Sunday, February 19, 2017

Die sagte woord

Die Bybel leer ons in Spreuke 15:1 dat die "sagte woord die grimmigheid afkeer".


As ek so om my kyk, dan wonder ek of ons hierdie raad van die wyse Salomo ooit al in ons lewens raakgelees het. Ons word grootgemaak, veral ons mans, om sterk en "tough" te wees. Pa's veral verwys na hulle seuns as "bulle" en "ysters", want op 'n manier is dit wat ons dink hoe seuns moet wees vir die regte lewe daar buite.


Ek onthou toe ek in Graad 9 was, en besluit het om Tik as vak te neem hoe al die ander seuns gefrons het en vir my gese het dat ek 'n "sissie" is. Om dit nog verder te vat het ek ook nog in die koor gesing, volkspele gedoen en aan redenaars aan deelgeneem. Om een of ander rede was die feit dat ek altyd A-Span rugby gespeel het, ondergeskik aan hoe ek tipeer is. Vandag sit daai selfde ouens my met heimwee en aankyk as ek, sonder om op die sleutels te kyk, met al 10 my vingers met spoed kan tik. Vandag kan ek my kinders help om redenaars toesprake te skryf, ja, al is hulle seuns.


Vandeesweek sit ek en praat met 'n pa wat my oor my seuns uitvra, en as jy my ken weet jy ek is ongelooflik lief en trots op hulle. Hy vra my uit oor waar hulle skoolgaan, en ek se: "Pretoria Boys High". Sonder om te blik of te bloos vertel hy vir my hoe sleg hulle rugby is op hierdie stadium. Hy vra toe of my seuns rugby speel, waarop ek natuurlik antwoord dat hulle hokkie speel. Hy se toe dat sy seuns ook wil hokkie speel, maar dit is nie 'n spel vir seuns nie, dit maak hulle sag. Ek verander toe maar die onderwerp na sy polisse toe, aangesien hy seker nog nooit daai skool se eerste hokkiespan in aksie gesien het nie.


Ons verwys graag na die lewe as hard en moeilik, en erens in ons denke het dit by ons vasgesteek dat om in daardie wereld te kan leef, jy sterk, groot en bombasties moet wees. Ek veralgemeen nou baie, maar ek dink julle verstaan wat ek daarmee bedoel. Ons het 'n oer-idee dat net die sterkstes sal oorleef. Hierdie vers in Spreuke is eeue terug geskryf, in 'n konteks waar dit dalk nog waar was, want mense was nie so intellektueel soos nou nie. Die mense van daardie tyd kon nie werklik verstaan wat die woorde bedoel nie, maar wat vir my verstommend is, is dat ons in ons tyd dit ook nie lekker verstaan nie, wat nog gepraat daarvan om dit toe te pas.


Ek het nou die voorbeeld van ons kultuur en rugby en mans genoem, maar ervaar ook in hierdie tyd van verandering 'n vreemdheid onder beide geslagte. In die week sien ek maar net weer hoe twee mense in 'n verhouding mekaar vermorsel. Hoe meer 'n mens dink hulle moet net aanbeweeg, hoe meer word die stryd gevoer met die mond, hard en woord. Ek het nog altyd die standpunt gehandhaaf dat ek kan sien hoeveel respek en liefde mense vir mekaar in 'n verhouding gehad het, in die manier hoe hulle opbreek wanneer hulle besef hulle is nie vir mekaar bedoel nie.


Moet nie vir een oomblik dink dat ek nie ook soms my speelgoed gooi of kwaad word vir mense en situasies in my lewe nie. Maar ek het ook al besef, dat in tye soos dit, wanneer ek so 'n tantrum gooi, dit nooit goed afloop nie. Na die tyd is mens altyd spyt oor wat jy gese of gedoen het, want in alle eerlikheid het dit maar oor jou ego gegaan. En in sulke tye, veral in retrospeksie van wat gebeur het, besef jy net dat sulke baklei-sessies, niemand iets in die sak bring nie. Dit is juis IN die situasie, waar iets gebeur het wat dit uitgelok het, wat beide mense emosioneel is en op die verdediging uit is, waar jy nie moet praat oor die situasie nie. Dit is juis in sulke tye wat jy eers moet afkoel, jou gedagtes agtermekaar moet kry, en wag vir 'n rustige tyd om oor dinge te praat. Dit is gewoonlik ook so dat as jy dit tyd gee, jy soms nie eers oor dinge hoef te praat nie. Na jare van praat en luister na mense, wonder ek ook soms of al die gepratery oor dinge ooit iets oplos.


