Thursday, April 25, 2013

Ouma se lappieskombers

Ek ontdek nou die dag weer my oumagrootjie se lappieskombers by my ma se huis. Julle wat so oud soos ek is sal dit baie goed ken. In die dae van lappieskomberse het mense nie baie geld gehad nie, en daar was nie wiinkels om elke hoek en draai nie, en al wat mense van Egyption cotton geweet het, was dit wat hulle in die Bybel van Egipte gelees het.

My oumagrootjie-hulle het hulle eie klere en eie beddegoed gemaak, en niks weggegooi nie. Na 'n ruk het hulle 'n klomp van die oorskiet material aanmekaargewerk en 'n lappieskombers gemaak, of soos die Engelse dit noem, quilt.

Ek sit die een aand onder die kombers saam met Robert, my seun, en ek kyk na hierdie lappieskombers. Jy sien, dit is verskillende ontwerpe, teksture en kleure. Ek dink ons sal nie sommer in ons "fancy" winkels twee keer daarna kyk nie. Maar, te midde van hoe dit lyk, is die effek daanvan onglooflik. Dit is snoesig, en werk natuurlik ook baie goed as jy gaan piekniek hou.
Is ons lewens nie maar ook soos 'n lappieskombers nie? Soms kyk jy na al die dinge wat met jou gebeur, en dink dat dit deurmekaar is. Soms maak die sameflansing van dinge net nie vir jou sin nie. Jy kyk na die ander mense en hulle wonderlike warm, dik en satynsagte duvet-lewens en wonder hoekom joune so deurmekaar is. Daar is smake en geure, gebeure wat jou kombersie maar baie "minderwaardig" laat lyk.

Ons kyk op na suksesvolle mense en dink dat hulle altyd alles net maklik gekry het. Ons dink hulle is met die goue lepel in die mond gebore en dat alles "plain sailing" was. Gaan lees bietjie al die biografieë van bekendes, dan sien jy, almal se lewens is maar net een groot lappieskombers. Dit is nie belangrik hoe die lappieskombers lyk of voel nie, maar die uitdaging is dat wanneer alles aanmekaargewerk is, dit sy doel bereik. Soms vra ons vir die Here vir 'n pragtige wit mooi duvet, en vergeet ons om die lappies rondom ons te versamel en onsself warm te maak met ons eie kombers.

As my ouma se lappieskombers kon praat, dink ek die stories wat daar ingegaan het sou fasinerend gewees het. Daardie een lappie wat ouma se voorstellingsrok se oorskiet is, oupagrootjie se uitgaan-hemp, tannie Bertha se trourok en oumagrootjie se bankkussingkies. Om nie eers te praat van al die plekke waar die kombersie was nie, al die pieknieke, oorslape en dinge nie.

Al die gesprekke wat die kombers moes aanhoor, sou gevul gewees het met soveel kennis. Sou ek nie eerder dit soek as 'n vervelige ou wit duvet wat met mooi material in 'n massa-fabriek gemaak is deur masjiene nie. En die belangrikste van die lappieskombers is die liefde waarmee dit aanmekaargeflans is.

Soos julle weet is ek 'n groot aanhanger van Dawid in die Bybel, omdat hy besonders was aan die een kant, maar in besonder omdat hy 'n gewone mens was. Hy was wel koning, maar het ook met God en sy eie lewe geworstel. Neem byvoorbeeld die hele petalje met Batseba. Dawid het fokus verloor en nie saam met sy troepe gaan oorlog maak nie. Net soos oumagrootjie gesę het: "Ledigheid is die duiwel se oorkussing". Hy staan op die dak en sien vir Batseba raak en is onmiddelik verlief op haar. Hy gee opdrag dat haar man Urija in die voorste linie van die oorlog moet veg, en so sterf die arme man. Dawid wag vir die rouperiode om te verstryk, en dan trou hy met haar, en hulle het 'n kind saam. Dit klink amper soos 'n sepie wat hom voor ons afspeel.

Die profeet Natan kom in 1 Samuel en praat met Dawid oor wat hy gedoen het. Hy vertel vir Dawid die storie van die ryk man met baie skape en die arm man met een skapie. Die ryk man nooi iemand vir ete, maar hy is te suinig om sy eie skape te slag, en slag die arm man se een skapie.

