Monday, December 1, 2014

Klasgemiddeld

Hierdie tyd van die jaar voel dit asof almal besig is met een of ander eksamen. Dit is gewoonlik die tyd wat ouers verskriklik bekommerd is, en irritasies in 'n huis loop maar hoog. Kinders se X-Box voordele en selfoongebruik word ingeperk, en daar is nie tyd of kans vir braai of funksies as 'n familie nie. Ek onthou hoe erg eksamens vir my was, spesifiek toe ek op skool was, want 'n mens moet allerhande vakke leer wat nie werklik jou forte of belangstelling is nie.


Wanneer die uitslae uitkom, is dit altyd 'n groot spanning, want ons word getoets aan die punte wat ons kry. Nou die dag kom Hugo, my oudste, by die huis met 'n punt wat nie heeltemal voldoen aan die vereistes wat ons, en hyself, gestel het nie. Sy response is vir my so tipies van hoe ek ook op skool opgetree het, want skielik gooi hy die klasgemiddeld voor ons. Hy wys met groot trots uit dat almal swak gedoen het, en dat hy gelukkig bo die gemiddeld presteer het.


In my antwoord klink ek toe vir myself net soos my ma toe ek op skool was. Sy het altyd vir my gese dat 'n mens jouself meet aan jou eie standaarde, en nooit aan die klasgemiddeld nie. Wat belangrik is van dit, is dat ons moet besef in die lewe dat daar wel 'n "gemiddeld" is in alles in die lewe. Mense wat dinge bereik in hulle lewens, is gewoonlik die wat bo-gemiddeld presteer en wat aan hulle eie verwagtinge voldoen. Indien jy altyd volgens die gemiddeld gaan meet, gaan jou lewe altyd gemiddeld wees. Dit is die een kant van die muntstuk wat ons nooit moet vergeet nie.


KONTEKS IS BELANGRIK


Wat egter belangrik is, is dat ons altyd die konteks ook in berekening moet bring. Ons sien om ons soveel kinders wat allerhande drastiese stappe neem, veral wanneer hulle nie aan vereistes voldoen nie. Ons as ouers wil graag dat ons kinders beter lewens as ons moet leef. Ons verwag van hulle meer as wat ons ooit van onsself verwag het. Ek vang myself en my vriende om my uit dat ons nou net so klink soos wat ons ouers geklink het toe ons kinders was. Ons word self die "gemiddeld" en die "mode". Op Facebook sien ek hoe ouers allerhande dinge neerskryf oor die eksamen, en ook hoe trots hulle op hulle kinders is. Die Bybel waarsku ons daarteen dat die oordeel waarmee ons oordeel, oor ons ge-oordeel gaan word. Ek wonder soms, wanneer ons kinders na ons kyk, watter tipe voorbeeld ons aan hulle stel.


Ek self wat groot mislukkings in my lewe deurgaan, kyk soms in skaamte in my kinders se oe. Maar een ding wat ek deur al die sukkeltye geleer het, is deernis. Dit is nie altyd maklik om op alle silinders te vuur nie. Soms is daar omstandighede, presies soos 'n klasgemiddeld, waaroor jy geen beheer het nie. Soms is daar daardie een vak wat jy eenvoudig nie baas kan raak nie, want dit is nie in jou beheer of in jou greep om dit te vermag of deur te kom nie.


Ek kyk na die wereld om my, en ek sien gebroke en stukkende mense. Die lewe verwag soms van ons baie meer as wat ons kan vermag. Elke dag is 'n eksamen, en soms is jy net eenvoudig nie opgewasse teen dit nie. Jy word telkens deur die mense om jou uitgetrap omdat jy ook soms onder die gemiddeld, of onder die verwagting presteer. Mense gebruik allerhande anti-depresante om hulle lewens beter te maak. Soms moet ons, met onsself en veral met ons kinders, effens deernis te ontwikkel met wat gebeur en die punte wat ons behaal.


Beteken dit nou dat ons nooit beter probeer wees nie? Beslis nie, al wat ek daarmee probeer se is dat ons moet besef dat die klasgemiddeld en omstandighede soms 'n rol speel. Nie almal kan 9 onderskeidings in matriek behaal nie. In dieselfde asem is ons ook bewus daarvan dat nie almal wiskunde aanleg het nie, en om van almal te verwag om dit te kan doen, is onrealisties. So, die klasgemiddeld bly belangrik, maar net as 'n aanduiding. Wat belangrik is in die lewe, is nie wat ander se doelwitte en verwagtinge van jou is nie, maar jou eie. Maar, jou doelwitte moet altyd binne konteks wees, en gefundeer in die realiteit. Die klasgemiddeld is vir jou 'n aanduiding van hoe maklik of hoe moeilik 'n vak is, en jy kan daardie realiteit nooit miskyk nie. Maar belangrikste van alles is dat die klasgemiddeld nooit vir jou 'n verskoning mag word om jou potensiaal mis te kyk nie. Die klasgemiddeld is en mag slegs 'n aanduiding wees, maar nooit 'n verskoning om nie die beste te wees wat jy kan wees nie. Dit is die balans.


EIE DOELWITTE


Die klasgemiddeld is ook iets wat jou "insluit", maar dit is nooit jy en jy alleen nie. Ons wil almal 'n individu wees, maar solank ons onsself met ander vergelyk, sal jy nooit een wees nie. Ons gooi maklik die klasgemiddeld uit as ons kinders dit as konteks vir ons vertel, en ons se dat dit onrealisties is. Maar is ons verwagtinge van hulle nie net so onrealisties nie. Jy kan in die lewe NET jou eie doelwitte volg, nie dit wat ander van jou verwag, of wat ander vermag nie. Ons as ouers is vinnig om vir hulle te vertel dat hulle hulleself nie met die norm van die klasgemiddeld mag vergelyk nie, maar in welke mate doen ons dit? Uit my persoonlike ondervinding die laaste klompie jare, sien ek dat ons altyd mense meet, en van hulle ontslae raak wanneer hulle nie aan ons vereistes voldoen nie. Veral wanneer dit handel oor sukses en geld, beoordeel ons mense baie aan die uitslae, en nooit oor die insette wat hulle lewer nie.


