Thursday, March 9, 2017

Die Laai

Omtrent elke huis het so 'n laai, waar ons al die dinge sit wat ons nie weet wat om mee te doen nie. Daar is ou Betamax afstandbeheer, ou batterye, dalk 'n stuk van 'n gebreekte sonbril wat jy in Margate gekoop het in matriek en natuurlik 'n paar los bruin sente so tussen die stof in die hoek. O Ja, en dan ook daardie handleiding van daai eerste Mikrogolfoond wat jy by Russels in 1980 gekoop het, nie meer het nie, en so twee of drie van sussie se waterverf prentjies wat sy in Graad 1 gedoen het. Om een of ander rede is ons almal nie lus om dit weg te gooi nie, want dalk het ons op een of ander stadium dit weer nodig.

Vanoggend kyk ek so na ons kassie, en wonder hoe 'n sielkundige ding dit is ons lewe is, en hoeveel van ons nie ook in ons koppe so 'n "kop-laai" het met baie herinneringe wat geen bydrae tot ons lewens maak nie, maar ons met ons saamdra vir jare en dekades. Net soos wat ons nie die goeters in die laai weggooi nie, is ons ook skugter om ons kop-laai ook leeg te maak. Hoeveel dinge dra jy met jou saam nie, haat, woede, seer, hartseer, trane, verlies ensovoorts?

Dalk het die tyd in jou lewe gekom om jou kop-laai te hanteer, die ou batterye wat net suur lek weg te gooi. As ek na my lewe kyk is daar 'n klomp groot olifante in die laai, dinge wat my ongelooflike hartseer en pyn veroorsaak het. En al is daar sekere dae wat ek nie daaraan dink nie, "clutter" dit tog my lewe, keer ook dat ek nuwe beter en mooier gedagtes in my laai kan pak. Hierdie dinge is funksioneel gewees op 'n sekere tyd, dit het krag gegee aan die afstandbeheer, maar nou, nou vat dit net plek op in my lewe.

Dit wat met jou gebeur het het sy doel gedien op 'n sekere tyd, en as jy die mikrogolfoond se handleiding weggooi, beteken nie dat jy van dit vergeet het, of nie onthou hoe lekker jy kos daarin gemaak het nie. Dit beteken net dat dit geen doel in jou lewe meer dien nie, so wat is die punt om dit te hou.

Maar om die kop-laai leeg te maak is net so moeilik as om daardie laai in die huis se inhoud in die asblik te gooi. Die maklikste manier is om te besef dat as iets nie 'n bydrae tot jou lewe maak nie, dit dalk nie goed is vir jou om dit te hou nie. Dinge wat in die verlede met jou gebeur het, was daar vir 'n doel, en dalk hou die laai jou terug om te lewe. Dit herinner jou dalk ook aan JOU mislukkings, en hoe swak die mikrogolfoond werklik was. Die tyd het gekom om skoon te maak, die lesse te leer en aan te beweeg. Betamax is vervang met VHS, Video masjiene met DVD's en toe Blueray, en deesdae is alles op die internet beskikbaar. Soos met die Betamax afstandbeheer, herinner dit jou soms ook hoe ver jy gekom het en gegroei het van daardie tyd af.

Maar besef dat jy dit nie meer nodig het nie, want dit hou jou dalk terug om die nuwe en beter weergawe van jou lewe in te lei. En die volgende, behalwe die besef, is om fisies die ding op te tel en in die asblik te gaan gooi. Dit gaan nie outomaties gebeur nie, jy moet werk insit. En soos met die Betamax afstandbeheer, die wete dat jy dit nie meer nodig het nie, gee jouself die toestemming om dit weg te gooi, want jy mag. So moet jy dalk die mense wat die seer in jou laai gepak het vergewe, dalk jouself ook. Jy kan iets aan die verlede doen, jy kan dit op 'n ander manier sien, en dit is dat dit nie meer nodig is in jou lewe nie. Dit beteken nie dat dit nie seer of sleg was of dat iemand jou wel te na gekom het nie, net soos die batterye op 'n stadium eg was en gewerk het. Dit beteken net dat jy aanbeweeg en aanvaar. Te veel en te lank laat ons hierdie pap batterye toe om ons te bly vergiftig, en mense om ons jare na die tyd steeds seer te maak.

Gooi uit deur te vergewe, te aanvaar en maak dan nuwe foute en bou nuwe herinneringe in jou kop-laai.

No comments:

Post a Comment