Dawid is woedend en sę dat as dit in sy koningkryk gebeur, hy beslis sal optree teen die ryk man. Natan sę vir Dawid: "Die man is jy". Jy sien, soms is ons so naby aan ons lewens, dat ons nie objektief kyk na wat ons aanvang nie. Natan sę vir Dawid dat sy seun wat hy saam met Batseba het, gaan sterf, omdat Dawid gesondig het. Dawid doen alles in sy vermoë om dit te keer, maar dit het niks gehelp nie, sy seun sterf.

Al sy belydenis en vas en bid het niks gehelp nie. Hy troos vir Batseba na die sterfte en sy word weer swanger, en Salomo gebore.

Dit is 'n storie met ongelooflike lelike, sondige, verkeerde, afgryslike kleure en lappies, maar die hitte van die storie is in die essensie daarvan. Dawid het verkeerd gedoen, Dawid het van sy troon geval, Dawid het bely, Dawid het verloor, maar Dawid het hom bekeer en Dawid is weer opgehef deur 'n nuwe seun en ook oorwinning oor Rabba met sy weermag.

Ons gebruik die term dat God met 'n krom stok 'n reguit hou kan slaan. Dit is presies wat die lappieskombers my leer. Elke lappie ervaring en kennis moet ek koester en dankbaar wees daaroor. Nie al die lappies maak sin nie, maar saam bereik dit tog 'n doel. Soms kyk ons terug en sę wat ons alles sou anders doen in ons lewens, maar aan die kleur en ontwerp van my laslappie is daar geen verandering nie. Miskien moet ons dankbaar wees vir elke lappie kennis en ervaring en persoon wat my lewe kruis elke dag, want saam maak dit my lewe.

Ek weet nie waar jy in jou lewe is of wat met jou gebeur in jou lappieskombers nie, maar een ding is seker, dit is nie verniet nie.
Maar wat ons ook moet weet van die lappieskombers, is dat my oumagrootjie so 'n hele kas vol lappies gehad het, maar dat hulle nie sommer vanself aanmekaar gespring het nie. Sy het elkeen noukeurig uitgekies en soos 'n legkaart op haar kombuistafel gerangskik om so effens sin te maak. Toe het sy hulle met groot liefde aanmekaargewerk.

Soms voel jou lewe een groot klomp "random" lappies wat in die kas in jou kop versamel het. Maar as jy die verstaan het dat hierdie jou lewe is, verstaan jy dat elke lappie 'n doel het. Rangskik vandag die lappies, gee daaraan die erkenning dat dit deel van jou kombers is, en sien hoe jou bont-lappies-lewe skielik vir jouself en die mense om jou doelmatig kan wees. Uit die verhaal van Dawid en Batseba se krom en lelike lappies, kom 'n les vir ons elkeen, en word Salomo gebore en later ook uit dieselfde bloedlyn, Jesus.

Dit is moontlik om uit krom, skeef en bont 'n lewe te leef wat fantasties is. Mense met lappieskomberse se lewens is beslis meer kleurvol as wat hulle dink.


Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Tuesday, January 22, 2013

Tennislewe

Ek sit en kyk graag die Australiese ope tennistoernooi die laaste 2 weke. Dit is wonderlik om mense te sien wat die spel met soveel talent en toewyding kan speel. Maar, tennis, en daarmee saam enige professionele sport, is deesdae 'n wetenskap. Maar sport is net 'n verlenging van die lewe.

1. Talent

Sommige mense het net meer talent op sekere gebiede as ander. Sommige van ons is meer ingestel op 'n sekere gebied van die lewe as ander. Partykeer besef ons dit nie, en dan plaas ons ongelooflik baie druk op onsself om iets te doen wat ons nie behoort te doen nie. Ons sien dit op laerskool waar ouers hulle kinders so druk in 'n sekere gebied, maar ons kan sien dat hulle talent eenvoudig nie daar is nie. Dit is hoekom dit altyd belangrik is vir enige mens om jou niche te vind en jouself te ken sodat jy die regte sport en regte rigting vir jouself moet kan kies.

