Daar is niemand wat werklik daarvan hou om eksamen te skryf
nie. Dit is een van die mees
vreesaanjaende dinge wat jy kan doen. In
my ervaring was dit nog erger, aangesien ek meeste van die tye nie goed genoeg
voorbereid was nie, nie dat jy ooit volledig en perfek voorbereid kan wees
nie. En daar is natuurlik soveel stories
en teoriee van mense wat vir jou ‘n hele boel dinge kwytraak oor hoe jy met
hierdie tameletjie moet omgaan.
Hulle vertel jou om goed op te let in die klas en natuurlik
goed voor te berei. En daar is ‘n legio
van kursusse en programme wat vir ons leer hoe om te leer. Of dit kopkaarte is of om op die dak te gaan
leer, tot en met watter tipe breinkosse jy moet eet of ook die musiek wat jy
kan luister om die breingolwe te verander.
Maar soos die een oom ook gese het, “Gat in stoel, tot jy klaar is”, is
seker ook ‘n manier. Allerhande faktore
speel ‘n groot rol, maar een ding is seker, dit is nooit die heel lekkerste
ding om te leer nie, al probeer jy dit met allerhande stories inkleur.
My ma is ‘n serious akademiese mens, soos dit vir my klink
het sy baie van leer en akademie gehou, so ‘n regte pliggie in haar tyd, dink
ek. Tot haar verbasing was haar bloedjie
gladnie so nie. Ek het eers later
agtergekom dat ek eintlik baie aandag afleibaar is. Dit beteken nie dat ek dom was nie, en ek was
gelukkig om baie dinge akademies te kon bereik, maar ek sal nie akademie as een
van my lekkerste dinge opgee van wat ek myself mee besig wil hou nie. Geen van die sypaadjie sielkunde het met my
gewerk nie, veral nie as my ma gese het:
“My kind, dink so daaroor, dit wat jy nou moet deurgaan is ok, want dink
net, more middag hierdie tyd is jy klaar en dan kan jy doen net wat jy
wil”. O, nee, dit het nie vir my
enigsins die swaarkry met lekkerkry laat klaarkry het nie.
My ma het ook haar eie hulp aangebied oor wat om te doen
daardie oomblik wat jy wel die vraestel voor jou het. Sy het my geleer dat ‘n mens nugter en rustig
moet wees in die tyd van eksamen skryf.
Ek het daardie paar minute voor die eksamen gehaat. Veral op universiteit het ek in Teologie baie
minderwaardig teenoor die ander studente gevoel. Mense wat regte en ander goeters as Teologie geswot
het, sal nooit besef hoe absoluut gefokus teologie studente op Universiteit is
nie, moontlik as gevolg van die feit dat hulle dit as ‘n roeping sien.
Gewoonlik, net voor jy by die eksamenlokaal aankom, het jy
uit ordentlikheid mekaar gegroet en in sulke groepies gestaan en gesels. Dit is gewoonlik in daardie oomblik wat ek
besef het dat ek heeltemal te min geswot het, want my mede studente het my so
bang gepraat oor die dinge wat hulle wel geswot het. Vir my was die swottings baie keer soos om
lotto te speel, want my studenteaktiwiteite het my so besig gehou dat ek
net-net tyd gehad het om te spot vir die eksamen. Ek moet ook met skaamte se, dat ek ook nie
genoeg in die klas was om konstruktief te kon spot nie, want spot werk slegs as
jy genoeg kennis insamel om eers te weet wat om te spot. Dit nou ter syde, dit is juis in hierdie
groepies waar my stress tot sy hoogste gedryf is, want eintlik het ek besef dat
ek rerig te min geswot het en gladnie weet hoe ek die eksamen gaan deurkom nie.
Met hierdie spanning en skuldgevoel van lui wegsteek het ek
my plek ingeneem. Soms het dit nog
vererger met die instap wanneer jy die professor sien, en hy so ‘n amperse
gryns-lag op die gesig het wat jou laat dink dat hy iets in die mou voer. Ek onthou in Nuwe Testament in my vierde jaar
wat die professor 3 van ons voor die eksament vorentoe geroep het om, op grond
van ons jaarpunte, reeds ons her-eksamen te skeduleer omdat hy geen kans vir
ons gegee het om daardie dag ‘n haas uit die hoed te trek nie. (Ek het hom gewys, ha-ha, en nie nodig gehad
om die her te doen nie).
En jy kan eintlik nie wag vir die vraestel om uitgedeel te
word sodat jy dit nou net kan klaarkry nie.
My ma het my probeer leer om in die oomblik te probeer rustig te wees,
hoe onmoontlik en moeilik dit ook voel.
Omdat sy jare lank wiskunde vir matrieks gegee het, het sy ‘n geheim met
my gedeel.
