Wednesday, October 2, 2013

Gaan maak 'n advertensie

Daar is absoluut geen manier hoe mens vir iemand kan verduidelik hoe depressie vir JOU is nie.  Ons leef in 'n wereld wat absoluut hard is, en waar dinge vir ons nie altyd uitwerk soos ons wil en soos ons dink nie.  Soms bevind jy jouself in 'n posisie waar jou resep of idee geen sin maak nie.  Dit is dalk ook hoekom alle advertensies wat jy op TV sien, mense bevat wat lag, want dit is almal van ons se ideaal.  Daai gevoel om sonder spanning en drama op die strand van 'n eksotiese eiland te le, sonder bekommernis en sonder hartseer.  Dit sou heerlik wees om so by die huis te kom na 'n lang dag en mamma staan en glimlag in die kombuis, terwyl boetie en sussie heerlik sit en lag en speel.  Dit sal lekker wees om die hele tyd te lag en die lewe te geniet.  Dit sal wonderlik wees as al daai inspirasie-prentjies op facebook in ons lewens waar word. 

Soms voel dit eerder vir my dat ons ook eerder soms glo in ons "idees" van hoe die wereld werk, idees soos:  "Wat opgaan, moet afkom".  Soms dink ek dat ons eerder vrede maak met die negatiewe, eerder as met die positiewe.  Dit is soos daardie eksotiese vakansie, maar met die wete in die agterkop dat dit nei vir altyd kan hou nie, en so die dae aftel voordat die "werklike" lewe en realiteite weer inskop wanneer ons huistoe moet gaan.  Ek dink dat ons deur ons lewens verstaan en leer dat die lewe "moeilik" is en moet wees.  Dalk is dit dat ons so geleer het deur ervaring van die moeilikheid van die "regte" lewe, en dat ons daarom onsself eintlik beter voorberei op dit wat verkeerd KAN loop. 

Die meeste godsdienste is ook ingestel daarop om ons te leer van die "ander" manier van leef en vir mense iets te gee om aan vas te hou.  Dit is asof mense in hulle sukkelbestaan van elke dag hoop nodig het.  Dit is asof die Bybel ook vir ons vertel dat ons moet aanvaar dat die lewe elke dag 'n stryd is, maar dat daar beter dat en beter dinge vir ons wag.

Maar baie van ons is nie daarmee tevrede nie, wat is ook die punt van elke dag se lewe, en daardie ervaring, net om uit te sien na die dag wat ek dood is?  Miskien is dit hoekom mense se idees van godsdiens ook vervaag, aangesien ons allerhande tegnologiese- en ander hulpmiddels het waarmee ons ons lewens vervul.  Ander van ons lees verder en probeer in ons daaglikse lewens alles beter maak, beter maak met ons koppe en harde werk aan ons insig oor dinge rondom ons.  Ons probeer ons "vibrasies" verander, ons probeer die mooi en die drome na ons toe aantrek.  Soms probeer ons verstaan dat ons nie uitgelewe is aan omstandighede nie, maar dat ons dan eenvoudig die middelpunt van bestaan is, en skepper en onderhouer van ons eie lewens is.  As dinge dus goed loop, dan het ek dit geskep, as dit sleg gaan, dan moet ek die lesse wat te leer is vat en probeer seker maak dat ek dit in die toekoms nie weer doen nie.  As dinge nie uitwerk nie, is dit ek en my toedoen alleen.

As Christen glo ons dan ook dat God in beheer van my alles is.  Ek bid en vra, en God besluit of dit kan of nie.  Ek verander my vibrasie en probeer met die "law of attraction" my lewe beter maak, maar God besluit of dit kan of nie.  God besluit of dit vir my goed is of nie, soos 'n Vader wat oor sy kinders die wag hou en seker maak dat ons nie skade kry nie. 

Dit laat my dink aan die grappie van die dominee wat werklik nie goed kon preek nie.  Sy seuntjie vra toe vir hom wat hy doen as hy so by die trappies van die kansel stilstaan en sy kop laat sak.  Sy pa antwoord: "My kind, pappa vra die Here om my te help met my preek."  Waarop die seuntjie antwoord:  "Nou hoekom help hy nie vir pappa nie?"  Jy sien, ons vra, maar kry nie altyd wat ons nodig het nie.  Soms is dit maar net ons opmaak wat daartoe lei dat ons sekere dinge nie kan doen nie.  Dit beteken nie dat ons om daardie rede NIE dinge moet uitprobeer nie.  Ons word geinspireer deur mense wat die onmoontlike aanpak en oorwin.  Ons lees in die Bybel dat ons deur geloof so groot soos 'n mosterdsaadjie berge kan versit.  Die eerste vraag is dus of ons glo dat ons dit deur God kan doen.  Ek het nie baie twyfel in my dat alles vir God moontlik is nie.  Die Bybel leer ons ook dat ons tot alles instaan is deur Christus wat ons krag gee.  Alles is vir God moontlik, en as God se instrument, kan ek dit ook doen.

