Thursday, April 2, 2020
Paranoid:
Wednesday, April 1, 2020
Ons Grendelstaat storie
Monday, March 30, 2020
Trou is nie perdekoop nie!
Saturday, March 28, 2020
Nogal vreemd hoe mens weke voorberei om te preek en op ‘n tema besluit wat dalk so bietjie snaaks voel in hierdie tyd. Hier is my preek wat ek 22 Maart sou gedoen het, maar gekeer is en nie mag gedoen het nie, so nogal ironies.
Jy mag!
Toe my seun Hugo so 4 jaar oud was, is ek en my eks oppad met hom na ‘n braai toe. Ons weet toe ook dat daar ‘n vriend van haar gaan wees wat sy arms as kind in ‘n frats ongeluk verloor het. Soos ouers mos maar maak as opvoeders, begin ons Hugo voorberei oor mense wat anders lyk en dat hy nie moet staar vir die oom nie. Nie dat die vriend van ons ‘n probleem het nie, maar eerder as deel van ons opvoeding. Daar aangekom skud hy beleef hand met al die mense en gee die tannies drukkies, en toe hy voor die vriend gaan staan se hy: “Ja, jy het seker aan ‘n warm stoofplaat gevat”.
Voor jy kinders het, lees jy natuurlik al die boeke oor opvoeding en hoe jy die beste kampioenkind moet grootmaak. Jy lees al die sielkundiges se analises en hoe jy hulle positief moet grootmaak, net om na ‘n ruk agter te kom hoeveel keer jy se, nee, uh-uh, los, moenie vat nie en passop. En stelselmatig besef jy hoe jou kind eintlik begin verstaan en leer dat die lewe perke het en dat die lewe soms ‘n gevaarlike plek kan wees en jy nie KAN aan alles vat en alles uitprobeer nie, want die wereld is gevaarlik.
Verder glo jy mos dat jou bloedjie die heel beste ding is wat die wereld nog ooit getref het. Jy vertel oor en oor vir hulle hoe spesiaal hulle is en dat hulle enige iets in die lewe kan vermag, the world is your oyster. So kom die skool dan in hulle lewens in, en kom hy of sy agter met die eerste plat resies in Graad 1 dat hy/sy dalk nie ‘n Usain Bolt gaan wees nie. Jy neem foto’s van jou laaitie op die gholf dryfbaan met sy Little Tiger stokkies en post dit op Facebook as “die NUWE ERNIE ELS”, net om later te besef dat hy maar eerder op iets anders in die lewe sal moet fokus. Op daai eerste paar rapporte sien jy ook dat hy/sy nie noodwendig die nuwe Einstein of Sheldon gaan wees wat by MIT hoogleraar in Wiskunde gaan word nie.
Dan, as goeie ouer rasionaliseer ons dit by hulle en gee hulle hoop dat baie mense soms eers later ontwikkel en hy net moet aanhou. Jy vertel die Google stories van Einstein wat nie goed op skool gedoen het nie, en dat daar nog hoop is. Maar stelselmatig, gepaardgaande met die idee dat die wereld ‘n gevaarlike plek is, kry jou kind ook die idee dat Hy/Sy nie goed genoeg vir die wereld is nie.
Dit word nog vererger in die sosiale interaksie met mense om hulle. Hoeveel trane het jy al afgevee van jou kind wat nie genooi word na ‘n speelsessie by hulle favourite maatjie nie. Hy/sy ervaar dalk ook jou en jou eks se egskeiding en natuurlik blammeer kinders hulleself ook soms, en begin besef dat die wereld nie net gevaarlik is, en hy en sy nie goed genoeg is nie, maar ook dat die wereld hier diep binne seermaak.
En soos wat die teleurstellings opgaar, so groei ook die idee dat jy dalk nie mag wees wie en wat jy is nie, en so kasty hulle hulleself in hulle binneste. En om dit te vererger, moet hulle dan ook die preek van die nabygelee dominee met skoolopening hoor oor die deel uit die Bybel oor talente en dat jy dit nie onder die maatemmer moet wegsteek nie. Nou moet jy ook nou weer skuldig voel bo en behalwe al die onsekerhede en pyn wat jy reeds het.
