Friday, July 29, 2011

Resessie Lewe

Ek sit nou gister in een van daardie heerlike sessies oor die ekonomie. Oulike grafieke met strepe en mooi prentjies en spekulasie galore. Jy sien, die ekonomie werk mos nou so:

Elke land het mense. Die mense werk vir maatskappye en produseer produkte. Hierdie maatskappye en mense verkoop hierdie produkte aan mense, en met die salarisse wat hulle verdien koop hulle nou weer op hulle beurt produkte. Nie net in hulle eie land nie, maar hulle voer ook hulle produkte uit en verkoop dit aan ander lande, en voer produkte in wat hulle by produsente uit ander lande koop.

Omdat mense nou nog meer geld wil maak, verkoop hulle ook aandele in hulle produserende maatskappye aan mense op die aandelebeurs. Hoe meer in aanvraag produkte is, hoe meer wins kan ek maak op my produk, en die teenoorgestelde is ook waar.

Wat hierdie nou ‘n vreeslike oulike speletjie maak, is dat dit is soos klein kindertjies wat op ‘n slim manier “raai-raai-riepa” speel. Hierdie sessies in die ekonomie wil vir ons ‘n kykie in die glasbal van die toekoms gee, en ‘n aanduiding wees van watter tipe besluite ons moet neem met produkte en in watter maatskappye en lande ons moet bele, en hoekom!

Hierdie analiste probeer met data en feite uit die verlede die tendense monitor. Die grafieke wat ons trek probeer 2 dinge doen, eerstens natuurlik vir ons wys op die kort- en langtermyn in watter rigting hierdie tendens loop, op of af. Tweedens probeer dit vir ons die interafhanklikheid van 2 sake op een grafiek wys, bv. Die goudprys en die rand op een grafiek. Dit noem ons die tegniese analise in die ekonomie.

Wat ons dan ook doen is om sekere dinge na te kyk soos werkloosheid (want as mense nie werk het nie, het hulle nie geld nie en kan hulle nie produkte koop nie), politieke situasies (uitsprake van politici oor wat hulle planne met myne is) en sosio-ekonomiese aksies (soos Chinese wat nou meer geld verdien en uit statistiek nou meer luukste artikels koop).
Dit laat my toe nou dink daaraan dat ek dink die lewe ook so werk. Elkeen van ons is ‘n maatskappy op ons eie met ons eie grafieke. Ons het elkeen ‘n waarde en ons glo dat hierdie waarde iets is waarin ek en die mense om my graag in sal bele, nie noodwendig met geld nie, maar met tyd en energie en met liefde. Ons het ook ‘n Prys-Verdienste syfer en ons is ook maar baie keer in kompetisie met die mense om ons vir beleggings in ons.

Ons is dus as ‘n “produk” of “maatskappy” in kompetisie in die mark rondom ons vir werk en aandag. Ons is natuurlik ook interafhanklik van ander tendense in die wereld rondom ons. ‘n Jong maatskappy het baie kere nie soveel ondervinding nie, en ons verwagtinge is dat hierdie maatskappy hulleself nog nie bewys het nie, maar ons vat soms ‘n risiko met hulle. Ouer maatskappye het weer die uitdaging dat hulle geykte idees het, en produkte het wat nie meer so in aanvraag is soos die jonger IT maatskappye nie.

Toe sit ek daar ook en wonder hoe my grafiek sou lyk. Ek het in my 20’s met vreeslik baie durf en motivering weggespring en my drome nagejaag, maar intussen het baie resessies en issues my getref wat redelike afwaartse kurwes tot gevolg gehad het. Tye waarin ek nie dink mense sommer aandele in my sou koop nie. Daar was ook natuurlik ‘n verandering in die sosio-ekonomiese situasie waarin ek moes leef, en daar was ook ‘n verandering in personeel en direksie gewees. Elke verandering in die direksie, het ook die rigting van my maatskappy verander. Daar het natuurlik ook ‘n paar “laste” bygekom, en soms ook ‘n klomp “bates” wat ek verloor het. My inkomse en uitgawestaat het ook nie altyd so bestending voorgekom nie, die uitgawekant het baie gegroei, terwyl ek net soos enige maatskappy sukkel om die inkomste op te skuif.

Ek het ook probeer om nuwe produkte te ontwikkel, ure en maande en jare daaraan spandeer, om daaruit ook ‘n verlies te maak. Ek het ook in verskillende vennootskappe deelgeneem, sekeres wat tot voordeel van my maatskappy was, en ander wat nie was nie.

Daar is ook in my lewe ‘n paar “resessies” gewees wat my grafiek beinvloed het. Die vraag is egter nou in my lewe: “In watter rigting is die oorhoofse groei oor die afgelope 40 jaar?” Is daar ‘n opwaartse of ‘n afwaartse kurwe? Ek praat nie hier van die klein dippies in winsgewendheid en produktiwiteit nie, maar oor die algemeen oor die langer tendens in myself.

Daar is natuurlik ook iets anders wat ‘n rol speel, en dit is presies dieselfde as in Amerika nou waar die regering oorhoofs ingespring het om die omstandighede rondom ons so te bestuur en te beheer met rentekoerse, wat dit weer moontlik maak vir maatskappye om winsgewend te word. Op dieselfde wyse is daar ook ingrype in ons lewens wat ons regop hou, soos ook onder andere ouers, vriende en natuurlik die grootste van alles God.
Een belangrike ekonomiese tendens wat mense ook na kyk is die sentiment van die verbruiker. Het mense weer hoop? Is mense nou weer lus om te droom en ideale te he? Dit is een van die grootste tendense wat ‘n mens kan he in die ekonomie, mense wat hoop het. Is daar ‘n toekoms? Dit is hoekom die ekonomiese resessie so ‘n invloed in mense se lewens het, want mense kan nie ‘n toekoms sien nie, mense weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie, en oor die algemeen dink mense dat dinge nie beter gaan word nie.

Maar, terwyl al hierdie dinge gebeur en ons ge-analiseer en geweeg word, gaan die lewe voort. Elkeen op sy eie kluit, en elkeen op sy eie manier. En een ding is soos ‘n paal bo water, en dit is dat dit nie saakmaak hoe ander jou sien nie, en selfs ook nie hoe jy jouself sien nie. Hoe groot jou maatskappy is of hoe bankkrot jy is nie, of iemand jou produk koop en aandele wil besit, of jy ‘n enorme groot gebou is, of ‘n straatverkoper, suksesvol of ‘n mislukking is of voel, ‘n Armani pak aanhet, of sommer met jou “stokies” rondloop nie – die een ding wat altyd vir ons hoop gee, die een “persoon” wat enige tyd al ons aandele sal koop en al my produk sal opraap, vir wie my kurwe op die grafiek niks beteken nie, vir wie my balansstaat en inkomste en uitgawestaat nie saakmaak nie, is die almagtige God!

Dit is die enigste hoop waarop ek my fokus kan stel, en deur Sy oe wat ons na die mense rondom ons moet kyk en in besonder na onsself!!!!

No comments:

Post a Comment