Monday, January 6, 2014

Emosionele Filters

Emosies is seker een van die moeilikste woorde om 'n definisie voor te gee, want niemand weet rerig hoe emosies werk nie.  Sommige kenners dink dit is neurologies van aard, ander weer dink dit is psigies en ander dink dit is fisies, maar niemand kon nog ooit presies vasstel wat gebeur nie.  Om een of ander rede het ons deur die eeue begin dink dat emosies nie "realisties" is nie, maar toetse op ons breingolwe bepaal dat emosies nie in jou "hart" leef nie, maar ook net 'n reaksie is van jou brein op eksterne stimilu, of reaksie op iets wat jy dink.

Jy stap in die bos en die volgende oomblik storm daar 'n leeu op jou af, instinktief is daar 'n emosie van vrees in jou, en jou brein stuur adrenalien na jou spiere.  Dit is 'n "egte" reaksie op stimilu van buite wat jou so laat reageer.  Dit is dalk nie so 'n "egte" aksie soos wanneer jy jou hand in 'n vlam druk en brand nie, maar steeds "eg" in die oomblik, want kom ons wees eerlik, wanneer die leeu op jou afstorm is dit 'n situasie waarin jy mag en moet bang wees.

Die "egtheid" redenasie rondom emosies, word geskoei op die feit dat dieselfde stimuli verskillende mense verskillend laat voel.  Ons dink om hierdie rede dat dit nie "eg" is nie, omdat dit verskil van een persoon tot die volgende en van een situasie na die ander.  Om hierdie rede het mense so klompie jare terug begin praat oor emosionele intellegensie (EQ), wat in kort ons daaraan herinner dat ons tog ons emosies kan klassifiseer in onsself en ons emosies kan beheer.  Een van die interresantste verskynsels is dat ons soms na sekere mense verwys as oor-emosionele mense, en op sekere vlakke veroordelend omdat ons dink dat sulke mense nie betroubaar is nie.  Jy voel jy kan nie op hulle peil trek nie, want hulle oor-emosionaliteit laat ons dink dat jy nie altyd weet wat jy gaan kry in sekere situasies nie.

Emosionele intellegensie leer ons dat emosies hanteerbaar is, en soos alles in die lewe is en moet daar balans wees.  Aan die een kant het jy jou oor-emosionele mense wat van alles 'n drama maak en hulle lewens word bestuur deur hulle emosies.  Alle besluite en optrede word gedoen op grond van hoe hulle daaroor voel, en daarom voel hulle negatiewe emosies so sterk, dat hulle altyd gedryf word om die positiewe uitkoms of gevoel te kies wanneer hulle besluite neem.  Hulle voel hulle emosies so intens dat hulle hele lewe daardeur beinvloed word.  Emosionele intellegensie beteken dat jy jouself moet ken, en elke individu ervaar sy of haar emosies verskillend, maar soos enige situasie kan die balans in jouself net kom uit die eerlikheid oor jouself en hoe jy emosies ervaar.

Aan die ander kant van die skaal kry ons weer diegene wat ons as emosioneel stomp sal klassifiseer.  Dit is mense wat ons dink kan funksioneer sonder om emosionele reaksie te toon op stimulus.  Soms dink ons aan sulke mense in sielkunde as psigopate wat aan een of ander psigose ly.  Interresant is dat sulke mense, sonder om sielkundig te klink, net so buite balans kan wees.  Ek het al baie mense gesien wat so emosioneel stomp voorkom, maar in werklikheid kan niemand wegkom van emosies nie, en al wat hulle doen is om hulle emosies te onderdruk.  Elke emosie word onderdruk en uitgemaak as onrealisties en het daarom nie bestaansreg in hulle lewens nie.  Uit my ondervinding is hierdie uiterste net so gevaarlik, want jy weet net so min wat hulle reaksie gaan wees, en wanneer hierdie mense op breekpunt kom, dan is hulle net so min in beheer van hulle emosies, met katastrofiese gevolge.

Omdat emosies deel van menswees is, het jy nie 'n "keuse" of jy emosies wil of nie wil he nie.  Dit gaan eintlik meer oor die manier wat jy met jou emosies omgaan.  Stimilu van buite gaan altyd dieselfde wees, maar jy kan "filters" inbou oor wat jy daarmee gaan maak.  Meeste van ons het sekere emosionele response aangeleer deur ons ondervinding uit die verlede, en daarom is my emosionele respons op sekere stimilu dieselfde.  Maar dieselfde stimuli kan by ander mense 'n ander emosie of respons bring, en daarom is my emosionele reaksie op sekere dinge veranderbaar. 

