Tuesday, January 7, 2014

As jy glo, stuur hierdie boodskap aan, sodat goeie dinge met jou kan gebeur. Rerig?

Vandag kry ek nou weer op my whatsapp een van daardie mooi boodskappe oor Jesus en geloof, pragtige wense wat my herinner aan al die mooi wat die lewe bied.  Aan die einde van die boodskap is weer een van daardie "afpers" laaste versies wat my vra om dit aan te stuur na 5 mense sodat iets wonderliks met my kan gebeur oor 25 minute.

Ek wonder toe by myself of dit 'n teken is van die manier wat ons oor God en Christenskap dink.  Dit het my vreeslik gepla, want ek glo nie daarin om my geloof en my Christenskap so op die spel te plaas deur dit NIE aan te stuur nie.  Dalk, wonder ek, as ek dit nie aanstuur nie daar iets negatiefs met my gaan gebeur.  Is dit wat Christenskap op neerkom?  Plaas dit ons onder dwang om te dink ons kan deur 'n SMS aan te stuur God se goedheid gaan verdien? 

In die besigheidswereld is daar 'n reel wat se dat jy nie "Forced Selling" mag doen nie.  Dit is nou wanneer dit bank vir jou 'n lening gee, maar daarmee saam jou verplig laat voel om ook die lewenspolis by hulle te neem, anders gaan jy nie die lening kry nie.  Daardie gevoel dat jy eintlik geforseer word om iets te doen, en geen vrye keuse van jou eie het nie.

Ek dink ons moet baie ernstig na hierdie praktyk kyk, want dit voel asof ons ons godsdiens daardeur goedkoop maak.  Ek is mal oor godsdienstige Christelike boodskappies op my foon, en mense moet nie ophou om dit vir my te stuur nie, maar ek dink nie dis gepas om vir my part te besluit wat ek daarmee moet doen nie.  As ek voel ek wil dit vir mense stuur, dan moet dit tog my prerogatief wees en nie omdat ek gedwonge voel deur vrees nie, en beslis ook nie omdat ek my Christenskap deur so 'n aksie wil en moet bewys nie.

Godsdiens is en sal altyd 'n vrye keuse bly, en daarmee saam ook die geloof dat God op die regte tyd vir my en jou die boodskappe, bemoediging en hulp sal gee.  Ek het baie respek vir my eie geloof en ook die geloof van mense om my, maar ek voel nooit dat ek mense gedwonge wil laat voel om dinge soos ek te doen nie.  As dit so was dat daardie boodskappe aanstuur metode gewerk het, sou ek seker al 'n biljoener moes gewees het.  Ek voel egter dat ek nooit ooit ander mense so wil dwing nie, want nerens in die Bybel voel ek dat ek lees dat God sulke dinge van ons vra nie.

Is die les van Christenskap nie tog dat ons nie deur verdienste nie, maar deur genade alleen gered sal word?  Dit is hoekom ek nou nie eintlik my steur aan die boodskappe se lee beloftes van wins of verlies nie.  Vir geen oomblik dink ek dat as ek dit nie aanstuur nie, iets vreeslik my gaan tref nie.  Inteendeel, ek weet dat my redding deur genade alleen is, en nie deur die "forward" of "share" knoppie op my foon te druk nie.

Ek se weer, ek verstaan dat mense met hulle boodskappe die beste intensies het, maar mense moet besef die tipe boodskap wat hulle vir die ontvanger van die boodskap oor God en Christenskap stuur.  Die Bybel leer ons self dat ons uit dankbaarheid doen wat ons glo geloof van my vra, en nie omdat ek iets daardeur kan verdien nie.  Dit is nie 'n ruiltransaksie nie, want dan verstaan jy heeltemal die boodskap van kersfees en die geboorte van Jesus verkeerd.  Jy is reeds gered, God is reeds in jou lewe, sonder om die "forward" en "share" knoppie te druk nie, en laat niemand jou ooit dwing met allerhande vrees-boodskappe nie.

So wonder ek of ons ooit werklik die boodskap van die Bybel ten volle sal verstaan, want die werklike betekenis van genade word volgens my ongelooflik misgekyk en misverstaan.  Mense vra my baie keer wat ek dink oor my persoonlike geloof en hoekom ek 'n Christen is.  En die antwoord is "genade".  Gaan kyk bietjie mooi na al die ander gelowe rondom ons, en natuurlik ook dinge soos die New-Age idees oor die wereld rondom ons.  Geen ander geloof maak werklik voorsiening vir genade nie, beroep hulle dalk op genade, maar in werklikheid gaan dit alles oor verdienste.  Ek doen iets om te verdien dat dit nou met my goed gaan en God vir my alles gee wat my hart begeer, of dat God na my dood vir my sal sorg.  In die New-Age beweging (dis nou al hierdie denke oor die individu en hoe 'n belangrike rol ek in my lewe speel), is en word ek eintlik "God" of deel van die Universe en sodoende nie net die artitek van my eie lewe nie, maar ook die skepper daarvan.  Sonder om veel daarop in te gaan of om te oordeel, maar geen van die denke kom ooit naby genoeg aan die idee van genade nie.

Ons lag soms oor die woorde in die Bybel en ons besef dat mense van daardie tyd nie werklik die kennis gehad het wat ons gehad het nie, maar vandag nog verstaan ons baie moeilik wat God vir ons wil leer in die Bybel, en meer nog in die lewe.  Ek is die laaste mens wat dink dat ek volmaak is, selfs my denke wat ek in hierdie stukke skryf is maar net my spekulasie en denke van dinge.  Ek wil graag glo dat ek saam met my God kan groei en daarom deel ek maar graag wat ek voel.  Maar ek dink ons het nog gladnie eers die oppervlak deurdring in ons denke oor God en godsdiens nie, inteendeel, ek dink soms dat ons met ons verdienste-idee God se beeld en Godwees verskraal.

Miskien moet ons herevalueer hoe ons oor God dink, weereens onsself indink in die Genade, en meer in die genade moet leef.  Selfs Paulus het gesukkel om die gemeentes in sy briewe te leer oor wat genade is, want verdienste is so deel van ons ingesteldheid.  Die gemeente vra vir hom of hulle meer sonde moet doen sodat die genade in hulle lewens kan toeneem.  Ons dink dus, vandag nog, dat Genade steeds iets is wat "verdien" moet word, en geen wonder dat ons dit nie verstaan nie, want ons ervaar nie genade van die mense om ons nie, en ons pas geen genade toe nie.  Ons liefde vir mense om ons is nooit onvoorwaardelik nie, en miskien aan die einde van die dag is dit die rede hoekom ons nie suksesse van ons verhoudings kan maak nie, en ook so sukkel in ons verhouding met God en godsdiensuitlewing.

Miskien is die tyd nou dat jy die genade van God wat jy nie kan verdien nie, en wat met jou "Ge-share" en deur God na jou "Ge-Forward" word moet aanvaar vir wie dit is, en eerder hierdie wonderlike God en Sy liefde in jou lewe moet "forward" en "share" met die mense om jou.

No comments:

Post a Comment