Thursday, October 17, 2013

Jy mag lewe!

Soms is die lewe moeilik, want soms voel dit vir jou asof jy nie herwaarts of derwaarts weet nie.  Soms voel jy vasgevang in 'n hoek waarin jy en ander mense saam met jou jou in vasgeverf het.  Maar wat doen 'n mens in so 'n situasie, hoe hanteer mens dit?

Ek dink die begin van die oplossing van enige probleem is die erkenning daarvan.  Of dit nou alkoholisme is, of 'n toksiese verhouding of 'n werk waarin jy geen toekoms sien nie.  En mense verskil, want aan die een kant het ons die modernistiese idee dat jy lojaal is en bly aan die keuses wat jy gemaak het, en om een of ander rede die beste van die situasie moet maak.  In die modernisme leer ons dat die geheel belangriker is as die individuele lede daarvan.  So, wat jou werk ookal van jou verlang, doen jy dit alles, want jou geluk le in die sukses van die groep wat jy dien, jy is 'n dienaar.  Mense het besef dat hierdie ideologie net nie werk nie, en van daar die post-modernisme.  In die idee leef ons met die individu wat homself afvra:  "Hoe word my behoeftes gedien?"  'n Goeie voorbeeld hiervan kan ons sien dat mense nie meer langer as 5 jaar by 'n werkgewer werk nie, want as daar nie meer plek vir persoonlike ontwikkeling is nie, beweeg mense aan.  In die modernisme het mense eenvoudig vir 'n leeftyd by een werkgewer gewerk en gebou aan 'n pensioen.  Maar die individu is nog altyd die bloublokkie waarop alles gesetel is, en of ons nou dink een is reg of verkeerd, moet daar altyd 'n balans tussen ons lojaliteit en ons individualiteit wees.

Een van my beste aanhalings is:  "Elkeen het die reg om homself te wees, totdat jy iemand anders se reg om hulleself te wees van hulle ontneem".  Elke mens het die reg tot persoonlike vryheid en ontwikkeling.  Elkeen van ons moet die ruimte gegun word on ons eie keuses te maak, al pas die keuse nie in by die om ons se keuses nie.  Dit is wat die lewe van vandag so wonderlik maak, want dit maak nie saak of jy jou hare lank of kort is nie, en dit maak nie saak wat jou standpunt is nie, dis ok.  Oumense praat soms negatief oor die wereld van vandag, en veral omdat daar nie struktuur en riglyne is nie.  Ek verstaan dat dit vir hulle 'n probleem is, want struktuur dien sy doel, en op 'n manier gooi die post-modernisme die baba met die badwater uit.  Maar aan die ander kant gee die nuwe lewe ons soveel opsies, wat ons juis wys op ons verantwoordelikheid in die lewe. 

Ek kyk weer gisteraand Donderland op KykNet en dit is vir my ongelooflik om te sien hoe die patriarg en die man sy vrou en kinders as onderdane hanteer.  Sy woord is wet, en hy kan as CEO hire en fire net soos hy wil en almal om hom moet hom net respekteer oor sy titel.  Post-modernisme en individualiteit wat daarmee gepaard gaan, skep die besef by mense dat jy nie mense net kan hanteer soos jy wil en lojaliteit kan afdwing nie.

In huwelike kon mans, soos uit die Donkerland sage, maar eenvoudig maak wat hulle wou, en die vrouens het eenvoudig onderdanig gepleeg, sonder stem en sonder uitkoms.  Vandag is dit anders, want mense is mekaar se gelyke.  Elkeen is 'n individu, en mense word geroep tot verantwoordbaarheid in hulle lewens.  Ek sien elke dag baie mense, en ek sien baie mans wat geskei is en dan skielik rondloop en vra hoekom, en die blaam en vinger wys na die mense in hulle lewens.  Uit die patriargale stelsel leer ons mos om vingers te wys en mense te kruisig, want hoe kan hulle so verwaend wees om nie na my pype te dans nie.  Soos 'n koning regeer ek oor my volk, en as hulle nie reg doen nie, hang ons hulle. 

Maar een ding wat jy in die Donderland-scenario leer, is dat die persoon wat gehang en veroordeel en weggejaag word, nie die een met die pyn is nie.  Dit is eerder daardie pa wat sit met die gebakte pere.  Dit is hy wat op die ou einde na die rusie op gefokus word, en die pyn sien jy in sy oe.  So baie campaigns word deesdae gedryf oor die regte van mense, maar ook vrouens en kinders, en dit is verstaanbaar, want om een of ander rede leef ons in post-modernisme met die denke van modernisme.  Ons kom nog uit die ou garde wat respek en liefde verwag en afdwing, terwyl individue daaronder lei.  Ek spandeer graag tyd tussen vroue-vriendinne, en ek hoor een groot kreet tussen hulle, want hulle respekteer mans nie meer nie.  Mans is romanties tot en met die punt van die troue en so bietjie later, maar daarna "vergeet" hulle om romanties te wees, vergeet hulle om lief te he en moeite te doen. 

