Tuesday, March 14, 2017

Jy mag!

Ons leef in 'n voorskriftelike wereld. Selfs nog voor jy gebore word, word daar reeds verwagtinge van jou geskep. Van die dag dat jy gebore word, leer jou ouers jou sekere dinge, vanuit hulle ervarings of vanuit die ervarings van die samelewing. Die doelwit daarvan, net sodat julle besef dat dit nie kritiek is nie, is sodat jy kan funksioneer in 'n latere tyd in 'n samelewing waarvan jy nie kan ontsnap nie. Reels en regulasies is dinge wat nodig is vir 'n wereld om te kan draai.


In dieselfde asem leer ons ons kinders dat hulle hulleself moet wees, en dat hulle kan doen en word net wat hulle eendag wil wees. Ek het van kleins af hiermee geworstel, aangesien ek deurmekaar was, want die verwagtinge wat van my geskep is, die lyne waarbinne ek moet funksioneer, maak nie werklik plek vir kreatiwiteit nie. So word ons groter, en dan paai ons onsself met die idee dat ons gelukkig darem die kleure van die potlood kan kies, alhoewel die samelewing van ons verwag om tussen die lyne in te kleur.


Van kleins af het my ma altyd vir my gevra, oor my manier van denke, oor hoekom ek altyd anders wil wees. Ek het baie daaroor gewonder, want ek dink nie ek is so anders nie, ek konformeer want ek het geleer dat as ek dit nie doen nie, dan word ek gekritiseer. En dit is nie my ma se skuld nie, maar eerder die wereld waarin ons leef, want om "anders" te wees, is soms moeiliker as om maar net jou grys vervelige pakkie aan te trek en te doen wat almal doen. Uiteindelik word ons soos die African Grey pappegaai wat se vlerke geknip word, en wat in die hoek sit en maar leer om te praat sodat ons as "oulik" verklaar kan word.


Die wereld rondom ons is stukkend van mense wat sit en kripeer in hoekies, met drome en ideale wat nooit verwesenlik word nie. Ons sit met 'n geslag kinders wat met ongelooflike stress sit, want ons plaas dit op hulle. Elke dag voer mense 'n stryd tussen wie hulle graag wil wees, en wat van hulle verwag word om te word. Baie van ons keuses rondom 'n loopbaan, verhoudings, studierigting en dag tot dag funksionering is gebasseer op dinge en verwagtinge van die samelewing. Net om dit vir 'n oomblik te balanseer, ek praat nou nie hier van radikale aksies nie, want die samelewing het sekere reels nodig om te kan funksioneer.


Ek wonder welke keuses ek in my lewe sou gemaak het, of nie gemaak het nie, as dit nie was vir hierdie verwagtinge nie. Ek vang myself nou hierdie blog skryf 2:00 in die oggend. Ek is nie vaak nie, en terwyl ek hier met my koppie koffie sit, voel ek skuldig dat ek nie gaan slaap nie. Maar ek het nie nodig om lank te slaap nie, maar weereens besef ek hoe moeilik dit vir my is om myself toe te laat om te wees wie ek is.


Ek lees baie oor produktiwiteit en oor menswees in die algemeen, en een ding sien ek loop soos 'n goue draad deur al die geskrifte, en dit is dat gelukkige en suksesvolle mense, daardie is wat hulleself ken en hulleself toelaat om te wees wie hulle is. En 'n groot deel daarvan is dat hulle hulleself toelaat om te "mag", eerder as om beperkings op hulleself te stel. Selfs jou "slegte" attribute kan tot jou voordeel tel as jy dit weet, want dan beplan jy jou lewe rondom dit. Ek onthou dat my ma altyd vir my op skool gese het dat ek moet weet dat ek lui is, en daarom eerder my naweek se huiswerk die vrydag moet doen, want ek gaan beslis nog luier wees Sondag middag om dit te doen.


Deel van die toelaat-proses in elke deel van jou lewe, gaan ook met kritiek gepaard. Oorsaak en gevolg is deel van alle dele van jou lewe, maar dit geld nie net vir die mense wat buite die lyne inkleur nie, maar ook vir die wat binne die lyne inkleur. Ek leef 'n vol lewe, en ek hou daarvan om stories te vertel van toe ek op skool en universiteit was, van die mense wat ek op my pad ontmoet het, kleurvolle mense wat my baie geleer het van die lewe, en natuurlik van myself. Ek dink terug oor die keuses wat ek gemaak het, en ek dra die konsekwensies daarvan.

