Tuesday, January 7, 2014

Leef soos Schumacher

Dit is vir my hartseer wat met Michael Schumacher gebeur het, maar nog meer interresant die kommentaar van mense op sy lewe.  Mense verwys na hom as 'n adrenalien-verslaafde wat altyd net daardie uitdaging soek in sy lewe.  Ek dink dat om 'n formule een renjaer te wees, behalwe ongelooflike talent, nie 'n bang haar op jou kop moet dra nie.  Om teen daardie spoed te funksioneer en in breekdele van sekondes besluite te kan neem een van die ongelooflikste talente op aarde is.  Daar is nie tyd vir wag en sien nie, maar gaan en doen. 

Ek sien soveel keer in myself en die mense om my die emosionele vrees wat hulle lewens van hulle ontneem.  Moet nou asseblief nie oorboord gaan en sommer van 'n brug afspring sonder 'n tou nie, dit is nie wat ek bedoel nie.  Natuurlik is Schumacher se motor die beste veiligheidstoerusting in die wereld, en daarom het hy ook 'n valhelm opgehad toe hy gaan ski het.  Ek praat hier van die oorbeskermende vrees wat ons elke dag met ons saamdra, wat soms ons lewens totaal oorheers.  Ek praat van daardie gevoel in jou wat soms keer dat jy enige kanse vat of dinge probeer wat jy nog nooit gedoen het nie.

Ons het mos in Afrikaans die spreekwoord:  "Eerder bang Jan as dooie Jan".  Is dit nie dalk so sprekend van jou lewe nie, dat jy so vir alles bang is en naderhand jou vaskluister aan jou bed en dan weer vrese ontwikkel om van jou bed af te val?  Iemand het een keer die oulike storie vertel van die twee honde wat in mens leef, die negatiewe en die positiewe, en dat elkeen van ons elke dag 'n keuse het, want jy het net een bakkie kos.  Jou keuse is oor wie jy elke dag die kos voor gaan gee, want die een wat die meeste kos kry, gaan die grootste en sterkste in jou lewe word.

Dit is interresant dat daar so baie mense is wat my aanvat oor my positiewe ingesteldheid in die lewe, en wat se dat ek in 'n droomwereld leef en sonder balans.  Dit mag dalk in sekere dele van my lewe waar wees, ek ontken dit nie.  Wat ek wel oplet is dat dit die mense is wat hulle lewens lank ook die negatiewe gevoed het.  So, mense wat in kliphuise bly moet nie met glas gooi nie, want dit dra geen water nie.  Jy sien, ek praat nou nie hier van onrasionele optrede nie, inteendeel net oor wat ons elkeen in ons lewens sien en ervaar.  Soms word die hond (watter een ookal), so sterk en groot, dat al probeer ek die ander hond kos gee, die ander hom verslind en die kos by daardie een afvat.  Ons kan maak wat ons wil, maar dit is hoekom mense se lewens, negatief en positief, soms buite balans spiraal. 

Nou kan jy maklik redeneer dat ek in 'n droomwereld leef, want ek kan tog nie verwag dat my lewe positief moet wees net omdat ek so dink nie?  Of kan ek?  Dit is soms net spekulasie oor wat goed en sleg veroorsaak in my lewe, soms dink ons dit is omstandighede en mense om my, of dat dit God se wil is in my lewe, of dat die lewe maar net so is.  Ons praat graag uit ondervinding en maak dit ons grootste bondgenoot, want net omdat alles in jou lewe nie uitgewerk het nie, beteken nie noodwendig dat die lewe teen jou is nie.  Soms moet ons, as slim mense tog effens terugstaan en kyk na ons eie lewens.  Soms vra ek myself af hoekom God hierdie hunkering na lekker en mooi en positief in ons lewens geskep het, as dit nie moontlik was nie? 

Sou God met ons so 'n klimtol-spel gespeel het dat ons soos 'n wortel voor die neus, dit nie moontlik was om genot en lekker uit die lewe te haal nie?  Sou God ons geskep het om net in 'n put van wanhoop elke dag te leef, en niks te geniet nie?  Jammer, as dit is hoe jy dink, dan is dit nie die God waarin ek glo nie.  God het 'n ongelooflike wereld geskep met moontlikhede, mense, liefde en genot – vir ons.  Sal jy vir jou kinders 'n heerlike speelgrond bou om te geniet met allerhande swaaie en glybane, of sou jy vir hulle 'n spykerbed of obstacle baan gebou het.  Ek glo wel beide bestaan langs mekaar op die speelgrond, maar dit is en bly my keuse waar ek gaan speel.  Beide is so eg soos grond, nie een is 'n droomwereld nie.  Ek dink tog dat God (as ek so arrogant mag wees) soms soos 'n ouer staan en sien hoe huil ons oor die uitdagende obstacle baan, en van ver vir ons waai en waai dat ons op die sagte en lekker speelpark kan gaan speel.  God geen ons steeds die keuse, maar soms dink ons dat ons nie mag in die positiewe leef nie, maar ons eerder moet laat martel, en soms deur ons eie toedoen.

