Saturday, March 28, 2020

Dag 1

Nogal vreemd hoe mens weke voorberei om te preek en op ‘n tema besluit wat dalk so bietjie snaaks voel in hierdie tyd.  Hier is my preek wat ek 22 Maart sou gedoen het, maar gekeer is en nie mag gedoen het nie, so nogal ironies.

Jy mag!

Toe my seun Hugo so 4 jaar oud was, is ek en my eks oppad met hom na ‘n braai toe.  Ons weet toe ook dat daar ‘n vriend van haar gaan wees wat sy arms as kind in ‘n frats ongeluk verloor het.  Soos ouers mos maar maak as opvoeders, begin ons Hugo voorberei oor mense wat anders lyk en dat hy nie moet staar vir die oom nie.  Nie dat die vriend van ons ‘n probleem het nie, maar eerder as deel van ons opvoeding.  Daar aangekom skud hy beleef hand met al die mense en gee die tannies drukkies, en toe hy voor die vriend gaan staan se hy:  “Ja, jy het seker aan ‘n warm stoofplaat gevat”.

Voor jy kinders het, lees jy natuurlik al die boeke oor opvoeding en hoe jy die beste kampioenkind moet grootmaak.  Jy lees al die sielkundiges se analises en hoe jy hulle positief moet grootmaak, net om na ‘n ruk agter te kom hoeveel keer jy se, nee, uh-uh, los, moenie vat nie en passop.  En stelselmatig besef jy hoe jou kind eintlik begin verstaan en leer dat die lewe perke het en dat die lewe soms ‘n gevaarlike plek kan wees en jy nie KAN aan alles vat en alles uitprobeer nie, want die wereld is gevaarlik.

Verder glo jy mos dat jou bloedjie die heel beste ding is wat die wereld nog ooit getref het.  Jy vertel oor en oor vir hulle hoe spesiaal hulle is en dat hulle enige iets in die lewe kan vermag, the world is your oyster.  So kom die skool dan in hulle lewens in, en kom hy of sy agter met die eerste plat resies in Graad 1 dat hy/sy dalk nie ‘n Usain Bolt gaan wees nie.  Jy neem foto’s van jou laaitie op die gholf dryfbaan met sy Little Tiger stokkies en post dit op Facebook as “die NUWE ERNIE ELS”, net om later te besef dat hy maar eerder op iets anders in die lewe sal moet fokus.  Op daai eerste paar rapporte sien jy ook dat hy/sy nie noodwendig die nuwe Einstein of Sheldon gaan wees wat by MIT hoogleraar in Wiskunde gaan word nie.

Dan, as goeie ouer rasionaliseer ons dit by hulle en gee hulle hoop dat baie mense soms eers later ontwikkel en hy net moet aanhou.  Jy vertel die Google stories van Einstein wat nie goed op skool gedoen het nie, en dat daar nog hoop is.  Maar stelselmatig, gepaardgaande met die idee dat die wereld ‘n gevaarlike plek is, kry jou kind ook die idee dat Hy/Sy nie goed genoeg vir die wereld is nie.

Dit word nog vererger in die sosiale interaksie met mense om hulle.  Hoeveel trane het jy al afgevee van jou kind wat nie genooi word na ‘n speelsessie by hulle favourite maatjie nie.  Hy/sy ervaar dalk ook jou en jou eks se egskeiding en natuurlik blammeer kinders hulleself ook soms, en begin besef dat die wereld nie net gevaarlik is, en hy en sy nie goed genoeg is nie, maar ook dat die wereld hier diep binne seermaak.

En soos wat die teleurstellings opgaar, so groei ook die idee dat jy dalk nie mag wees wie en wat jy is nie, en so kasty hulle hulleself in hulle binneste.  En om dit te vererger, moet hulle dan ook die preek van die nabygelee dominee met skoolopening hoor oor die deel uit die Bybel oor talente en dat jy dit nie onder die maatemmer moet wegsteek nie.  Nou moet jy ook nou weer skuldig voel bo en behalwe al die onsekerhede en pyn wat jy reeds het.