Die skuldgevoel word ook vererger as jy deel van georganiseerde Christelike geloof ook is. Jy hoor oor en oor hoe jy in sonde ontvang en gebore is en dat die wereld om jou so is, as gevolg van sonde. Volgens Psalm 51 “want ek is ‘n sondaar gebore en was dit voor my sonde”. Ek onthou dat ek in myself, toe ek bietjie meer verstand gekry het, gewonder het oor die sin van die lewe as gevolg daarvan. Dit het vir my gevoel soos ‘n verdoemende scenario, as ek nou maar so gemaak is, is ek dalk ook so laat staan, en word gestraf vir iets wat beslis nie MY keuse was nie, deur ‘n God van liefde? Kan dit die lewe en die finale antwoord van menswees wees? En dalk in teenstelling met die woorde van Psalm 139 13 “Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef, Ek loof U, omdat ek so wonderbaar is, wonderbaar is u werke” en Jer 1, 2-5 “Voordat ek jou in die moederskoot gevorm het, het ek jou geken, en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het ek jou geheilig” Verse wat ons eintlik minder gehoor het, en wat minder sentraal staan in die Teologie wat ek gehoor het, as die fokus en sentrale tema van “Sondige Natuur”.
Ek onthou dat ek as kind in my bedjie in Belfast op die plaas my nag gebedjie gedoen het, en bang was dat ek aan die slaap raak tussen die vergiffenis gebed en my ogies toemaak en DALK intussen weer sonde sou doen en as ek dan in die nag sterf, hel toe sal gaan. Toe ek in my 4e jaar van Teologie studies my eerste preek in Magalieskruin doen, moet ek die Dinsdagmiddag die ou dominee gaan sien met my liturgie en preek. Ek het besluit om met my eerste preek eerder die wet gedeelte uit Mattheus voor te lees en nie die hele 10 gebooie nie. Nee, se die ou oom, JY lees die 10 gebooie, want ‘n suksesvolle preek is wanneer jy mense laat skuldig voel, sodat hulle as hulle na die diens huistoe gaan, hulle lewens gaan regruk. Nou ja, so het sonde so deel van ons lewens geword, en gepaardgaande daarmee die skuldgevoelens van wie en wat jy is, met die baggasie van waarmee jy gebore is, sonder keuse. So word mense se uitdaging in die lewe dus nie om te leef nie, maar eerder hulle lewens te wy daaraan om sonde in hulleself te bestry en beveg om sodoende nie ten gronde te gaan nie.
Aan die kern van die idee is die analise van die verhaal van die ontstaan van die sonde, die paradysverhaal. Gepaardgaande daarmee die opdrag van Paulus om “jou sondige natuur af te sterf” in Romeine en ook gevind in Psalm 64. Sentraal aan die denke vir mense is die woord “sondige” of silent en hulle hoor net “natuur”, of vir ander is daar nie onderskeid tussen die woorde nie en is alle “natuurlikheid” sondig. As voorbeeld hiervan die volgende voorbeeld. Ek het hierdie nogal baie agtergekom toe ek nog voorhuwelikse katkisasie vir paartjies gedoen het. Gewoonlik raak mens dan ook aan die seksualiteit. Dit was vir my verbasend hoeveel mense die idee huldig dat “seksualiteit” iets is wat NA die eet van die appel en sondeval pas, asof die mens voor die sondeval NIE hulle liggame gehad het nie, en dalk eiers gele het op ‘n bonatuurlike wyse.
Dan val mense se monde oop wanneer jy hulle verduidelik “fundamentalisties”, jammer, dat God vir Eva na die sondeval slegs se: “Nou sal jy MET MOEITE, kinders in die wereld bring”. Interresant hoe byvoorbeeld ‘n hele godsbeeld en katolieke kerk gebou is rondom die feit dat selibaat van jou seksualiteit ‘n manier is om sonder sonde te wees, en ook die idee dat Jesus maagdelik gebore MOES gewees het om Goddelik te kan wees. Dit is asof ons WERKLIK glo dat natuurlikheid sonde is en bydraend is daartoe om meer en meer sonde te verwek in ons.
Dit is so diep in ons verweef dat ek nou amper op hierdie stadium wil se dat ek jammer is dat ek nou seks uitlig. Dit is ook so diep in ons ingeprent, dat ouers altyd skaam is of sukkel om met hulle kinders oor seksualiteit te praat, maar geen probleem het om hulle te potty train of vir hulle te leer om hoe om met ‘n mes en vurk te eet of welke kos gesond is om te eet vir hulle groei nie, of hulle sonbrandmiddel aan te smeer of tande te borsel om hulle liggaamlikheid en gesondheid te onderhou nie. En sodoende word die idee al meer en meer by ons gevestig dat jy nie mag nie!