OORDEEL EN DEERNIS


Ek weet ek skryf baie oor oordeel, dalk vat ek dit baie persoonlik op, maar ek hoor elke dag hoe mense net oordeel en oordeel. Ons loop daagliks met weegskale rond en ons meet almal. Ek wonder soms of dit gebore is uit ons Calvinistiese opvoeding en idee oor God? Ek se daarmee gladnie dat daar nie tyd en plek is vir be-oordeling nie, en ook nie dat jy nie self mag besluit wat vir jou werk en nie werk nie.


Een van die redes hoekom ek so glo in die boodskap van die Nuwe Testament, en dit antwoord dalk hoe ek oor oordeel dink, is die idee van genade. Ons leef in 'n wereld waar ek die hele tyd NET op die punte en die rapport fokus. As my lewe so ingestel is om alles te meet en te analiseer, gaan ek nooit lewe nie. Genade beteken dat daar wel toetse en rapporte in ons bestaan is, maar God kyk nie NET daarna nie. Vir God is dit belangrik WIE daaragter staan en ons werklike menswees. Genade is ook belangrik, want dit leer ons dat ek nie elke dag NET my kind kan beskou na aanleiding van sy/haar punte nie. In God se oe is daar nie 'n skaal nie, daar is geen oordeel nie, daar is geen rapport nie. Ek dink dit is wat Jesus se koms in die Nuwe Testament ons geleer het, dat ons niks kan verdien nie. Wat sou jou en my lewe uit bestaan het as God ons net gesien het in ons rapport?


Gisteraand kyk ek 'n program: "The Bible" op History Channel. Dit gaan toe oor die Ou Testament, van Moses tot by Dawid. Daar is so 'n duidelike boodskap van die menslikheid in al hierdie "mense van God". Hulle probeer almal so hard om te wees wat God van hulle "verwag", en telkens val hulle. Hulle word gesalf as God se keuse vir die volk, maar die hele tyd faal hulle. Een ding is duidelik in al hierdie verhale, God besef hulle menslikheid. God besef dat alhoewel hulle hard probeer, hulle maar net mense is, hulle maar net presteer volgens die "klasgemiddeld". Oordeel God hulle daarvoor? Natuurlik is daar deur die verhale konsekwensies vir hulle dade, maar die konsekwensies kom net wanneer hulle nie meer God eerste stel nie. God het hulle aangestel, wetende dat hulle mense is, maar wanneer hulle optree soos die ander mense en God vergeet, dan kom die konsekwensies.


Dan kom die wonderwerk altyd van God se kant. Hulle kry steeds die geskenk, te midde van die feit dat hulle "onderpresteer" het, want God is lief vir hulle. Wanneer hulle hulle beroep op die genade, dan gee God steeds vir hulle die "prys". Die hele boodskap van die Nuwe Testament is dat ons MOET ons bes probeer, maar of ons nou suksesvol is, of nie, God vergewe ons steeds daarvoor. God se deernis gaan nie oor ons prestasies nie, maar oor die feit dat ons Sy kinders is. Ons dink soms ons oordeel "uit liefde", maar ek het al in my lewe ervaar hoe daardie "verskoning", mense uitmekaar skeer. Ek het gesien hoe kinders totaal en al rebelleer, wanneer hulle nie gehoor of gesien word nie. Ek het ouers gesien wat kinders se potensiaal totaal gebreek het, deur hulle kinders konstant uit te kryt.


Een ding wat ek ook gesien het, en dit is ook die gevaar van "oordeel", is dat die Bybel ons ook leer dat "wat jy saai, sal jy maai". Ek het al gesien dat kinders opgee op die lewe, en presies die mislukkings wat hulle ouers van hulle dink, begin uitleef. "Jy dink mos ek is 'n mislukking, nou sal ek maar dit", of "ek sal nooit goed genoeg wees nie, so wat is die punt om te probeer?". Ons moet in ons saamleef met ander mense altyd besef, dat niemand jou die mag en pag gegee het om ander so te behandel nie. Mense kan net groei in goeie grond, en sonder liefde is daar net negatiwiteit en hartseer in ons.


VERANTWOORDELIKHEID


Beteken dit dan nou dat ons maar moet opgee in die lewe en net doen wat ons wil? Gladnie, die gemeente vra ook vir Paulus: "moet ons dus meer sonde doen sodat die genade kan toeneem?" Jy sien, om in genade en met genade te leef is nie "menslik" maklik nie. Die menslike manier is oordeel en veroordeel.


Een ding van die klasgemiddeld wat ons soms vergeet, is my insette en verantwoordelikhede teenoor die klasgemiddeld. Onthou, die gemiddeld word bepaal deur almal betrokke se punte bymekaar te tel, en te verdeel deur die hoeveelheid deelnemers. Elke puntjie wat jy ekstra verdien, verhoog die klasgemiddeld. In daardie opsig moet ons ons verantwoordelikheid teenoor menswees aanvaar en besef. Hoe beter elke mens probeer leef, hoe meer inspireer jy die mense om jou om ook beter te wees en te wil wees. Dit is maklik om te oordeel, maar wat doen jy daaraan? 


Ons is soms op die pawiljoen besig om te skree vir die spelers op die veld wat hulle moet doen, maar jy neem nooit deel aan die spel en probeer 'n verandering bring nie. Soms voel jy magteloos, maar weet een ding, jy kan nie die hele klas se eksamens vir hulle skryf om die gemiddeld te lig nie, net jou eie punte behaal. Leef jou eie lewe, probeer jou bes, stel jou doelwitte, maar die belangrikste van alles, LEWE. Net soos eksamen en punte nie al is waaroor die lewe gaan nie, kry die balans en gaan hou soms vakansie. Maak plek en tyd om te rus en jou rek te laat slap word, want 'n rek wat heeltyd styf bly, verweer en verloor tog sy effektiwiteit.