Maar die situasie rondom emosies is nie so eenvoudig soos net om op te staan en te besluit dinge gaan anders wees nie.  Soos ons weet is daar soveel dinge wat gelyktydig 'n rol in mense se lewens speel, ook dinge soos gene, jou fisiese lewe, hoe jou brein reageer en hoe neurone en ander klein koppelstukkies mekaar beinvloed en ook dinge soos hoe jy geleer is van kleins af om stress en impulse te hanteer.  Ons praat maklik van gene en dat jy soos jou familie lyk, maar ons erf baie meer van hulle as net groot ore, studies het ons gewys dat dinge soos depressie ook in families saam voorkom en daar 'n goue lyn deur geslagte loop.  Ons dink soms dis gene, maar soms ook die aangeleerde gedrag wat ons saam met ons dra van hoe ons grootgeword het.  As jy in 'n lewe leef saam met mense wat altyd positief is, uitdagings maklik aanpak en met entoesiasme leef, leer jy eintlik by hulle HOE om met emosies om te gaan.

Verder is daar ook ander dinge wat in ons lewens gebeur wat ons groei of degenerasie beinvloed, soos ook my eie lewensuitkyk.  As ek 'n positiewe uitsien mens is, word my aksies en vibrasies positief, en kan ek my brein en lewe regenereer om nuwe reaksies te laat plaasvind.  Studies oor depressie is van kardinale belang, want dit wil voorkom asof mense, deur hulle depressie, degenereer en die effek op hulle lewens sneeubal.  So, jy kan met jou ingesteldheid jou lewe verander, en die ketting breek van gene wat dalk op jou invloed het, sodat die sonde van die vadere jou nie erwe bly nie.

Wetenskaplikes het nou ook al die vermoe om te gaan kyk na breinfunksies, en het ook al vordering gemaak om te bepaal dat in depressiewe mense oor tyd daar sekere dele van die brein is wat gemiddeld kleiner is as die norm.  So, dit beteken ook dat depressiewe mense nie net siektes en fisiese probleme aantrek van 'n wolk daar buite nie, maar dit het direkte fisiese uitwerkings op ons liggame.

Dit is fassinerend vir my, saam met breinfunksies, dat mense se emosionele toestand reageer op chemiese middels.  Dinge soos anti-depressie medikasie, dieet, alkohol en dwelms kan jou "mood" verander.  Of dit nou is dat dit emosies onderdruk of wat dit doen is nie belangrik nie, maar die effek dat chemie jou emosionele welstand beinvloed is ongelooflik interresant.  Die probleem is soms hoe om te kan bepaal wat die regte chemiese balans in jou liggaam behoort te wees, want daar is soveel faktore wat ons ook nie werklik kan meet nie.

Net soos elke mens se vingerafdruk verskil, so verskil ons emosies en die manier wat ons na die lewe kyk, optree en natuurlik hoe ons op stimuli reageer.  Wetenskap kan eenvoudig nie vir jou 'n bloudruk opstel van presies wie en wat jy is en voorspellings waag nie, dit kan net spekuleer.  As dit moontlik was, sou ons by geboorte met 'n handboek uitgekom het wat ons ouers en mense sou help om ons stap vir stap te verstaan en groot te maak.  Maar ongelukkig kan nie alles bepaal word met 'n breinskandering nie, en selfs al kan hulle sekere dinge bepaal, is die veranderlikes te groot dat daar ooit werklik 100% in diagnose korrek kan wees in behandeling.

Aan die een kant is dit goeie nuus, want dit beteken dat jy nie 'n robot is nie.  Dit beteken ook dat daar elke liewe dag, met al die faktore, 'n nuwe bloudruk van wie jy as mens is ontstaan.  Vir sommige mense is dit hartseer nuus, want dit beteken hulle formule wat gister in 'n situasie sin gemaak het, nie nou hier van toepassing meer is nie.  Dalk is dit wat mense so depressief maak, want as jy soos op 'n snelweg skielik doodstil gaan staan, gaan iemand op 'n stadium in jou vasjaag, want die lewe stroom vorentoe.  Hartseer ook is dat as jy langs die pad gaan staan, mense ongelukkig so besig is met hulle eie dinge, dat hulle eenvoudig nie die tyd of moed of lus het om by jou te stop en stil te staan nie. 

Maar soos aan die begin genoem, elke mens reageer op 'n sekere manier op stimuli, en dit sal basies altyd dieselfde bly.  Wat jy eintlik moet besef is dat jou emosies "eg" is, en weet jy wat, God het emosies vir jou gegee as 'n gawe.  Hoe erg sou die lewe gewees het as jy eenvoudig nooit plesier gevoel het nie, nooit lief gehad het nie?  Wat sou dit lewe gewees het as jy nie die emosie van telleurstelling deurgegaan het nie?  Hoeveel stories van sukses word vertel waar mense oor en oor misluk het, totdat hulle een dag die regte resep ontdek het?  Wat ek wel vind by mense is dat hulle dink dat hulle hulle emosies moet "onderdruk" of wegpraat.  Ek dink dat as jy nie jou emosies verstaan en aanvaar nie, jy dit nooit in balans kan hanteer nie.  Mense onderdruk hoe hulle voel, en kort voor lank sit hulle met 'n hele tas vol klippe wat hulle met hulle saamsleep, en dan word daardie "issues" dit probleme van ander mense in jou lewe. 