Ek vind dit so hartseer dat ons in ‘n wereld geleef het en leef waar ons met hierdie idee rondloop, en ook met skrif uitleg wat volgens my ons so vervreem van God en die goddelike gawe van die lewe. Een van my dominee vriende se beste boodskap wat vir ewig by my vassteek is die idee dat toe God jou geskep het, Hy ‘n deel van Homself afgebreek het en gese het, ek parafrasseer nou, “go have an adventure”. As ek die Bybel dan nou reg lees, besef min mense hoe God na die skepping, en voor die sogenaamde sondeval na my en jou en ons natuur as mens gekyk het en gese het, DIT IS VOLMAAK! Alles was in harmonie met elkaar en perfek. Ons word geleer dat, in die definisie van sonde, sonde eintlik is wanneer ek my vrye keuse gebruik om eerder in dis-harmonie met God en met alles om my te leef. Dus was sonde en ons sondigheid eintllik die oomblik toe ons besluit het om ons natuurlikheid en hoe ons volmaak geskape is, teen te kies. En op ‘n manier, die feit dat “EK MAG” maar met God in harmonie wees en ek mag maar myself wees, teen gekies het.
Eintlik word die sin in die lewe gevind wanneer ek teruggaan en ontdek WIE ek in God se idee en skepping is. Die ontdekking van hoe God my gemaak het en hoe God my sien is natuurlik, kyk maar hoe mense van die begin van tye, sonder teologiese sendingwerk self God gaan soek het. Hulle het totem pale opgerig en uitgekerf. En toe rituele ontwikkel van hoe om in harmonie met God te leef deur dinge soos offers en optrede, en dalk daarin het daar meer dis-harmonie en afstand gekom, want ons het nou net nie mooi genoeg die reendans gedoen nie, of die beste offers gebring nie, en daarom reen dit nie, want God is kwaad vir ons. Amper ook soos nou wat baie fundamentalistiese persone op Facebook ook “sonde” blammeer vir wat nou met Covid-19 gebeur.
As ek God en ons bestaan reg verstaan, is my en jou roeping om onsself in Goddelikheid en God se volmaaktheid in onsself te ontdek. Wanneer ons dit kan regkry, kan ons leef. Die term in Christelikheid wat ons die minste gebruik en op let is die woord, genade.
Die idee dat God se skepping en liefde volmaak en genoeg is, en dat geen dans of miskenning van natuurlikheid of welke ander ritueel my in harmonie met God kan dwing nie. Die besef dat dit net eenvoudig IS, WAS en altyd sal wees, is die natuurlikheid waarmee ek en jy geskep is. As my soeke in myself na harmonie is, met God, vloei dit dat ek met harmonie in myself kan leef.
Terwyl dit iets is wat ek moet verdien, sal jy nooit ooit kan voldoen nie, en dankie tog daarvoor! Net soos wat jy gholf mag speel, sonder dat jy noodwendig dit professioneel hoef te doen, en ook te besef dat al is jy Tiger Woods, hy slaan ook die bal soms in die water!
Ek onthou dat ek ook op skool baie graag in die atletiekspan wou gewees het, en ek het aangehou en aangehou, totdat ek in Graad 10 ontdek het dat my klein skooltjie nie ‘n 400m Hekkies atleet het nie, en dat dit my manier is om in te kom, nie dat ek SA’s gewen het nie, maar ek het reggekom. Ek het ontdek en gesoek na ‘n plek en ‘n manier om myself uit te leef. Jy het nie nodig om die beste te wees om te doen wat jy graag wil nie, net so hoef jy nie God se skoonste wit lappie te wees voor jy met Hom en ander in harmonie kan leef nie.
Die lewe is gebou op harmonie en vrede. Dit is soos ‘n boom wat by ‘n stroom geplant word, wat net sy rol speel, nie bekommer oor enige iets nie, maar net is. Mooji “There is no way to be. You are, It is enough, full stop”
Jy mag, en daarin ook, ook besluit of jy in die harmonie wil leef of nie? Dit is die wonder van die lewe, en nie in die disharmonie te leef dat jy nie goed genoeg is vir God en Sy teenwoordigheid nie. Dit is die sonde!
