Tuesday, December 18, 2012

In my kerskous

Iemand wat ons ken was nou die aand aan huis by ons, ek was gelukkig nie daar gewees nie, maar ek hoop dat sy op 'n stadium hierdie lees.

In die gesprek het dit uitgekom dat God vir ons goed is, en sy het hewig hierop reageer.  Jy sien, haar lewe lyk na een groot stuk gemors.  Dinge werk nie vir haar uit nie, sy is alleen en sy is eensaam.  Klaarblyklik het sy mense se lewens verwoes en daarmee saam ook haar eie. 

Een ding wat ek weet is dat wanneer dinge vir ons nie goed loop nie, ons gewoonlik op daardie stadium God betrek by die situasie.  Aan die een kant het jy mense wat 'n idée in hulle gedagtes vorm van hoe hulle lewens moet lyk, en as dit nie so uitwerk nie, dan is dit God wat dit so maak. 

Ek het al baie verwys daarna dat ons God soms sien as Kersvader en vir hom 'n briefie, in die vorm van gebed, aanstuur Noordpool toe.  Wanneer ons dus een oggend opstaan en sien dat die kerkskous se inhoud nie met die briefie saamstem nie, dan is ons woedend.

Soos ek ouer word, besef ek tog dat daar iemand is wat kersvader help finansier aan die lysie.  Soms is dit nie moontlik om die lysie aan te voldoen nie.  Ek het 'n seuntjie wat 'n jaar moes wag vir sy WII omdat ek dit eenvoudig nie kon bekostig nie.  Beteken dit dat ek hom nie liefhet nie?  Alhoewel hy dit nie onmiddelik kon kry nie, en ek dit nie kon bekostig nie, ek steeds op ander vlakke waar ek wel kon help vir hom alles gegee het wat ek kon.

In my vorige blog het ek geskryf dat on sander blammeer vir wat in ons lewens gebeur.  Toegegee, nie alles in die lewe is my toedoen nie, maar ons leer tog vir kinders dat kersvader nie vir hulle hulle wense gaan gee wanneer hulle deur die jaar stout was nie.  Hierdie insig kan wel lei tot selfbejammering en oormatige skuld wat mense op hulleself plaas, maar dit wil vir kinders leer dat hulle 'n verantwoordelikheid het om beter mense te probeer wees.

Hierdie vrou wat ek my storie mee begin het is ongelooflik negatief op alles en almal om haar.  Sy gee my die idée dat sy dink dat die wêreld haar iets skuld, en as sy dit nie kry nie, dan gooi sy haar speelgoed.  Dit is altyd iemand anders se skuld, want ag siestog, sy het so 'n hartseer lewe.  Jy sal ook sien dat mense wat almal om hulle die skuld gee, nooit om verskoning vra nie.  As niks my skuld is nie, hoe kan ek my aandeel in die situasie erken? 

Jong, ons moet versigtig wees, want ons lewens verval so maklik in hierdie negatiwiteit.  Erger as dit nog, ons beinvloed mense om ons om ook so negatief te word.  Ons trek mense af na 'n vlak waar hulle gladnie wil of kan leef nie.  En die ergste daarvan is dat mense ons vir 'n ruk lank akkommodeer, maar dat hulle ons op 'n stadium gaan uitspoeg, sodat jy soos 'n vissie lê en smag na asem op die strand.

Ek lees vanoggend weer die woorde:  "Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en danksegging aan God bekend".  Dit het my geruk, want alhoewel ek al jare lank die vers lees, en selfs daaroor gepreek het, het ek die vers net half gelees.  Ek het gelees dat ek nie besorg moet wees en moet bekommer nie, en my begeertes en wat ek soek uit die lewe aan God bekend moet maak.  Geen wonder dat dinge in my lewe uitgedraai het soos dit soms het nie, want ek het die ander deel van die vers gemis.

Die eerste daarvan is om te kan smeek, soos 'n kindjie wat in die supermark 'n nuwe strandbal soek.  Asseblief mamma, ek soek daardie een met Barbie op.  Soms word hierdie smeking lelik en gaan dit met trane en skree en pak slae gepaard, en dan gaan jy beslis nie kry wat jy soek nie.  Soms moet my kind 'n bal kry om hulle te help met hulle ontwikkeling, of as my kind krieket by die skool speel, moet hy tog 'n krieketbal in sy sak hê.  Jy sien, soms smeek ons vir dinge wat ons nie nodig het nie, en wat nie vir ons goed is nie.  Jy sien, dit sal vreemd wees as my seun vir grimering vra in sy kerskous, maar as hy grimering nodig het vir 'n toneelspel by die skool, is dit 'n ander situasie.