Haar vraestelle was so in 3 tipe vrae opgedeel. Die eerste deel was die “maklike” vrae, dinge
wat almal eintlik sonder voorbereiding moet weet en kan doen. Dit was so 30% van die vraestel. Die tweede deel is die “dink” vrae, waar jy
so effens meer breinkrag nodig het. Dit
is so 50% van die vraestel wat jou vaardigheid toets, hier kan jy verstaan dat
jy gaan foute maak. Dan in die laaste
gedeelte, so 20%, is werklik ingestel om die kaf van die koring te skei, en
waar sy haar top leerders getoets het om onderskeidings te kry.
Sy het my rustig gemaak om te besef dat jy nie alles in die
vraestel 100% sal kan doen nie, om dit te weet maak jou al klaar rustiger. Dan ook, om te onderskei watter vrae in
watter kategorie val, en om jou confidence op te kry deur eers die maklikste
vrae eerste aan te pak, dan die vaardigheidsgedeelte en as jy tyd het die
onderskeiding vrae. Wanneer jy in
daardie volgorde dit doen, kan jou brein rustig word en dit voel asof jy beheer
het oor die vraestel.
Later het ek besef hoe dit ‘n bloudruk dit vir ons lewens
is, en dit is eintlik veronderstel om die natuurlike ingesteldheid te
wees. Waar ons hier vandag sit, is daar
soveel dinge wat ons dink, voel en ervaar.
Hierdie is eintlik ‘n eksamen wat ons almal besef nie een van ons ooit
op voorbereid kan wees nie. Jy kan in ‘n
groepie huddle en hoor hoe almal hulle stories vir jou spin, maar glo my,
niemand weet nie. As ek net hoor hoe dit
kenners van virusse verskil oor wat moet en nie moet nie, besef jy, op die
oomblik is niemand slim nie, hulle “klink” net slim. Ons gaan hopelik hierdie eksamen slaag, maar
niemand gaan hier 100% kry nie, en min gaan ‘n onderskeiding kry. En ook iets wat ek by my ma geleer het, doen
jou bes, nie almal is gemaak om onderskeidings in Wiskunde te kry nie, maar dit
beteken nie dat jy nie volgens jou vermoe die beste moet probeer nie.
Ons is nou so halfpad deur 21 dae van lockdown, en maak nie
saak wie jy is nie, almal van ons soek betekenis uit hierdie situasie. En hier is my raad uit my ma se wysheid oor
hoe ek dink ons dit moet aanpak.
1.
Daar is
dalk ‘n moontlikheid dat hierdie ding verleng kan word, maar fokus ook op hoe
lekker jy gaan voel wanneer hierdie ding verby is. Die eksamen gaan nie weg nie, ongelukkig kan
jy nie registreer vir ‘n sieketoets met ‘n doktersbrief nie. Hier moet jy deur, maar dink tog aan dat jy
weer alles gaan kan doen wat jy wil, wanneer die eksamen verby is. Alhoewel almal vir jou vertel om in die NOU
te leef, verstaan ook dat sonder drome die lewe baie saai en depressief gaan
wees.
2.
Kry jou kop reg wanneer jy daar sit en eksamen skryf,
en fokus. Jy is nou hier, om die hele
tyd te dink aan alles wat jy anders sou wou doen en aan FOMO te ly, gaan jou
niks in die sak bring nie. Jy is hier,
wees bewus van waar jy is en moenie nou dink aan hoe die “professor” jou nou
van ‘n klomp dinge ontneem nie. Dit gaan
jou nou niks help nie. Dit help ook
gladnie om jouself nou te belowe dat jy volgende keer harder gaan leer en beter
keuses wil maak nie, want jy het nie, en die kanse is dat jy ook nie gaan nie.
3.
Organiseer die vrae wat aan jou gestel word,
soek die maklikes, en doen dit eers. Kry
beheer deur dit te doen wat jy wel kan doen, skottelgoed, lekker kos maak, TV
kyk, lees, bad, tandeborsel, gras sny, klere was en tande borsel. Dit is dinge wat “makliker” kom en waaroor jy
beheer het, doen dit eerste, elke dag.
Jy sal vinnig besef hoe jou kop draai wanneer jy buite beheer, in beheer
voel.
4.
Die middelste gedeelte gaan jouself bietjie
uitdaag, en is dinge waaroor jy effens sal moet dink. Maar, erens in jou het jy die formules. Dit is nou wanneer jy kans kry om die teorie
wat jy versamel het, toe te pas. Maak
nou tyd vir die goeters wat jy nog nooit gedoen het nie, byvoorbeeld navorsing
of jou boek skryf of klere kleiner of groter maak of jou garage
uitsorteer. Bietjie dinge wat jou
uitdaag, soos daardie ou wat die Comrades die naweek in sy tuin gehardloop
het. Doen iets wat jou dwing om nie net
‘n asemdief te wees nie. Dit is die lyf
van die eksamen, 50% daarvan.
