Monday, July 18, 2011

En-En

Jy kan maar net deur jou facebook muur gaan en dan sien jy hoe ons almal soek na die antwoorde van die lewe. Elke dag “graffiti” ons talle aanhalings en ervarings wat maar bewys dat ons soekend is. Dit is veral waar in ‘n wereld soos ons vandag leef. Dit wil voorkom asof die groot skip van sekerheid verruil is vir ‘n klein hangkasdeur, wat ons elke dag met omstandighede meesleur, en wat sukkel om die golwe te kan breek. Asof die resep wat altyd gewerk het nie meer werk nie, en ons soekend is na die een antwoord.

Orals om ons soek die boeke, tydskrifte, Oprah, Dr Phil en almal na die resep en na die antwoord wat jy logies kan navolg om jou lewe sinvol te maak. Wat gebeur is dat ons dan van een resep na die volgende spring, en in ander se skoene en voorbeelde wil leef.

In tydskrifte is daar elke maand ’n ”Hoe om” artikel oor 6 maniere om ’n vrou te vang of 10 oefeninge vir ’n plat magie. Die wereld word in tye vasgevang in die filosofie van boeke soos ”the alchemist” en ”the secret”.

In die 90’s het alle besighede tot vervelens toe strategiese beplannings opgestel met missie, visie en aksieplanne. In persoonlike ontwikkeling het daar baie boeke ontstaan om jou te laat dink oor waar jy met jou lewe wil wees oor 5 jaar of wat jy op jou grafsteen wil sien. Dit alles net om nou na ’n paar jaar te sien dat ons onsself baie goed geposiosioneer het vir ’n wereld wat nie meer bestaan nie. En dan gebeur daar iets vreemds is dat mense soms, net soos in die ”hoe om” artikels, telkens weer verval in ou patrone, of in nuwe resepte. En een van die probleme is dat ons die dinge elk so verabsoluteer dat ons alles anders saam met die baba by die venster uitgooi. Dalk is dit die logiese wereld van wiskunde wat ons geleer het om so te dink.

Ek het vriende wat ongelooflik kos kan maak. Hulle het almal in hulle koppe presies hoe om ’n potjie te maak, maar hulle weet dat dit oor meer gaan as die resep, die beskikbaarheid van bestandele, die stoof en kultuur. My kos proe nie dieselfde as Jamie Oliver s’n nie, want ek pas digterlike vryheid toe op kosmaak en eksperimenteer oor hoe ek my pot wil maak.

Die logika en resepte is natuurlik goeie hulpmiddels wat ons wereld makliker, hanteerbaar en georganiseerd maak. Maar wanneer ons oor emosies en denke praat is dit nie altyd so maklik nie. Die probleem is die paradokse wat daar is rondom ons elke dag. ‘n Paradoks is juis dit, dat dit te midde van die logika en resep vir ons die ander kant wys, en ook dat konteks die resep kan buig.

Einstein praat van die paradoks van die tweeling. Die eerste bly op aarde en die ander een snel in die ruimte teen die snelheid van lig. Na ’n klompie jare kom die een in die ruimte terug en wat het gebeur, die een wat op aarde was is ouer, al is hulle ’n tweeling. Dit is vreemd aangesien beide van hulle in effek ewe oud is as ons ons konsep van tyd verabsoluteer. Tyd is dus relatief.

Die ander paradoks is die paradoks van die pyl en boog. As ek ‘n pyl uit ‘n boog skiet, dan sien ons almal hoe hy beweeg en vlieg. Sou ek die vlug van die pyl opbreek in momente, elke moment wat ek die pyl obserweer, dan staan die pyl in die oomblik van obserwasie eintlik stil. Dit is vreemd aangesien dit tog beweeg, maar stilstaan in die oomblik. Beweging is dus relatief.

In Literatuur en taal se Oscar Wilde “I can resist anything, except temptation”. Curry se paradoxks: "If this sentence is true, the world will end in a week”. Nihilistiese paradoks: “If truth does not exist, the statement "truth does not exist" is a truth, thereby proving itself incorrect”. Epicurean paradoks: "The existence of evil seems to be incompatible with the existence of an omnipotent and caring God". Almagtige God paradoks: "Kan ‘n almagtige wese ‘n klip skep wat selfs vir Hom of Haar te swaar is om op te lig?"

