Wednesday, January 2, 2013

Tentbewoners

Ons kamp hier heerlik in die Weskus, oorkant die Muisbosskerm by Lambertsbaai. Almal weet dat die weskus maar 'n plek is waar die wind redelik sterk waai. Nou, met 'n tent is die wind nie jou maat nie, maak nie saak wat jy doen nie.

Jy slaan penne in dat dit klap, maar die wind kry maar altyd die oorhand.

Die Bybel vertel dat ons ook tentbewoners is op aarde, want die lewe is nie permanent nie. Daar is deurentyd wind wat waai in ons lewe, pyn, hartseer, verlange, opbreek en dood. Maar, dit is nie permanent nie, net soos kamp nie vir altyd is nie. Die ongemak van 'n tent kan 'n mens dra, want op 'n stadium gaan jy weer huistoe.

As ek nou die hele tyd kerm en kla oor die wind en stoei met die seile, vergeet ek maklik dat ek by die see is. Ek kan so verstrengel raak in my probleme en in vrees en angs in my tentjie le en die vakansie omwens. Of ek kan my tent so vas slaan soos ek kan, en liewers positief uitkyk op die wonderlike dinge en mense om my.

Ek kan ook die hele tyd in my tentjie le en lugkastele in my kop bou oor hoe lekker dit daar buite is, maar nooit my tone in die sand druk nie. Of ek kan my windjakker aantrek en lekker op die strand gaan baljaar.

Een ding weet ek seker, en dit is dat ek vertroue moet hê in my toerusting. Ek moet my penne diep inslaan en glo dat God die standvastigheid gee wat my wankeltent kan vashou. So lees ek vanoggend in Jesaja 43 van die God wat my so kies, sodat ek nie nodig het om te twyfel nie.

Die toue van my vriende en familie trek aan al die kante sodat hulle my kan regop hou.

Hierdie vertroue gee my die geleentheid om heerlik te gaan baljaar en in rustigheid te kan gaan slaap.

Soms kan ek om my kyk na die weeldewaens van die geharde kampers en toerusting wat my jaloers maak en ons dink dat ander soveel gemakliker lewens as ons het. Maar gaan sit by hulle dan kom jy agter dat hulle ook maar wapper in die wind. Niemand kan vir die winde wegkruip nie.

Soms gebeur dit ook dat jou kamp so uitrafel dat jy moet alles afslaan en van voor begin. Dit is moeilik en pynlik, veral in die wind en veral ook as jy alleen is. Dit is jou kans om weer vaste grond in God te soek en jou toue sterker vas te maak. Dit kan 'n nuwe avontuur word wat ek met 'n glimlag kan doen, en soms my swaarkry met lekkerkry kan klaarkry.

Soms word jou tent onder jou uitgesteel en dan voel jy kaal, eensaam en alleen. Kampplekke kan ook maar onveilig wees en jy moet maar jou kosbare dingetjies mooi oppas en verkieslik toesluit. Dit wat jy goedkoop laat rondle, raak makliker weg, so moenie dit hanteer asof dit onbelangrik is nie.

So, gaan toets jou penne, ingeslaan in God. Maak vas die bande van jou familie en vriende. Gaan druk jou tone in die sand en gaan trotseer die wind. Klim uit daai hoekie van jou tent en gaan beleef die avontuur wat die lewe is!
Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

No comments:

Post a Comment