Wednesday, November 12, 2014

Realiteit en Drome

Iemand vertel vir my hierdie oulike storie van die man wat vreeslik depressief was. So sit hy die aand weer buite op 'n tuinstoel en huil en kry homself jammer. Sy vrou stap na hom toe en se: "Aai, my man, dit kan tog nie so erg wees nie, daar is soveel dinge om voor dankbaar te wees in ons lewens". Hy antwoord haar: "Nee daar is nie". Sy se: "Ag nee my man, kyk net hoe mooi kom die maan daar oor die bome op". En hy antwoord: "Ja sien jy, nou kom die maan ook nog op".


Ek vind dit vreeslik insiggewend hoe ons as mense nie glo in dinge soos die Law of Attraction nie. Miskien het dit te doen met die feit dat ons een groot fout maak in ons denkproses. Kyk na die storie hier bo, die realiteit van die man se gemoedstoestand, is so oorweldigend dat hy gladnie die mooi kan raaksien van die maan nie. Wat ons doen, en dit is hoekom ons lewens in sulke haglike toestande soms is, is dat ons onderskeid maak tussen die "realiteit" (gewoonlik die negatiewe dinge) en die "droomwereld" (gewoonlik die positiewe). Ek toets mense baie en ek kom agter dat ons glo dat die positiewe, die lekker van die lewe, net 'n droom en ideaal is. Hulle sal jou altyd terugbring na die "realiteit" van wat werklik is, soos pyn, lyding, hartseer, drama en baklei.


Vanoggend praat iemand met my oor die foon, en so sien ek dit presies weer. Dit is 'n reenerige dag in Pretoria, en sy reaksie is: "Wat 'n mistroostige, depresiewe dag". Natuurlik skyn die son nie vandag nie, en ja, jy gaan erens natreen, en natuurlik op sulke dae word dinge uitgestel by skole wat kinders na uitgesien het. Maar is dit 'n mistroostige dag? Vir iemand anders kan dit 'n wonderlike dag wees, want nou kan hulle lekker pannekoek eet, of erens 'n heerlike glasie rooiwyn. Erens is dit dalk vir iemand 'n kans om saam met 'n geliefde heerlik knus onder 'n duvet te sit en 'n lekker film te kyk. Ek glo dat alles in die lewe wel hierdie "realiteit" inhou van die reen, maar dit is alles net 'n persepsie van hoe ek dit hanteer en uitleef. In elke deel van my bestaan het ek die keuse van hoe ek dit wil hanteer.


Toe ek so 6 jaar oud was, het my ouers in die A Capella koor gesing, en ons was op 'n reis Europa toe. Die een vlug het ons van Switzerland geneem na Amsterdam, maar dit het so gesneeu dat ons vir 'n ruk lank gestrand was om te wag om op te styg. Twee dinge het my opgeval, die een is dat die hele koor onmiddelik die "vervelige" tyd opgemaak het, en net daar in die lughawe vir die ander passasiers konsert gehou het. Almal kon natuurlik daar gesit en hulleself jammer gekry het, maar 'n "realistiese" en negatiewe insident in iets wonderliks verander. Die tweede les wat ek geleer het, was net nadat ons uiteindelik opstyg en deur die grou swaar wolke gebreek het, het die son heerlik van bo op die wolkemassa geskyn. Dit het my as 'n klein kindjie opgeval dat, alhoewel daar wolke "voor" die son is, en ons die son nie kan sien nie, die son steeds daar is. Dit is net so realisties en bewysbaar as die wolke wat jou dag mistroostig maak.


Wanneer ek negatief en depressief is, wat baie gebeur, kom ek vinnig agter dat ek my vasstaar in die wolkmassa voor my, en dan dink jy soms dit gaan nooit weggaan nie. Jy vergeet soms dat daar 'n son is wat jy net nie kan sien nie. Dit is natuurlik ook die fout wat die realiste maak is om dan skielik vir jou te verwyt dat jy nie die wolke raaksien nie. Dit is gladnie waar nie, ek is geheel en al bewus van die wolke, en ek ry maar my sambreeltjie saam en stop maar op 'n plek waar ek nie nat gaan reen nie.


Dalk is dit net ek wat in 'n wereld leef, wat gevul is met klomp "realiste" en klomp "dromers". Ek dink die probleem van die law of attraction en hoekom mense nie kan funksioneer nie, want nie een van die twee groepe "leef" nie, is omdat hulle absoluut of in die een of in die ander leef. 'n Mens sal doodgaan van depressie as jy elke dag net in die realiteit van die sleg, die pyn en lyding van die lewe leef. Net so sal jy doodgaan van die honger wanneer jy net in die droomwereld leef en dink dat dinge sommer net gaan verdwyn of uit die lug gaan val vir jou.


Dit is ons "absolute" denke wat die probleem veroorsaak. 'n Vriend van my se altyd: "Bid asof werk nie gaan help nie, en werk asof gebed nie gaan help nie". Ek dink dit vat dit baie mooi saam, want die kritiek wat die twee groepe teenoor mekaar het is juis omdat hulle nie die ander kant insien en balans kan vind in hulle lewens nie. Dit is weer die konsep van En-En, teenoor OF-OF. Ek is die laaste persoon wat dit regkry in my lewe, so ek weet hoe moeilik dit is. Dit is natuurlik wat die Bybel ook bedoel met dat daar 'n tyd vir alles in die lewe is.