2. Oefening:

Jou beste sportmanne en vroue is gewoonlik die wat die hardste werk aan hulle talente. Ons lees in die Bybel van talente en dat mense soms hulle talente onder die maatemmer wegsteek. Hierdie professionele mense, wat natuurlik talent het, oefen ure en ure op die baan om te verseker dat hulle hulle talente tot die beste kan ontwikkel. Wat doen jy met jou talente? Beoefen jy jou lewe en probeer jy steeds om die beste te word wat jy kan op die gebied waar jy kan? Ons druk ons kinders om die beste te wees in wat hulle aanpak, maar in watter mate doen ek en jy dit in ons eie lewens? Ek word soms skaam as ek daardie kitaar sien staan wat ek kan bespeel, maar ek doen dit nie.

3. Doelwitte:

Vir die meeste van die top tennisspelers in die wereld gaan die speel van die spel om te kan wen. Daardie storie wat ons op skool geleer het dat almal wenners is omdat hulle deelneem is die grootste bog op aarde. Jy moet jou doelwitte stel in die lewe, en jy moet niks in jou pad laat staan om dit te kan bereik nie. Toe jy jonk was het almal vir jou gevra wat jy met jou lewe wil doen, en almal het sekere drome gehad. Die vraag is of jy nou nog drome en ideale het wat jy nastreef? Leef jy na jou doelwitte toe, of dobber jy maar net rond soos 'n suurstofdief en tas in die donker rond.

4. Fokus:

Fokus beteken eintlik dat jy al jou aksies en denke instel op dit wat belangrik is vir jou in jou lewe. Soms sien ons dat mense hulle fokus verloor en op ander dinge fokus wat nie belangrik is nie. Ons sien dit baie met gholfspelers dat die oomblik wat hulle begin betrokke raak om bane te bou, dat hulle spel daaronder ly. Hoe fokus jy op wat belangrik is? Fokus jy op die essensie, of raak jy gou afgelei van jou doel en wat jy moet doen? Alles in die lewe moet of warm of koud wees, anders gaan die lewe jou uitspoeg.

5. Dit gebeur in jou kop:

Meeste van die suksesvolle spelers sal jou vertel dat jou "mental attitude" die belangrikste is. Jy sien spelers met ongelooflike talent, maar hulle kry dit nooit reg om met die regte ingesteldheid te werk nie. Moet vir geen oomblik dink dat Roger Federer nie soms op die baan mismoedig word wanneer hy agter is nie. Wat die verskil is is dat hy die vermoe het om homself op te lig en harder te veg. Terugslae is deel van die lewe, maar dit gaan oor hoe jy dit hanteer wat van jou 'n kampioen maak.

6. Roetine:

Ons hoor dit al vir jare, maar sukses kom deur roetine. Maria Sharapova het hierdie jaar 'n roetine uitgewerk wat presies dieselfde is as toe sy in 2008 die Australiese ope gewen het. Sy eet by dieselfde restaurante en sit by dieselfde tafel en eet presies dieselfde kos as in 2008. Veral volg suksesvolle mense roetines wat vir hulle in die verlede gewerk het. Ons probeer soms die wiel van vooraf uitwerk en ons soek na nuwe idees om ons suksesvol te maak, terwyl daar soveel informasie beskikbaar is van tye toe ons wel suksesvol was. Skep vir jouself roetines wat werk.

7. Terugslae:

Ons weet dat alles nie maanskyn en rose is, selfs vir professionele sportmanne en vroue nie. Daar is groot risiko vir die fisieke elke keer wat jy op die baan stap, want jy kan beseer raak. Seer is deel van die lewe, maar daar is tye wat jy moet terugstaan en eers sorg dat jy totaal gerehabiliteer word voordat jy weer kan deelneem. Soms probeer mense onnatuurlik na terugslae hulleself inskryf vir die toernooi, en dan, wanneer jy nie op jou snykant is nie, vermeerder jy die besering wat jy reeds het. Soms het ons tyd nodig om eers al ons varkies en pyne bymekaar te kry en op te los voordat ons vir die groot toernooie kan inskryf.

8. Passie:

Vir die suksesvolste mense gaan die lewe nie meer oor die geld en oor oorlewing nie. Dit gaan vir hulle oor die passie waarmee hulle 'n ding doen. Dit is amper soos die woorde in die Bybel om die Koningkryk eers te soek en al die ander dinge in die lewe sal jou bygevoeg word. As jy met passie in jou lewe leef en dit gevind het, sal al die ander dinge in jou lewe outomaties volg. Maar passie is nie 'n ding wat jy uitdink nie, dit is iets wat jy ontdek. Mense wat met passie dinge aanpak, is mense wat hulleself ken en mense wat elke dag opstaan en hulle passie uitleef, nie omdat iemand anders so dink nie, maar omdat hulle dit in hulle harte voel.