Lao Tzu “At the centre of your being you have the answer; you know who you are and you know what you want”
Monday, October 14, 2019
Waterskaarste!
Sunday, October 6, 2019
Ammunisie:
Die spreekwoord lei ook nie verniet dat die pen magtiger is as die swaard nie. In my nuwe uitdaging in die lewe sien ek hoe mense mekaar, hulleself en hulle kinders verwoes met woorde. Whatsapp en Sms’e het die skerpskutters van ons tyd geword, want dis nie “close combat” nie en die ander persoon sien ook nie altyd die rondte aankom nie. En soos met ‘n rondte, as dit afgevuur is is daar nie keer nie. As iemand jou nommer het is jy in hulle radar en kan die aanval enige tyd gebeur. Jou koördinate is in die GPS van gevaar. Mense is gevaarlik, nie wapens nie.
Ons leef in ‘n interresante tyd, ‘n tyd waarin meeste mense opsoek is na harmonie en vrede, in hulleself en ook vir mense om ons. Ons wil graag Switserland wees, onpartydig en neutraal, waar elkeen ‘n geleentheid gegun word om te leef soos hy/sy wil en in vrede. Die Switsers het wel 'n weermag en hulle het wapens want neutraliteit en vryheid mag en moet ook beskerm word. Maar, die Switsers raak nie betrokke by oorlog nie, inteendeel wend hulle hulle na plekke waar hulle stabiliteit kan bring. Dus, net omdat jy ammunisie het, beteken dit steeds jy het 'n keuse aan hoe en waar en waarvoor jy dit aanwend.
Sommige mense is permanent net ingestel en gefokus op oorlog. Sonder ammunisie en ‘n oorlog weet hulle nie wat om met hulleself te maak nie. As daar nie oorlog is nie gaan soek hulle daarna. Hulle skep alliansies met ander wat ook reg staan vir oorlog. En as daar die kleinste kans is om te ontplooi spring hulle in. Hulle spandeer alles moontlik op ammunisie en taktiek, en bemeester die kuns goed. Maar is dit die doel van die lewe om konstant te wil baklei? En kom ons is eerlik, as jy kyk na mense om jou is dit maklik om vyande te vind.
Die verskil is en bly jou basiese denkwyse. Neem Switserland weer as voorbeeld. As jy as basis vrede soek, dan plaas jy jou ammunisie in lyn daarmee. Dis nie asof Switserland iets het om te bewys nie, en almal het respek vir hulle. Hulle is approachable en het vriende wêreldwyd. As jy jou spiere wil wys soos Noord-Korea word jy geisoleer deur almal. Of jy kan met jou sterre en strepies gaan veg waar jy nie hoort nie en die natuurlike balans versteur. En jou inmeng lei tot torings wat val en haat.
Die spreekwoord lei dat geen mens ‘n eiland is nie. Jy het lande en mense om jou wat dalk van jou verskil. Hulle lyk anders en doen anders. En elkeen van ons is gewapen, maar eintlik behoort dit net tot een doel te wees en dit is om jou grense en jou manier van lewe te verdedig. As jy oor jou grens gaan besoek aflê mag dit slegs wees om vrede te bewerkstellig. Maar weereens, as jy nie vrede binne jou eie grense kan skep nie, hoe kan jy dit êrens anders gaan toepas? Sommige mense het so ‘n burgeroorlog in hulleself dat hulle selfs die mooi in hulle ook verwoes. Hulle skiet hulleself in die voet met hulle eie innerlike stryd dat hulleself verswak word tot die punt waar hulle nie as die nood druk hulle eie grense kan verdedig nie. En dan wonder hulle waarom die toeriste wegbly en jou eie mense emigreer uit jou lewe uit.
Dit beteken nie dat jy nonsens moet vat en slegs alles moet aanvaar nie. Switserland is nie wetteloos nie, in teendeel. Maar omdat almal instem tot die wette en besef dis tot voordeel van vrede, respekteer mense mekaar en die wette. Wette en ooreenkomste is juis geanker in respek, want as dit onder dwang is moet jy weer ‘n manier vind om dit af te dwing wat nog meer ammunisie en wapens vat.