Dit is vir ons baie inspirerend om Biografiee te lees van mense wat 'n "onmoontlike" droom gehad het wat stand gevind het in die realiteit. Dit is se, en daar stem ek saam met die groep realiste, en dit is dat as jou droom nie in die realiteit getoets kan word nie, dan is dit net 'n wolkie wat erens in die lug rondsweef. Net so verstaan ek ook dat geen werklike verandering in ons wereld sou plaasgevind het, sonder dat iemand eers 'n droom gehad het nie. Werklike suksesvolle mense, is daardie mense wat "beheer" oor beide "dimensies" van droom en realiteite in hulle lewens het.


Een ding wat ek wel in my lewe besef het, is dat 'n mens se persoonlikheid ook 'n rol speel, saam met jou agtergrond en jou opvoeding. Ek is dalk meer van 'n dromer, aangesien ek meer tussen mense leef wat realiste is. Ek het lank gedink dat die realiste die dromers "aftrek", maar in werklikheid is drome nie "bo" realiteit nie, maar saam met realiteit is drome die ander kant van die muntstuk. Goud word getoets in die smeltkroes van die realiteit, so ook word drome getoets in die realiteit van elke dag.


Een ding wat ons soms vergeet, en dit is waar geloof inkom, is dat daar 'n God is wat oneindig groter is as al ons drome en realiteite. Geen probleem wat jy het is onoorkombaar nie, maar as ek nie die geloof het nie, gaan ek in die modder van my lewe ook bly bestaan. As ek nie my drome aan God toevertrou nie, dan is daar ook geen moontlikheid dat dit ooit sal plaasvind nie. In geloof, word my pyn en lyding minder, en in geloof word die "onmoontlike", moontlik. Dit is natuurlik deur die eeue mense se probleem met geloof, en dit is dalk waar die woorde van in "sonde ontvang en gebore" verstaanbaar word. Maar dit is dalk presies wat God van ons verwag, is om te midde van die wolke oor en om ons, tog altyd te weet en te glo dat die son van Sy genade oor ons skyn, al is dit nie sigbaar nie. Om in jou slegste oomblik te verstaan dat al kan jy dinge nie sien nie, en God dalk ook nie, Hy steeds daar is om oor jou te waak en vir jou uitkoms te gee.


Wanneer jou drome waar word, dan se mense gewoonlik dat jy 'n hero is, maar wanneer dit nie in die realiteit grond vat nie, dan is jy werklik net 'n dromer. As jy net in jou realiteit leef en net jou ogies hou op die riooldam waarin jy is, sal die reuk in jou neus altyd walglik wees, en sal jy nooit die blommetjies gaan ruik nie. In dieselfde sin, is wanneer jy net droom, beland jy ook in die rioolput, so wees maar versigtig om een bo die ander te kies.


Miskien is vandag die dag wat jy moet leer om te balansseer, tussen jou drome en die realiteit, en verstaan dat die een nie sonder die ander kan bestaan nie. Al skyn die son bo die wolke, vat maar 'n sambreel saam.

Monday, November 3, 2014

Hardekwas raad

Een van die grootste probleme van menswees, is dat ons so graag erkenning soek vir wie en wat ons is.  Om hierdie rede, hou ons gladnie van verskillende opinies, of van mense wat verskillend dink as ons nie.  Ons hou nie van dit nie, want ons dink om een of ander rede dat "andersheid", 'n refleksie is op ons, en meer nog kritiek is op en oor ons manier van leef. 

Toe ek dominee was en mense in my studeerkamer gekonsulteer het oor hulle probleme, het ek baie vinnig geleer dat wat hulle ons in sielkunde geleer het waar is.  Jy moet luister, want mense wil HULLE storie vertel, en jy gee nie raad nie, want as iemand nie self by die antwoord uitkom nie, sal al die raad in die lewe hulle nie help nie.  Ek het dit soveel keer getoets, en gesien mense slaan toe as jy net iets se wat nie skroom met hulle idees nie. 

My oom kuier hier uit Holland, en daar is tussen hom en my ma en myself die hele tyd redenasies.  In die eerste week het dit my baie ontstel, tot ek besef het hoe gelukkig ek is om groot te geword het, baie sal se ek moet nog grootword, in 'n huis waar niemand niks vir soetkoek opgevreet het nie.  Daar was altyd miljoene standpunte en nuwe idees, oor God, die huwelik, menswees en selfwees.  Vir ander lyk dit asof ons permanent in rusie is, terwyl ons eintlik leef soos mense moet leef.  Verstaan mooi, ons gooi mekaar nou nie met goed nie, en terwyl ons oor mekaar praat en mekaar in die rede val, hoor ons tog altyd dat daar 'n nuwe en ander manier is om oor iets te dink.  Wat dit lekker maak is die dinamika van denke, want dit is tog nie lekker om daagliks dieselfde ou stories te hoor nie.

Een ding wat ek weer geleer het, is dat mense nie hou daarvan wanneer hulle appelkar omgekeer word nie.  So baie mense sit in haglike omstandighede, maar hulle sal eerder daar bly en stories opmaak, want die sekerheid, al is dit hoe haglik, is vir hulle beter as die onsekerheid.  Ek het baie vriende in my lewe verloor, want ek was blatant eerlik met hulle oor my opinie.

'n Vriendin kontak so 'n paar weke gelede na 'n klompie jare.  Sy was 'n universiteitsvriendin van my eks vrou.  Sy ontmoet toe 'n man, en hulle vra my om hulle te trou.  Oppad na die troue wat ek toe behartig, sit my eks-vrou en haar vriendin in die motor en praat van hoe 'n groot fout hierdie huwelik is.  Nie een van hulle twee, of ek, het die moed om dit vir haar te vertel nie.  Ons gaan toe maar deur met die troue.  So amper 2 weke later daag sy oukersaand met 'n tassie voor ons huis op, en vertel hou ongelukkig sy is, lang storie oor wat gebeur het.  Toe vertel ons vir haar dat ons so gevoel het, en sy was ongelukkig met ons dat ons stilgebly het.  So was dit ook die einde van ons vriendskap met haar, omdat ons nie haar gevoelens wou seermaak nie, het ons ook nie die regte ding gedoen en ons monde oopgemaak nie.