Die skuldgevoel word ook vererger as jy deel van georganiseerde Christelike geloof ook is.  Jy hoor oor en oor hoe jy in sonde ontvang en gebore is en dat die wereld om jou so is, as gevolg van sonde.  Volgens Psalm 51 “want ek is ‘n sondaar gebore en was dit voor my sonde”.  Ek onthou dat ek in myself, toe ek bietjie meer verstand gekry het, gewonder het oor die sin van die lewe as gevolg daarvan.  Dit het vir my gevoel soos ‘n verdoemende scenario, as ek nou maar so gemaak is, is ek dalk ook so laat staan, en word gestraf vir iets wat beslis nie MY keuse was nie, deur ‘n God van liefde?  Kan dit die lewe en die finale antwoord van menswees wees?  En dalk in teenstelling met die woorde van Psalm 139 13 “Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef, Ek loof U, omdat ek so wonderbaar is, wonderbaar is u werke” en Jer 1, 2-5 “Voordat ek jou in die moederskoot gevorm het, het ek jou geken, en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het ek jou geheilig”  Verse wat ons eintlik minder gehoor het, en wat minder sentraal staan in die Teologie wat ek gehoor het,  as die fokus en sentrale tema van “Sondige Natuur”.

Ek onthou dat ek as kind in my bedjie in Belfast op die plaas my nag gebedjie gedoen het, en bang was dat ek aan die slaap raak tussen die vergiffenis gebed en my ogies toemaak en DALK intussen weer sonde sou doen en as ek dan in die nag sterf, hel toe sal gaan.   Toe ek in my 4e jaar van Teologie studies my eerste preek in Magalieskruin doen, moet ek die Dinsdagmiddag die ou dominee gaan sien met my liturgie en preek.  Ek het besluit om met my eerste preek eerder die wet gedeelte uit Mattheus voor te lees en nie die hele 10 gebooie nie.  Nee, se die ou oom, JY lees die 10 gebooie, want ‘n suksesvolle preek is wanneer jy mense laat skuldig voel, sodat hulle as hulle na die diens huistoe gaan, hulle lewens gaan regruk.  Nou ja, so het sonde so deel van ons lewens geword, en gepaardgaande daarmee die skuldgevoelens van wie en wat jy is, met die baggasie van waarmee jy gebore is, sonder keuse.  So word mense se uitdaging in die lewe dus nie om te leef nie, maar eerder hulle lewens te wy daaraan om sonde in hulleself te bestry en beveg om sodoende nie ten gronde te gaan nie.

Aan die kern van die idee is die analise van die verhaal van die ontstaan van die sonde, die paradysverhaal.  Gepaardgaande daarmee die opdrag van Paulus om “jou sondige natuur af te sterf” in Romeine en ook gevind in Psalm 64.  Sentraal aan die denke vir mense is die woord “sondige” of silent en hulle hoor net “natuur”, of vir ander is daar nie onderskeid tussen die woorde nie en is alle “natuurlikheid” sondig.  As voorbeeld hiervan die volgende voorbeeld.  Ek het hierdie nogal baie agtergekom toe ek nog voorhuwelikse katkisasie vir paartjies gedoen het.  Gewoonlik raak mens dan ook aan die seksualiteit.  Dit was vir my verbasend hoeveel mense die idee huldig dat “seksualiteit” iets is wat NA die eet van die appel en sondeval pas, asof die mens voor die sondeval NIE hulle liggame gehad het nie, en dalk eiers gele het op ‘n bonatuurlike wyse.
Dan val mense se monde oop wanneer jy hulle verduidelik “fundamentalisties”, jammer, dat God vir Eva na die sondeval slegs se:  “Nou sal jy MET MOEITE, kinders in die wereld bring”.  Interresant hoe byvoorbeeld ‘n hele godsbeeld en katolieke kerk gebou is rondom die feit dat selibaat van jou seksualiteit ‘n manier is om sonder sonde te wees, en ook die idee dat Jesus maagdelik gebore MOES gewees het om Goddelik te kan wees.  Dit is asof ons WERKLIK glo dat natuurlikheid sonde is en bydraend is daartoe om meer en meer sonde te verwek in ons.

Dit is so diep in ons verweef dat ek nou amper op hierdie stadium wil se dat ek jammer is dat ek nou seks uitlig.  Dit is ook so diep in ons ingeprent, dat ouers altyd skaam is of sukkel om met hulle kinders oor seksualiteit te praat, maar geen probleem het om hulle te potty train of vir hulle te leer om hoe om met ‘n mes en vurk te eet of welke kos gesond is om te eet vir hulle groei nie, of hulle sonbrandmiddel aan te smeer of tande te borsel om hulle liggaamlikheid en gesondheid te onderhou nie.  En sodoende word die idee al meer en meer by ons gevestig dat jy nie mag nie!

