Monday, October 21, 2013

My ouma se Datsun

Ek was seker nog in die Laerskool toe my ouma Joey 'n nuwe motor gekoop het.  Dit was so 'n blou Datsun, ek dink 1600.  Sy het in 'n woonstel in Waverley gebly.  Sy was so opgewonde oor haar kar, maar sy het so 'n vrees gehad dat hy gesteel gaan word, dat sy ons vertel het dat sy in die aande deurgans opstaan om te gaan kyk of dit nog in haar parkeerplek staan.  Haar parkeerplek was gelukkig sigbaar uit haar sitkamervenster.  En, raai wat, die een oggend vroeg kry ons 'n oproep van haar dat haar motor gesteel is.
Soms is dit vir my vreemd hoe ons nie glo aan hierdie "bo-natuurlike" krag of mag wat ons lewens beheer nie.  Ons dink steeds dat ek nie die wereld kan verander en my lewe kan beinvloed nie.  Maar, hoe verklaar 'n mens wat met my ouma gebeur het.  Dit wat jy vrees kom jou oor, dis 'n feit.  Maar hoekom is dit dan vir ons makliker om die negatiewe en drama eerder vatplek in ons lewens te kry?  Hoekom dink ons eerder aan die realiteit van ons lewens, en daarmee saam is ons eerder geneig om die negatiewe en pynvolle te glo en deel van ons lewens te maak. 
Om die een of ander rede, ontken ons die negatiwiteit in ons koppe wat ons lewens beheer, en glo eerder dat dit die "regte" wereld is waarin ons leef.  Ons "verwag" die steel van my motor, en dan het ons 'n verskoning rondom dit om te dink dat dit die "ware" wereld is waarin ons leef.  Dan maak ons mense wat met positiwiteit hulle lewens verander uit as dromers en "onrealistiese" mense.  Miskien is die les nie om hulle af te maak as onrealisties nie, maar eerder ons denke ook as "manifestasies" van ons eie negatiwiteit.  Dit is soos 'n rooibokkie wat realisties glo dat hy prooi is, en wanneer die leeus op hom afstorm net eenvoudig glo dat dit sy lot is.  Hy staan stil en hardloop nie, want hy moet realisties wees, hy is prooi en die maklikste is om eerder stil te staan en te wag daarvoor.  Dit klink vreemd, maar is dit nie maar wat ons baie keer doen nie.  Ons is nog prooi, voordat daar aanvalle is.  Dit vat natuurlik minder inspanning om maar net te gaan le, maar deur dit te doen, eindig my lewe.  Ek dink ook dat die "realiteit" so werk dat die leeu tog eerder die bokkie wat stil le sal aanval, as die bokkies wat hardloop.
Ek se vir geen oomblik dat daar nie werklike dinge in die lewe is, soos dat daar mense is wat jou motor sal wil steel nie.  Maar die storie met my ouma vertel vir my dat op een of ander onverklaarbare manier, sy hulle tog ingenooi het in haar wereld.  Haar vrees en haar spanning het 'n "realiteit" geskep.  Dalk sal jy nou redeneer dat hulle dalk in elkgeval haar motor sou gesteel het sonder haar insette, maar dit is weer "onrealisties", want die feite op die tafel was haar vrees en optrede.  Soms is ons met ons realistiese denke ook maar onrealisties, want ons gee soms eerder plek aan die negatiwiteit in ons as die positiewe.  Hoekom glo ons soveel meer aan die pyn en spanning en drama, as in die positiewe en die drome?
Gaan kyk maar na jou eie lewe en jou ervarings van hoe jy ook soms die negatiewe 'n vatkans gee, en dan skielik, as dit gebeur, dan is jy so opgewonde want jy het dit sien kom.  Jy glo nie in manifestering nie, maar in die realiteit, sal jou antwoord eenvoudig wees.  Dan draai ons om en bekla ons lot en kry onsself jammer omdat die "wereld" dit aan ons doen.  Ek vra hoekom God my nie help nie en nie my motor beskerm nie.  Ek wonder hoekom is alles in my lewe so 'n gemors, en hoekom vang die leeus nou net vir MY.  Arme ekke, die wereld, alles en almal is teen my.