Ek praat nie uit oordeel nie, maar in werklikheid oor my eie lewe en die verliese wat ek gelei het in my eie verhoudinge.  Jy sien, dis maklik om vingers te wys en te dink dat iemand anders altyd die fout is, terwyl elke mens die reg tot vryheid en geluk het.

Die tweede belangrike punt is om standpunt in te neem.  In sielkunde praat ons daaroor dat as jy buite beheer van jou lewe voel, dit jou eie skuld is, want jy het, wetend of onwetend die beheer daarvan weggegee.  En natuurlik is jy 'n besondere siel en mens wat deur God gemaak is, en daarom het jy die reg om "ja" te se, "nee" te se en natuurlik ook "nie meer nie".  En dan dit af te dwing en te veg om jouself terug te vind.  Te veel kere in die lewe verloor ons onsself, soveel so dat ons later nie meer weet wie ons is nie.  Dit is natuurlik nie 'n onmiddelike besluit nie, soms gebeur dit egalig, rustig en onwetend en wanneer jy agterkom dat jy die beheer weggegee het, is dit te laat. 

Soveel mense spandeer hulle hele lewens in allerhande hartseer en pyn, en sterf met 'n lied in hulle harte omdat hulle net gekla het en nooit iets daaraan gedoen het nie.  Daar is baie redes hoekom ons onsself vasverf, maar daar is soveel meer Godgegewe gawes wat ons eintlik meer rede gee om die lewe te leef.  Mense hou van kla en kerm en baklei, maar niks gebeur ooit nie, want mense is eenvoudig bang vir die onbekende.  Ons leef in situasies waar ons eerder die negatiewe hartseer wat ons ken kies, en nooit die moeilike pad stap na herstel en heel wees nie. 

Ek sien elke oomblik soveel gebroke mense, maar die gelukkiges is die wat ommekere maak en die lewe gaan leef.  Jy kyk maklik na mense om jou, gee raad en dink hoe maklik die oplossing kan wees, maar dit is nooit maklik nie, want ons is emosioneel betrokke.  Besluite het konsekwensies, en soms moet mense seerkry voordat jy weer heel kan word.  Maar een ding is seker, God het niemand geskep om ongelukkig te wees nie, ek dink dat 'n Vader daar bo so hartseer moet word as hy sien hoe ons mekaar soms uitmekaar skeur.

Derdens weet ons dat die lewe vol dinge en omstandighede is wat ons besluite beinvloed.  Jy leef nooit op 'n eiland nie, en daar is natuurlik baie dinge om in ag te neem.  Maar soms klink ons verskonings so gek vir ander, maar ons glo naderhand daarin.  Ons leef met idees soos: "Die lewe is vir niemand maklik nie", "mense verskil en daarom", "geen verhouding is maklik nie" en "almal sukkel".  As dit jou houding is, gaan jou lewe altyd en vir altyd daardeur gedryf word.  Want waarvoor jy "settle" in die lewe, gaan die res van jou lewe by jou bly.  Hou op om hierdie verskonings te leef, want ek glo nie in 'n God wat se wil dit is dat ek en jy ons lewens moet deur "suffer" nie.  Dis onmoontlik vir my om in so 'n God te glo.  Maar jy kan nie by die huis kom en vir die Pick and Pay kwaad wees oor wat jy gekoop het nie.  Jy maak jou eie bed, en jy moet daarin slaap, of jy verander dit.  Hou op verskonings soek en jou eie menswees verwoes, en as jy in die situasie bly, maak dan vrede daarmee en hou op kla.