Die lewe het reëls en grense. Die lewe het verskille en elkeen het die reg om hulleself te mag uitleef. Neutraliteit en harmonie kom nie deur ontwapening nie, maar deur wat jy met jou ammunisie doen en voor aanwend. En geluk kom as jou mense en jou binneste in vrede kan bestaan, as jy jou vrede beskerm en toeriste jou graag besoek waar die vrede en harmonie verkwikking vir hulle siele bring en waar hulle veilig voel en waters van rus ervaar!
So jou keuse, wees Noord-Korea of die VSA of Switserland!
Deon Lewis 5/10/2019
Tuesday, September 26, 2017
Wat gedoen met die Reuse in jou lewe?
Een van die grootste dinge waarmee Christene en gelowiges worstel, is waar hou geloof op en waar begin jou eie aksies. In dieselfde asem, waar moet ek ophou doen en waar met ek begin bid en dinge in God se hande plaas, onvoorwaardelik. Ek is nogal iemand wat kanse vat en dinge aanpak, soms blindelings en met volle geloof. Dan sit ek ook soms met die twyfel, want op vorige geleenthede het ek dieselfde gedoen, maar dinge het nie vir my uitgewerk nie. So, wat is die plek van ons aksies en ons denke in die proses? Ek voel soms "ongelowig" wanneer ek twyfel, of wanneer ek probeer doen, waar ek soms voel ek uit die pad moet klim.
Ek dink elkeeen van ons het al in tye so gevoel, waar ons nie 100% vertrou nie. Ek het grootgeword met die idee ook dat God kan alles, maar het tot die bewussyn gekom in my lewe dat God ook mense en ons aksies ook kan gebruik om by die doelwit van ons lewens uit te kom. Ek twyfel baie, nie in die vermoe en almag van God nie, maar eerder oor my plek in God se plan, of wat God van my vra om te doen. Ek is soms 'n "faith like potatoes, maybe" ou, en wonder soms of dit nie die probleem in my lewe is wat toelaat dat dinge skeef loop vir my nie. Ek wil soms 'n ark bou soos Noag in totale vertroue rondom God se wil, en soms voel dit asof ek saam met die skare wil staan en die bouery in twyfel wil trek. Soms kyk ek soos Dawid na die mense rondom my en wat hulle doen en bereik, sonder dat ek noodwendig hulle geloof raaksien. So wonder ek ook dan, wanneer ek dan my betrokkenheid toon, wat my plek is en of wat ek doen nie dalk verkeerd is en die oorsaak is van allerhande drama nie, veral as jy oor en oor dieselfde mislukkingspunt bereik.
Soms dink ek dat jou geloof absoluut werk, soos jy in jou individualiteit glo, en dat dit dalk vir elkeen anders is. Vir die een wat betrokke wil wees in God se plan, gebruik God hom in daardie plan. Vir die wat net glo dat God alles ten goede laat meewerk, dan werk hulle lewens so uit. Vir die twyfelaars sal die twyfel meer word, en daarmee saam meer situasies van twyfel. Vir die wat dink die lewe skuld hulle iets, gaan daar altyd situasies wees wat hulle daaraan herinner. En soms is ek soos 'n verkleurmannetjie op 'n smarie-dosie wat absoluut geen idee het oor waarmee God besig is nie, of twyfel of daar ooit in my lewe totale harmonie en struktuur sal wees. Soms verstaan ek my persoonlikheid en dat God my met positiwiteit vul, wat ongelukkig nie altyd die rekeninge kan betaal nie. Soms negeer ek die negatiewe en let nie op op die detail nie, en dan val dinge uitmekaar.
Ok, nou maak ek jou ook net so deurmekaar soos ek soms voel oor die lewe, en ja, die lewe het nie antwoorde nie. Wat ek die laaste ruk in my lewe agterkom is dat dit meer gaan oor en-en as oor of-of. Soms is God die God wat alles vir my laat uitwerk sonder my insette, en dan weet ek ook dat in Genade, wat ek ookal doen, behalwe om te glo, geen mate 'n invloed op God se Wil en gawes in my lewe het nie. My ma se altyd dat sy nie glo dat ons so absolute almag het om God se Wil te oorskryf of te verander nie. In dieselfde asem is die Bybel gevul met etlike verhale van mense wie se aksies op 'n manier drama vir hulleself en hulle geloof veroorsaak het. Ons kasty onsself dan ook weer, gereformeerd soos ons is, om die fout vir dinge in ons aksies en in ons geloof te gaan soek. Soos die spreekwoord lei: "bad things won't happen if you work harder on yourself".
