Tuesday, January 28, 2014

Karma

Dit is interresant hoe elke tyd in die wereld se geskiedenis sekere buzz-woorde het wat in ‘n sekere tyd gebruik word.  Deesdae gebruik so baie mense die woord “Karma”.  Dit is ‘n woord wat uit die oosterse godsdienste kom, wat eintlik beteken dat jou aksies, woorde en denke konsekwensies het.  In sommige van hierdie godsdienste het dit natuurlik verrykende gevolge, want volgens hulle is daar die moontlikheid van meer as een leeftyd, en jou aksies het nie net konsekwensies vir hier en more nie, maar ook vir die res van die bestaan van jou energie in die heelal.  Ek gaan nie hier in op die moontlikhede daarvan nie, maar juis oor die woord “karma”.

Wanneer ek my Bybel lees, is hierdie konsep nie vreemd nie, want op verskeie plekke in die Bybel word dieselfde tipe konsep aan ons verduidelik.  Die Bybel leer ons tog dat wat jy saai, sal jy maai, en die oordeel waarmee jy oordeel, die oordeel is waarmee daar oor jou geoordeel sal word.  Jy kan met ander woorde nie dink dat jy net eenvoudig ‘n handpop in die heelal en mense om jou is wat net eenvoudig aan toeval oorgelaat word nie.  God het ons elkeen geskep met vrye wil om ook in ons bestaan en die wereld rondom ons te kan beheer en te kan verander.

Ek verstaan dat daar mense is wat eenvoudig in die Wil van God en die pad wat Hy ons uitgele het glo.  Hierdie tipe mense is totaal oorgelewer aan die noodlot en glo dat God alles, elke asem, elke daad en elke aksie beheer.  Ek het geen bydra te lewer nie, want my pad is uitgele, en ek is werklik soos ‘n pop in ‘n poppespel.  Wat interresant is van die konsep is dat ek ook met ander woorde ook nie ‘n keuse het oor Wie en wat my lewe beheer of bestuur nie.  Daar is geen ruimte vir vrye keuse nie, want ek is so gemaak en so laat staan.  Aan die een kant sou dit heerlik gewees het, want dan kon ek ontspan en net glo dat alles sal uitwerk soos dit moet. 

Daar is natuurlik ook, soos in die tyd waarin ons leef van die “New Age”, die idee dat ek my eie soort “god” is, en dat ek alleen die argitek van my eie bestaan is.  My ingesteldheid en my manier van doen lei tot konsekwensies, en as ek nie tevrede is met my konsekwensies van my lewe nie, ek en net ek dit kan verander.  Mense en situasies om my is die produk van my eie besluite en ek kan dit verander.  Alles is ook in my lewe sodat ek die lesse moet leer wat ek moet leer om vorentoe te gaan en ‘n beter lewe te kan leef.

Ek dink dat almal van ons maar een ding in gemeen het, en dit is dat mense sin uit hulle lewens wil maak en opsoek is na die antwoord.  Sommiges kry die antwoorde waar dit hulle pas, en daar is niks fout daarmee nie.  Elkeen wat my blogs volg, sal weet dat ek graag verwys daarna dat die lewe, en denke nooit finaal en klaar is nie.  Daar is nie ‘n of-of scenario nie, maar eerder ‘n en-en.  Wat dit beteken is nie dat daar “fout” is met die manier hoe enige persoon dink oor sy of haar lewe nie, maar eerder dat dit nooit finaal en klaar mag wees nie.  Dit is ook belangrik om oop te wees tot nuwe idees oor jou lewe, want elke liewe dag is nuut en anders en opwindend.  Elke manier van dink het goeie punte wat jy mee kan saamstem, en sommige dele wat nie sin maak vir jou nie.

