Thursday, October 16, 2014

Krom stokke, reguit houe

Ek het gisteraand die nuwe film Noah gesien.  Die verhaal van Noag word op n totaal nuwe manier vertel. Wat my egter aangegryp het, is n herhaling van n tema wat dwarsdeur die Bybel in meeste verhale gesien kan word. Die Bybel se verhale handel gewoonlik oor gewone mense. God bereik soveel dinge deur mense wat nie altyd aansien het of reeds suksesvol is nie.

Dit lyk vir my dat daar n skaal is, want waar mense nederig en soms minderwaardig is, is waar die regte beeld van mens en God mekaar ontmoet. Wanneer ons swak en nederig is, dan besef ons ons afhanklikheid van God. Dit is juis wanneer mens klein is, wanneer hy die grootheid van God raaksien. Ek voel soms dat hoe minder ek in die blokkie is, hoe meer plek het God om Sy wil in my lewe te doen.

Ons werk elke dag so hard aan ons eie beeld, omdat ons dink dit bring sukses. Ons voel ongemaklik wanneer ons minderwaardig is, of onsuksevol voel in die lewe. Elke dag oortuig die media ons dat ons lelik of vet is. Mense om my herinner my deurgans van my tekortkomings en mislukkings. Mense gooi jou weg omdat jy nie aan standaarde voldoen wat hulle stel nie. Mense beskinner en spot jou, soos ook met oa Noag.

Jou visie en idees lyk vir hulle gek, mal en onredelik. Jy vul jouself met twyfel en depressie. Jy meet jouself aan hulle idees. Soms gooi die idees jou saam met Josef in die put. Jy twyfel in jou vermoens soos Moses en Aaron. 

Wanneer jy so voel, dan neem jou twyfel so beheer van jou lewe, dat daar ook nie vir God plek is in jou lewe nie. Dit kan meer gevaarlik wees as hoogmoedigheid. 

Genadiglik werk God anders. God het net geloof en vertroue van ons nodig. Die verhale in die Bybel wys dat God reguit houe slaan met krom stokke, want wanneer ons swak is, dan sien ons God se krag in ons lewens. Wanneer ek min is, staan ek in verwondering oor wat God vermag in ons en deur ons.

Jesus kon natuurlik belangrike mense gekies het as Sy dissipels, maar kies vissermanne. Dit was nodig vir Dawid om gesalf te word, opgetel te word, voordat hy die reus kon oorwin. Paulus moes afstand doen van sy status om sy doel te bereik.

God se pad is duister vir ons, maar wanneer ons hoogmoedig of depressief is, is die pad nog meer duister. Eers wanneer jy besef dat God alles goed laat afloop vir die wat in Hom glo met alles, sal alles wat jou toekom jou toeval. 

Maak plek vir God in jou lewe, skuif op en laat God toe om God te wees.  Jou krom stok sal jou krom houe laat slaan as jy op jou eie staan. Net deur God kan jy in verbasing toekyk hoe God die bal se vlug verander.

Die engelse spreekwoord lei: "let go, let God".  Vandag is die dag wat God vir jou gemaak het, kom oor jouself en jou stryd teen jouself of om te dink dat jy nie waardig is nie. Gee toe en gee jou bestaan oor aan God en Sy wil vir jou lewe. 



No comments:

Post a Comment