Ek verstaan dat sy dalk op daardie oomblik nie ons raad sou gevolg het nie, maar sy het nodig gehad om ons te hoor.  Raad gee is nie altyd wat mens wil hoor nie, want ons kan maklik dink iemand vind ons simpel of stupid, maar dit is tog belangrik.  Ek het daardie dag besef dat ek wel, al lei dit tot hartseer, eerlik met ander moet wees, want as iemand nie my omgee reeds verstaan nie, is daar elkgeval nie 'n verhouding nie.  Ek het ook verstaan dat mense uitpraat, juis wanneer hulle op 'n laagtepunt in hulle lewens is, en dit is natuurlik ook die laaste oomblik dat hulle raad van enige aard wil hoor.  Dan soek hulle eintlik net 'n sagte drukkie en 'n gevoel dat hulle OK is.  En om hulle te beskerm, dan se ons maar wat hulle wil hoor.  Maar ek het na die trouinsident besef dat 'n mens wel dan jou se moet se, en as iemand jou oor jou opinie wil aanvat, nou ja, dan moet hulle maar. 

Verder het ek besef dat in traumatiese tye, hulle lewens nie sin maak nie, omdat wat hulle dink en doen op daardie oomblik, juis die oorsaak van hulle ongelukkigheid is.  Hulle vertel jou van wat hulle gese en gedoen het, en het nie altyd die insig om te verstaan dat as hulle dit oor en oor gaan doen, die uitkoms dieselfde gaan wees nie.  Ek het verlede week 'n blog geskryf waarin ek mense in my lewe om verskoning gevra het, want ek maak baie mense om my seer.  Maar ek het skielik besef dat hulle my in 'n nuwe rigting wou stoot, omdat hulle omgegee het, maar ek was te hardkoppig om te luister.  Ek het so swaargekry in myself dat ek net erens vashouplek gesoek het, al was dit aan my krom idees.  Vandag verstaan ek dat ek baie van hulle weggejaag het, omdat ek beter wou weet.  Al het ek in my hart geweet hulle is reg, kon ek nooit hulle die respek toon om te luister en te verstaan  en te skuif nie.

Die Bybel leer ons dat jy yster met yster slyp.  Ek hoor in dit dat hoe meer "hardegat" ek is en hoe meer rigied ek nie wil skuif nie, hoe harder moet die yster wees om my te skuif na waar God wil he ek moet leef.  Dit is maklik om in goeie tye te kan skuif, maar dit is juis dan wat jy dit nie nodig het nie.  Dit is wanneer die alarms afgaan dat jy moet wakker skrik, en dan is daar die tyd vir jammer kry en ag-shamepies drukkies nie.  Ek het nie geluister nie, ek wou nie hoor nie, en ek het hulle wat raad gegee het, nie net hulle raad verontagsaam nie, maar hulle ook sommer weggestoot.  Maar ek het, genadiglik die laaste week besef dat die wat daar is met harde klinkharde ysterraad wat seermaak, werklik omgee.  Die wat nie omgee nie het lankal moed opgegee en geskuif, want niemand kan aanhou en aanhou as jy nie wil luister nie.

Ek het besef dat EK moet luister, na soveel as moontlik mense, veral die wat daar is in my donkerste uur.  Of hulle nou reg of verkeerd is is nie belangrik nie, maar dat hulle daar is beteken dat ek ten minste wat hulle se ter harte moet neem.  Logies maak dit tog sin.  As ek so slim was en al die mag en pag besit het en volmaak was, sou ek tog nie in die gat beland het nie.  En daar is ander mense wat dalk al by Sun City was en die pad daarheen ken, hoekom sal ek nou, soos meeste mans, nie vra vir aanwysings nie?  As ek verdwaal, vra ek vir rigting.  En hoe onlogies sal dit dan wees om skielik dan eerder om die N1 Kaapstad pad te bly, as my bestemming Sun City is?  En dan wonder ons, met groot verbasing hoekom ons nooit daar uitkom nie. 

As daar een persoon is wat verstaan hoe dit voel om te verdwaal, is dit ek.  En ek vra om verskoning weereens aan al die mense wat my probeer help het, en steeds doen, dat ek so hardegat is.  Maar een ding besef ek, dalk draai ek by Beaufort-Wes, kan ek enige tyd begin vra vir raad, luister na aanwysings, want ek gaan bietjie laat aankom by Sun City, ek het dalk tyd en petrol en moeite gemors, maar ek kan by my bestemming uitkom.

Albert Einstein het gese dat die toppunt van "stupidity" is om dieselfde ding oor en oor te doen en 'n ander uitkoms te verwag.  Soms is die groewe van aangeleerde gedrag so diep in ons, dat ons sukkel om uit dit te kom, maar die eerste stappie is om te weet dit is nie die enigste manier van dink en doen nie.  Om te dink dat jy reg is, is goed, maar om te dink dat jy die enigste een is wat reg is, dit is waar die probleem inkom.  Ek is besig om reuse spronge in my kop te maak die laaste week.  Ek besef so goed dat dit manier hoe ek dinge doen nie my gaan uitbring by waar ek wil wees nie.  Ek besef ook dat ek nie maar net die kar se neus in dieselfde rigting kan hou nie, want ek gaan net verder en verder weg van my bestemming.  Draai die neus om, luister na die raad, volg die raad en sorg ten minste dat jy in die rigting van die bestemming ry.  Geen meer mooi storietjies praat of skryf of vertel nie, want niemand glo dit meer nie, selfs ook nie meer jy nie.  En 'n nuwe storie maak, help niks, dit verwar net almal wat vir jou by Sun City wag.  Hulle speel al lekker gholf en swem in die see, terwyl jy nog karring met die hitte van die karoo en kindertjies wat vra:  "Hoe ver nog?"

Verstaan dit werk nie, wees bewus dat dit nie werk nie, want Sun City lĂȘ nie op die N1 Suid nie!