Indien jy dus glo in God as die God wat jou hele pad elke dag vir jou uitle, is die positiewe wat ek daaruit haal dat ek kan glo dat God wel in beheer is van die wereld.  God laat my nooit alleen nie, en waar ek ookal gaan en wat ek ookal dink, God het Sy hand in my lewe.  Ek kan in God glo op hierdie manier, en ek kan in verhouding met God wees.  Ek kan ook my eie besluite maak, ek kan ook ‘n sekere rigting inslaan, en ek weet ook dat God saam met my daar is en saam met my op hierdie reis van my is.  Ek glo ook dat nerens waar ek staan of loop, waar God en Sy hand nie is nie.   God het ons natuurlik met ‘n verstand geseen, en ook vir ons die opsie gegee om so met Hom saam te wil leef, of nie.  Vir Dawid was dit ook moeilik om te verstaan dat God ook selfs hulle wat kies om nie saam met Hom te stap nie, ook seen.  Dit was vir hom verskriklik om dit te dink, maar hy het ook besef dat jy nie in God glo oor wat jy uit die transaksie kan verdien nie, maar eerder omdat Hy God is.  Soms in die lewe glo ons in ‘n God wat altyd NET vir ons goed moet gee, soos Kersvader, en elke ding op my briefie wat ek in gebed opstuur moet eenvoudig onder my boom le, anders wil ek nie meer in God glo nie.  Natuurlik KAN God dit gee, maar wanneer ek nie alles kry wat my hart begeer nie, beteken dit tog nie dat God nie wil of kan nie.  Dit was nooit die bedoeling van godsdiens nie, dat dit gaan oor prosperity nie, en as dit vir jou net daaroor gaan, voel dit soms asof jy God misbruik.  Dawid het homself in ‘n posisie bevind waar hy besef het dat hy God dien, omdat hy God dien, en nie oor iets anders nie. Gaan lees gerus weer sy verhaal en die Psalms om te sien hoe hy die pad met God loop en God toelaat om saam in sy gedagtes te groei.

In Karma en in die “law of attraction” filosofie, handel dit daaroor dat ek die argitek van my eie bestaan is.  Die idee van wat jy saai, jy sal maai.  In ‘n absolute wereld sou dit waar wees, dat die lewe soos in ‘n restaurant werk.  Ek stap in, bestel koffie met warm melk en bruinsuiker, en dit volgende oomblik bring ‘n Zimbabwier dit vir my.  Sjoe, dit is so maklik en simplisties, en daar is natuurlik ook waarheid in opgesluit.  Die Bybel leer ons tog dat wat jy saai, jy sal maai.  Eerstens leer ons dat ek tog moet plant en iets moet doen in die lewe.  Ek kan nie net sit en kyk vir my stukkie land en wonder en vra hoekom daar nie mielies opkom nie.  Die gelykenis van die talente leer ons tog dat God ons met vermoens geskep het om ons wereld te gaan verander, maar ek kan dit onder die maatemmer wegsteek en niks daarvan maak nie, en dan sal dit van my weggeneem word.  Dit leer ons verder dat ek moet kies wat ek plant, want dieselfde saad wat ek in die grond sit, gaan ontkiem en groei.  Ek kan nie verwag om boontjies te plant en dink daar gaan mielies opkom nie.  Elke mens maak elke dag keuses oor hoe hulle wil dink en leef, en elkeen van daardie dinge het konsekwensies. 

Uit die Bybel sien ons baie kere waar karakters sekere dinge van God gevra het om prosesse aan die gang te sit tot wat hulle in die lewe soek.  Abraham, Isak, Jakob, Dawid, Paulus en Jesus het elkeen soveel dinge van God gevra, waarvan die mees bekende die van Jesus was wat vra dat die beker by Hom moet verbygaan en dat Hy nie gekruisig moet word nie.  Ons ken almal die verhaal, en dat die “law of attraction” nie in daardie gevalle gewerk het nie.  Dit is aan die een kant vir ons ‘n bewys dat dit nie in alle gevalle werk nie, en dat God nie altyd deur ons positiewe denke vir ons gee presies wat ons vra nie.