9. Spanpoging:

Al is tennis 'n sport waar jy alleen op die baan is, het die suksesvolle spelers 'n span mense om hulle wat hulle bystaan en help. Al is jy die beste speler in die wereld, besef jy dat jy nog nie alles weet en alles self kan doen nie. Soms dink ons dat ons alles self kan doen in die lewe en dat jy niemand anders om jou nodig het nie, maar dit is nie waar nie. Natuurlik kies jy jou span oordeelkundig en kyk wat vir jou werk, want as jy nie suksesvol is nie, kan dit jy wees, maar dit kan ook jou span wees. Soms maak ons die fout om die mense om ons te blammeer vir ons mislukkings, maar hulle kan net soveel doen, dit is ek wat op die baan elke dag die sukses moet maak. Wees versigtig oor wie jy om jou het, maar wees ook ingestel daarop dat dit jy is wat die spel speel.

10. Genot:

Jy kan niks doen in die lewe as jy dit nie geniet nie. Gaan geniet jou lewe en wat jy doen. Vir die meeste van die gedrewe spelers is hulle dag nie volmaak as hulle nie op die baan is nie. Lag en kry humor in jou lewe, en kry jou swaarkry met lekkerkry klaar. Wat is die sin van die lewe as jy nie kan geniet wat jy doen nie.


Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Friday, January 4, 2013

Kinderlikheid

Die Bybel leer ons dat ons soos kinders moet glo. Vir baie mense is dit, veral in die tye waarin ons leef maar moeilik. Ons voel almal geleerd en daar is so baie dinge om ons wat ons "slimmer" as kinders laat voel.

Maar, as jy self kinders het, besef jy vinnig dat kinders nie sommer alles soos soetkoek opeet nie. Hulle glo jou nie as jy se dat hulle hulle pampoen moet eet om hulle hare te laat krul nie. Kinders daag jou uit en vat nie alles wat jy se sommer net so nie, dit moet aan hulle verduidelik word.

So, wat beteken dit dan om soos 'n kind te glo. Vir my beteken dit in die eerste plek onvoorwaardelike liefde. Om te weet en met jou hart te glo dat jou Vader in die hemel jou liefhet en vir jou net die beste soek. Jou ouers is mense wat altyd daar is, maak nie saak wat jy doen nie. Dit is om te glo soos 'n kind.

Maar beteken dit dat ons nie verder moet dink oor God nie? Beslis nie, net soos 'n kind groei en grootword binne die veilige hawe van 'n gesin en hulle ouers se liefde, kan hulle vlerke ontwikkel om die wereld te gaan verken.

Ek kan en mag verder oor God dink, spekuleer en groei slegs wanneer ek hierdie veilige wete het. Daar is soveel meer aan die God wat ons liefhet, dat ek elke dag 'n nuwe dimensie van God kan en mag ontdek. Dit is tog 'n verhouding waar ek die mens saam met my uitvra en uitvind om nader aan hulle te beweeg.

Ons het so verander in ons leefwereld waar mense net vir hulleself leef en mekaar verwoes vir eie gewin. Mense word gebruiksartikels en ons soek nie meer na 'n sieledeling nie. So kommersialiseer ons God baie keer en "misbruik" Hom vir ons eie gewin.

Ons glo en ons bid, wanneer dit ons pas. Wanneer dit sleg gaan het ek God nodig, maar as dit beter gaan vergeet ek die God wat my uit die gate red. Ek huil saam met God, maar in selfsug hou ek die lag vir myself. Daar is nie groei in die verhouding nie.

Niks mooi word gebore in negatiwiteit nie. Daar is 'n proses van balans wat eers moet plaasvind. Die negatief en positief moet saam-gom om balans te skep in enige verhouding. Niks kan sonder balans in die lewe funksioneer nie. So ook nie my verhouding met God nie, want ek moet die seer en die lag met Hom kan deel.