In hierdie dag van my deurmekaar denke, sit ek baie en wonder oor wat ek alles in die verlede gedoen het om hierdie dag en situasie te verdien wat oor my pad gekom het, 'n dag met trauma en drama en pyn? En een ding wat ek absoluut verstaan, en dit is hoekom ek glo in die God waarin ek glo en op die manier waarin ek dit doen, is die woord Genade. Ek glo met my hele hart dat alles wat ons oor geloof leer by die venster uitgegooi kan word as dit nie was vir genade nie. In my wandelinge deur boeke oor ander Nie-Christelike geloof, is die Genade een van die enigste dinge wat ons nie in ander gelowe vind nie. Dit is Jy en Jou verhouding met die mense en universe om jou wat bepalend is van die geluk en ongeluk in die lewe. Ons praat so baie van "karma" wat ons uit die oosterse godsdienste van leer, en natuurlik praat die Bybel ook dat jy "maai wat jy saai", maar Genade is juis die teenbeeld daarvan. Wat genade vir my beteken is dat dinge goed of sleg loop, nie as gevolg van jou nie, maar te midde van jou. Eintlik vergeet ons hierdie soms, veral in 'n wereld van realiteite, wonder ek hoeveel keer en op hoeveel plekke ons die genade van God raaksien, bedank en in leef. Nou kom die gereformeerde logika weer in om ons te herinner dat ons nie net in Genade moet leef nie, maar hard moet werk om God en God se genade te verdien. Soos die gemeente vir Paulus gevra het, "beteken dit dat ons meer sonde moet doen sodat die genade moet toeneem?". Duidelik is ons probleem in die Christendom juis daarin gesetel dat ons niks hoef of kan doen om God se genade te aanvaar nie. Dit is hoekom, in my denke, soveel mense net eenvoudig nooit die konsep sal verstaan dat God gans anders is, en dat ons Hom nie kan "omkoop" of "druk" in 'n sekere rigting omdat ons so 'n perfekte lewe leef nie, of dat God se aksies straf is wanneer ons afdwaal van die smal weg?
Natuurlik, en veral tussen my en my "geleerde" vriende en Teoloee, praat mense baie oor die Bybel en oor die "nuwe" manier om te glo. Daar is verskillende idees oor Jesus, Sy maagdelike geboorte, of Hy nou werklik aan die kruis was, hoe die kruis gelyk het en of Hy werklik uit die dood uit opgestaan het en werklik God is? Ek wil nie op hierdie dinge teologies ingaan nie, want dit kan baie mense verwar, oor die algemeen dink ek dat dit juis in baie kringe die verwarring bring. Ek is gladnie 'n voorstaander van Fundamentalisme en letterlike verstaan van die Bybel nie, maar die beginsels van wie God is en hoe ek in 'n verhouding met die opperwese kan leef. En die antwoord wat dwarsdeur die Bybel vir my gestel word, is Genade, nie nie-verdienste, geen invloed situasie daarvan. En die grootste hiervan is wat aan die kruis gebeur het, nie met die persoon wat in die middel gehang het nie, maar die ou langs Jesus, wat gered is, sonder verdienste van een oomblik.
En die ding van Genade is dat dit gladnie sin maak nie, en dit is hoekom mense van die vroegste tye af die konsep gladnie verstaan nie, en ons in ons tyd soms nog minder. En nog meer, die feit dat die genade daar is vir die wat selfs nie in God glo of in Jesus Christus nie, selfs hulle het ook toegang tot God se genade. Maak nie rerig sin nie, want die een ding wat Genade "anders" maak is dat dit nie 'n ruilsituasie is nie. Ons as mense het 'n konsep van ruil, een ding vir 'n ander, van onsself tot ons medemens en verhoudings. In onsself "koop" ons ons goeie selfbeeld met hoe ons lyk, wat ons bereik en wat ons besit. In ons verhoudings "koop" ons ook geluk met blomme en met ander dinge. Met ons medemens "tel" die in ons lewens wat vir ons op 'n sekere manier dit verdien. En in Godsdiens dink ons baie min van onsself en glo dat ons nie God se liefde en deernis en goedheid verdien nie. Inherent leef ons in miinderwaardigheid teenoor almal, en die maklikste, eeue-oue gebruik van verdien of nie verdien nie is ons maklikste manier van handel met die wereld om ons.