Soms sien jy ook dat mense wat hulle emosies nie kan hanteer nie, deur oor-emosionele uitbarstings of uitblokkering, vasgevang voel in hulle lewens.  Soos jy nou terugkom van die vakansie is daar hope en hope vuil wasgoed, en nou word dit een groot stryd en werk om dit te was.  As jy elke dag 'n klein bondeltjie was en bere, word dit mos 'n eenvoudiger werkie im te doen.  Emosies gaan deel wees van jou lewe, en hoe jy voel het te make met wat in jou lewe gebeur.  Ek was die kersfees nie by my kinders nie, en dit sou onnatuurlik van my gewees het om nie emosioneel hartseer te voel nie.  En dit is ook een belangrike antwoord rondom emosies, nie net dat dit "eg" is nie, maar dat dit TOELAATBAAR is.  Soms dink ons dat emosies sommer net geite en giere is wat jy sommer net moet wegpraat en wegdink.  Ek onthou hoe iemand een keer vir my gese het dat ek myself net moet regruk toe ek depressief gevoel het, net om te besef dat ek eerder wil voel, as om nooit te voel nie.

Dalk ook is die emosie daar, soos die leeu in die veld, om jou wakker te laat skrik, bietjie vuur onder jou agterstewe te maak en te besef waarmee jy besig is.  Dalk is jou emosie die spieel wat jou wys waar jy in die lewe is, en die alarmklok wat jou laat besef dat as jy aanhou om te handel soos jy handel, jou spieel en emosies nooit anders gaan wees nie.  Dalk moet jy ook tot die besef kom dat jy nie beheer het oor die stimuli van buite nie, maar jy het beheer oor hoe jy daaroor gaan voel en hoe jy dit gaan hanteer.  Soms word ons desperaat omdat omstandighede nie verander nie, en verwag ons van almal om ons om te verander, net om weer te besef dat mense hulleself is en op hulle manier optree. 

Maar nog een belangrike deel van emosies, alhoewel jy dit mag voel (en daarmee saam die goeie reg het om daarmee te maak wat jy wil), is dit jou emosies en mag jy dit nie iemand anders se probleem maak nie.  Jou enigste verantwoordelikheid is jyself en jou lewe en jou emosies.  Soms laai ons ons emosies ook op ander af, en besef nie dat hulle nie weet wat om daarmee te maak nie.  Hulle het genoeg in hulle daaglikse lewe, om nie nog met al my issues ook te sit nie.  Hulle het nie die ervarings gehad wat ek gehad het nie, en weet dus nooit regtig hoe ek voel nie.

Alhoewel emosies "eg" is, is dit ook op dieselfde tyd "veranderbaar".  Jy het ook nodig om te verstaan dat jy jou emosionele reaksie op stimuli kan aanpas, jy het nie nodig om dit uit te blok nie, maar jy kan dit anders hanteer.  Ons dink dat dit makliker is om omstandighede om ons te verander, nuwe werk, nuwe huweliksmaat, nuwe vriende of nuwe stad om in te gaan bly, net om weer te vind dat daar altyd stimuli is, ek nie werklik kan beheer wat mense met my gaan doen nie.  Snaaks genoeg, mense wat hulle omstandighede oor en oor verander, net weer tot die gevolgtrekking kom dat hulle weer en weer situasies kry wat hulle dieselfde laat voel.

Kom ook tot die besef dat jy 'n magtige brein tot jou beskikking het en dat jy kan verander.  Die wereld skuld jou niks nie, en alhoewel jy aanpassings kan maak, jy nie jouself as die middelpunt van alles moet sien en verwag dat alles en almal om jou moet verander om jou gelukkig te maak nie.  Ons dink dit is die maklikste uitweg om te dink jy en jou optrede is soos die rots van Gibraltar wat onveranderbaar is.  Mense wat so dink, kom ook op 'n punt waar alles en almal hulle begin vermy, want op die snelweg van die lewe wat teen 'n hoe spoed beweeg, swenk jy uit vir stilstaande voertuie.  Dit beteken nie dat jy nie mag standpunt inneem nie, natuurlik mag jy, maar gaan ry eerder in die linkerbaan stadig as om te stagneer.

Emosionele intelligensie gaan nie net oor om te verstaan wat jy voel nie, maar veral om in beheer te wees van jou emosies.  Miskien is hierdie jaar jou jaar om verantwoordelikheid vir jou emosies te aanvaar, filters in te bou in hoe jy reageer en voel, en daarom ook 'n kalm en bedaarde jaar kan ervaar.  Gaan leef jou lewe voluit, ontspan en dalk moet jy nie alles so intens ervaar nie.  Gaan bou jou beste jaar ooit, jy is die argitek van jou eie lewe!

No comments:

Post a Comment