 

Die tweede vraag is of ons bereid is om ons lewens so in God se hande toe te vertrou, dat ons verstaan dat God vir ons net sal gee wat ons nodig het, en dat God ons sal weghou van die slegte.  Dat ons glo en weet dat alhoewel dinge nie uitwerk soos ek wil nie, dat dit deel van God se plan is.  Dit is dalk wat my God groter maak as wat ek dink, die wete dat as iets nie uitwerk nie, God daardeur my eintlik lei in die rigting en na die plekke waar ek moet wees.  Selfs Jesus se gebed aan die kruis om die beker by hom te laat verbygaan, is nie verhoor nie.  Wat doen jy met jou geloof wanneer dinge nie loop soos jy wil nie?  Dit is wanneer geloof getoets word, en ek is eerlik, ek sukkel baie daarmee, want ek glo werklik dat God die beste vir my soek, maar my lewe loop nie so nie.

Daar is natuurlik ook ander faktore wat 'n rol speel, soos byvoorbeeld die keuses wat ek maak.  Ek dink dit sou eenvoudiger gewees het om te leef as jy met jou geboorte 'n keuse-GPS ontvang wat 'n bloudruk was van hoe jou lewe MOET loop.  Sou dit nie eenvoudiger gewees het nie?  Dis soos mense wat na fortuinvertellers toe gaan en wil uitvind oor belangrike keuses.  Voor belangrike keuses vra ek tog dat God my moet lei om die regte besluit te neem, maar God neem nooit oor nie.  In geloof staan ek voor keuses en moet soms spring, al weet ek nie.  Dalk is die feit dat ons kan foute maak en soms verkeerde paaie loop dalk wat die lewe so interresant en lekker maak, die feit dat ek nie weet nie.  Dis soos 'n film wat ek vir die eerste keer sien, met al sy draaie en ompaaie wat my boei.  Maar ek dink die belangrikste is, omdat die lewe so onvoorspelbaar is, dat ek TOG my God moet ken en vertrou in alles.

Soms weet ons ook in ons harte wanneer ons dinge doen en in situasies is wat nie goedkeuring sal wegdra nie.  Jy probeer dan allerhande verskonings uitdink waarmee jy enige situasie kan reg praat.  As jy in die wildtuin is, weet jy tog dat jy nie uitklim waar die leeus is nie.  Daarna kan jy nie omdraai en wonder hoekom die leeus jou gevreet het nie.  Dit is ook hoekom God ons 'n gesonde verstand gegee het.  Soms moet jy in die veld stap en kan jy 'n leeu raakloop, maar weereens weet jy dat daar leeus is, en sorg dat jy 'n geweer aan jou sy het.  Ek kan terugkyk op my lewe en besef dat ek oneindig baie keuses gemaak het en velde betree het wat ek nie moes nie. 

Dit beteken darem ook nie dat ek nie die lewe moet proe nie.  Dit beteken gladnie dat ek NIE die lewe mag geniet nie.  Die Bybel leer ons tog dat ons alles moet beproef en die goeie moet behou.  Soms moet ek die stuk sjokoladekoek eet en die soet daarvan proe terwyl ek my dieet vergeet.  Soms moet ek van die hoe krans afspring en die adrenalien in my are voel.  Soms moet ek myself uitdaag en dinge aanpak wat ek gladnie voor kans sien nie.  Wat sal die lewe sonder dit wees?  Soms moet ek die musiek hard aansit, al kla die bure en uitbundig dans.  Die lewe is kort, en niemand se ooit op hulle sterfbed dat hulle te veel gelag en geniet het van die lewe nie. 

Miskien is ons depressief omdat ons te veel dink oor die lewe, en te min die lewe leef.  Miskien le die antwoord daarin dat ons voluit moet leef, sonder enige "regrets".  Miskien is die antwoord vir die lewe om myself te vergewe vir wat ek gedoen het, my geloof in God te stel, uitbundig lief te he, ekstaties te lag en te leef.  Miskien moet ek ophou wonder en analiseer, en leef!  Miskien moet ek ophou SOEK na die sin van die lewe en my eie lewe sinvol MAAK.  Miskien moet ek ophou soek na dinge wat my gelukkig maak, en dalk my eie kopmeubeltjies rondskuif en gelukkig wees met wat ek het en wie ek is.  Miskien het die tyd ook gekom om daardie ou goeters wat in my garage rondle uit te gooi, want as dit nie bruiksaam is nie, is dit 'n las.  Miskien moet ek my dag begin met dankbaarheid oor wat ek het, en afsny wat my en my doel in die lewe NIE dien nie.  Miskien moet ek my NUWE dag NUUT begin, wetend dat ek in God se hand is, soos die Prediker dit stel, wie kan eet of drink of die lewe geniet as God dit nie moontlik maak nie.  Miskien moet ek weer onthou dat my kop slegs een gedagte op 'n slag kan verwerk, en daarom moet ek dalk eerder my kop vul met geloof in God vir elke oomblik en elke tree.  Miskien moet ek dalk weer onthou dat God almagtig is en dat Hy alles ten goede laat meewerk vir die wat in Hom glo.  Miskien moet ek weer leer om in die oomblik te leef, in die son te staan en ophou wonder oor wanneer die reen weer gaan val.  Eerder wees, en in my IS leef, as in miskien, as en dalk leef!

Dalk moet ek my kamera uithaal en een van daai lag-advertensies maak van alles wat mooi is in my lewe, want ek weet verseker, dit wat ek is en het is kosbaar, en daar is mense wat alles sal betaal om my lewe te kan leef! 

No comments:

Post a Comment