Daar is slegs een God, en soms voel dit asof ons nie daarmee wil vrede maak nie. Ons soek, soos verbruiksartikels, 'n ander God wanneer die lewe nie uitloop soos dit my pas nie. Soos ons heen en weer huweliiksmaats weggooi en altyd beter soek, doen ons soms met God. Ons verloen Hom in bekwalikking van ons lewe en gaan soek ander dinge wat ons doel beter bedien.

Soms moet ons soos die verlore seun op ons kniee moet teruggaan na God en smeek om vergiffenis. So moet ons die dinge los wat skeiding maak tussen ons en God, en teruggaan in die kinderlike wete dat Hy ons altyd wil terugvat en teen sy bors wil vasdruk.


Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Wednesday, January 2, 2013

Tentbewoners

Ons kamp hier heerlik in die Weskus, oorkant die Muisbosskerm by Lambertsbaai. Almal weet dat die weskus maar 'n plek is waar die wind redelik sterk waai. Nou, met 'n tent is die wind nie jou maat nie, maak nie saak wat jy doen nie.

Jy slaan penne in dat dit klap, maar die wind kry maar altyd die oorhand.

Die Bybel vertel dat ons ook tentbewoners is op aarde, want die lewe is nie permanent nie. Daar is deurentyd wind wat waai in ons lewe, pyn, hartseer, verlange, opbreek en dood. Maar, dit is nie permanent nie, net soos kamp nie vir altyd is nie. Die ongemak van 'n tent kan 'n mens dra, want op 'n stadium gaan jy weer huistoe.

As ek nou die hele tyd kerm en kla oor die wind en stoei met die seile, vergeet ek maklik dat ek by die see is. Ek kan so verstrengel raak in my probleme en in vrees en angs in my tentjie le en die vakansie omwens. Of ek kan my tent so vas slaan soos ek kan, en liewers positief uitkyk op die wonderlike dinge en mense om my.

Ek kan ook die hele tyd in my tentjie le en lugkastele in my kop bou oor hoe lekker dit daar buite is, maar nooit my tone in die sand druk nie. Of ek kan my windjakker aantrek en lekker op die strand gaan baljaar.

Een ding weet ek seker, en dit is dat ek vertroue moet hê in my toerusting. Ek moet my penne diep inslaan en glo dat God die standvastigheid gee wat my wankeltent kan vashou. So lees ek vanoggend in Jesaja 43 van die God wat my so kies, sodat ek nie nodig het om te twyfel nie.

Die toue van my vriende en familie trek aan al die kante sodat hulle my kan regop hou.

Hierdie vertroue gee my die geleentheid om heerlik te gaan baljaar en in rustigheid te kan gaan slaap.

Soms kan ek om my kyk na die weeldewaens van die geharde kampers en toerusting wat my jaloers maak en ons dink dat ander soveel gemakliker lewens as ons het. Maar gaan sit by hulle dan kom jy agter dat hulle ook maar wapper in die wind. Niemand kan vir die winde wegkruip nie.

Soms gebeur dit ook dat jou kamp so uitrafel dat jy moet alles afslaan en van voor begin. Dit is moeilik en pynlik, veral in die wind en veral ook as jy alleen is. Dit is jou kans om weer vaste grond in God te soek en jou toue sterker vas te maak. Dit kan 'n nuwe avontuur word wat ek met 'n glimlag kan doen, en soms my swaarkry met lekkerkry kan klaarkry.

Soms word jou tent onder jou uitgesteel en dan voel jy kaal, eensaam en alleen. Kampplekke kan ook maar onveilig wees en jy moet maar jou kosbare dingetjies mooi oppas en verkieslik toesluit. Dit wat jy goedkoop laat rondle, raak makliker weg, so moenie dit hanteer asof dit onbelangrik is nie.

So, gaan toets jou penne, ingeslaan in God. Maak vas die bande van jou familie en vriende. Gaan druk jou tone in die sand en gaan trotseer die wind. Klim uit daai hoekie van jou tent en gaan beleef die avontuur wat die lewe is!
Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Thursday, December 27, 2012

Dr Jekyll en Mr Hyde

In 1886 verskyn die boek "Dr Jekyll and Mr Hyde" geskryf deur Robert Louis Stevenson. Dit vertel die storie van 'n prokureur wat sy vriend se gesplete persoonlikheid ondersoek.

Hierdie twee persoonlikhede tree met verskillende moraliteit op van situasie tot situasie.

