Thursday, March 8, 2012

Wat gee die lewe sin

Ek het nou die dag geskryf oor ouer mense wat ek ken wat nou almal in hulle sewentigs is. Ek het vertel dat van hulle nou al begin om te praat van die “einde”. Ek het myself afgevra wat dit is wat hulle so laat dink? Ek dink jy is reg om klaar te maak met die lewe wanneer daar nie meer vir jou sin in die lewe is nie. Dit is nie net in ouderdom nie, maar ook in jongmense wanneer ons depressief voel. Ek dink jou resies hou op wanneer jy nie meer kans sien om te hardloop nie en tou opgooi.

Een van my slegste eienskappe is dat ek nogal gou boedel oorgee. Ek was my hele lewe lank so en ek weet nie wat die oorsaak daarvan is nie. Ek het baie drome gehad toe ek jonger was. Baie van my drome het waar geword, waaroor ek baie dankbaar is. As ek die laaste aantal jare beskou, voel dit vir my asof ek my woema verloor het. Dit gebeur natuurlik as ‘n mens se “mislukkings” meer as jou suksesse voel.

Ouer mense ervaar dit nogal wanneer die pyne hulle begin aanval op hulle ouderdom. Dan voel hulle dat die pyn erger is as die dans. Ek lees graag in Prediker oor wat hy dink oor die sin van die lewe. In Prediker vra die skrywer homself ernstige vrae oor die sin van die lewe. Hy wonder baie ernstig oor die dinge waarmee hy elke dag sy lewe mee volmaak.

Aan die eenkant sloof hy hom af om sy lewenstyl te bekostig. Hy kom tot die slotsom dat dit belangrik is dat jy werk en vir jouself en jou gesin te sorg, maar dat dit nooit so sentraal mag wees dat dit jou hele lewe beslaan nie. Baie mense redeneer dat Prediker die punt maak dat ons nie moet werk en besittings moet najaag nie, want dit beteken niks nie. Dit is vęr verwyder van die waarheid. Prediker wil die punt maak dat dit ‘n geskenk van God is. As dit dus goed gaan met jou, wees dankbaar daaroor en leef in dankbaarheid teenoor God vir die geskenk. Prediker waarsku ons teen ‘n bestaan van waar my lewe NET handel oor versamel en nie oor dankbaarheid of die genot van my versameling nie.

Party van ons se lewe is so gevul met die stress van my werk en om te versamel dat ons nooit die kans kry om dit wat ons reeds besit te geniet nie. Prediker leer ons dat ons hieroor versigtig moet wees dat dit nie ons lewens oorneem nie. Prediker wil ons leer dat dit ‘n gawe is, maar dat dit ook ‘n vloek kan wees. Dit handel nooit oor die geld of versamel daarvan vir Prediker nie, maar eerder oor die te ‘n belangrike rol wat dit speel.

Dit is lekker om die mooi dinge in ons lewens te versamel, maar teen watter prys? Dit is belangrik dat jy altyd in Prediker moet onthou dat dit vir hom gaan oor jou ingesteldheid en die belangrike plek wat jy dinge gee. Vir lank het ons in die georganiseerde godsdiens gedink dat ons geroep is om in armoede te leef. Dit kan ons duidelik sien in ons węreld vandag nog. Vandag nog dink sekere kerkgroepe dat jy jouself in armoede moet dompel, anders kan jy God nie volledig dien nie. Ons hoor dit weerklink in ons ore dat jy nie God en Mammon (geld en rykdom) kan dien nie. Dit raak al beter in ons land waar dominees deesdae redelike goeie salarisse verdien, maar dit was nie altyd so nie.

Prediker stel dit duidelik dat niks moontlik is sonder God nie, selfs nie ons besittings nie. Prediker maak een verdere belangrike punt en dit is dat wanneer ek God so die eer gee vir alles, dan eers kan ek dit werklik geniet. Iemand het een keer gesę dat geld net jou baas is wanneer jy dit nie het nie. As jy nie kos kan koop nie, word jy desperaat en dan word dit moeilik om die water in die kraan of die glimlag op jou kind se gesig te waardeer.

Die Prediker gee ook aan ons ‘n fantastiese “vrystelling”. Behalwe dat monnike hulleself van aardse besittings en geld afsonder, glo hulle ook dat jy nie die lewe mag geniet nie. Prediker sę weer die teenoorgestelde, dat ons wel die lekker dinge van die lewe mag geniet, solank ons altyd weet en besef dat dit ‘n gawe uit God se hand is. Volgens Prediker is niks moontlik as God dit nie moontlik maak nie.

Soms wil ons tou opgooi omdat ons ook soos Prediker wonder oor die sin van die lewe. Soms wil ons ophou leef en dink dat dit die einde is. Soms hou ons op droom en hou ons op om drome na te streef. Ons raak pessimisties oor die toekoms en dink dat daar niks goed vir ons op pad is nie. Soms kyk jy na die mense om jou en hulle suksesse en dit laat jou twyfel in jouself en jou eie vermoëns.

Dalk voel dit asof die węreld jou woema by jou gesteel het en dat alles tot niks lei nie. Prediker het vir ons ‘n spesiale boodskap: “Staan op, droom, werk lekker, werk hard en geniet elke oomblik van jou lewe, want God maak alles die moeite werd”.

No comments:

Post a Comment