Tuesday, July 12, 2011

Kommunikasie

So 'n paar weke gelede sit ek in 'n onderhandeling met 3 Chinese. Die eerste verstaan so 'n bietjie engels en alles word aan hom verduidelik. Hy verduidelik die informasie in Chinees aan die eerste en op sy beurt praat die tweede met die derde.

Die kommunikasie gaan heen en weer, want die derde verstaan nie die dialek van die eerste nie. Dit het vir ure so aangegaan, en jy kan jouself indink hoeveel misverstande daar was.

Amper soos die speletjie wat ons op kampe gespeel het, waar ons in 'n kring staan en 'n woord in die rondte fluister. Aan die einde fluister die laaste persoon weer die woord aan ons en ons lag ons morsdood oor watter woord by ons uitkom aan die einde.

Ek dink toe daaraan hoe die onderhandeling 'n goeie voorbeeld van ons wereld is. Elke mens is eintlik sy eie land, met sy eie taal. Die rede is dat taal is nie iets wat sommer net eensklaps ontwikkel het nie, maar deur ervarings van eeue. Om die rede is elkeen van ons se "taal" ontwikkel deur ons afkoms, ervarings en kennisvlakke. Maar ook is geen taal superieur aan 'n ander nie, want jy kan groot woorde gebruik, maar in klein woordjies dieselfde boodskap oordra.

Mense wat werklik die kuns van die lewe het, is mense wat kan kommunikeer, mense wat kan hoor en wat hulleself verstaanbaar maak. Geen kommunikasie kan plaasvind sonder die twee komponente nie.

Ek is gladnie so 'n goeie kommunikeerder nie, aangesien dit vir my moeilik is om twee dinge te doen, myself uit te druk oor hoe ek werklik voel, en aan die ander kant werklik die insig in iemand anders se woorde te he.

Ek dink dat kommunikasie beslis 'n emosionele oefening is wat begin by hoe belangrik die proses vir my is. As ek in 'n winkelsentrum loop en hoor hoe Chinese praat wat niks met my uit te waai het nie, is dit totaal onbelangrik vir my. As dit aan die ander kant, soos in 'n besigheidstransaksie, vir my belangrik genoeg is en word, doen ek ekstra moeite met die proses.

Dit is hoekom ons, wanneer dit werklik op die keper kom, begin luister, omdat ons besef wat ons kan verloor. As ons die belangrikheid van die "hoor" verstaan, dan luister ons aandagtig.

Kinders wil nooit in die aande gaan bad nie, en 'n mens praat eers mooi, dan vermanend en dan eindig dit dalk in 'n skree-sessie. Met die skree-sessie en ultimatums van 'n loesing, hoor kinders jou onmiddelik en hardloop hulle badkamer toe en spring in die bad, want hulle besef die konsekwensies. Dit is die basis van goeie effektiewe kommunikasie, die belangrikheid daarvan.

Ons moet besef dat wanneer iemand met ons kommunikeer, selfs oor iets so eenvoudig soos om te gaan bad, daar 'n spesifieke rede en behoefte by hulle is hoekom hulle dit doen. As dit nie belangrik was nie, hoekom sal ons dan kommunikeer?

Dit is natuurlik in verhoudings een van die grootste klagtes by mense dat hulle nie "gehoor" word nie. Dit word in werklikheid 'n emosionele saak, want as ek voel ek nie gehoor word nie, dink ek dat jy nie belangstel of werklik vir my omgee nie. Dit is soos om met iemand te praat terwyl hulle besig is met ander dinge soos om op hulle selfoon te kyk en nie oogkontak te maak nie.

As ons dus rerig 'n sukses van verhoudings wil maak, moet ons mense laat ervaar dat hulle opinie en woorde vir ons belangrik genoeg is.

Een van die oulikste boeke wat almal seker gelees het is: "How to win friends and influence people" van Dale Carnegie wat die eerste keer in 1936 geskryf is. En in daardie tyd is hy gesien as een van die beste kommunikeerders. Carnegie is op een stadium genooi na 'n partytjie vir die aansien wat hy het. Na die tyd vra iemand vir die gasvrou of sy dink dat hy die wereld se bester kommunikeerder is, en haar antwoord was: "Ja, beslis!". Sy vra haar toe uit wat Carnegie gesê het, en haar antwoord was dat hy die hele aand niks anders gedoen het as om mense uit te vra na hulle lewens nie.

Hierin sien ons weereens, kommunikasie is nie om JOU boodskap oor te dra nie, maar om mense belangrik te laat voel, maar ook om 'n kykie in hulle lewens te kry en HULLE (taal, agtergrond, denke, filosofie en konteks) te verstaan. Dit gee natuurlik aan ons 'n idee van met watter woorde en op watter wyse ons ons boodskap aan hulle kan oordra. Van daar die spreekwoord oor kommunikasie: "First seek to understand, before you can be understood".

Carnegie het deur net vrae te vra niks van sy eie denke gekommunikeer nie, maar eerder mense belangrik laat voel en mense eerste gestel. Mense laat voel asof hulle idees en denke en konteks vir hom belangrik was. Of ons nou daarvan hou of nie, mense hou daarvan om oor hulleself te praat.