Ek dink dat, alhoewel ons nie almal gesplete persoonlikhede het nie, daar tog in mense verskillende dinge skuil. Die wereld werk mos maar met 2 pole van lig en donker, goed en sleg asook dag en nag.

Wanneer Dr. Jekyll in die spieel kyk sien hy soms die homself raak en soms iemand anders. So wonder ek as jy en ek in die spieel kyk, sien ons wat ons graag wil sien, of sien ons 'n drogbeeld van iemand wat ons in verander het?

Soos Hulk wat groen word as hy kwaad word, hoe verander en beinvloed die omstandighede om jou jou bestaan. Soms stel ons onsself ook onnodig bloot aan dinge en mense wat ons "slegte" kant uitbring.

Op facebook sien ek oulike prentjies en uitsprake van mense, baie keer nie van wat hulle is nie, maar wat hulle graag wil wees. God het ons so gemaak dat ons graag beter wil wees en strewe na die lig-kant binne ons. Die Heilige Gees is daardie stemmetjie wat sag in jou hart jou oortuig van die regte ding.

Soms voel dit asof daar ook 'n klein duiweltjie op jou ander skouer sit wat jou van die donker kant wil oortuig.

Wanneer ons dus so die Nuwe jaar ingaan, is my gebed vir myself, my kinders, my geliefdes en almal om my dat jy die lig-kant sal kies. Dat jy deur God gelei sal word om die verskil te ken tussen die stemme, en dat jy in die spieel sal sien wie jy werklik is in God en sal hou van wat jy sien.

Geniet hierdie tyd saam met jou spesiale mense.
Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Friday, December 21, 2012

Die einde van die wereld is hier?

Ok, al die antisipasie oor hierdie dag 21 Desember 2012 is nou hier. Dit is mos nou vandag waar die kalender van die Majas stop en sou dit nou die dag wees wat die einde is van die lewe soos ons dit ken op aarde.

Ons lewens is van kleins af gevul met die twee pole van begin en einde. Ons word herinner aan geboorte en dood en dat dinge nie ewig is nie. Ons skooljare is gevul met die nuwe graad wat elke jaar begin en eindig, en op oujaar skiet ons vuurwerke met die hoop dat die bose ons nie inwag in die nuwe jaar nie.

Dinge begin en eindig, soos ons stories het ook 'n inleiding en slot. Maar of dit nou gaan eindig vandag sal ons maar moet sien. Maar eintlik weet ons om elke dag so te leef asof dit die laaste is.

Of daar nou vandag al die plannete kosmies in lyn gaan kom, maak nie werklik saak nie. Maar jy kan vandag jou eendjies in 'n ry organisseer in jou kop. Jy kan jou innerlike self help om vandag 'n einde te maak aan wat jy weet nie vir jou goed is nie.

Miskien is hierdie die dag wat jy jou ou lewe eindig en aansluit by Romeine 12:8 "Moenie aan die sondige wereld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe".

Vandag kan die dag wees waar jy die "ou" mens met al sy kruppel, oordelende en negatiewe maniere afsterf en nuut gaan leef.

Jy kan maak wat jy wil, geen een van ons is onbewus van hierdie patrone nie. Ons herhaal dit net oor en oor, want dit is "makliker" om eerder die duiwel wat jy ken na te volg as die duiwel wat jy nie ken nie. As jy daarna kyk van buite is dit absurd, maar dit is wat ons elke dag doen. Ons weet ook presies wat ons doen wat verkeerd is, nog voordat dit jouself of mense om jou skade aangerig het.

Vandag is die dag wat die leuens wat jy jouself vertel en die leuen wat jy leef tot 'n einde kan kom. Die Bybel gee ons ook toestemming om dit wat jou pla, selfs jou eie hand af te kap.

Jy het nie eeu-oue gesrkifte en profesiee nodig om vir jou te vertel om dit te eindig nie, jou eie ongeluk skreeu dit uit. Word stil en luister na jou lewe, en gaan skep 'n nuwe heelal in jouself wat 'n nuwe era inlui.

Selfs al is dit nie volmaak nie, solank dit beter is as gister is jy oppad na 'n gelukkiger lewe.

