Wednesday, March 7, 2012

My Foute

Iemand snou my nou die dag toe dat ek in hierdie blog maak asof ek perfek is en al die antwoorde het, terwyl my lewe nie daarvan spreek nie, want ek doen baie mense skade en hartseer aan. Dit was nogal harde woorde wat my tussen die oë getref het. Nie net tussen die oë getref het nie, maar ook my geskok het tot diep in my hart. Dit het my baie seergemaak want ek is nogal ‘n baie sensitiewe wese wat nie van konflik hou nie. Ek is deeglik bewus van my tekortkominge en nogal oorsensitief oor aantygings teenoor my. Wel, ons is almal seker maar altyd besig om te streef na liefde en harmonie eerder as pyn en lyding.

Ons is almal feilbaar en daar is daagliks soveel dinge wat mense oor ons en van ons sę soos byvoorbeeld in ons verhoudings met vreemde mense by die werk, vriende, familie, kinders en huweliksmaats. Dit is nie so belangrik vir jou om oortuig te word van jou imperfeksies en foute nie, maar belangriker is wat jy met die informasie doen. Jy sien, ons probeer om beter mense te wees en om hierdie rede moet ons leer uit die foute wat ons maak, verskoning vra waar ons fouteer het en probeer om dit nie weer in die toekoms te doen nie.

Hierdie blog gaan nie oor my eie ego en dat ek dink ek beter as ander is nie, maar dit gaan eerder oor net nog ‘n blinde persoon wat ander blindes probeer help in hulle soeke na die ligskakelaar. Ek deel my reis teen die donker mure met ander en probeer daaruit sin maak. Ek is die laaste een wat sal erken asof ek die skakelaar al gevind het.

Maar wat maak ‘n mens met jouself en die foute wat jy begaan?

Ek dink die eerste plek waar jy begin is by jouself. Werklike kennis beteken dat jy nie net weet wat jou tekortkoming is nie, maar eienaarskap daarvan neem. As ek weet dat ek baie probleme ondervind as ek my persoonlike administrasie afskeep, gaan niks in die toekoms verander indien ek nie aksie neem nie. Net ek kan die verskil leef wat ek in my lewe wil sien.

Die tweede fout wat ons begaan is deur verskonings te maak. Ons kry maklik swartskape wat die skuld kan kry vir “hoekom” ek dit gedoen het. Soms is my verskoning die omstandighede. Verskonings is ‘n manier waarmee jy jou verantwoordelikheid op iets of iemand kan afskuif en dit gee jou weer ‘n geleentheid waardeur jy aksie vermy. Verskonings lei ook daartoe dat ek myself jammer kry, of dat ek dink dat ander mense my gaan jammer kry en my foute sal oorsien.

My eie lewe is stadig maar seker besig om te draai in die rigting waar ek verantwoordelikheid neem vir my foute. Ek betaal elke dag die prys vir die feit dat ek niks aan my situasie gedoen het nie en dat ek nie eienaarskap daarvan geneem het nie. As ek nie eienaarskap vat nie, beteken dit natuurlik ook dat ek onbewustelik dink dat iemand anders my probleem moet oplos. Dit is presies soos wanneer jy op verlof gaan by die werk, as jy terugkom besef jy dat niemand jou werk vir jou gedoen het nie.

Die węreld het nie plek of lus vir jou verskonings nie. As jy nie gaan veg om jou lewe beter te maak nie, gaan niks of niemand dit ooit vir jou doen nie. Selfs al versamel jy die wonderlikste groep mense en al is hulle ongelooflik lief vir jou, gaan selfs hulle in ’n stadium jou nie meer glo nie. Hulle gaan nie meer jou verskonings wil hoor nie, veral nie as dit hulle impakteer nie. Soms sit ons en wat dat mense ons moet jammer kry wanneer ons nie eienaarskap neem van ons foute nie. Ware liefde is natuurlik as jy iemand het wat die moeilike pad van oplossing saam met jou loop, maar dit is ‘n bonus, want jy bly verantwoordelik vir jou eie lewe.

Natuurlik is die mense wat my die liefste het se geduld met my “meer” as by vreemde mense. My liefste mense kies om by my te wees en daarom is hulle toleransie groter. Dit kan natuurlik met ons kinders ‘n probleem word, want ons liefde vir hulle verblind ons soms so, dat ons hulle nie leer om werklik die “regte” ding te doen nie. Ons ken almal sulke mense wat eintlik ‘n blinde oog draai op hulle kinders en hulle foute. Ons doen hierdie kinders van ons, te midde van wat die omstandighede en verskonings is, ‘n onreg aan, want hulle leer nooit om hulle foute aan te spreek nie.

Daarom is die beginpunt nie net die erkenning van my foute nie, maar dat ek eienaarskap neem daarvan deur aksie te neem. Daar is verskeie maniere om aksie te neem. Vir my is dit in die skryf van my gedagtes en om daardeur sin van myself en my eie aksies te maak. Ek probeer na dinge soek wat my kan help om beter te wees en te groei. Ek is ook versigtig dat dit nie net ‘n klomp woorde op papier is nie, maar tot aksie oorgaan. Ek probeer om te “practice what I preach”. Daar is soveel riglyne wat ons kan volg van hoe ons moet leef, maar as ek dit nie gaan begin leef nie, bly dit net papier. In die woorde van Jakobus: “As iemand weet wat die regte ding is om te doen, maar hy doen dit nie, dan is dit sonde”.

Ek vra om verskoning vir die mense wat ek skade en hartseer aandoen, want elke dag sukkel ek om presies te weet wat die regte ding is om te doen. Ek vra ook elke dag vir God om my die insig te gee en te lei om te doen wat nodig is. Ek vra ook vir God om genadig te wees sodat ek die tyd kan kry om reg te maak wat ek teenoor myself en ander fout gedoen het. Ek bely ook wat ek verkeerd gedoen het en tas in die donker rond op soek na die “beter” ek.

No comments:

Post a Comment