Monday, October 20, 2014

Onderskeid en Afstand

Ek kuier so lekker met my oom wat uit Holland hier by ons kuier. Dit is heerlik om met iemand te gesels wat in 'n ander land bly, en ander tipe blootstelling het as wat ons baie keer het. Ek besef gister weer dat een van die belangrikste aanlegte wat jy kan aanleer in jou lewe, die vermoe is om te kan "onderskei". Dit is altyd moeilik wanneer jy sulke woorde gebruik, want nie almal verstaan dit op dieselfde manier nie.


My definisie daarvan is dat dit die vermoe is om jouself in die eerste plek uit te haal uit 'n situasie, en van daar objektief en van 'n afstand na 'n situasie te kyk. Wanneer ek kyk na al die interpersoonlike konflikte wat ons beleef, asook die innerlike stryd wat ons elke dag voer, besef ek meer en meer hoe moeilik dit vir mense is om hulleself los te maak van hulle denke en emosies. Ons praat baie keer van fundamentalistiese denke, waarin mense "vasgevang" is en voel aan wat hulle in glo, sonder om ooit ander mense en idees die voordeel van die twyfel te gee. Ons was almal al vasgevang in sulke situasies, waar jy voel dat wat jy ookal se of doen nie "gehoor" word nie.


Ons verstrengel onsself daagliks in hierdie omstandighede waarin ons so voel, en ons raak so "betrokke" by ons emosies en denke, dat ons nie helder kan dink nie. Hoeveel keer in jou lewe het jy al oorreageer in 'n situasie, net om na 'n tyd te besef hoe jy dit anders sou hanteer het as jy die tyd gehad het? Wanneer ek dus tyd of afstand van 'n situasie kry, kry ek gewoonlik perspektief, en dan kan ek skielik onderskei oor wat 'n "beter" of "ander" manier die situasie beter sou gemaak het.


Ek vergelyk die vermoe baie keer met 'n skaakspel, want daar is 2 dimensies, jy kan of een van die skaakstukke wees, of jy kan die speler wees wat met visie jou spel makliker kan speel. Dit is natuurlik nie so maklik nie, want die lewe het plekke waar ons so verstrengel is, soos byvoorbeeld verhoudings met mense om ons. In baie gevalle, wanneer ons nie hierdie onderskeidingsvermoe het nie, dan vind ons dat ons "oermens" oorneem. Dit is daardie deel van jou brein wat of wil veg of wil vlug. Jy voel bedreig deur mense en kommentaar, dat dit jou die pad wil laat vat, of jy veg terug met jou tong en jou woorde.


Dit laat my dink aan die woorde van Romeine: "Moenie aan hierdie sondige wereld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle kan ONDERSKEI wat die wil van God is". Dit is so waar, want die pad van die "wereld" is om te baklei en te veg vir jou plek van bestaan. En dit is heel moontlik hoekom die wereld in geheel, lande, huwelike, verhoudings ens in so 'n verskriklike toestand is. Daagliks word mense uitmekaargeskeur, en al wat rondom ons te siene is, is net hierdie massagraf van gebreekte mense.


Hierdie onderskeidingsvermoe, is eintlik waaroor die woord "genade" in die Bybel handel. Genade beteken dat almal moet besef dat jy nie volmaak is nie, en dat die persoon rondom jou nie volmaak is nie. Wanneer jy besef dat jy 'n balk in jou oog het, sien jy ander se tekortkominge op 'n ander manier en dit is dat mense net mense is. Nie een van ons is perfek nie, en almal probeer maar net die lewe leef. Niemand het "noodwendig" hulle mes in vir jou en maak jou opsetlik seer nie, want elkeen van ons kom met emosies, voorgestelde idees en agtergronde wat ons aksies, idees en denke beinvloed.


Om hierdie onderskeid te vind in jou lewe, beteken nie dat jy superieur is aan ander mense is nie. Verder beteken dit ook nie dat jy skielik al die antwoorde vir die lewe het nie. Wat dit wel beteken is dat jy dinge sien uit 'n ander perspektief, en jy is nie so intens betrokke dat jy slegs op 'n dierlike instinktiewe manier dink en doen nie. Deur afstand te kry, ondervind jy die vryheid daarvan dat jy dinge in konteks kan sien, kan analiseer, wat dalk nie vroeer moontlik was nie, omdat jy te intens dierlik betrokke was.


Vat vandag bietjie afstand van jouself en jou situasie. Beoordeel so effens jou besluite en aksies, want deur dit te doen, gaan jou besluite nie noodwendig reg uitloop nie, maar gee dalk vir jou 'n beter basis van waar jy jou besluite kan neem. Deur net 'n asemteug of twee tussen besluite te neem, gee jou brein die kans om anders te dink. Dalk is dit miskien net die verskil tussen verwoesting van jou lewe, en 'n gemakliker stresslose lewe.


Ek hoop dat hierdie vir jou week iets gaan beteken, sodat jy dalk meer in beheer voel van jou lewe, selfs wanneer jy voel dat ander jou lewe beheer. Kom weg van intuitiewe aksies, en deurdink, onderskei en haal asem voordat jy aksie neem. Dit gee dalk vir jou daardie breekdeel van 'n sekonde om te besef dat jy dalk nie altyd reg is nie, krities te wees oor jou eie standpunte, en deernis te vind met die mense om jou se aksies, denke en besluite.


Stel jouself voor wat die wereld sal wees indien alle mense dit kan regkry? Maar een persoon se aksies kan die wereld om ons verander. Miskien moet jy net terugstaan en na jou bediende kyk en verstaan dat sy 3 uur vanoggend al haar eerste bus gevang het om vanoggend in tyd by jou huis te wees, so wat maak dit nou werklik saak as sy een dingetjie verkeerd doen. Miskien verstaan jy dat jou kind vandag stress en bang is vir 'n toets of 'n klas, en as hy sy broodjies by die huis vergeet, dit nie opsetlik is nie. Dalk verstaan jy dat die raad wat jy van 'n geliefde kry nie daar is om jou te vertel hoe sleg jy is nie, maar omdat hulle vanuit hulle perspektief jou wil help. En so kring jou lewe uit tot 'n wonderlike week waar jy nie die septer swaai nie, maar waar jy in Jesus se voorbeeld mense dien en hulle vergewe omdat hulle die beste doen wat hulle kan!

No comments:

Post a Comment