5.
Wanneer dit by die onderskeidingsvrae kom, soos vrae oor die “sin van die lewe”, of “het
ek die regte keuses gemaak?” of “is ek by die persoon by wie my hart is” of
“hoe ek my lewe gaan rig na hierdie”, dit is dinge wat belangrik is om jou te
onderskei, maar jy kan dit tog nie aanpak as jy nie eers die confidence het
nie.
Dit is belangrik dat jy die sequence regkry, eers te doen
wat normaal kom, dan bietjiie dabble om jouself uit te daag, as ‘n basis van
waar jy hierdie moeiliker vrae kan begin antwoord. Hierdie is deel van die vraestel, en jy kan
dit nie oorkom nie, maar as jy by die moeilike begin, gaan jy dalk so moedeloos
word omdat jy nie die antwoorde het nie, dat jy sommer gaan moed opgee en selfs
nie eers kans sien of tyd het vir die eerste twee nie. En ook, die eerste twee gaan jou nie net
confidence gee nie, maar gaan jou ook help op ‘n ander manier met die
onderskeidingsfase.
As jy die normale en uitdagings aangepak het, gaan jy besef
dat jy waarde het, maar nog meer, jy gaan sekere keuses kan maak, want dit is
waar die leiding gesetel is. As jy
skielik besef hoe lekker of aaklig dit vir jou is om vir die mens wat hier saam
met jou is, met passie of renons kos te maak en jy kan saam lag of afkraak oor
hoe jy die besem vashou, dalk beinvloed dit jou denke oor jou toekoms en die
sin in die lewe.
Wanneer jy dalk sien hoe jou huweliksmaat of kinders se
selfsug jou lei om jou af te sloof en hulle doen niks, gaan dit jou dalk laat
besluit om jou sin in die lewe te begin af te dwing. Of dalk besef jy hoe ongelooflik die persoon
hier langs jou op die bank is en dat jy jou alles vir haar of hom sal wil
gee. Dalk besef jy dat jy finansieel
swak besluite gemaak het, en jy dalk beter keuses in die na-tyd moet maak om
geld weg te sit in ‘n noodfonds, en te spaar.
Miskien besef jy dat jou hardegat houding of ingee oomblikke jouself
ongelukkig en eensaam maak, so jy kan dan besef waaraan en aan wie jy in die
na-tyd moet werk. Jou eensaamheid laat
jou dalk besef om nie so vol strooi te wees nie, maar jou oop te stel vir
liefde en vriendskappe wat jy nie gedink het jy nodig het nie. En dalk bewys jou normale en uitdaagdinge aan
jou dat jy totaal en al op ‘n verkeerde pad is, in ‘n verkeerde verhouding is
of ‘n totaal simpel beroep is of dat jy totaal en al op die regte pad is.
Die belangrikste van die hele boodskap hier is, die eksamen
is ‘n eenheid, daar is die 3 tipes vrae, maar moenie eers begin met die
moeilikste nie, want dit dien nie noodwendig die ander twee nie. Maar, as ek dit in sequence van maklik na
moeilik doen, dien die eerste twee my in die moeilikste vrae van alles. Dit is die circle of life, wie jy is, dan jou
uitdagende dinge en uiteindelik jou idee van sin van die lewe. En dan die belangrikste is, daar is altyd
groei, want die gaan beslis nie ons laaste eksamen wees nie. Handewas het nou by sommige mense skeilik tweede
natuur geword, wat lei tot uitdagings om jou eie handreiniger te maak, wat jou
vrede gee dat jou kanse om siek te word minder word, en dalk en moontlik ‘n
nuwe besigheid wat jou toekoms kan bepaal, ons sal nie weet nie.
Ek leef tussen baie slim mense, filosowe, dominees en
denkers. Ek lees hulle boeke en luister
hulle video’s, en ek respekteer hulle baie.
Maar een ding wat ons altyd moet onthou, al sien ons hulle as die dux
leerlinge van ons generasie, hulle moet ook eet, hulle moet ook bad en hulle
hande was. Hulle is ook daar in die
middel besig met allerhande uitdagende programme en skryfwerk. Geen persoon kan ‘n onderskeiding kry, as
hulle slegs die 20% sin in die lewe vraag kan beantwoord nie, want dan gaan
hulle pluk! En dan vir jou, al kan jy
nie nou die moeilikste vrae antwoord nie, dit maak nie saak nie, jy kan nog
steeds slaag, so ontspan, haal diep asem en baie sterkte vir vandag.
“All difficult things have their origin in that which is
easy, and great things in that which is small” Lao Tzu