Hopelik is ons almal more hier, dan skryf ek weer!
Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Tuesday, December 18, 2012

In my kerskous

Iemand wat ons ken was nou die aand aan huis by ons, ek was gelukkig nie daar gewees nie, maar ek hoop dat sy op 'n stadium hierdie lees.

In die gesprek het dit uitgekom dat God vir ons goed is, en sy het hewig hierop reageer.  Jy sien, haar lewe lyk na een groot stuk gemors.  Dinge werk nie vir haar uit nie, sy is alleen en sy is eensaam.  Klaarblyklik het sy mense se lewens verwoes en daarmee saam ook haar eie. 

Een ding wat ek weet is dat wanneer dinge vir ons nie goed loop nie, ons gewoonlik op daardie stadium God betrek by die situasie.  Aan die een kant het jy mense wat 'n idée in hulle gedagtes vorm van hoe hulle lewens moet lyk, en as dit nie so uitwerk nie, dan is dit God wat dit so maak. 

Ek het al baie verwys daarna dat ons God soms sien as Kersvader en vir hom 'n briefie, in die vorm van gebed, aanstuur Noordpool toe.  Wanneer ons dus een oggend opstaan en sien dat die kerkskous se inhoud nie met die briefie saamstem nie, dan is ons woedend.

Soos ek ouer word, besef ek tog dat daar iemand is wat kersvader help finansier aan die lysie.  Soms is dit nie moontlik om die lysie aan te voldoen nie.  Ek het 'n seuntjie wat 'n jaar moes wag vir sy WII omdat ek dit eenvoudig nie kon bekostig nie.  Beteken dit dat ek hom nie liefhet nie?  Alhoewel hy dit nie onmiddelik kon kry nie, en ek dit nie kon bekostig nie, ek steeds op ander vlakke waar ek wel kon help vir hom alles gegee het wat ek kon.

In my vorige blog het ek geskryf dat on sander blammeer vir wat in ons lewens gebeur.  Toegegee, nie alles in die lewe is my toedoen nie, maar ons leer tog vir kinders dat kersvader nie vir hulle hulle wense gaan gee wanneer hulle deur die jaar stout was nie.  Hierdie insig kan wel lei tot selfbejammering en oormatige skuld wat mense op hulleself plaas, maar dit wil vir kinders leer dat hulle 'n verantwoordelikheid het om beter mense te probeer wees.

Hierdie vrou wat ek my storie mee begin het is ongelooflik negatief op alles en almal om haar.  Sy gee my die idée dat sy dink dat die wêreld haar iets skuld, en as sy dit nie kry nie, dan gooi sy haar speelgoed.  Dit is altyd iemand anders se skuld, want ag siestog, sy het so 'n hartseer lewe.  Jy sal ook sien dat mense wat almal om hulle die skuld gee, nooit om verskoning vra nie.  As niks my skuld is nie, hoe kan ek my aandeel in die situasie erken? 

Jong, ons moet versigtig wees, want ons lewens verval so maklik in hierdie negatiwiteit.  Erger as dit nog, ons beinvloed mense om ons om ook so negatief te word.  Ons trek mense af na 'n vlak waar hulle gladnie wil of kan leef nie.  En die ergste daarvan is dat mense ons vir 'n ruk lank akkommodeer, maar dat hulle ons op 'n stadium gaan uitspoeg, sodat jy soos 'n vissie lê en smag na asem op die strand.

Ek lees vanoggend weer die woorde:  "Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en danksegging aan God bekend".  Dit het my geruk, want alhoewel ek al jare lank die vers lees, en selfs daaroor gepreek het, het ek die vers net half gelees.  Ek het gelees dat ek nie besorg moet wees en moet bekommer nie, en my begeertes en wat ek soek uit die lewe aan God bekend moet maak.  Geen wonder dat dinge in my lewe uitgedraai het soos dit soms het nie, want ek het die ander deel van die vers gemis.

Die eerste daarvan is om te kan smeek, soos 'n kindjie wat in die supermark 'n nuwe strandbal soek.  Asseblief mamma, ek soek daardie een met Barbie op.  Soms word hierdie smeking lelik en gaan dit met trane en skree en pak slae gepaard, en dan gaan jy beslis nie kry wat jy soek nie.  Soms moet my kind 'n bal kry om hulle te help met hulle ontwikkeling, of as my kind krieket by die skool speel, moet hy tog 'n krieketbal in sy sak hê.  Jy sien, soms smeek ons vir dinge wat ons nie nodig het nie, en wat nie vir ons goed is nie.  Jy sien, dit sal vreemd wees as my seun vir grimering vra in sy kerskous, maar as hy grimering nodig het vir 'n toneelspel by die skool, is dit 'n ander situasie.