Elke keer wat dinge in my lewe nie uitwerk nie, en die betaling vir die werk nie daar is nie, dan soek mense in minderwaardigheid die fout by hulleself en kasty hulleself deurlopend. Die grootste faktor van Genade is dat dit nie net van God vir jou is nie, maar van God aan jouself en jou eie manier van dink oor jouself met jou groot neus en klein bankbalans, maar ook van jou aan die mense om jou wat volgens jou dit nie verdien nie. Genade is soos 'n fontein wat van die bron deur jou en in jou spoel en wat deur jou moet spoel na die mense om jou. Dit is en kan nie verdien word nie, so wat jy ookal doen of nie doen in die lewe nie, reg of verkeerd, suksesvol en onsuksesvol, beinvloed in geen mate God se Genade of Almag oor die wereld en in jou lewe nie. Iemand het een keer vir my gese: "God het jou en my nie nodig om God te wees nie".
Vandag het as 'n slegte dag begin vir my, waar ek nie gevoel het dat daar enige Genade vir my is nie. Dinge wat ek gedoen en nie gedoen het nie was onder die vergrootglas. Ek het myself kasty oor wie ek is en wat ek doen en in minderwaardigheid my kop voor ander laat sak. Ek het getwyfel of God ooit Sy Genade vir my sal wys en hoe lank ek nog daarvoor moet wag. Ek het getwyfel is al die dinge wat ek aangepak het en waarin my geloofshoop gesetel is. Ek stress my morsdood oor die uitkoms, met logiese twyfel en stress. Soveel dinge het op dieselfde tipe manier vir my in die verlede begin en nie reg uitgeloop nie. Ek is bang dat dit nou ook weer die verkeerde tyd kan wees en dat dinge weer nie kan reg loop nie. Dit maak my weer bang dat ek dalk agv hierdie realistiese twyfel die ongeluk van die ding kan veroorsaak.
Toe gaan sit ek en ek skryf, ek gooi toe sommer alles hier vandag op papier neer, en besef dat al wat ek op kan roem, is dat God my Genadig sal wees, te midde van wat ek dink, voel of vrees en dat Hy my by waters van rus sal bring en nie aan my sondes of aksies sal dink nie. In dieselfde asem in dankbaarheid God vra om my te help om meer genadig teenoor myself en die mense om my om te gaan, nie uit verdienste uit nie, maar in liefde en dat ek in hierdie dag net liefde sal leef.
Ek is mal oor Dawid in die Bybel, en Dawid leer ons in sy Psalms dat hy ook getwyfel het en met dieselfde dinge as ek en jy geworstel het. Hy het ook twyfel gehad, ook in homself. Hy was die jongste en kleinste seun in sy gesin, en ek kan dink dat hy dalk baie geboelie en ore aangesit is, soos seuns maar is. Ek kan dink dat hy, as musikant, sagte emosionele mens, dalk daaroor gespot is, want hy was nie hierdie macho man dalk nie. Ek hoor hoe lag Goliath se manne hierdie outjie uit wat met 'n slingervelletjie die magtigheid van die wereld wil aanvat. Onthou, hy het ook getwyfel, en het nie net een klippie opgetel nie, maar 5. Sonder om nou letterlik alles op te neem, dit lyk vir my asof hy ook nie seker was dat die eerste klippie die dinge sou doen nie. En God het, te midde hiervan, tog die eerste klippie die werk laat doen, te midde van die ander 4 wat hy nog in sy sak gehad het.
Ek weet nie voor watter Reus van 'n situasie in jou lewe jy staan nie, dalk geld of siekte of 'n reuse transaksie of 'n reuse verhoudingskrisis of 'n reuse onsekerheid. Na alles wat ek in my lewe gesien en gedoen en ervaar het, seker maar soos 'n Dawid ook, God se Genade is enorm, dis gratis en dit is onverdienstelik. Vandag bid ek Genade van God oor my, my reus en my uitdaging in die geloof dat God te midde van my twyfel, te midde van my spanning, te midde van die uitjouery en minderwaardigheid, in die geloof dat Hy vir my is en vir my oorwinning sal bewerkstellig, gratis en verniet, al verdien ek dit nie.