Tuesday, January 22, 2013

Tennislewe

Ek sit en kyk graag die Australiese ope tennistoernooi die laaste 2 weke. Dit is wonderlik om mense te sien wat die spel met soveel talent en toewyding kan speel. Maar, tennis, en daarmee saam enige professionele sport, is deesdae 'n wetenskap. Maar sport is net 'n verlenging van die lewe.

1. Talent

Sommige mense het net meer talent op sekere gebiede as ander. Sommige van ons is meer ingestel op 'n sekere gebied van die lewe as ander. Partykeer besef ons dit nie, en dan plaas ons ongelooflik baie druk op onsself om iets te doen wat ons nie behoort te doen nie. Ons sien dit op laerskool waar ouers hulle kinders so druk in 'n sekere gebied, maar ons kan sien dat hulle talent eenvoudig nie daar is nie. Dit is hoekom dit altyd belangrik is vir enige mens om jou niche te vind en jouself te ken sodat jy die regte sport en regte rigting vir jouself moet kan kies.

2. Oefening:

Jou beste sportmanne en vroue is gewoonlik die wat die hardste werk aan hulle talente. Ons lees in die Bybel van talente en dat mense soms hulle talente onder die maatemmer wegsteek. Hierdie professionele mense, wat natuurlik talent het, oefen ure en ure op die baan om te verseker dat hulle hulle talente tot die beste kan ontwikkel. Wat doen jy met jou talente? Beoefen jy jou lewe en probeer jy steeds om die beste te word wat jy kan op die gebied waar jy kan? Ons druk ons kinders om die beste te wees in wat hulle aanpak, maar in watter mate doen ek en jy dit in ons eie lewens? Ek word soms skaam as ek daardie kitaar sien staan wat ek kan bespeel, maar ek doen dit nie.

3. Doelwitte:

Vir die meeste van die top tennisspelers in die wereld gaan die speel van die spel om te kan wen. Daardie storie wat ons op skool geleer het dat almal wenners is omdat hulle deelneem is die grootste bog op aarde. Jy moet jou doelwitte stel in die lewe, en jy moet niks in jou pad laat staan om dit te kan bereik nie. Toe jy jonk was het almal vir jou gevra wat jy met jou lewe wil doen, en almal het sekere drome gehad. Die vraag is of jy nou nog drome en ideale het wat jy nastreef? Leef jy na jou doelwitte toe, of dobber jy maar net rond soos 'n suurstofdief en tas in die donker rond.

4. Fokus:

Fokus beteken eintlik dat jy al jou aksies en denke instel op dit wat belangrik is vir jou in jou lewe. Soms sien ons dat mense hulle fokus verloor en op ander dinge fokus wat nie belangrik is nie. Ons sien dit baie met gholfspelers dat die oomblik wat hulle begin betrokke raak om bane te bou, dat hulle spel daaronder ly. Hoe fokus jy op wat belangrik is? Fokus jy op die essensie, of raak jy gou afgelei van jou doel en wat jy moet doen? Alles in die lewe moet of warm of koud wees, anders gaan die lewe jou uitspoeg.

5. Dit gebeur in jou kop:

Meeste van die suksesvolle spelers sal jou vertel dat jou "mental attitude" die belangrikste is. Jy sien spelers met ongelooflike talent, maar hulle kry dit nooit reg om met die regte ingesteldheid te werk nie. Moet vir geen oomblik dink dat Roger Federer nie soms op die baan mismoedig word wanneer hy agter is nie. Wat die verskil is is dat hy die vermoe het om homself op te lig en harder te veg. Terugslae is deel van die lewe, maar dit gaan oor hoe jy dit hanteer wat van jou 'n kampioen maak.

6. Roetine:

Ons hoor dit al vir jare, maar sukses kom deur roetine. Maria Sharapova het hierdie jaar 'n roetine uitgewerk wat presies dieselfde is as toe sy in 2008 die Australiese ope gewen het. Sy eet by dieselfde restaurante en sit by dieselfde tafel en eet presies dieselfde kos as in 2008. Veral volg suksesvolle mense roetines wat vir hulle in die verlede gewerk het. Ons probeer soms die wiel van vooraf uitwerk en ons soek na nuwe idees om ons suksesvol te maak, terwyl daar soveel informasie beskikbaar is van tye toe ons wel suksesvol was. Skep vir jouself roetines wat werk.

7. Terugslae:

Ons weet dat alles nie maanskyn en rose is, selfs vir professionele sportmanne en vroue nie. Daar is groot risiko vir die fisieke elke keer wat jy op die baan stap, want jy kan beseer raak. Seer is deel van die lewe, maar daar is tye wat jy moet terugstaan en eers sorg dat jy totaal gerehabiliteer word voordat jy weer kan deelneem. Soms probeer mense onnatuurlik na terugslae hulleself inskryf vir die toernooi, en dan, wanneer jy nie op jou snykant is nie, vermeerder jy die besering wat jy reeds het. Soms het ons tyd nodig om eers al ons varkies en pyne bymekaar te kry en op te los voordat ons vir die groot toernooie kan inskryf.

8. Passie:

Vir die suksesvolste mense gaan die lewe nie meer oor die geld en oor oorlewing nie. Dit gaan vir hulle oor die passie waarmee hulle 'n ding doen. Dit is amper soos die woorde in die Bybel om die Koningkryk eers te soek en al die ander dinge in die lewe sal jou bygevoeg word. As jy met passie in jou lewe leef en dit gevind het, sal al die ander dinge in jou lewe outomaties volg. Maar passie is nie 'n ding wat jy uitdink nie, dit is iets wat jy ontdek. Mense wat met passie dinge aanpak, is mense wat hulleself ken en mense wat elke dag opstaan en hulle passie uitleef, nie omdat iemand anders so dink nie, maar omdat hulle dit in hulle harte voel.

9. Spanpoging:

Al is tennis 'n sport waar jy alleen op die baan is, het die suksesvolle spelers 'n span mense om hulle wat hulle bystaan en help. Al is jy die beste speler in die wereld, besef jy dat jy nog nie alles weet en alles self kan doen nie. Soms dink ons dat ons alles self kan doen in die lewe en dat jy niemand anders om jou nodig het nie, maar dit is nie waar nie. Natuurlik kies jy jou span oordeelkundig en kyk wat vir jou werk, want as jy nie suksesvol is nie, kan dit jy wees, maar dit kan ook jou span wees. Soms maak ons die fout om die mense om ons te blammeer vir ons mislukkings, maar hulle kan net soveel doen, dit is ek wat op die baan elke dag die sukses moet maak. Wees versigtig oor wie jy om jou het, maar wees ook ingestel daarop dat dit jy is wat die spel speel.

10. Genot:

Jy kan niks doen in die lewe as jy dit nie geniet nie. Gaan geniet jou lewe en wat jy doen. Vir die meeste van die gedrewe spelers is hulle dag nie volmaak as hulle nie op die baan is nie. Lag en kry humor in jou lewe, en kry jou swaarkry met lekkerkry klaar. Wat is die sin van die lewe as jy nie kan geniet wat jy doen nie.


Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

No comments:

Post a Comment