Thursday, October 24, 2013

Omstandighede en God se Wil

Wanneer 'n mens terugkyk op jou lewe, dan lyk die lewe altyd makliker, spesifiek omdat mens nou reeds die konsekwensies van jou dade sien en voel.  Dit sou heerlik gewees het om tyd terug te draai en dinge anders te gaan doen, spesifiek as jou besluite nie nou die vrugte afwerp wat jy mee tevrede is nie.  Ek onthou dat ons op skool oor geskiedenis altyd gehoor het dat dit belangrik vir ons ontwikkeling is, want 'n mens leer uit dit wat gebeur het.  Soms wonder ek of ons dit werklik kan doen?  Soms maak ons dieselfde foute en beland in dieselfde situasies van ongeluk oor en oor.
Maar hier waar ons vandag staan, maak ons elke dag keuses, maar dit is moeilik, want ons kan nie in die toekoms sien nie.  Elke besluit wat jy neem, hoe berekend ookal, is 'n sprong die donker in.  Wie van ons weet regtig wat jou toekoms gaan inhou?  Ons wat in geloof leef, glo natuurlik dat God altyd daar sal wees, maar wat is God se wil vir my en jou.  Soms sou dit lekker gewees het as God vir ons duidelik kon lei in wat om te doen.  Ek vra myself die vrae baie af, omdat daar omstandighede plaasvind wat nie vir my aanvaarbaar is nie.  Keuses wat ek maak kom nie altyd uit op 'n gunstige plek nie, en dan sit ek in sak en as.  Is dit dalk miskien God se manier om my te wys dat ek nog nie die lesse geleer het wat ek moet nie?  Dwarsdeur die Bybel sien ons dat God omstandighede gebruik om mense tot verhaal te roep.  Dit is natuurlik 'n redenasie vir 'n ander tyd of God die omstandighede met opset oor ons bring, en of dit dalk ons eie keuse of toedoen is.  Dalk is dit omdat ek nie wil hoor nie, of nie wil leer nie, of soms net omdat ek balhorig is en nie WIL verander nie.  Maar hoe reageer ons op ongewensde omstandighede?
Ek lees graag die biografiee van suksesvolle mense, en ek sien dat hulle negatiewe uitkomste eenvoudig oorkom deur aan te hou en nie moed op te gee nie.  So dalk is die teespoed wat ek nou ervaar nie die finale antwoord op my situasie nie.  Suksesvolle mense is mense wat aanhou en aanhou, te midde van teekanting.  Soms dink ek dat ons dalk die negatiewe so erg ervaar, dat ons sommer gou moed opgee en onmiddelik dink dat dit God se manier is om ons in 'n ander rigting te dwing.  Soms word dinge erger en erger, en ek twyfel al meer en meer oor my rigting.  Sal ons ooit weet? 
Hierdie suksesvolle mense wat aanhou en aanhou, het een ding in gemeen, en dit is dat hulle met hulle hele hart glo dat dit die regte ding is wat hulle doen.  Daar is natuurlik ook 'n fyn lyn binne dit, want hoe sal 'n mens ooit weet?  Daar is natuurlik deur hulle geskiedenis ook baie twyfel in hulle harte.  Soms verloor hulle mense om hulle, word gestraf met boetes en hofsake, word gedreig en vrek van die honger.  Maar hulle gee nie op nie.  Die vraag by hulle is nooit waar jy die lyn trek en ophou glo en werk en probeer nie.  Soms gee ons dalk te vinnig op wanneer dinge nie vir ons werk nie, want ons het nie krag nie.  Ons gaan le in 'n hoekie en kry onsself jammer. 
Die ander vraag wat ek myself afvra is hoe weet ek wanneer die begeerte in my hart van God kom, en of wanneer dit van 'n ander bron kom.  Die Bybel praat van ons menslike natuur wat sondig is en van nature eerder die verkeerde kies as om die goeie te kies.  Hoe bepaal ek wanneer my gedagtes goed of sleg is, wanneer dit verkeerd is of wanneer dit goed is?  Ek leef ook nie op 'n eiland nie, so ek verstaan ook dat my lewenswereld beinvloed word deur mense om my en hulle besluite en nukke en grille.  So, wanneer dinge met my gebeur, is dit ook nie altyd alleen net my invloed en besluit nie, maar 'n mengelmoes van soveel digne wat ek dalk nie eers van bewus is nie.  En soms gebruik God omstandighede om ons te leer, maar ons moet bewus daarmee besig wees.  Soms gebruik God dus ook mense om ons te leer en te lei rondom wat gebeur rondom ons.  Al wat ek baie keer bid in die situasies is helderheid van verstand en dat God my die oordeelvermoe moet skenk om te kan sien wat reg en goed en volmaak is.  Ons lees van mense met deursettingsvermoe wat sukses behaal het deur aan te hou en aan te hou, maar ons lees nooit van die miljoene wat steeds aanhou, maar nooit sukses behaal nie, en net dieper en dieper verval in hulle pyn.  Hoe sal ons dit ooit weet?