Ek word vreeslik kwaad wanneer 'n klomp mans sit en kuier, en die hele middag oor hulle simpel vrouens praat.  Ek vra soms vir myself of dit mode is, en of dit eg is.  Jy sien, soms is ons so vasgevang in spreekwoorde soos: "Die old bag by die huis", dat dit naderhand almal se realiteit word.  Toe ek dominee was het ek baie met mense gewerk wat huweliksprobleme gehad het, dat ek naderhand fout in my eie verhouding gesoek het.  Soms moet jy ook die negatiewe en negatiewe denke oor jou verhouding en verhoudings in die algemeen uit jou lewe sny.  Vandag hoor jy bitter min die woorde van yster wat yster slyp, want almal word in verhoudings deesdae "emosioneel geteister".  Niks weg te neem van werklike emosionele teistering nie, maar dit is amper asof niemand dit meer ernstig opneem nie, want almal gaan deur dit.  Enige verhouding in die wereld is altyd soos 2 klippe wat jy saam in 'n houer sit, dit is en kan eenvoudig nie wegkom daarvan om aan mekaar te raak met hulle uitsteek en rowwe punte nie.  Soms moet jy uithou en aanhou en skuur en skaaf, totdat jy die perfekte beeld het.  As jou ingesteldheid is dat dit normaal is, dan sal jy dit kan hanteer, maar as jy begin besef dat dit abnormaal is, dan gaan die geringste dingetjie jou ongelooflik seermaak.  Wees dus versigtig aan wie jy jouself blootstel.

Ek is deel van 'n vriendekring wat baie vir mekaar omgee, en saam met dit hulle gevoelens absoluut met mekaar deel.  Maar soms begin jy sien dat dieselfde probleme en issues wat een paartjie tref, die ander ook begin tref.  Dit is maar hoe karma werk, jy kry gewoonlik wat jy soek in mense.  Jy kry 'n stok om iemand mee te slaan, onge-ag of die persoon met opset jou seermaak.  Wees dus versigtig vir die blootstelling en die mense om jou, want ons is nie altyd sterk genoeg om objektief te wees nie.

En dan is die belangrikste vergiffenis.  Vergiffenis het ons al baie oor nagedink, want menslike vergiffenis gaan altyd gepaard met emosies.  God se vergiffenis is anders, want dit is skoon en sonder enige maar en miskiene.  Dit is soos om jou kind te vergewe, jy kan nie vir hulle kwaad bly nie.  Maar interpersoonlike vergiffenis gaan oor een belangrike ding en dit is dat mense nie sommer verander nie, en ook dat sommige mense nie met opset ons seermaak nie.  Om mense se aksies in konteks te sien, verstaan ons dat ons moet vergewe, maar omdat mense nie verander nie, word vergiffenis moeilik.  Ons goddelike vergiffenis gaan juis daaroor dat God ons vergewe, te midde van die feit dat Hy weet ons sukkel om te verander.  Maar in menslike vergiffenis vergewe ons 70 maal 7, en soms is dit nie genoeg nie, want soms hou mense aan en aan om ons lewens te verwoes en ons pyn aan te doen. 

Soms vra mense ons om hulle te vergewe, maar eintlik soek hulle nie vergiffenis nie, hulle soek 'n rubber stempel op hulle dade.  Hulle vra eintlik van ons dat ons hulle en hulle aksies moet aanvaar.  Mense wil eintlik hoor dat dit wat hulle aan ons doen, dat dit OK is.  Dit is hoekom ons redes en verskonings maak en vergewe wil word.  Om 'n rubber stempel op iemand se dade te sit, word soms net weer 'n manipulerende aksie waardeur ek eenvoudig myself net weer aan hulle en wat hulle doen onderwerp. 

Jy het nodig om te vergewe, maar jy kan nie vergiffenis afdwing nie, veral nie as jy voor jou siel weet jy gaan dit weer doen nie.  Dit word soms net 'n speletjie waar die een net doen wat hy of sy wil, en die ander persoon word gedwing om dit net te aanvaar en daarmee gemaklik te wees.  Vergiffenis is nie dit nie, want vergiffenis plaas 'n onus op die persoon wat vergewe word om werklik dit nie weer te doen nie.  Dit beteken dat ons onsself wel mag distansieer van mense wat ons verkeerdelik hanteer.  Weet en verstaan dat jy ook foute het, maar jy kan nooit verwag om vergewe te word, voordat jy nie self eers jouself en mense om jou kan vergewe nie.

Maar jy KAN en MOET vergewe, want sonder dit is daar geen lewe nie.  Met negatiwiteit in jou hart kan niks mooi verder in jou lewe gebore word nie.  Met haat en woede en oordeel en dreigemente het min mense al erens gekom.  Hulle het dalk hulle doel bereik, maar mense en verhoudings en hulleself net meer skade gedoen.  Dit is hoekom ons praat van mense in glashuise wat met klippe gooi, want jy doen jouself eers skade aan, nog lank voor jou negatiwiteit die ander persoon beinvloed, indien ooit.

En laaste maar nie die minste nie, besef dat jy mag en kan die lewe leef.  God wat die asem in jou ingeblaas het gee jou die reg om voluit te gaan leef, en jy het die reg op geluk in jou lewe.  Gaan leef en gaan lag en gaan dans met die lewe!

No comments:

Post a Comment