In die Bybel lees ons van God wat goed is en dat die onheil deur die ander kant (die duiwel) veroorsaak word. Die tien gebooie leer ons ook dat egbreuk sonde is. 2 Samuel 12:11 – So se die Here: “Kyk, Ek sal uit jou huis onheil oor jou verwek, en jou vroue voor jou oe neem en aan jou naaste gee, sodat hy by jou vroue sal slaap voor die oog van hierdie son.”
Ek wil nie graag hier vreeslik oor hierdie paradokse redeneer nie, maar die punt maak dat baie van die resepte van die lewe, dinge wat ons vas in glo en geen beheer oor het nie, relatief kan wees en kan afhang van allerhande dinge soos konteks en sienswyse.

Dit wil voorkom asof ons so geprogrammeer is dat ons ‘n antwoord soek. Die uitdaging is dat die wereld rondom ons elke dag verander, en alhoewel ek standpunte soos geloof en waardes en norme kan huldig, dit tog moeilik word om dit in ‘n wereld te kan toepas. In hoe verre moet ek dit wat ek standvastig in glo die wereld laat verander, en in watter mate moet ek die wereld my laat lei in die maak van my besluite?

In die soeke na die antwoorde hiervan, moet ons natuurlik ook ons konteks verstaan. Omdat ons meestal vanuit ‘n Calvinistiese stelsel grootgemaak is, is dit ons tweede natuur om dinge te kies wat ons onomwonde in glo, en alles wat daarteen indruis te veroordeel.

In die Bybel lees ons die verhaal van Barnabas en Paulus wat saam op ‘n sendingreis gegaan het. Barnabas en Paulus was boesemvriende en het dieselfde passie gedeel vir die verkondiging van Jesus se boodskap aan mense. Barnabas het toe ‘n boodskap gekry dat sy pa oorlede is in Jerusalem, en het besluit om terug te keer na Jerusalem om sy ma te gaan bystaan. Dit was vir Paulus ‘n ongelooflike slag en hy het dadelik Barnabas se geloof in twyfel getrek. Uit sy oogpunt, was niks anders meer belangrik in die wereld nie, net geloof en om te die boodskap van Jesus oor te dra. En hierdie tipe van oordeel is in elkeen van ons, en dit is die gevaar van “resepte”.

Ek kan dink dat jy, die oomblik wat ek die paradokse gelys het, graag daaroor wou redeneer. Ek dink een van die grootste dinge wat ons doen, en dit is uit ons afkoms van oordeel, dat ons nie kan glo dat 2 of meer standpunte wat mekaar weerspreek, op dieselfde oomblik kan bestaan nie. Ons moet mos ‘n konklusie maak, wat is nou reg en wat is verkeerd.
Die lewe is presies soos die pyl uit die boog wat terselfdertyd stilstaan en beweeg. In alles van die lewe vind ons hierdie paradokse. Hoe ek ookal beplan en glo en doen, dinge werk nie altyd uit soos ek dink en wil en glo nie.

Wat dit eintlik beteken is, ek is totaal en al geregtig op my geloof en wat ek wil dink oor die lewe, maar terselfdertyd kan ‘n ander se standpunt ook ‘n plek he, en kan dit dalk my standpunt beinvloed. As Jona nie werklik fisies in die vis was nie, beteken dit dat my hele geloof by die venster uitgegooi word? Natuurlik nie, want die boodskap het geensins verander nie.

Al die moeilike vrae in ons lewens het nie altyd ‘n antwoord nie, veral as dit by spiritualiteit en emosies kom, die sagte issues in die lewe. Salomo het self gese dat hy sekere dinge nie verstaan nie, soos hoe ‘n voël in die lug bly en hoe die liefde tussen ‘n man en ‘n vrou werk. Die realiteit is, dat al verstaan ons nie hoe dinge werk nie, die voël bly steeds in die lug.

So, wanneer dinge in die lewe nie altyd sin maak nie, alles is nie veronderstel om logies volgens ons sin te maak nie. Baie dinge in die die lewe is nie die een antwoord nie, maar ‘n rigtingwyser na iets anders. Alles hoef nie die finale antwoord te wees nie, en 2 logiese teenoorgestelde dinge kan op dieselfde tyd een ruimte okkupeer.

Ek noem dit graag die en-en konsep, teenoor die of-of konsep van hoe ons na die lewe kyk. Dit gaan dus daaroor dat ek mag my opinies en idees huldig, maar ek moet nie alles wat daarvan afwyk oordeel net omdat dit nie dieselfde is nie. Weet en verstaan dat oordeel gevaarlik kan wees, en erken jou eie vooropgestelde resep waarmee jy oordeel met die spieel wat jy dink wat reg is.

Om te dink dat jy reg is is een saak, maar om te dink dat jy die enigste is wat reg is, dit is waar die probleem insluip.

Dink lekker verder daaroor: "En-En teenoor of-of"

No comments:

Post a Comment