Sunday, October 6, 2019

Ammunisie:

Ek self was nooit in die weermag nie, maar baie van my vriende was en sommige is nog êrens besig daarmee in Irak of Sudan. Ek luister elkgeval altyd na hulle stories, van dit skokkend en van dit vol pret. Ek het darem al geleer om nie van koëels te praat nie, maar van rondtes en ook eerder van wapen as geweer. Ek weet ook dat jy spesialiseer en dat elkeen iets anders doen in die weermag. Wêreldwyd gons dit ook oor of privaat mense wapens mag besit en hoe dit gekontroleer kan word, terwyl ons almal weet dat dit nie die wapen of die rondte is wat skade maak nie, maar die mens, die denke en die idiologie.

Die spreekwoord lei ook nie verniet dat die pen magtiger is as die swaard nie. In my nuwe uitdaging in die lewe sien ek hoe mense mekaar, hulleself en hulle kinders verwoes met woorde. Whatsapp en Sms’e het die skerpskutters van ons tyd geword, want dis nie “close combat” nie en die ander persoon sien ook nie altyd die rondte aankom nie. En soos met ‘n rondte, as dit afgevuur is is daar nie keer nie. As iemand jou nommer het is jy in hulle radar en kan die aanval enige tyd gebeur. Jou koördinate is in die GPS van gevaar. Mense is gevaarlik, nie wapens nie.

Ons leef in ‘n interresante tyd, ‘n tyd waarin meeste mense opsoek is na harmonie en vrede, in hulleself en ook vir mense om ons. Ons wil graag Switserland wees, onpartydig en neutraal, waar elkeen ‘n geleentheid gegun word om te leef soos hy/sy wil en in vrede.  Die Switsers het wel 'n weermag en hulle het wapens want neutraliteit en vryheid mag en moet ook beskerm word. Maar, die Switsers raak nie betrokke by oorlog nie, inteendeel wend hulle hulle na plekke waar hulle stabiliteit kan bring. Dus, net omdat jy ammunisie het, beteken dit steeds jy het 'n keuse aan hoe en waar en waarvoor jy dit aanwend.

Sommige mense is permanent net ingestel en gefokus op oorlog. Sonder ammunisie en ‘n oorlog weet hulle nie wat om met hulleself te maak nie. As daar nie oorlog is nie gaan soek hulle daarna. Hulle skep alliansies met ander wat ook reg staan vir oorlog. En as daar die kleinste kans is om te ontplooi spring hulle in. Hulle spandeer alles moontlik op ammunisie en taktiek, en bemeester die kuns goed. Maar is dit die doel van die lewe om konstant te wil baklei? En kom ons is eerlik, as jy kyk na mense om jou is dit maklik om vyande te vind.

Die verskil is en bly jou basiese denkwyse. Neem Switserland weer as voorbeeld. As jy as basis vrede soek, dan plaas jy jou ammunisie in lyn daarmee. Dis nie asof Switserland iets het om te bewys nie, en almal het respek vir hulle. Hulle is approachable en het vriende wêreldwyd. As jy jou spiere wil wys soos Noord-Korea word jy geisoleer deur almal. Of jy kan met jou sterre en strepies gaan veg waar jy nie hoort nie en die natuurlike balans versteur. En jou inmeng lei tot torings wat val en haat.

Die spreekwoord lei dat geen mens ‘n eiland is nie. Jy het lande en mense om jou wat dalk van jou verskil. Hulle lyk anders en doen anders. En elkeen van ons is gewapen, maar eintlik behoort dit net tot een doel te wees en dit is om jou grense en jou manier van lewe te verdedig. As jy oor jou grens gaan besoek aflê mag dit slegs wees om vrede te bewerkstellig. Maar weereens, as jy nie vrede binne jou eie grense kan skep nie, hoe kan jy dit êrens anders gaan toepas? Sommige mense het so ‘n burgeroorlog in hulleself dat hulle selfs die mooi in hulle ook verwoes. Hulle skiet hulleself in die voet met hulle eie innerlike stryd dat hulleself verswak word tot die punt waar hulle nie as die nood druk hulle eie grense kan verdedig nie. En dan wonder hulle waarom die toeriste wegbly en jou eie mense emigreer uit jou lewe uit.

Dit beteken nie dat jy nonsens moet vat en slegs alles moet aanvaar nie. Switserland is nie wetteloos nie, in teendeel. Maar omdat almal instem tot die wette en besef dis tot voordeel van vrede, respekteer mense mekaar en die wette. Wette en ooreenkomste is juis geanker in respek, want as dit onder dwang is moet jy weer ‘n manier vind om dit af te dwing wat nog meer ammunisie en wapens vat.

Die lewe het reëls en grense. Die lewe het verskille en elkeen het die reg om hulleself te mag uitleef. Neutraliteit en harmonie kom nie deur ontwapening nie, maar deur wat jy met jou ammunisie doen en voor aanwend. En geluk kom as jou mense en jou binneste in vrede kan bestaan, as jy jou vrede beskerm en toeriste jou graag besoek waar die vrede en harmonie verkwikking vir hulle siele bring en waar hulle veilig voel en waters van rus ervaar!

So jou keuse, wees Noord-Korea of die VSA of Switserland!

Deon Lewis 5/10/2019

No comments:

Post a Comment