Monday, October 14, 2013

Glo jy nog?

Ek sit saterdag by 'n braai en ACDC musiek speel in die agtergrond.  Een van die persone by die braai maak die aanmerking oor die feit dat die musiekgroep satanisties is.  Dit het 'n redelike debat veroorsaak onder mekaar, en dit laat my terugdink aan een dag erens in die 1990's.  Ek het 'n hele klomp CD's die vorige dag gekoop, onder meer Razor's Edge van ACDC.  Die oggend, oppad werk toe sit ek die CD in my kar, en om die eerste hoek trek die verkeerspolisie my af en ek kry 'n kaartjie.  Deur die loop van die dag loop dinge net nie reg nie, en daai stemmetjie diep binne my begin met my praat.

 

Ek sit in my kantoor, en die stemmetjie se vir my dat hierdie musiek nie by my pas nie.  Ek onthou ek het afgeloop na my kar toe en die CD uitgehaal en gebreek.  Binne 5 minute het ek 'n oproep ontvang en verder 'n ongelooflike dag gehad.  Jy is nou baie welkom om my hieroor te kritiseer, maar vandag was ook een van daardie dae wat so op 'n Razor's Edge balanseer.  Vanoggend skryf ek 'n blog oor my sommige twyfel in God en my eie geloofskrisis.  Ek wil mos altyd alles challenge en oor alles dieper en verder dink.  Gister sit ek in die kerk en wonder oor geloof en God, want my lewe is nie werklik wat dit moet wees nie, en veral ook omdat dinge nie vir my uitwerk nie.  En so in my wonder vanoggend, gebeur daar 3 dinge.

 

'n Vriend stuur vir my 'n whatsapp wat lees:  "What you focus on becomes your reality".  Dit het my geruk, want ek kan so maklik negatief raak, en dan wonder hoekom negatiewe dinge met my gebeur.  Is dit nie miskien omdat ek negatief IS, negatief DINK en die negatiewe VERWAG nie.  Ek het al so baie daaroor geskryf dat ek aantrek na my toe wat met my gebeur.  Dit is dus ook tyd om die ander kant van die muntstuk in te sien, en in plaas van dieper en dieper in die negatiewe gat in te grou, eerder na die lig beweeg.

 

'n Vriendin bel my ook deur die loop van die dag met die standpunt:  "Moenie te veel top oor die lewe en tussen die lyne te soek vir die antwoorde nie, hanteer die lewe soos dit kom en soos dit is, want dis die realiteit".  Ek kan soms so ingegrawe raak in my soeke na dinge, dat ek die dinge wat reg voor my is miskyk.  So besig om na God te soek op plekke en vrae te vra, in plaas van my oe oopmaak van waar God wel is.  Mikien ophou wonder oor wat ek NIE het nie, en fokus op dit wat God reeds vir my IS.  Daar is soveel dinge in 'n ou se lewe om voor dankbaar te wees en eerder op te fokus as om net te fokus op die negatiewe.  Dalk het dit ook tyd geword om te wees wat jy se, eerder as om dit te dink en nie te wees nie.

 

Miskien is dit ook nodig om te besef dat God ook net die beste vir ons wil, maar dat ons ook 'n rol te speel het.  Dalk is mens se ondanbaarheid ook 'n rede van hoekom dit nie beter gaan nie.  Dalk moet jy jouself ook afvra of dit wat met jou gebeur nie dalk deel van God se stem in jou lewe is om jou lewe te verander nie.  Deur die Bybel lees ons baie van dinge wat met die karakters gebeur, en straf wat hulle opdoen deur hulle ongeloof.  So, ek sal luister en hoop en vertrou.  Soos alles in die lewe, moet ek die lesse leer en besef dat elke keuse 'n konsekwensie het.  Ek kan nie van God verwag dat ek keuses maak en dat Hy die konsekwensies MOET wegvat nie.  God kan, maar ek kan nie in Hom twyfel wanneer dit nie gebeur nie.  Ek kan God se leiding vra in my besluite, maar ek kan nie, omdat ek verkeerde besluite neem Hom verantwoordelik hou nie.  Ek kan steeds hoop en glo dat dit kan, want soms weet ek nie wat ek doen nie, en Hy is 'n God wat vergewe, ALTYD.

 

Ons praat so baie van die spreekwoord wat lei:  "As jy dinge dieselfde bly doen in die lewe, moenie verwag dat die uitkoms anders gaan wees nie". Maar op 'n manier verwag ons dit.  Ons maak verskonings soos ons persoonlikhede wat vasgele is, maar ons besef nie dat ons kan verander nie.  Dinge kan verander, wat nie beteken wonderwerke gaan onmiddelik gebeur nie, en dat daar nie steeds dinge gaan gebeur wat ek lankal reeds in beweging gesit het nie, maar vandag kan ek verander.  Vandag kan ek my ingesteldheid en persoonlikheid begin verander.  Vandag kan ek ophou om in God te twyfel, kan jy ophou om jouself jammer te kry, en op te staan en die verandering te wees wat jy in jou wereld en jou lewe wil sien.  Dis ook nie altyd die groot goeters nie, dalk is dit net 'n Razors Edge CD wat jy kan breek.

 

En dalk is die belangrikste om ook op 'n ANDER manier, of die EERSTE keer op jou kniee te gaan en saam met jou God die pad te stap vir jou lewe.

No comments:

Post a Comment