Wednesday, March 28, 2012

Onderskrifte

Ek weet nie of dit net ek is nie, maar dit irriteer my vreeslik wanneer ‘n storie op televisie onderskrifte by het. Dit irriteer my, nie soseer oor die onderskrifte nie, maar omdat dit my aandag totaal aftrek van die prentjies in die agtergrond. Ek vang myself die hele tyd dat ek net die onderskrifte raaksien en lees.

Die lewe is seker presies dieselfde. Daar is elke liewe dag die mooiste prentjies wat hulle in ons lewens afspeel, kinders, verhoudings, vriendskap, seën en geluk. Maar ons raak so vasgevang in die najaag en uitsorteer van dinge dat ons later nie meer die mooi van die lewe raaksien nie. Hierdie “onderskrifte” is natuurlik, net soos die onderskrifte in die stories, belangrik en relevant. Sonder die harde werk en probleme hanteer sal ons lewens dalk onverstaanbaar wees en nie sin maak nie..

Die uitdaging is om aan te leer om steeds die prentjie agter raak te sien. Soms is ons te besig met dinge wat ons aandag aftrek van die mooi storie in die agtergrond. Daar is egter niks wat ek of jy kan doen aan die onderskrifte op die storie nie, en so ook is ons “onderskrifte” deel van elke dag se lewe. Onthou net dat dit altyd net deel is van die hele storie en nie die volle storie nie.

Maar dit is ook van toepassing op die mense rondom ons. Jesus wat ons in die Bybel van lees was hierin vir ons ‘n ongelooflike voorbeeld. Jesus het mense se foute en tekortkominge raakgesien, maar nooit die mooi en groter prentjie agter misgekyk nie. Jesus het beoordeel wat mense doen, maar hulle altyd agter die probleem en die foute raakgesien. Dit is seker een van die mooiste eienskappe wat ‘n mens kan aanleer. Sien ook in dat God almal om jou geskape het en dat hulle skepsels van God is. Al lyk die storie wat hulle vir jou skilder anders as jou idees, elkeen se storie is mooi en belangrik.

Jy kry twee tipes mense, aan die een kant hulle wat die lewe sien as ‘n glas wat half leeg is, en ander wat die prentjie agter sien en die glas as half vol ervaar. Dit is dieselfde glas met dieselfde hoeveelheid vloeistof daarin, en beide van die mense is reg. Ons het almal ervarings van mense wat aan beide kante van hierdie voorbeeld staan. Probeer bietjie vandag die positiewe raaksien agter die onderskrifte.

Wanneer jy vandag voor die televisie van jou lewe staan en jou storie beskou, miskien moet jy dalk verder kyk as om net vas te staar in die onderskrifte van pyn, krisis en probleem. Dalk kan vandag ‘n wonderlike dag vir jou wees wanneer jy die mooi van jouself, jou lewe, jou verhoudingsmaat, jou kinders, jou ouers, jou vriende, jou kollega en jou land raaksien.

Miskien is dit die dag waar jy nie gaan kla dat jy vir jou kind iets moet doen nie, maar verby dit kyk en sien watter voorreg dit is om dit te kan doen. Dalk word dit vir jou so lekker om die mooi prentjie te sien, dat jy dalk vir ‘n oomblik nie die onderskrifte so duidelik, seer en hard gaan ervaar nie.

No comments:

Post a Comment