Omdat ons onsself nie goed genoeg ken nie, tas ons in die winkel rond en soek alles wat ons harte begeer, want ons het nog nie ons niche gevind nie.  God ken jou deur en deur, en ek glo dat God ook nie vir jou grimering gaan koop as dit nie in jou karakter en menswees gaan pas nie. 

Al smeek jy soms vir 'n nuwe bal, gaan ouers dit nie vir jou gee nie, veral nie as die hele werf vol balle lê wat jy nie mee speel, of wat jy nooit bêre nie.  Soms dink ek God se geduld raak ook op, wanneer hy vir ons alles gee wat ons nodig het, maar ons gebruik dit nie met respek nie.  Hoeveel kaste en kaste speelgoed is daar nie in jou lewe, wat jy net een keer mee speel, en dan nooit weer gebruik nie, maar altyd net nuwer en nuwer dinge soek? 

Ek as ouers sal ook onverantwoordelik wees wanneer ek vir babadogter 'n skerp knipmes wat sy soek gaan koop.  Soms is waarvoor ons smeek nie goed vir ons nie, want ons het nie die vermoë om dit reg te hanteer nie, en dit kan meer skade aanrig as goed.  Daar is dus ook soms baie goeie redes hoekom ons nie kry waarvoor ons smeek nie, en al maak dit nie nou sin nie, sal ek dalk een dag verstaan.

Die laaste deel van die vers het my totaal geruk, want dit gaan oor dankbaarheid.  Hierdie vrou in die verhaal is so gefokus op wat sy nie het nie, dat sy nooit dankbaar is vir wat sy wel het nie.  Dit is soos 'n pa wat in die winkel vir sy seun 'n krieketbal wil koop, maar die seun sê dat hy wel een by die huis het wat nog werk.  Jy sien, wanneer ons in dankbaarheid leef aan God vir alles in ons lewens, het ons eintlik niks nodig in die winkel meer nie.  Die meeste van dit wat ons in die lewe het, het outomaties gebeur sonder dat ons dit eers van God gebid of van God gesmeek het. 

Ek sit die vakansie en is nogal depressief oor my situasie op die oomblik en ek verlang.  Tot ek een oggend besef dat ek 'n wonderlike geskenk gekry het om te geniet, en ook die lekker uit my lewe haal deur te top oor ander dinge.  Ek is nie dankbaar vir die klank van die golwe, die lekker sonskyn, heerlike kos en wonderlike geselskap nie. 

Dit is dalk die basis van die "Law of Attraction", dat jy deur dankbaarheid en fokus op wat jy wel het dinge vermenigvuldig, eerder as om nuwe dinge te skep en aan te trek.  Deur dankbaarheid, sal jou pa dalk sommer uit sy eie besluit dat hy vir jou 'n beter krieketbal gaan koop, net oor jou ingesteldheid teenoor die lewe.

Dit het dalk niks uit te waai met positiewe of negatiewe mense in die lewe nie, dalk eerder oor mense wat dankbaar en ondankbaar is.  Ondankbare mense het geen ontsag vir wat na hulle kant toe kom nie, en blammeer almal om hulle.  Dankbare mense het ontsag en weet waar alles vandaan kom.

Dit is miskien ons probleem op elke vlak van ons lewens, en dit is die oordeel waarmee ons lewe.  Dankie is nie oordeel nie, want dit is erkenning. 

Gaan vul jou kerskous hierdie jaar met danksegging vir wat jy het.

"Dankie Here vir my lewe.  Dankie vir gesondheid, liefde en vrede.  Dankie vir soveel mense om my wat my liefhet.  Dankie vir my kinders en die wonderlike mense wat hulle is.  Dankie vir al die ervarings in my lewe, en dankie dat ek niks tekort het nie, altyd veilig, altyd warm en altyd rustig kan wees.  Dankie Here, dat ek U kan ken, saam met U kan leef en dat ek U kan vertrou om altyd my God te wees wat die beste vir my in die lewe gee.  AMEN"