Monday, August 1, 2011

Tien Gebooie

Kom EK help jou vandag. Jy sien, dalk kyk jy verkeerd na die lewe om jou. EK wil graag sien dat jy na jouself en die lewe kyk soos EK na jou en almal om jou kyk.

EK is DIE God, jy ken MY en het gesien hoeveel wonderlike dinge EK vir jou al gegee en gedoen het. EK wil nie he dat jy moet voel asof jy MY nou iets skuld nie, EK het dit vir JOU gegee sonder dat jy dit verdien. EK het vir jou vrye wil gegee, en jy kan ook besluit om MY nie eerste te stel nie, maar omdat jy vir My spesiaal is, wil ek graag he dat jy MY moet kies om saam mee te lewe. EK weet dit is nie altyd maklik nie, want die mense en wêreld rondom jou gee nie altyd plek vir so ‘n verhouding met MY nie, maar EK wil nie he jy moet sukkel nie, en daarom maak EK dit eintlik maklik vir jou.

Kom EK verduidelik vir jou hoekom julle so sukkel.

Daar gaan baie dinge rondom jou wees wat jy gaan dink belangriker as Ek en jy is. Jy gaan partykeer dink dat jy mense en beelde en idees belangriker moet maak om suksesvol te kan wees in die lewe. Jy spandeer soveel tyd om die wiel weer uit te vind. Hierdie dinge gaan jou verhouding met My laat skade ly. Al hierdie ander dinge gaan jou probeer oortuig dat hulle belangriker is en beter is vir jou. Onthou, dat Ek alles kan doen, en dat alles anders onder MY en My beheer is. So, moenie hierdie onbelangrike dinge tot gode maak nie, jy het mos klaar vir MY gekies. EK gaan nie baie gelukkig wees as jy hierdie ander dinge dien en belangriker maak as EK nie, want dan gaan jy ONS afskeep, en dit is nie goed vir jou nie. Dit is ook so ‘n bietjie disrespekvol teenoor MY, want as jy ander dinge gelykstel aan MY, misken jy MY en maak asof ek nie DIE God is nie. Dalk is dit hoekom jy nie mense inspireer om in MY te glo nie, want jy dink nie meer so baie van MY soos jy moet nie. Jy het mos nou al gesien hoeveel keer die dinge nie vir jou gewerk het nie en jou in die moeilikheid gebring het. Alles wat jy kies het gevolge, en as jy hierdie ander gode kies, het die implikasies vir die wêreld, almal om jou en ook jou kinders. So, as jy vandag en elke oomblik van jou lewe reg kies, sal jou lewe goed wees en sneeubal vir selfs almal wat jare na jou gaan gebore word.

EK praat en tree altyd mooi op as dit oor jou gaan. EK beskerm jou en jou naam orals, selfs by mense wat nie van jou hou nie. Daarom wil ek hê dat jy MY ook so moet beskerm. As iemand sleg van my praat, moenie saam praat nie, maar beskerm MY eer voor hulle. Wys ook vir mense in jou hele lewe dat EK en jy ‘n verhouding het, en praat altyd mooi van MY.

Erens in hierdie besige wêreld van jou, maak tyd vir ONS. Ek keer jou nie om al die dinge te doen wat vir jou lekker en belangrik is nie, maar geen verhouding kan werk as ons nie spesiale tyd met mekaar maak nie. Dit is ook goed vir jou, om net soos EK gemaak het, erens net bietjie te stop, te rus en weer te fokus van al die geraas rondom jou. As dit vir MY gewerk het met die skepping, hoeveel te meer het jy nie nodig om ook rustig en stil te word saam met MY nie. Dit gaan jou ook so ‘n kansie gee om te dink oor wat jy mee besig is.

Kyk met watter respek hanteer EK mense om jou, EK laat selfs plek en sukses toe, selfs al glo mense nie in MY nie. EK is lief vir almal, en so moet jy ook wees met alles en almal rondom jou. Weet dat mense nie altyd beplan om lelik met jou te wees nie. Daarom moet jy, omdat almal MY kinders is, met mense om jou mooi wees, al stem hulle nie saam met jou nie. Onthou, net soos jy, probeer mense almal hulle bes. Jou pappa en mamma doen ook maar wat hulle kan, en gee baie vir jou. EK het hulle vir JOU gekies, omdat ek gedink het dat hulle waardig is om hierdie klein bondeltjie kind van MY groot te maak. As ek hulle gekies het vir JOU, hoekom sal jy dan nou beter wil weet. EK weet dat hulle nie altyd die regte dinge doen nie, maar hulle probeer. EK het baie dinge saam met hulle deurgemaak, en EK weet hulle sal alles vir JOU doen.

Al die ander mense om jou is vir MY belangrik. Moet nie lelik praat oor MY kinders om jou nie (al praat hulle lelik van jou), moet hulle nie seermaak nie (al maak hulle jou seer), Moenie skinder nie (al skinder mense oor jou), Moenie hulle seermaak deur hulle goeters vir jou te vat nie (al vat hulle jou goeters), Moenie dinge sê wat nie so is nie (selfs nie eers ‘n wit leuentjie nie). As jy ‘n leuen vertel, leef jy ‘n leuen en krap jy die hele balans van die lewe om en skep ‘n lewe wat nie eg is nie.

Onthou die wêreld gaan nie net oor JOU nie, maar oor MY. Moenie dink dat EK ander mense meer liefhet as vir JOU net omdat hulle dalk iets mooier het as jy nie of iets kan doen wat jy nie kan nie. EK gee vir elkeen ietsie besonders. EK kies om vir JOU te gee wat EK dink goed is, moenie dan my geskenkies in die kas bere en wens dat EK eerder vir JOU gegee het wat EK vir ander gegee het nie. EK het alles in jou lewe SPESIAAL vir JOU uitgesoek, en omdat jy MY liefhet, vertrou MY. EK het stukkies van MYSELF afgebreek en vir jou saamgegee om hierdie wonderlike lewe te gaan ervaar, saam met MY. Gaan leef jou eie lewe, en moenie in ondankbaarheid die hele tyd wens dat jou lewe anders was nie, glo MY, jou lewe is PERFEK, jy het ALLES en EK is by jou.

Hierdie dinge sê EK omdat ek jou liefhet en die beste vir jou soek. Dit is nie moeilik nie, lag en spring en speel saam met MY. EK is lief vir JOU!!

No comments:

Post a Comment