Ek dink dit is Luther, en daarmee saam die idee van Calvinisme, dat hoe meer ek van my sonde bewus word, hoe nader voel jy aan God.  Rerig?  Ek verstaan wat hy daarmee bedoel, maar soos baie dinge gryp ons soms eerder die negatiewe daaruit.  In plaas dat ek verstaan hoe wonderlik God se liefde werk, sal ek eerder fokus om soos die priesters van die middeleeue my kniee deur te kruip om God se liefde te verdien.  Eerder op die spykerbed te slaap as op die Seally Posturepedic, want ek wil nader aan God leef?  Is dit nader aan God leef?  En waar het ons werklik hierdie idee gekry dat Godsdiens deur vrees en marteling beoefen moet word?  Soms kry ek die idee dat ons ons eie brandstapels aan die brand steek en onsself offer, terwyl ironies genoeg, Jesus klaar die prys betaal het?  Ons sit self die boeie terug wat Jesus kom afkap het, soos die leeu wat terugstap na die hok toe nadat die deur van die hok oopgelaat is.

Ons weet dat God ons vlerkte kom gee het, maar ons glo ons is hoenders wat nooit soos arende sal sweef nie.  O, Ja, dit is net positiewe onrealistiese dromers wat so dink, ek het vergeet.  Hoekom voel ons so veilig in ons eie onderskatting van wie ons in God is?  Hoekom leef ons eerder in dwang, pyn en vrees?  Dit is asof ons so bang is om die uitdagings te aanvaar, en doen soos die Engelse spreekwoord se: "Better the devil you know than the devil you don't know"?  Ons word gekniehalter deur die "realiteit" van min geld, talente, maar meer nog van alles, ons vrese.

Nou hoor ek weer mense se, ja maar, ondervinding het my geleer op die harde manier, maar in dieselfde opsie, as jy dan nou eerlik moet wees, wat het jou ingee tot die negatiwiteit jou in die sak gebring.  Dis, soos met die Bybel, maklik om net uit jou lewe te haal wat jou pas om jou punt te staaf, maar soos met die Bybel moet jy tog die hele situasie in berekening bring.  Ek lees nie graag meer koerant nie, en dit vat niks weg van my algemene kennis oor die wereld nie, ek kies om nie na al die moord en doodslag te luister nie.  Ek hoef nie te weet wat in watter hofsaak gebeur en wie skuldig is en wie nie en hoe bloeddorstig dit was nie.  Ek besef die realiteit van elke dag en los ook nie by die Spar my kar oop met die sleutels in nie.  Ek het besluit om nie die negatiewe te voed in my daaglikse bestaan nie.  Soms ook is ek skuldig om dalk te min daaraan aandag te gee elke dag, maar ek leer nog. 

Dit laat my soms dink aan die Tannie wat in die jare 80's met Pop Shop elke week 'n brief geskryf het en al die negatiewe punte in die musiekvideo's uitgelig het.  Sy het daarmee na haar dominee gegaan en wou 'n petisie in die gemeente begin, en al wat die dominee haar geantwoord het:  "Tannie, as dit jou so ontstel, moet nie die TV aanskakel in daardie tydgleuf nie".  Dit beteken nie dat die program nie uitgesaai word nie, en ook nie dat die realiteit daarvan nie waar kan wees nie, maar jy kan mos besluit wat jy jouself aan wil blootstel.  As jy vind dat iets nie goed is vir jou nie, is dit jou keuse.  Maar soms weet en besef ons dat ons daardie negatiewe bull-terrier elke dag kos gee, maar selfs al is dit nie vir ons goed nie, hou ons aan om dit te doen.  Maar soos donkies stamp ons ons koppe die hele tyd, en beroep ons op allerhande verskonings van die realiteit.

Is dit nie vreemd dat God hierdie wonderlike wereld geskep het, en ek en jy elke dag kies om dit eerder te vermy en in die modder te rol nie?  Ek se gladnie daarmee dat daar nie modder IS nie, daar is, maar ons leef eerder so konstant daarin dat ons naderhand nie meer glo in die heerlike skoon water van God se genade en liefde nie. 

Mense wat my goed ken, sal weet hoe my lewe lyk, en wie ek is.  En hulle sal vir julle kan getuig dat ek nie die beste lewe leef wat ek kan leef nie, baie foute maak en baie mense seermaak in my lewe.  Finansieel het ek terugslae beleef en is gladnie op daardie plek waar die norm my sal stel nie.  So, ek probeer vir geen omstandighede myself uitmaak as die uitvinder van die resep op die lewe nie, maar in werklikheid is ek net so op reis soos wat jy is.  En uit my ondervinding met my negatiewe houding my verlam en my minder in die sak gebring as my positiewe houding.

Ek dink soms nie eers dat dit 'n kans vat situasie is nie, maar eerder 'n geloof in 'n God en my keuse om eerder in die lekker speelpark te gaan speel.  Dit is dieselfde energie wat ek toepas, maak nie saak in watter speelpark ek myself bevind nie, maar ek kies om eerder lekker te speel.  Net omdat ongeluk en pyn dalk vir my wag, trek steeds jou ski's aan, sit jou valhelm op en gaan drink uit die fontein van 'n opwindende en lekker lewe wat ek glo God vir ons elkeen bestem het.  Om te waag en te leef, is tog beter as om in 'n grot te sit en wag vir die leeus om jou te kom opvreet.

No comments:

Post a Comment