Daar is ook gevalle in die Bybel, en ook in my eie lewe, waar dinge uitwerk tot ons voordeel, sonder dat ons dit sou kon “verdien” of “bedink” of in spel geplaas het.  Om in God te glo beteken natuurlik ook dat ek soms een oggend opstaan, en skielik is daar ‘n land vol mielies wat ek nooit geplant het nie.  Daar is daardie tye wat ek nooit gevra het vir wonderwerke nie, maar waar God wonderwerke laat plaasvind het sonder my insette.  Ah-ha, jy sien, daar is nie absolute nie.  “God works in mysterious ways”, en dit is soms moeilik vir ons moderne mense om nog daarin te glo. 

Maar wat beteken dit nou?  Sou dit nou beteken dat ek nie die “Law of attraction” moet volg nie, of dat ek nie positief moet dink nie?  Sou dit nou beteken dat ek dag na dag moet staar vir my land en dit nooit bewerk nie?  Sou dit beteken dat ek my lewe NET aan “toeval” moet oorlaat?  Sou dit nou beteken dat ek nooit moet droom oor mooi en wonderlike en beter dinge nie?  Sou dit beteken dat ek eenvoudig moet glo dat alles in plek sal val en God sal sorg?  Sou dit beteken dat ek alles self kan doen en dat God nie betrokke is nie? 

Nee, gladnie.  Een van my vriende het ‘n oulike manier van dink daaroor, hy se:  “Bid asof werk nie help nie, en werk asof gebed nie help nie”.  Die lewe is en sal altyd groei en beweeg, en ons sal nooit die finale antwoord kry op ons vrae nie.  Alles pas in sy tyd en op sy plek, maar om te dink dat dit die finale antwoord is, dit is die probleem.  Ek moet alles doen in my lewe, want dit is lewe.  Ek kan nie my kind se droom om dokter te word nou afskiet omdat hy dalk in hierdie land nie keuring gaan kry nie.  Hy moet steeds homself verbeter en sy wiskunde punt so hoog as moontlik hou deur harde werk.  Ek moet aanhou bid dat God hom ‘n geleentheid sal gee.  Soms hou ons op voordat ons begin het, gee op voordat ons begin het.

Die lewe is gemaak om te leef, en nie om net die antwoorde te soek nie.  Die lewe is gemaak om te leef, voordat jy skip ook inkom en jy jou sportmotor kan koop.  Jy kan droom daaroor, maar intussen tog leef en doen en werk en bid en glo en wonder – maar die belangrikste is om aan te hou leef.  Jy moet plant en ploeg en werk en jouself in ‘n posisie plaas om te kry wat jy oor droom.  Soms is ons so besig om te filosofeer en planne te maak oor ons lewens, dat ons lewens ons verbygaan.  En een van die lekker dinge in die lewe is juis die “onsekerheid” daarvan, want daarin le die wonder van die lewe waarin jy, saam met God, kan gaan geniet wat die lewe aan jou bied. 

Is daar konsekwensies aan jou dade, verseker.  Maar soms weet ons nie beter nie, foute en mislukkings is deel van die lewe.  Jy gaan nooit die perfekte “karma” besit en alles perfek en reg doen nie, maar moet nooit vergeet dat God se Bybel ons ook leer van “vergiffenis” juis omdat ek en jy nie altyd presies weet wat die “regte” ding is om te doen nie.  Soms maak jou aksies jouself seer, en veroorsaak pyn in die wereld.  Soms gee die wereld jou pyn, selfs wanneer jy dit nie veroorsaak het nie, maar daarom moet jy “vergewe”.  Vergiffenis beteken om met ‘n skoon en omgeploegde nuwe land te begin en weer te probeer.  Karma het soms die idee van finaliteit, wat waar is as ek niks daaraan verander nie, maar in God het ons elke oomblik van elke dag ‘n nuwe geleentheid om te leef – dit is en bly jou keuse en saam met dit God se genade!

No comments:

Post a Comment