Wednesday, October 29, 2014

Ek vra om verskoning

Vandag wil ek nie probeer om slim te klink nie. Ek skryf baie, maar baie mense kritiseer my daaroor, want my lewe kom nie uit by my woorde nie. En vandag, sonder om myself te verantwoord, wil ek bieg en om verskoning vra.

Dit is so maklik om te preek, en nog makliker om vir die wereld te skryf en te vertel hoe hulle moet wees. Dis maklik om te blammeer en die wereld om jou te beskuldig en nooit self na binne te kyk nie. Dit kan maklik word om te verwag van ander en verskonings te maak, want dit word n mooi bossie waaragter jy kan wegkruip. Jy verantwoord jouself, maar jy leer nooit die lesse wat jy moet leer nie. Jy verwag ander moet by jou leer, terwyl jy nooit luister en by hulle leer nie. Soms verwag jy van die wereld om jou te hoor, jou te aanvaar, maar jy doen dit nooit met hulle nie. Jy wil skree van frustrasie, maar sien nooit die frustrasie in hulle harte raak nie. Jy word kwaad as jy voel hulle vertrap jou, maar kyk nooit af om al die lyke onder jou eie voete te sien nie.

Die lewe gaan nie oor jou en jou alleen nie. Ons vergeet Jesus se boodskap in die wye sin. Jesus het Sy lewe vir ander gegee, te midde van die kritiek. Jesus het ons geroep om mekaar te dien, nie onsself nie. 

Ek kyk vandag diep in myself in en vra om verskoning. En ons moet besef dit is nie n martellaars vergiffenis nie, maar een van harde werklikheid en realiteit. Ek staan eensaam en alleen, bakhand voor almal altyd, maar my hart is nie oop nie. 

Ek onthou dat ek jare terug n kursus bygewoon het, en ek onthou die woorde: "verstaan eers en luister, voordat jy self verstaan en gehoor kan word". Ek weet dit eintlik, maar op hierdie dag verstaan ek dit eers. Ek verstaan vandag, en daarom vra ek om verskoning.

Jy sien, vandag verstaan ek dat my houding en denke my situasie veroorsaak het. Vandag preek ek nie vir iemand nie, net vir myself. 

Ons dink ons vermag die lewe as ons druk, en almal wat ons kritiseer is veral verkeerd, want hulle verstaan nie. Vandag is die beginpunt waar ek gaan luister, hoor en verstaan. 

En miskien word hierdie dag ook die dag wat jy die foon optel en vrede vir ander gee. Dalk is en was dit nog altyd die boodskap van die liefde van God wat ons misgekyk het. Wel, almal van ons het.

In die voorbeeld van Jesus, jou lewe vir ander gee, en niks terug verwag nie. En selfs wanneer hulle jou aan die kruis vasspyker, nog steeds vergewe uit liefde.

Deon Lewis
+27847970181
+27760464422

Tuesday, October 28, 2014

Sieledood

The day the music died

Ons het almal sekere oomblikke en insidente wat ons lewens ingrypend verander. Mense onthou waar hulle was met 911, met Oscar se vonnis, en as jy ouer is toe Verwoerd vermoor is. In jou eie lewe is daar net sulke insidente, wat jou lewe geruk en verander het.

Hierdie indidente word onthou agv die impak op jou lewe. Sommiges daarvan laat jou hart bokspring en dan is daar daardie wat jou stukkies van jou siel laat doodgaan

Ek gaan nie baie ingaan op die positiewe insidente nie, maar wat doen jy wanneer jou siel sterf en jou hart uit jou binneste geruk word?

Ek ken dit so goed in my eie lewe, en alhoewel ek siel-dood voel, probeer ek tog dinge om myself lewendig te kry.

1.  Besef dat die lewe vol insidente en realiteite is. Jy kan probeer nes jy wil, jy is elke dag blootgestel daaraan. As jy weet en verstaan dat miljoene mense deur die eeue ook dieselfde as jy deurgemaak het, maak dit dit makliker. Dit laat jou verstaan ook dat wat gebeur het nie persoonlik is nie, die lewe het nie n vendetta teen JOU nie. 

Selfs die mense wat jou hart uitruk, ja soms is dit persoonlik veral in n verhouding, maar meeste kere nie met opset nie. Jesus se aan die kruis: "vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie. Dit is seker die moeilikste ding om so daaraan te dink. Maar vir JOU herstel moet jy so dink. Ek vat niks weg van die feit dat daar mense tussen ons rondloop met erge afwykings nie, dit is so. Maar oor die algemeen probeer mense maar net leef en bestaan.

2. n Saak het nooit net een kant as oorsaak nie. Hierdie is baie moeilik vir ons almal om te besef en te aanvaar. Ons hou daarvan om die sondebokke en oorsake te soek. Dit is menslik, maar goddelike liefde wat ons help besef dat niks buite konteks gebeur nie.

Daar is 2 probleme wat opduik met sondebok soek. Die eerste is dat ons geen blaam vir situasies deel nie. n Huwelik wat opbreek is tog n spel tussen mense. As een rugbyspeler n fout maak, ja, dan was dit dalk die oorsaak van die verloor, wat uitgewys kan word, maar die hele span was tog op die veld. Almal het n rol te speel, en so is dit met die lewe ook.

Die tweede is dat ek myself die res van my lewe kasty oor die keuses wat ek gemaak het. Ons hou so daarvan, en besef nie hoe dit die res van my lewe vorentoe beinvloed nie.

Alles gaan oor liefde, of die tekort daaraan. Wees altyd bewus en gee jouself ruimte om te weet dat alles in lewe n knippie sout nodig het. Gee jouself ruimte om te vergewe, ander en jouself.

Die spreekwoord lei tog dat mense in glashuise nie klippe moet gooi nie, maar dalk is ons probleem dat ons dink dat ons nie in glashuise woon nie. As ek my foute en psigiese staat en denke verstaan, besef ek dat ek nooit kan of mag oordeel nie.

