Wednesday, March 28, 2012

Ogies wat traan

Ons bly in die ooste van die stad en ek vat een oggend die kinders vroeg skooltoe. Om by die skool te kom, moet ons in ‘n westelike rigting ry. Nadat ek hulle afgelaai het, moet ek vinnig weer ooswaarts ry om ‘n klient te sien. Die son was net op so ‘n aardige plek dat die sonskerm nie werklik gehelp het nie. Ek is met so ‘n spoed by die huis weg die oggend dat ek my sonbril vergeet het. Kort voor lank is my ogies op skrefies getrek en die trane rol uit my oë.

Ek wil so graag my roete verander, maar daar is net een pad en dit is die pad reg in die son in. Ek wil graag my oë toemaak, maar dit is ook nie ‘n opsie nie, want ek bestuur en gaan heel moontlik dan in ‘n ongeluk wees. Deurdruk met trane in my oë is al wat oorbly.

Die lewe is dieselfde, daar is nie sommer wegkomkans van die strale van ons probleme nie. Die krisis gaan ongelukkig nie weggaan nie, die enigste manier is om uit te hou en aan te hou. Daar is natuurlik hulpmiddels soos mense en vriende en planne wat ek kan probeer, maar soms is dit net ek en die probleem. Oë toemaak is daar nie voor tyd nie, ek het al duur lesse geleer, want dan lei dit net na groter ongeluk en groter krisis.

Alhoewel daar probleme voor jou is, kan jy dit slegs oorbrug wanneer daar vir jou iets voor in die pad is wat jou meer motiveer as die strale van die krisis. Die een wat vir jou swaarder weeg gaan die een wees wat jou aksies bepaal. Vir my was die besigheid wat ek gaan doen die motivering. Ek het nodig om die kliënt te sien en was opgewonde oor die geld wat ek daaruit gaan verdien.

Dalk is daar vandag ‘n klomp strale wat jou sig belemmer en jou oë laat traan. Dalk voel jy dat jy nie meer verder kan nie en jy wil jou oë sluit of ‘n ander rigting inslaan. Dink dan aan die rede hoekom jy op hierdie pad is en hoekom jou neus in daardie rigting wys. Moenie jou visie verloor van wat jy wil bereik en wat jou drome is nie.

Ek het ‘n goeie vriend gehad wat nou oorlede is, en sy woorde sal my altyd bybly oor probleme. Hy het gesê: “This also will pass”. En hoe waar is dit nie van soveel probleme en krisisse vir ons nie. Toe ek uiteindelik by die ontmoeting met my kliënt arriveer het ek omtrent onmiddelik vergeet van die son. Dink maar self terug aan die tye in jou lewe van sukkel en van krisisse. In die oomblik van die krisis was dit intens, maar nou kan jy amper nie meer onthou hoe erg dit was nie.

Staan op, hou moed, vee die trane af en druk deur!

No comments:

Post a Comment