Tuesday, January 28, 2014

Dankbaarheid as Prozac

Een van my vriende het ‘n kollega wat ‘n Muslim is, en vertel ‘n pragtige storie oor hom.  Hy loop die hele dag met een van daai tellertjies rond, en dan kyk hy hoeveel keer hy op ‘n dag vir God kan dankie se vir dinge in sy lewe en rondom hom.  Dit het my nogal opgeval, want as ek na my eie lewe en die lewe van mense om my kyk, is ons soms so besig om te fokus op wat ons nie het nie en graag wil he, dat ons soms vergeet om in dankbaarheid te leef.

Ons ken die storie van die glas water wat net half is, en sommige mense fokus op die lee gedeelte, en ander op die vol gedeelte.  Ek kan baie maklik verval in die groep wat fokus op die lee gedeelte in my lewe.  Een belangrike ding wat mens soms in die storie vergeet is dat dit nie werklik ‘n keuse is tussen leeg en vol nie.  Jou glas is REEDS half en daar is nie rede vir paniek dat jy gaan dors lei nie.  Soms is ons so besig om te fokus op wat ons nog graag soek, dat ons totaal vergeet van wat ons reeds het.

Nou die dag kuier my peetma by ons, en se dat sy in die oggend voor sy opstaan eers dankie se vir al die dinge wat sy reeds het.  Dit is nou ‘n baie oulike voorbeeld, en ek het dit begin doen.  Ek weet ons het al baie gepraat oor die law of attraction, want ons brein is soos enige ander spier in jou liggaam, jy kan hom ook soos enige rekenaar programmeer om ongelooflike dinge te doen.  So, as ek in die oggend met dankbaarheid opstaan, vir elke dingetjie dankie se, kan ek my dag en my lewe verander, sonder twyfel.

Wanneer laas het jy dankie gese vir die bed waarin jy slaap, die tandepaste, die warm water uit die kraan, die handdoek, die toiletpapier, die ontbytgraan, die lopende water uit jou kraan?  God gee vir ons soveel dinge wat ons daagliks so as vanselfsprekend aanvaar.  Ons kerm oor die water uit die kraan wat dalk nie so skoon is as wat ons graag dit wil he nie, terwyl ons vergeet hoe ‘n groot voorreg dit is.  Het jy al gedink hoeveel mense daar in die wereld is wat nie lopende water in hulle huise het nie?  Ons kla oor ons mediese fondse wat duur is, maar besef nie hoe bevoorregd ons is om toegang tot die vlak van mediese dienste te kan he nie.  Ons kla so maklik oor alles, dat jy naderhand nie net die lee kant van die glas sien nie, maar ook die halwe deel van jou glas suur maak, en dan eintlik deur jou ondankbaarheid, al minder en minder het.

Depressie is ‘n vreeslike siekte van ons tyd, en soms dink ek dat my eie depressie dalk is omdat ek so fokus op wat verkeerd en gemis in my lewe is.  Dan het ek ook soms die vermetelheid om dan, in my ondankbare depressie, vir God te vra om die ander half vol te maak.  Ek weet dat God nie soos mense werk nie, en gelukkig nie, want as my kinders so kerm en kla oor dinge, voel ek soms ek wil nie weer vir hulle enige iets meer gee nie.  Saterdag vat ek my kinders om te gaan fliek, en na die tyd se beide van hulle vir my omtrent 5 keer dankie, en weet jy hoe ‘n ongelooflike gevoel dit by my gebring het?  Ek het skielik gevoel asof ek dit elke dag vir hulle wil doen, en steeds meer en meer.

In baie situasies in my lewe is ek aan die ontvangkant van kritiek.  Ek voel daagliks hoe mense my oordeel oor wie ek is en wat ek dink.  Mense hanteer my op ‘n manier wat absoluut vir my angswekkend is.  Ek word uitgetrap oor soveel dinge wat ek is, en wat ek nie is nie.  Soms voel dit asof ek in so ‘n Catch 22 situasie is, dat dit eintlik nie meer saakmaak wat ek doen nie, dit sal nooit genoeg of aanvaarbaar wees nie.  Mense herinner my daagliks aan my tekortkominge, en wat ek alles fout doen.  Ek verstaan dat mense meer en meer van my verwag as wat ek is of kan wees, en eintlik fokus hulle nie op die Deon-half vol glasie nie, maar eerder op die Deon-half-leeg glasie.  Dit is seer en maak ‘n ander deel in ‘n mens wakker, want as jy nou in mense se oe nie goed genoeg is nie, en niemand ooit dit wat jy is en reg doen raaksien nie, wat is die punt om te probeer?

In die laaste paar weke, het daar op 3 kere mense vir my mooi dinge gese.  My kinders, en 2 ander mense wat vir my vertel het hoeveel ek vir hulle beteken het.  Daardie gevoel dat iemand jou daar agter in die hoekie raaksien met jou klein bietjie water in, is besonders.  Verhoudings word gebou op die positiewe en nie op die negatiewe nie.  Selfs wat jy dink jou konstruktiewe kritiek op mense, is nie konstruktief nie. 