Ek dink dit is wat Facebook se skepper Mark Zuckerberg besef het en hoekom sosiale netwerke so 'n ontploffing ondergaan het, want dit is 'n plek waar jy oor jouself kan praat en kan spog met jou kinders se prestasies en waar jy jou foto's met mense kan deel. Dit is ook hoekom hy plek gelaat het vir "like" en vir kommentaar.

So kan ons baie maklik mense se lewens ondersoek en hulle konteks en profiel verstaan uit dit wat hulle op facebook sê en doen. Mense voel goed en belangrik wanneer hulle oor hulleself kan praat.

Ons kan ure filosofeer oor of die goed of sleg is, maar die uiteinde daarvan is dat mense nou maar eenmaal so is.

Wat verder kommunikasie bemoeilik is dat mense hulleself nie heeltemal kan uitdruk en sê wat hulle werklik dink en bedoel nie. As dit by verhoudings kom is dit nog moeiliker, aangesien sekere emosies nie in woorde omgesit kan word nie. Ek dink dit is die filosoof Heidegger wat gesê het dat ons probleem baie keer deur ons taal kom en dat daar nie noodwendig uitdrukking aan dinge in woorde gegee kan word nie.

Mense wat hulleself en hulle eie konteks en die taal wat hulle praat goed verstaan, kan baie makliker vir jou so naby as moontlik bring aan hoe hulle werklik voel en verstaan word.

So, ons moet ons eie taal en konteks verstaan, en ook die ander persoon s'n, en nie aanneem dat almal dieselfde taal en ervarings en afkoms as ek het nie. Ons hou natuurlik meer daarvan om ons te omring met mense wat ons taal praat, maar moet vir geen oomblik dink dat omdat dit dieselfde klink dat mense dieselfde bedoel met dieselfde woorde nie.

Ek het familie in Nederland, en ek het altyd gedink dat Nederlands dieselfde is as Afrikaans, maar tot my verbasing was ek al telke kere met 'n rooi gesig omdat woorde dieselfde klink en geskryf word, maar as gevolg van konteks is die betekenis daarvan verskillend. Dit bring ons weer terug na die verstaan van ander mense en hulle taal.

Wanneer ek in 'n vreemde land gaan toer, vind ek tog bietjie uit oor die land en watter taal hulle praat. Ek koop 'n woordeboek wat vertaal vanuit 'n taal wat vir my bekend is na die ander taal en wat dit dan kan terugvertaal. Alles kom terug ook na jou eie konteks en jy moet ook verstaan dat jy met almal met wie jy deel, 'n vertalende woordeboek gebruik.

Hoe beter jy jouself en jou eie konteks verstaan, hoe beter kan jy jouself uitdruk en hoe makliker word jy ook gehoor.

My pa het so 'n bietjie gesukkel om engels te praat, soos meeste afrikaners van sy tyd. Hy het altyd gesê dat die probleem is dat hy in Afrikaans dink en dan die frase wil vertaal. Klein kindertjies is hiermee ongelooflik, want hulle tel 'n taal so vinnig op, want hulle verwysingsraamwerk is soveel kleiner. So alhoewel jy jouself en jou taal goed moet ken om te kan vertaal, kan dit soms ook in ons pad staan. Alhoewel jy jouself baie goed moet kan uitdruk, moet jy ook outomaties begin om binne die konteks van die mense om jou te kan praat. Deesdae dink ek nie meer wanneer ek Engels praat nie, ek doen dit outomaties.

Ons is nogal uniek in Suid-Afrika waar ons soveel tale het, en ons sien hoe mense oopmaak teenoor ons wanneer hulle agterkom dat ons hulle taal magtig is, en hulle akkomodeer. As ons mense met hulle konteks nie so akkomodeer nie, ontstaan daar spanning en spanning lei tot konflik.

Kommunikasie tussen twee mense word baie eenvoudiger as ons ons taal met mekaar kan deel, en hulle dialek verstaan. So baie mense weet dat meeste kelners in restaurante deesdae van ander lande kom, maar hulle wil om die dood in Afrikaans bedien word. Hoeveel makliker is dit nie om net eenvoudig na 'n gedeelde taal soos Engels my kos te bestel nie?

Maar dit is weereens 'n voorbeeld waar mense net gehoor wil word, maar nie wil hoor of ander mense wil akkomodeer nie. Dit is presies wat ons in ons verhoudings en lewens doen, dit gaan altyd net oor my en myself.

As ek in 'n vreemde land kom waar hulle nie verstaan nie, gaan Afrikaans my nie baie ver bring nie. Ek moet selfs partykeer as ek na die stasie soek, oorskakel na klanke soos "Tjoekoe Tjoek" vir mense om te verstaan waarheen ek wil gaan.

So, hiermee eintlik 'n stuk vir myself en uit myself om met myself te praat en vir mense te wys dat hulle vir my belangrik is, na hulle te luister. Ook moet ek leer om hulle eers te verstaan voordat ek verstaanbaar gemaak kan word. Ek moet my eie taal wat ek praat vir die mense om my leer, en nie net aanneem dat hulle taal my taal ook is nie, en hulle taal outomaties te kan begin verstaan. En laastens, myself so goed te ken dat ek selfs in tjoek-tjoek woordjies, vir mense presies te kan sê wat ek bedoel, in hulle konteks gemeng met my konteks, maar in 'n taal wat hulle verstaan.

Lekker verder dink



Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

No comments:

Post a Comment