Friday, January 4, 2013

Kinderlikheid

Die Bybel leer ons dat ons soos kinders moet glo. Vir baie mense is dit, veral in die tye waarin ons leef maar moeilik. Ons voel almal geleerd en daar is so baie dinge om ons wat ons "slimmer" as kinders laat voel.

Maar, as jy self kinders het, besef jy vinnig dat kinders nie sommer alles soos soetkoek opeet nie. Hulle glo jou nie as jy se dat hulle hulle pampoen moet eet om hulle hare te laat krul nie. Kinders daag jou uit en vat nie alles wat jy se sommer net so nie, dit moet aan hulle verduidelik word.

So, wat beteken dit dan om soos 'n kind te glo. Vir my beteken dit in die eerste plek onvoorwaardelike liefde. Om te weet en met jou hart te glo dat jou Vader in die hemel jou liefhet en vir jou net die beste soek. Jou ouers is mense wat altyd daar is, maak nie saak wat jy doen nie. Dit is om te glo soos 'n kind.

Maar beteken dit dat ons nie verder moet dink oor God nie? Beslis nie, net soos 'n kind groei en grootword binne die veilige hawe van 'n gesin en hulle ouers se liefde, kan hulle vlerke ontwikkel om die wereld te gaan verken.

Ek kan en mag verder oor God dink, spekuleer en groei slegs wanneer ek hierdie veilige wete het. Daar is soveel meer aan die God wat ons liefhet, dat ek elke dag 'n nuwe dimensie van God kan en mag ontdek. Dit is tog 'n verhouding waar ek die mens saam met my uitvra en uitvind om nader aan hulle te beweeg.

Ons het so verander in ons leefwereld waar mense net vir hulleself leef en mekaar verwoes vir eie gewin. Mense word gebruiksartikels en ons soek nie meer na 'n sieledeling nie. So kommersialiseer ons God baie keer en "misbruik" Hom vir ons eie gewin.

Ons glo en ons bid, wanneer dit ons pas. Wanneer dit sleg gaan het ek God nodig, maar as dit beter gaan vergeet ek die God wat my uit die gate red. Ek huil saam met God, maar in selfsug hou ek die lag vir myself. Daar is nie groei in die verhouding nie.

Niks mooi word gebore in negatiwiteit nie. Daar is 'n proses van balans wat eers moet plaasvind. Die negatief en positief moet saam-gom om balans te skep in enige verhouding. Niks kan sonder balans in die lewe funksioneer nie. So ook nie my verhouding met God nie, want ek moet die seer en die lag met Hom kan deel.

Daar is slegs een God, en soms voel dit asof ons nie daarmee wil vrede maak nie. Ons soek, soos verbruiksartikels, 'n ander God wanneer die lewe nie uitloop soos dit my pas nie. Soos ons heen en weer huweliiksmaats weggooi en altyd beter soek, doen ons soms met God. Ons verloen Hom in bekwalikking van ons lewe en gaan soek ander dinge wat ons doel beter bedien.

Soms moet ons soos die verlore seun op ons kniee moet teruggaan na God en smeek om vergiffenis. So moet ons die dinge los wat skeiding maak tussen ons en God, en teruggaan in die kinderlike wete dat Hy ons altyd wil terugvat en teen sy bors wil vasdruk.


Deon Lewis
0767801421
BBM Pin 26F40471
Also find me on Whatsapp

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

No comments:

Post a Comment