Die ander groot probleem is dat ons in 'n negatiewe wereld leef waar mense mekaar aftrek.  Dit voel soms asof mense net eenvoudig gelukkig is met hulle omstandighede en ander aftrek na hulle vlak toe, want misery loves company.  Ek kyk om my en ervaar so min mense wat werklik gelukkig is, en meer mense wat eerder glo dat hulle lewens maar in pyn en hartseer gewikkel is.  Ons staan vir niks meer nie, nie in ons eie lewens nie, maar ook nie in die wereld om ons nie.  Die Engelse se mos: "If you do not stand for anything, you will fall for anything".  Dit is natuurlik altyd moeilik om uitgesproke te wees, want dit lei altyd tot konflik.  Om op te staan beteken dat jy 'n teiken word vir mense om jou.  Ons ken mos ook die spreekwoord dat 'n profeet nie in sy eie land geken word nie.  Ons weet dat ons in so 'n wereld van ongeluk en misverstande leef, en wonder dan ook soms hoe om sin te maak uit ons pad, want in hoe 'n mate moet ons die mense om ons se reaksies analiseer?  Hoe sal ons ooit weet wie ons kan vertrou en wie nie?  En in hoe 'n mate kan en moet ek hulle invloed en insette vertrou? 
Daardie vertroue is natuurlik ook moeilik, want hoe kan ek nou ook mense vertrou en by mense leer as hulle lewens dan nou ook kwansuis in gemors is?  En dan is daar ook nog hulle idees en beelde van hulle werelde wat hemelsbreed van myne dalk verskil.  Veral in ons oop wereld waar elkeen kan dink wat hy dink, word dit al moeiliker om te kan onderskei.  Dit is dalk hoekom ons die lewe probeer eenvoudig maak en mense om ons versamel wat ons denke met ons deel.  Maar dit kan ook gevaarlik wees, want dit kan ook die rede vir my ongeluk en keuses wees, want as ek net mense om my het wat my keuses kondoneer of ondersteun, kan ek soms ook in 'n groef verval.  Soms vermy ek mense wat dinge vir my en van my se wat nie skroom met my denkwyse nie.  Dit is natuurlik ook moeilik.
Dan is daar ook twee groepe mense, die wat in toeval glo en die wat nie daarin glo nie.  Toeval beteken dat dinge "at random" met my gebeur en dat dit nie altyd die uitkoms van my keuse of 'n groter hand se invloed op my lewe is nie.  My keuses en my dade het geen invloed oor wat met my gebeur nie, ek is soos n dobbertjie wat rondkartel op die water en deur elke wind en stroom meegesleur word.
En dan is daar mense wat nie in toeval glo nie, wat glo dat alles met 'n rede gebeur.  Mense wat glo dat God mense en situasies oor ons pad bring met 'n plan, sodat ek by hulle en deur hulle moet leer om sodoende die pad te volg wat vir my uitgele is voor alle tye. 
Beide hierdie twee idees het krake, want in beide gevalle het ek eintlik nie 'n keuse nie.  Dinge gebeur of toevallig met my, so wat my besluite ookal is, dinge gebeur MET my.  As ek nie in toeval glo nie, dan is dit ook asof my besluite geen waarde dra nie, want 'n groter hand, of God dan, het reeds my pad uitgele en alles sal met 'n rede gebeur om my te bring waar ek MOET wees.  So, enige omstandighede wat ek ervaar is reeds voor alle tye besluit, en al wat ek moet doen is om dit te ervaar en om asem te haal. 
Dan het mense ook natuurlik die wereldbeeld dat die lewe ook sleg MOET wees, en aan die ander kant dat die lewe beter KAN wees.  Vir die eerste groep is dit dalk makliker, want hulle aanvaar net alles, veral as dit sleg is.  So hulle keuses het geen invloed op die wereld rondom hulle nie, want as dit sleg is, dan het hulle dit so verwag, as dit goed is, dan is dit 'n bonus.  Dit is hierdie tipe mense wat altyd beplan vir die negatiewe, en dalk daarmee saam die negatiewe na hulle toe aantrek.  Die tweede groep is die groep wat rebelleer teen die negatiewe, en wat dalk altyd ook depressief is omdat hulle droom en hunker na beter.  Vir hulle is die negatiewe altyd 'n uitdaging en probeer hulle om dinge in hulle lewens te wil verander.  Hulle is gefokus daarop om gelukkig te wil wees, soms ook te midde van omstandighede.  En jy het elke dag mense om jou wat hierdie twee denkwyses ondersteun, die wat jou sal aanmoedig om te aanvaar en te konformeer en vrede met jou lot te maak, of die wat jou gaan aanspoor om te hervorm, te groei en kanse te vat.  Ek glo natuurlik geheel en al daarin dat God ons geskep het om die lewe te gaan geniet en die beste van my situasie te maak.  Natuurlik sit ek soms in sak en as, maar ek glo probeer is die beste geweer.
Ek weet nie in watter omstandighede jy vandag sit nie, en wat jou uitdagings is nie.  Ek weet ook nie altyd hoe God werk en of Hy my plan so perfek uitgele het nie.  Ek is onseker oor baie dinge, maar een ding is ek seker oor, God bestaan, God is en daarom sal ek lewe.  En die belangrikste van alles, dalk moet ek nie so baie wonder en energie spandeer aan dinge wat verby is nie, nie myself bejammer oor my eie mislukkings nie.  Dalk moet ek eerder die dag as ek sterf spyt wees oor wat ek gedoen het, eerder as wat ek nie gedoen het nie.  Dalk moet ek bly glo en bly vertrou dat dit, soos in die woorde van Naomi in die bybel, met 'n tyd soos hierdie in gedagte, dat God al hierdie dinge met my laat gebeur het.
 
Hoop jy het vandag 'n wonderlike avontuur!

No comments:

Post a Comment