3.  Kom oor dit. Ons dink dat as ons aanhou om "dood" te voel en te leef, daar een of ander prys van erens sal kom. Sukses kom nie deur alles op n skinkbord te kry of om nooit probleme en krisisse te ondervind nie. Sukses is om ten spyte van terugslae op te staan en te leef. 

Hou op om vasgeval te bly in jou gevoelens, en dit is n besluit. Ek het baie dae nie krag om op te staan nie, maar staan op, gaan doen iets, al was jy net skottelgoed.

Doen elke dag iets by, en kort voor lank het jy die lewe wat jy verwag. Om oor jou dood te kom, is stelselmatig en in hanteerbare bytstukkies. Dit bly n bewuste besluit, want sonder die besluit sal niks tog gebeur nie.

As jy ook nie uit dit kom nie, gee jy die persoon of situasie van hartseer die mag om dit oor en oor aan jou te doen.

4. Is dit werklik so erg?

Soms maak ons ook ons hartseer en pyn n groter drama. Misery loves company, en ek kry soms die idee dat ons hou van die pyn van n situasie. Ons wil graag n sad storie he om te vertel.

Ek besef self hoe erg n situasie in my lewe is, maar dalk maak ek dit groter. Op universiteit het jy nooit genoeg tyd nie en die werk is baie. As jy al 12 boeke wat jy more moet ken op die lessenaar sit, gaan jy vinnig moed verloor. Sit net een op n slag neer en fokus net daarop, en dan sal jy vorder.

Ons kan ons brein programmeer nes ons wil, so ook oor jou probleme kan jy kies. 

5. Aanvaarding

Een van my dominee kollegas het sy seun verloor aan selfmoord.  Een dag vra ek vir hom of dit moontlik is om so n enorme pynvolle situasie te verwerk. Hy antwoord dat daar sekere dinge is wat soos rotse voor mens le wat jy nie kan oorkom nie, jy aanvaar dit net en leef daarmee saam.

Soms is ons trauma so enorm, en om eerlik te wees, onoorkombaar. Jy kan nie teruggaan en gaan verander nie, en soms moet jy net aanvaar en jou lewe leef.


Deon Lewis
+27847970181
+27760464422

Monday, October 20, 2014

Onderskeid en Afstand

Ek kuier so lekker met my oom wat uit Holland hier by ons kuier. Dit is heerlik om met iemand te gesels wat in 'n ander land bly, en ander tipe blootstelling het as wat ons baie keer het. Ek besef gister weer dat een van die belangrikste aanlegte wat jy kan aanleer in jou lewe, die vermoe is om te kan "onderskei". Dit is altyd moeilik wanneer jy sulke woorde gebruik, want nie almal verstaan dit op dieselfde manier nie.


My definisie daarvan is dat dit die vermoe is om jouself in die eerste plek uit te haal uit 'n situasie, en van daar objektief en van 'n afstand na 'n situasie te kyk. Wanneer ek kyk na al die interpersoonlike konflikte wat ons beleef, asook die innerlike stryd wat ons elke dag voer, besef ek meer en meer hoe moeilik dit vir mense is om hulleself los te maak van hulle denke en emosies. Ons praat baie keer van fundamentalistiese denke, waarin mense "vasgevang" is en voel aan wat hulle in glo, sonder om ooit ander mense en idees die voordeel van die twyfel te gee. Ons was almal al vasgevang in sulke situasies, waar jy voel dat wat jy ookal se of doen nie "gehoor" word nie.


Ons verstrengel onsself daagliks in hierdie omstandighede waarin ons so voel, en ons raak so "betrokke" by ons emosies en denke, dat ons nie helder kan dink nie. Hoeveel keer in jou lewe het jy al oorreageer in 'n situasie, net om na 'n tyd te besef hoe jy dit anders sou hanteer het as jy die tyd gehad het? Wanneer ek dus tyd of afstand van 'n situasie kry, kry ek gewoonlik perspektief, en dan kan ek skielik onderskei oor wat 'n "beter" of "ander" manier die situasie beter sou gemaak het.


Ek vergelyk die vermoe baie keer met 'n skaakspel, want daar is 2 dimensies, jy kan of een van die skaakstukke wees, of jy kan die speler wees wat met visie jou spel makliker kan speel. Dit is natuurlik nie so maklik nie, want die lewe het plekke waar ons so verstrengel is, soos byvoorbeeld verhoudings met mense om ons. In baie gevalle, wanneer ons nie hierdie onderskeidingsvermoe het nie, dan vind ons dat ons "oermens" oorneem. Dit is daardie deel van jou brein wat of wil veg of wil vlug. Jy voel bedreig deur mense en kommentaar, dat dit jou die pad wil laat vat, of jy veg terug met jou tong en jou woorde.


Dit laat my dink aan die woorde van Romeine: "Moenie aan hierdie sondige wereld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle kan ONDERSKEI wat die wil van God is". Dit is so waar, want die pad van die "wereld" is om te baklei en te veg vir jou plek van bestaan. En dit is heel moontlik hoekom die wereld in geheel, lande, huwelike, verhoudings ens in so 'n verskriklike toestand is. Daagliks word mense uitmekaargeskeur, en al wat rondom ons te siene is, is net hierdie massagraf van gebreekte mense.


Hierdie onderskeidingsvermoe, is eintlik waaroor die woord "genade" in die Bybel handel. Genade beteken dat almal moet besef dat jy nie volmaak is nie, en dat die persoon rondom jou nie volmaak is nie. Wanneer jy besef dat jy 'n balk in jou oog het, sien jy ander se tekortkominge op 'n ander manier en dit is dat mense net mense is. Nie een van ons is perfek nie, en almal probeer maar net die lewe leef. Niemand het "noodwendig" hulle mes in vir jou en maak jou opsetlik seer nie, want elkeen van ons kom met emosies, voorgestelde idees en agtergronde wat ons aksies, idees en denke beinvloed.