Wat jy op fokus in die lewe word jou realiteit, nog voordat dit met jou gebeur het.  My ouma se motor was gesteel, nog voordat iemand dit gevat het, want sy het geglo dit sal gebeur.  Sy was 'n victim nog voordat dit gebeur het.  En as jy met haar gepraat het daaroor, sou sy allerhande verskonings daaroor gehad het.  Sy was 'n wonderlike mens en ek was baie lief vir haar, maar een ding wat sy in my hart oorgelos het, was die vrees en negatiwiteit wat sy in haar hart saamgedra het, wat hartseer is.
Die realiteit is eenvoudig wat jy van die lewe maak, niks anders nie.  Die realiteit is dalk iets wat met jou gebeur, maar dit begin altyd by jou ingesteldheid oor jouself en die wereld rondom jou.  As jy dink dat jy 'n mislukking is, raai wat, jy gaan 'n mislukking wees.  Hoekom sal jy nou iets aanpak as jy dink jy dit nie kan doen nie?  As ek ophou droom om 'n Ferrari te ry, sal ek ooit een ry?  As ek dink dit is onrealisties om een te ry, sal dit nooit plaasvind in my lewe nie.  Ek en jy het altyd 'n keuse oor wat ons van ons realiteit maak, ongetwyfeld.
Ons maak onsself uit as gelowiges en ons bid en glo, maar glo ons werklik dat God dit vir ons wil en kan gee?  Nou hoor ek jou weer se dat ek nie alles in die lewe kan nie en onrealisties is, want hoe kan ek bid en dink ek gaan die 100m op die Olimpiese Spele wen?  Dit is tog onrealisties, want ek het nie die talente nie, en ek is nou te oud daarvoor.  Ek erken dat dit onwaarskynlik is, maar daar is tog ander dinge waarin jy kan uitblink.  Elke dag is jy in jou eie wedloop gewikkel, maar selfs Bolt kan besluit om nie te hardloop nie, en dan sal hy ook nie wen nie.  Hy is nie gewikkel in kompetisie met ander nie, maar met homself.  Maar hy daag op om te oefen, hy daag op om sy eie wedloop teen homself te hardloop en die beste te wees wat hy kan wees.  Elke mens het sy/haar eie wedloop teen ons eie kompetisie, maar dit vat werk.  Bolt, hoe goed hy ookal is, oefen steeds elke dag, hy het steeds 'n hele span wat hom ondersteun, selfs sielkundiges.  Niks kom van self en is NET talent nie.
So, daar is geen verskoning vir enige van ons om nie in manifestasie te glo nie, terwyl daar baie verskonings is vir ons om ons koppe te vul met allerhande dinge.  Dit is jou keuse, en ja, dalk werk jou werklikheid nie altyd uit soos jy dink nie.  Die bokkie se denke dat geen leeu hom kan vang nie kan dalk onrealisties wees, maar hy kan altyd probeer.  As hy ook die hele tyd gaan fokus en opkyk na waar die leuus is, gaan hy nie kans kry om gesonde gras te eet wat hom die krag gaan gee om vinnig genoeg vir hulel weg te hardloop nie.  Jy het die keuse vandag om jou lewe te verander en te besef dat jy ander dinge nodig het in jou lewe soos protein en positiewe denke om te kan oorleef.
So, hou op om te dink dat positiewe denke en manifestasie van goeie dinge onrealisties is, want dit is net so eg soos die negatiwiteit wat jy in jou hart koester.  Gaan verstaan dat ek nie net kan leef van die negatiwiteit nie, want dan kan ek net so wel na die leeus toe loop en hulle vra om my op te eet, want hulle gaan.  Deur te wil oorleef, moet jy droom en nuwe dinge in jou lewe doen, manifesteer 'n mooi en 'n wonderlike lewe, want dit is net so EG soos jou negatiewe realiteit.  Onthou ook dat om te bid een ding is, maar soms bid ons en glo nie werklik aan ons gebede nie.  Ons vra, maar ons hou eerder vas aan die feit dat God ons nie gaan verhoor nie, want ons is negatief belaai.  Bid, vra, droom en glo met jou hele hart dat God dit vir jou SAL en WIL gee.

No comments:

Post a Comment