Omdat ons onsself nie goed genoeg ken nie, tas ons in die winkel rond en soek alles wat ons harte begeer, want ons het nog nie ons niche gevind nie.  God ken jou deur en deur, en ek glo dat God ook nie vir jou grimering gaan koop as dit nie in jou karakter en menswees gaan pas nie. 

Al smeek jy soms vir 'n nuwe bal, gaan ouers dit nie vir jou gee nie, veral nie as die hele werf vol balle lê wat jy nie mee speel, of wat jy nooit bêre nie.  Soms dink ek God se geduld raak ook op, wanneer hy vir ons alles gee wat ons nodig het, maar ons gebruik dit nie met respek nie.  Hoeveel kaste en kaste speelgoed is daar nie in jou lewe, wat jy net een keer mee speel, en dan nooit weer gebruik nie, maar altyd net nuwer en nuwer dinge soek? 

Ek as ouers sal ook onverantwoordelik wees wanneer ek vir babadogter 'n skerp knipmes wat sy soek gaan koop.  Soms is waarvoor ons smeek nie goed vir ons nie, want ons het nie die vermoë om dit reg te hanteer nie, en dit kan meer skade aanrig as goed.  Daar is dus ook soms baie goeie redes hoekom ons nie kry waarvoor ons smeek nie, en al maak dit nie nou sin nie, sal ek dalk een dag verstaan.

Die laaste deel van die vers het my totaal geruk, want dit gaan oor dankbaarheid.  Hierdie vrou in die verhaal is so gefokus op wat sy nie het nie, dat sy nooit dankbaar is vir wat sy wel het nie.  Dit is soos 'n pa wat in die winkel vir sy seun 'n krieketbal wil koop, maar die seun sê dat hy wel een by die huis het wat nog werk.  Jy sien, wanneer ons in dankbaarheid leef aan God vir alles in ons lewens, het ons eintlik niks nodig in die winkel meer nie.  Die meeste van dit wat ons in die lewe het, het outomaties gebeur sonder dat ons dit eers van God gebid of van God gesmeek het. 

Ek sit die vakansie en is nogal depressief oor my situasie op die oomblik en ek verlang.  Tot ek een oggend besef dat ek 'n wonderlike geskenk gekry het om te geniet, en ook die lekker uit my lewe haal deur te top oor ander dinge.  Ek is nie dankbaar vir die klank van die golwe, die lekker sonskyn, heerlike kos en wonderlike geselskap nie. 

Dit is dalk die basis van die "Law of Attraction", dat jy deur dankbaarheid en fokus op wat jy wel het dinge vermenigvuldig, eerder as om nuwe dinge te skep en aan te trek.  Deur dankbaarheid, sal jou pa dalk sommer uit sy eie besluit dat hy vir jou 'n beter krieketbal gaan koop, net oor jou ingesteldheid teenoor die lewe.

Dit het dalk niks uit te waai met positiewe of negatiewe mense in die lewe nie, dalk eerder oor mense wat dankbaar en ondankbaar is.  Ondankbare mense het geen ontsag vir wat na hulle kant toe kom nie, en blammeer almal om hulle.  Dankbare mense het ontsag en weet waar alles vandaan kom.

Dit is miskien ons probleem op elke vlak van ons lewens, en dit is die oordeel waarmee ons lewe.  Dankie is nie oordeel nie, want dit is erkenning. 

Gaan vul jou kerskous hierdie jaar met danksegging vir wat jy het.

"Dankie Here vir my lewe.  Dankie vir gesondheid, liefde en vrede.  Dankie vir soveel mense om my wat my liefhet.  Dankie vir my kinders en die wonderlike mense wat hulle is.  Dankie vir al die ervarings in my lewe, en dankie dat ek niks tekort het nie, altyd veilig, altyd warm en altyd rustig kan wees.  Dankie Here, dat ek U kan ken, saam met U kan leef en dat ek U kan vertrou om altyd my God te wees wat die beste vir my in die lewe gee.  AMEN"

No comments:

Post a Comment