Om hierdie onderskeid te vind in jou lewe, beteken nie dat jy superieur is aan ander mense is nie. Verder beteken dit ook nie dat jy skielik al die antwoorde vir die lewe het nie. Wat dit wel beteken is dat jy dinge sien uit 'n ander perspektief, en jy is nie so intens betrokke dat jy slegs op 'n dierlike instinktiewe manier dink en doen nie. Deur afstand te kry, ondervind jy die vryheid daarvan dat jy dinge in konteks kan sien, kan analiseer, wat dalk nie vroeer moontlik was nie, omdat jy te intens dierlik betrokke was.


Vat vandag bietjie afstand van jouself en jou situasie. Beoordeel so effens jou besluite en aksies, want deur dit te doen, gaan jou besluite nie noodwendig reg uitloop nie, maar gee dalk vir jou 'n beter basis van waar jy jou besluite kan neem. Deur net 'n asemteug of twee tussen besluite te neem, gee jou brein die kans om anders te dink. Dalk is dit miskien net die verskil tussen verwoesting van jou lewe, en 'n gemakliker stresslose lewe.


Ek hoop dat hierdie vir jou week iets gaan beteken, sodat jy dalk meer in beheer voel van jou lewe, selfs wanneer jy voel dat ander jou lewe beheer. Kom weg van intuitiewe aksies, en deurdink, onderskei en haal asem voordat jy aksie neem. Dit gee dalk vir jou daardie breekdeel van 'n sekonde om te besef dat jy dalk nie altyd reg is nie, krities te wees oor jou eie standpunte, en deernis te vind met die mense om jou se aksies, denke en besluite.


Stel jouself voor wat die wereld sal wees indien alle mense dit kan regkry? Maar een persoon se aksies kan die wereld om ons verander. Miskien moet jy net terugstaan en na jou bediende kyk en verstaan dat sy 3 uur vanoggend al haar eerste bus gevang het om vanoggend in tyd by jou huis te wees, so wat maak dit nou werklik saak as sy een dingetjie verkeerd doen. Miskien verstaan jy dat jou kind vandag stress en bang is vir 'n toets of 'n klas, en as hy sy broodjies by die huis vergeet, dit nie opsetlik is nie. Dalk verstaan jy dat die raad wat jy van 'n geliefde kry nie daar is om jou te vertel hoe sleg jy is nie, maar omdat hulle vanuit hulle perspektief jou wil help. En so kring jou lewe uit tot 'n wonderlike week waar jy nie die septer swaai nie, maar waar jy in Jesus se voorbeeld mense dien en hulle vergewe omdat hulle die beste doen wat hulle kan!

Thursday, October 16, 2014

Krom stokke, reguit houe

Ek het gisteraand die nuwe film Noah gesien.  Die verhaal van Noag word op n totaal nuwe manier vertel. Wat my egter aangegryp het, is n herhaling van n tema wat dwarsdeur die Bybel in meeste verhale gesien kan word. Die Bybel se verhale handel gewoonlik oor gewone mense. God bereik soveel dinge deur mense wat nie altyd aansien het of reeds suksesvol is nie.

Dit lyk vir my dat daar n skaal is, want waar mense nederig en soms minderwaardig is, is waar die regte beeld van mens en God mekaar ontmoet. Wanneer ons swak en nederig is, dan besef ons ons afhanklikheid van God. Dit is juis wanneer mens klein is, wanneer hy die grootheid van God raaksien. Ek voel soms dat hoe minder ek in die blokkie is, hoe meer plek het God om Sy wil in my lewe te doen.

Ons werk elke dag so hard aan ons eie beeld, omdat ons dink dit bring sukses. Ons voel ongemaklik wanneer ons minderwaardig is, of onsuksevol voel in die lewe. Elke dag oortuig die media ons dat ons lelik of vet is. Mense om my herinner my deurgans van my tekortkomings en mislukkings. Mense gooi jou weg omdat jy nie aan standaarde voldoen wat hulle stel nie. Mense beskinner en spot jou, soos ook met oa Noag.

Jou visie en idees lyk vir hulle gek, mal en onredelik. Jy vul jouself met twyfel en depressie. Jy meet jouself aan hulle idees. Soms gooi die idees jou saam met Josef in die put. Jy twyfel in jou vermoens soos Moses en Aaron. 

Wanneer jy so voel, dan neem jou twyfel so beheer van jou lewe, dat daar ook nie vir God plek is in jou lewe nie. Dit kan meer gevaarlik wees as hoogmoedigheid. 

Genadiglik werk God anders. God het net geloof en vertroue van ons nodig. Die verhale in die Bybel wys dat God reguit houe slaan met krom stokke, want wanneer ons swak is, dan sien ons God se krag in ons lewens. Wanneer ek min is, staan ek in verwondering oor wat God vermag in ons en deur ons.

Jesus kon natuurlik belangrike mense gekies het as Sy dissipels, maar kies vissermanne. Dit was nodig vir Dawid om gesalf te word, opgetel te word, voordat hy die reus kon oorwin. Paulus moes afstand doen van sy status om sy doel te bereik.

God se pad is duister vir ons, maar wanneer ons hoogmoedig of depressief is, is die pad nog meer duister. Eers wanneer jy besef dat God alles goed laat afloop vir die wat in Hom glo met alles, sal alles wat jou toekom jou toeval. 

Maak plek vir God in jou lewe, skuif op en laat God toe om God te wees.  Jou krom stok sal jou krom houe laat slaan as jy op jou eie staan. Net deur God kan jy in verbasing toekyk hoe God die bal se vlug verander.

Die engelse spreekwoord lei: "let go, let God".  Vandag is die dag wat God vir jou gemaak het, kom oor jouself en jou stryd teen jouself of om te dink dat jy nie waardig is nie. Gee toe en gee jou bestaan oor aan God en Sy wil vir jou lewe.