Mense is nie klippe nie, ons het gevoelens en emosies.  En wanneer dit by ons verhoudings kom, is jy of ‘n kraan of ‘n drein.  Snaakse dinge gebeur wanneer jy mense begin dankie se vir wat hulle is, jy deponeer water in hulle glasies, en wanneer jy hulle wys op wat hulle nie is nie, dreineer jy hulle glasies. 

Jy doen dit nie net met ander mense nie, maar ook jouself.  As jy die oggend opstaan en dink dit gaan ‘n slegte dag wees en kyk wat jy nou alles sal moet doen, gaan jou dag sleg wees.  As jy in jou eie bad water sit, is dit nie ander mense wat jou prop uittrek nie, maar jyself.  Ek se gladnie dat daar ‘n halwe deel van jou glas is wat leeg is nie, natuurlik is daar uitdagings en probleme in jou lewe, maar dit gaan altyd oor hoe jy dit hanteer.

Negatiewe mense sal jou altyd wys op die “realiteit”, en hulle is altyd die mense wat op hierdie artikels van my kommentaar lewer soos: “Jy kan nie in ‘n droomwereld leef nie, die lewe is realisties, en jy kan nie weghardloop daarvan nie”.  Mense verstaan dit soms so verkeerd, want om positief in die lewe te wees, beteken juis nie dit nie, dit gaan oor emosies.  Ek kan dieselfde aksie verrig, met ‘n positiewe houding, en soos die Pukke se:  “My swaarkry met lekkerkry klaarkry”.  Jy sien, jy kan skottelgoed was en dit haat, so elke koppie wat jy was gaan vir jou stryd wees.  Jy kan vir jou lekker dansmusiek opsit, en dans en sing terwyl jy skottelgoed was, niemand het gese dit is onrealisties nie.  Dit word gedoen, maar op ‘n ander manier.

Hierdie negatiewe kamp se ook soms, veral as dit by ander mense kom, dat jy nie ‘n moordkuil van jou hart moet maak nie.  Dit laat my soms dink aan daardie eksperiment wat ons op skool met ons maats gedoen het.  Ons het een ou op die speelgrond gekies en almal het afgespreek om vir hom te vertel hoe bleek en siek hy lyk, en voor langpouse, dan le hy in die siekekamer.  Hoe ons ookal daaroor dink, ons gedagtes is kragtig.  Ek wonder soms wie ons dink ons is, en wie ons judge, jury en execurioner gemaak het.  Wat vat dit nou van jou om iemand ‘n kompliment te gee, elke mens het goed in hulle.

Ek hamer so effens daarop, maar dit is belangrik vir ons om te weet, dat net soos die seening van water in jou kraan, dit dieselfde God is wat hierdie mense in jou lewe geplaas het.  Ons oordeel graag oor ons lewens en ons hartseer en pyn gaan oor wat ons nie het nie, maar soms in ons interpersoonlike verhoudinge oor wat ons het.  Onthou jy daardie tyd toe jy “verlief” was en op die wittebrood tyd in jou verhouding met mense was, toe het jy al jou vriende vertel van die mooi in die ander persoon.  Jy het gefokus op wie hulle is, en nie op wie hulle NIE is nie.  Soos tyd loop, begin mense anders dink oor mekaar, maar hoe sou dit gewees het as jy dit kon regkry om elke oggend op te staan en te fokus op die mooi wat jy in iemand gehad het, en jouself elke dag te herinner daaraan? 

Almal van ons wil graag met deernis en liefde hanteer word.  Ek lees nou die dag in ‘n boek oor verkope, dat een van die dinge wat jy moet aanleer, is om die persoon aan wie jy iets verkoop, goed te laat voel oor hulleself.  Die Bybel vertel ons ook dat die sagte woord die grimmigheid afkeer.  Dit beteken dieselfde, jy kan in elke persoon vandag iets soek wat mooi is, al is dit net die manier hoe hulle lessenaar gerangskik is.  Probeer dit vandag, gaan na elke persoon in jou kantoor en gee hulle 1 kompliment.  Jy hoef nie ‘n moordkuil van jou hart te maak nie, soek iets waaroor jy hulle kan komplimenteer.  Jy sal absoluut verbaas wees hoe jou dag uitdraai. 

Gaan soek na die mooi in die lewe, gaan fokus op wat mense reg doen, en ‘n wonderlike ding sal gebeur, jou dag gaan beter wees.  Jy kyk anders na jouself, want skielik word jy die kraan wat mense se lewens vul met nuwe water, eerder as om die drein te wees wat almal moeg en hartseer en ongelukkig maak.  God gee vir ons elke liewe dag soveel dinge om voor dankbaar te wees, en dalk is die dankbaarheid oor wat ek het, juis die katalis wat my depressie en my keeltoetrek oor my realiteit sal verander dat ek kan asemhaal en kan leef

No comments:

Post a Comment