Ek vind dit so hartseer dat ons in ‘n wereld geleef het en leef waar ons met hierdie idee rondloop, en ook met skrif uitleg wat volgens my ons so vervreem van God en die goddelike gawe van die lewe.  Een van my dominee vriende se beste boodskap wat vir ewig by my vassteek is die idee dat toe God jou geskep het, Hy ‘n deel van Homself afgebreek het en gese het, ek parafrasseer nou, “go have an adventure”.  As ek die Bybel dan nou reg lees, besef min mense hoe God na die skepping, en voor die sogenaamde sondeval na my en jou en ons natuur as mens gekyk het en gese het, DIT IS VOLMAAK!  Alles was in harmonie met elkaar en perfek.  Ons word geleer dat, in die definisie van sonde, sonde eintlik is wanneer ek my vrye keuse gebruik om eerder in dis-harmonie met God en met alles om my te leef.  Dus was sonde en ons sondigheid eintllik die oomblik toe ons besluit het om ons natuurlikheid en hoe ons volmaak geskape is, teen te kies.  En op ‘n manier, die feit dat “EK MAG” maar met God in harmonie wees en ek mag maar myself wees, teen gekies het.

Eintlik word die sin in die lewe gevind wanneer ek teruggaan en ontdek WIE ek in God se idee en skepping is.  Die ontdekking van hoe God my gemaak het en hoe God my sien is natuurlik, kyk maar hoe mense van die begin van tye, sonder teologiese sendingwerk self God gaan soek het.  Hulle het totem pale opgerig en uitgekerf.  En toe rituele ontwikkel van hoe om in harmonie met God te leef deur dinge soos offers en optrede, en dalk daarin het daar meer dis-harmonie en afstand gekom, want ons het nou net nie mooi genoeg die reendans gedoen nie, of die beste offers gebring nie, en daarom reen dit nie, want God is kwaad vir ons.  Amper ook soos nou wat baie fundamentalistiese persone op Facebook ook “sonde” blammeer vir wat nou met Covid-19 gebeur.

As ek God en ons bestaan reg verstaan, is my en jou roeping om onsself in Goddelikheid en God se volmaaktheid in onsself te ontdek.  Wanneer ons dit kan regkry, kan ons leef.  Die term in Christelikheid wat ons die minste gebruik en op let is die woord, genade.

Die idee dat God se skepping en liefde volmaak en genoeg is, en dat geen dans of miskenning van natuurlikheid of welke ander ritueel my in harmonie met God kan dwing nie.  Die besef dat dit net eenvoudig IS, WAS en altyd sal wees,  is die natuurlikheid waarmee ek en jy geskep is.  As my soeke in myself na harmonie is, met God, vloei dit dat ek met harmonie in myself kan leef.

 Terwyl dit iets is wat ek moet verdien, sal jy nooit ooit kan voldoen nie, en dankie tog daarvoor!  Net soos wat jy gholf mag speel, sonder dat jy noodwendig dit professioneel hoef te doen, en ook te besef dat al is jy Tiger Woods, hy slaan ook die bal soms in die water!

Ek onthou dat ek ook op skool baie graag in die atletiekspan wou gewees het, en ek het aangehou en aangehou, totdat ek in Graad 10 ontdek het dat my klein skooltjie nie ‘n 400m Hekkies atleet het nie, en dat dit my manier is om in te kom, nie dat ek SA’s gewen het nie, maar ek het reggekom.  Ek het ontdek en gesoek na ‘n plek en ‘n manier om myself uit te leef.  Jy het nie nodig om die beste te wees om te doen wat jy graag wil nie, net so hoef jy nie God se skoonste wit lappie te wees voor jy met Hom en ander in harmonie kan leef nie.

Die lewe is gebou op harmonie en vrede.  Dit is soos ‘n boom wat by ‘n stroom geplant word, wat net sy rol speel, nie bekommer oor enige iets nie, maar net is.  Mooji  “There is no way to be.  You are, It is enough, full stop”
Jy mag, en daarin ook, ook besluit of jy in die harmonie wil leef of nie?  Dit is die wonder van die lewe, en nie in die disharmonie te leef dat jy nie goed genoeg is vir God en Sy teenwoordigheid nie.  Dit is die sonde!

Lao Tzu “At the centre of your being you have the answer; you know who you are and you know what you want”

No comments:

Post a Comment