My oudste seun Hugo is matriek hierdie jaar, en so sit ek en wonder wat ek sou gedoen het as ek kon teruggaan in tyd en weer my lewe van matriek af kon her-leef. Ek sou dalk dinge effens anders gedoen het, maar toe pak een stukkie vrees my beet, en dit is, wat as ek dinge wat my lewe maak wat dit is gemis het. Wat daarvan as ek nie by 'n plek was om mense te ontmoet nie, of 'n ander besluit geneem het? Toe besef ek die volgende, en dit is dat my lewe, met al sy uitdagings, dalk nie so sleg is soos ek soms dink nie.


Konsekwensies van ons dade inhibeer ons baie kere, en keer dat ons dinge doen wat ons graag wil of moet doen. Die probleem van konsekwensies, is dat selfs om niks te doen nie, ook konsekwensies dra. Ek doen dinge wat ander mense baie krities oor is, maar dit beteken nie dat ek dit nie mag doen of nie moet doen nie. Iemand se nou die dag vir my 'n skokkende ding oor my lewe, en dit is: "Jy het die reg om jouself te wees verbeur". En dit is vir my baie vreemd gewees, want dit is hoe ek my hele lewe gevoel het. Is dit nie maar hoe ons van kleins af gedril word nie, en is dit nie dalk wat ons elke dag met onsself, met ons huweliksmaats en ergste nog met ons kinders doen nie. Ons se vir hulle dat om in ons lewens te wees en te funksioneer in die samelewing verg van hulle om hullesefl op te gee, hulle kreatiwiteit te stop en op te hou om hulleself te wees.


Ek onthou in die tyd toe ek nog dominee was, en ek hoor dit vandag nog by tieners en mense wat ongelukkig is, twee dinge. Die eerste is, hulle word nie toegelaat om te wees wie hulle is nie, in die uitspraak "my ouers of huweliksmaat HOOR my nie". Die tweede is, hulle word voorgeskryf oor hoe om te leef, ons skep verwagtinge van mense in soverre ONS vir hulle die prentjie gee om in te kleur. Maar die belangrikste nog, en ek herhaal dit weer, die gelukkigste en suksesvolste mense is die wat hulleself hoor en hulleself toelaat om te wees wie hulle is, en wat ook daarmee saam vir hulleself 'n blanko papier gee sonder lyne en hulleself toelaat om te wees wie hulle is, en te se: "Ek mag".


Ek kry baie kere kritiek oor my blog, nie soseer oor die inhoud en idees nie, maar oor die manier wat ek skryf. Dit het in verlede jaar my veral gevang, want ek het nie nog kritiek nodig gehad nie, want ek het genoeg in my lewe gehad. Tot ek besef het dat die taal en manier hoe 'n mens skryf, of dit nou literer korrek is, en of dit soos myne is waar ek sommer net my idees sonder beplanning in weird sinsbou doen, my nie mag inhibeer om my idees te deel nie. Ek het besef dat dit oor my en my prosesse gaan en nie oor wat ander noodwendig daarvan dink nie. Ek mag, en natuurlik dra ek die konsekwensies daarvan in kritiek, maar in plaas van om op te hou skryf omdat ek bang is vir kritiek, vat ek die kritiek en probeer ek om te leer om my sinsbou en struktuur van die blog te verbeter.


Maar dit is maar net nog een voorbeeld van waar ek die verwagtinge van wat 'n blog is of moet wees, die voorsprong gegee het, soveel so dat ek gedink het dat ek nie mag nie. En so kan ek etlike voorbeelde noem waar ons dit doen, selfs ook in ons negatiewe dinge. Soms het jy nodig om te huil, al is jy 'n man, want jy mag. Soms mag jy depressief voel, want jy mag. Soms mag jy net op die bank le en niks doen nie, want jy mag. Net so mag jy ook kwaad word, want jy mag.


Ek dink dat om die konsekwensies te dra van 'n lewe waarin jy jouself en ander toelaat, beter konsekwensies is as 'n wereld waarin ons mekaar se vlerke knip. Dit is dalk hoekom die wereld so lyk, want niemand vlieg hoog genoeg om vir ons prentjies te skets van hoe wonderlik die lewe kan wees nie.

No comments:

Post a Comment