Tuesday, March 14, 2017

Mag jy vir God kwaad word?

'n Klompie jare gelede sit ek een middag langs die swembad by die Wildekus, en langs my op een van die stoele kom sit 'n oom en ons begin gesels. Hy vra my uit oor wat ek doen, en ek se toe dat ek 'n dominee is. Hy vra my toe 'n baie interresante vraag, hy vra my toe om 'n mens vir God kan of mag kwaad word? Dit vang my effens onverwags, en ek vra toe vir hom om my so 'n bietjie insig te gee oor die agtergrond van sy vraag. Hy vertel my dat sy vrou so 'n paar weke voor ons ontmoeting oorlede is aan kanker. Hy vertel ook van sy diepgewortelde geloof in God en dat hy en almal om hom so hard vir sy vrou se herstel gebid het, en God het nie sy gebede verhoor nie. Dit is hoekom hy wil weet of ons vir God mag kwaad wees, want eintlik is hy, want hoekom het God sy sielsgenoot van hom weggeneem?


Van die begin van tyd vra mense hoekom God toelaat dat slegte dinge met Sy kinders gebeur, en goeie dinge met mense wat nie in Hom glo nie. Ek dink, dat met enige ding in godsdiens, is die antwoorde nie altyd so eenvoudig nie. Die antwoord wat ek op die oom se vraag toe gee is, ek dink mens mag vir God kwaad wees, maar mens moet die konteks ook sien, want jou begrip en denke oor wie en wat God is is van kardinale belang.


Hierdie naweek het ek weer 'n ervaring gehad van iemand wat volgens my baie fundamentalisties in hulle geloof is. Die persoon bid en glo voorwaar dat iets met hulle gaan gebeur, want hulle het daarvoor gevra en God se mos in die Bybel dat ons net moet vra dan kry ons dit. Maar wat gebeur as God dit nie vir ons gee nie, nie ons gebede verhoor nie? Binne hierdie raamwerk, en soos met die oom ook, lei dit tot allerhande gevoelens en emosies oor God, en baie kere ook tot die verval van 'n geloof. Ek is jammer dat ek nou hier fundamentaliste tipeer, maar ek dink julle sal verstaan wat ek bedoel.


As dominee het ek elke keer aan die einde van die Belydenisklas-sessie, vir die kinders gevra waarvoor ek moet bid. Dan was dit altyd een of ander toets wat die week voorle. Dan het ek altyd gevra of, as ek daarvoor bid, wat ek moet vra? Moet ek bid dat die toets maklik moet wees, of dat dit soos die spreekwoordelike beker by hulle moet verbygaan, of moet ek bid dat hulle energie en lus sal ontwikkel om lekker hard vir die toets te leer? Julle kan dink wat gewoonlik die opdrag was, en dit was dat die toets eenvoudig nie moet plaasvind nie. Ek het altyd gelag, en dan maar gebid dat hulle krag en lus sal kry om hard te leer, wat natuurlik nie dit is wat die kinders voor wou bid nie.


Hierdie voorbeeld leer ons baie van gebed en ons verhouding met God. Ek glo met alles in my dat God die skepper en onderhouer van alles is, en dat alles vir Hom moontlik is. My lewe alleen is vol wonderwerke, so ek het nie eers nodig om te verwys na voorbeelde uit die Bybel nie. Maar soms kry ek die idee dat mense net vir die wonderwerke bid, die uitkoms wat op 'n wonderbaarlike wyse opgelos moet word, iemand moet gesond word en nie sterf nie. Natuurlik is dit moontlik vir God, en daar is voorbeelde waar Jesus mense uit die dood opgewek het, of laat loop het. Niemand kan met God se almag stry nie, wel nie met my nie. Dit is dan, wanneer die wonderwerk nie plaasvind nie, dat ons soos die oom wat sy vrou verloor het, soms ons geloof in twyfel trek, of soos die oom gevra het, vir God kwaad te kan wees.


Ons vergeet soms dat die Onse Vader ons met 'n wonderlike einde toerus rondom wat gebed is, en in welke gesindheid jy moet bid, en dit is "laat U wil geskied". Ek dink dit is die oplossing van die raaisel, want vir my is my hele lewe in God se hande, en ek is in 'n afhanklike verhouding met God. Ek bid elkgeval op 'n manier wat vir my werk, en dit is na 'n preek een oggend van Ds. Sors Geldenhuys. Hy het gese dat gebed eintlik is soos om op 'n bankie in die park met God te praat, oor alles, jou drome, jou ideale, jou hartseer, jou krisis of sommer net oor enige ding wat in jou lewe is. Dit is nie nodig vir hoogdrawende woorde of uitsprake nie.


Ek is so dankbaar vir daardie beeld van God in my, want dit het baie vrae en dinge in my lewe vir my uitgeklaar. Dit het die beeld in my kop geskep, waar, omdat God my Vriend is, ek my lewe met Hom deel, elke deel daarvan. Ek kan vir Hom vertel hoe ek bang is, dat ek graag wil he dat die situasie weg moet gaan, dat ek graag krag en geloof verlang om deur dit te kom, en dat ek leiding nodig het rondom 'n oplossing ens. Nou nie dat ek dink ek so spesiaal is nie, maar dit help my om die konteks in ag te neem in my gebed, en eintlik op die ou einde dit alles in God se hand te los, wat Hy ookal besluit. Ek dink as dit jou ingesteldheid is, dan maak dit gebed iets meer as net 'n angsroep van desperaatheid. Dit ontneem gladnie die geloofskomponent in God nie, inteendeel, dit is vir my 'n beter opsie vir my, want dit is juis onderdanigheid aan die Almagtige God, teenoor 'n voorskriftelike en hoogmoedige voorskrywende houding van my af van wat ek wil he moet gebeur.


God is almagtig en kan alles doen, daaroor is daar nie twyfel nie, maar vir my is geloof in God nie om alles te kry wat ek soek of verlang nie, maar om alles te kry en te verlang wat God vir my wil gee. Omstandighede gebeur nie met jou as 'n toets van jou geloof nie, en in dieselfde opsig mag jy nie situasie gebruik of misbruik om God se Almag en Liefde te toets nie. Natuurlik vra ek ook vir die wonderwerke, en ek het baie in my lewe gekry, maar baie kere het die beker van seer en verlies nie by my verbygegaan nie. Die toets van my geloof is om my hele lewe met God te deel, elke gedagte, elke idee en elke situasie, selfs die wat niemand ooit van sal weet nie, maar God doen wel.


Die antwoord op die vraag van of jy vir God kan kwaad wees, hang af van jou beeld van God. As jy iets van God vra, en Hy dit nie vir jou gee nie, is jy nie besig met Godsdiens nie, maar met 'n sirkus-opvoering waar God Homself aan jou moet bewys om deur hoepels te spring. En ook, om werklik eerlik te wees, is daar niks wat jy kan doen, geen hoepels wat jy deur kan spring sodat God vir jou alles gee wat jy vra nie. God is 'n God van genade, deernis en liefde. Dit is wat geloof is, die erkenning van jou afhanklikheid van God en jou nederige onderdanigheid aan Sy Goddelikheid en Almag!

No comments:

Post a Comment