na sy ma te kyk. Paulus het hewig reageer omdat hy blykbaar nie genoeg passie vir die evangelie gehad het nie. Later het Barnabas teen Paulus getuig in Jerusalem. My boodskap die dag het die tema gehad van "Rigied tog buigbaar". Dit beteken dat jy welkom is om te dink dat jy reg is en vas te hou aan wat jy in glo, maar dat jy terselfdertyd moet weet dat net omdat jy dink dat jy reg is, jy nie noodwendig die enigste een is wat reg is nie. Daar is nie net altyd een antwoord vir alles en in alle omstandighede nie.


Die antwoord van 'n suksesvolle, maar nog meer 'n gelukkige lewe is wanneer jy gehoor word, maar ook wanneer jy bereid is om te hoor en waar beide mense hulle oorfone afhaal en na mekaar luister, en selfs ook mekaar se oorfone op te sit. Dit is ook nie nodig om werklik ekstaties mekaar se musiek jou eie te maak nie, maar die bereidheid om te luister is die antwoord. Dit is werklike liefde, bereidheid en openheid tot ander idees.


Vandag is dalk die dag wat jy jou oorfone moet afhaal, en bereidheid moet verklaar om na ander en hulle ritmes en deuntjies te luister.

No comments:

Post a Comment