Ek dink dat al die gepratery van mense oor hulle eie gevoelens handel, en jy kan niemand om jou dwing om te verander om jou te pas nie. Verandering is iets wat uit jouself kom en self in iemand anders moet plaasvind. Die enigste plek waar ek gesien het dat praat werklik help, is in verhoudinge waar mense reeds liefde, respek en 'n sagte-woord kommunikasie stelsel het. Dit beteken nou ook nie heeltemal dat jy nie vir jou kinders moet se dat hulle die tandepaste se doppie moet opdraai nie.


Die fout wat ons baie keer maak as ons na hierdie vers kyk, is om te dink dat jy moet stilbly, wat dit beslis nie is nie. Die vers praat van die manier hoe ons dinge se en met mekaar omgaan. Dit rig ons in die rigting daarvan om anders met mekaar en ons woorde om te gaan. Dit leer ons dat jy nie vet op die vuur moet gooi en die situasie moet vererger nie, maar eerder is die sagte woord water op die vuur wat die verwoestende vlamme laat verdwyn en die vuur hanteerbaar laat smeul.


Ons verwys baie keer daarna dat "good guys finish last", en dit is dalk waar in 'n sekere konteks, veral as jy na die lewe verwys as 'n stryd of 'n resies, wat ek nie dink dit is nie. Ons verwys ook daarna om "die minste te wees", wat die idee gee dat die lewe 'n geveg is, wat ek ook nie glo dit behoort te wees nie. In hierdie week verwys 'n persoon na verhoudings as 'n spel, en dat jy altyd "one up" moet wees, die hef in die hand moet kry. Ek glo nie dat enige verhouding of die lewe in sy geheel so 'n stryd is nie, en dit is dalk hoekom die wereld lyk soos hy lyk. Die een wil net beter as die ander wees, wen, die meeste wees, en sodoende sien ek 'n wereld om my van verloorders, mense wat deur ander plat geslaan is, stukkend.


As jy 'n metafoor vir die lewe soek, dan is dit eerder vergelykbaar met 'n dans. Jy word gelei deur die musiek, soms nie heeltemal jou smaak nie. Jy word dalk gevra om te dans, nie deur jou ideale idee van die ou met die kuif en die ses-pak magie nie. Jy het dalk 'n bad hair day, of jou rok sit bietjie knap, of die kos wat by die funksie bedien word is nie heeltemal Michelin vlak nie. Beteken dit dat jy nie die dans mag geniet nie? Jy kan dalk nie dans nie, of jy doen die robot-dans of die spreier, maar beteken dit nou dat jy nie mag dans of die musiek mag geniet nie. Al waar ek wel kan sien wat die dans onsmaaklik mag maak, is indien jy op mekaar se tone trap wat jou van ritme af kan vat, of jou tone kan laat bloei. Jy het nie nodig om 'n professionele danser te wees om op die dansvloer te mag wees nie, God het jou genooi na die dans, en jy mag daar wees.


Die vers gee ons ook nie die gerusstelling dat jou lewe "plain-sailing" gaan wees nie. Die vers leer ons egter om anders na die lewe te kyk. Dit gaan dalk nie perfek wees nie, maar deur die hele tyd hard daarteen en met mekaar te baklei, gaan jou niks in die sak bring nie, inteendeel, dit gaan die genot wat daar wel in die lewe is, ook nog van jou ontneem.


Die laaste, en miskien die belangrikste boodskap van die vers vir my is dat ons ook met onsself en in onsseld en teenoor onsself, ook sagter moet wees. Onthou, jy dans ook met jouself, jy sien ook jou refleksie in die spieel, en ja, jy is nie die perfekte danser nie, maar wie is? Die lewe is hard, dit het sy uitdagings, en dit is nie altyd jou skuld nie. Die vers herinner ons dat daar grimmigheid gaan wees, mense en situasies wat jou gaan uitdaag rondom die stryd, maar leer die sagte woord aan, fluister vir jouself dat jy goed genoeg is, dat jy die dans mag geniet, eerder as om uit te lag en te skree.


"Be kind to each other" Ellen Degeneres


No comments:

Post a Comment