Monday, November 3, 2014

Hardekwas raad

Een van die grootste probleme van menswees, is dat ons so graag erkenning soek vir wie en wat ons is.  Om hierdie rede, hou ons gladnie van verskillende opinies, of van mense wat verskillend dink as ons nie.  Ons hou nie van dit nie, want ons dink om een of ander rede dat "andersheid", 'n refleksie is op ons, en meer nog kritiek is op en oor ons manier van leef. 

Toe ek dominee was en mense in my studeerkamer gekonsulteer het oor hulle probleme, het ek baie vinnig geleer dat wat hulle ons in sielkunde geleer het waar is.  Jy moet luister, want mense wil HULLE storie vertel, en jy gee nie raad nie, want as iemand nie self by die antwoord uitkom nie, sal al die raad in die lewe hulle nie help nie.  Ek het dit soveel keer getoets, en gesien mense slaan toe as jy net iets se wat nie skroom met hulle idees nie. 

My oom kuier hier uit Holland, en daar is tussen hom en my ma en myself die hele tyd redenasies.  In die eerste week het dit my baie ontstel, tot ek besef het hoe gelukkig ek is om groot te geword het, baie sal se ek moet nog grootword, in 'n huis waar niemand niks vir soetkoek opgevreet het nie.  Daar was altyd miljoene standpunte en nuwe idees, oor God, die huwelik, menswees en selfwees.  Vir ander lyk dit asof ons permanent in rusie is, terwyl ons eintlik leef soos mense moet leef.  Verstaan mooi, ons gooi mekaar nou nie met goed nie, en terwyl ons oor mekaar praat en mekaar in die rede val, hoor ons tog altyd dat daar 'n nuwe en ander manier is om oor iets te dink.  Wat dit lekker maak is die dinamika van denke, want dit is tog nie lekker om daagliks dieselfde ou stories te hoor nie.

Een ding wat ek weer geleer het, is dat mense nie hou daarvan wanneer hulle appelkar omgekeer word nie.  So baie mense sit in haglike omstandighede, maar hulle sal eerder daar bly en stories opmaak, want die sekerheid, al is dit hoe haglik, is vir hulle beter as die onsekerheid.  Ek het baie vriende in my lewe verloor, want ek was blatant eerlik met hulle oor my opinie.

'n Vriendin kontak so 'n paar weke gelede na 'n klompie jare.  Sy was 'n universiteitsvriendin van my eks vrou.  Sy ontmoet toe 'n man, en hulle vra my om hulle te trou.  Oppad na die troue wat ek toe behartig, sit my eks-vrou en haar vriendin in die motor en praat van hoe 'n groot fout hierdie huwelik is.  Nie een van hulle twee, of ek, het die moed om dit vir haar te vertel nie.  Ons gaan toe maar deur met die troue.  So amper 2 weke later daag sy oukersaand met 'n tassie voor ons huis op, en vertel hou ongelukkig sy is, lang storie oor wat gebeur het.  Toe vertel ons vir haar dat ons so gevoel het, en sy was ongelukkig met ons dat ons stilgebly het.  So was dit ook die einde van ons vriendskap met haar, omdat ons nie haar gevoelens wou seermaak nie, het ons ook nie die regte ding gedoen en ons monde oopgemaak nie.

Ek verstaan dat sy dalk op daardie oomblik nie ons raad sou gevolg het nie, maar sy het nodig gehad om ons te hoor.  Raad gee is nie altyd wat mens wil hoor nie, want ons kan maklik dink iemand vind ons simpel of stupid, maar dit is tog belangrik.  Ek het daardie dag besef dat ek wel, al lei dit tot hartseer, eerlik met ander moet wees, want as iemand nie my omgee reeds verstaan nie, is daar elkgeval nie 'n verhouding nie.  Ek het ook verstaan dat mense uitpraat, juis wanneer hulle op 'n laagtepunt in hulle lewens is, en dit is natuurlik ook die laaste oomblik dat hulle raad van enige aard wil hoor.  Dan soek hulle eintlik net 'n sagte drukkie en 'n gevoel dat hulle OK is.  En om hulle te beskerm, dan se ons maar wat hulle wil hoor.  Maar ek het na die trouinsident besef dat 'n mens wel dan jou se moet se, en as iemand jou oor jou opinie wil aanvat, nou ja, dan moet hulle maar. 

Verder het ek besef dat in traumatiese tye, hulle lewens nie sin maak nie, omdat wat hulle dink en doen op daardie oomblik, juis die oorsaak van hulle ongelukkigheid is.  Hulle vertel jou van wat hulle gese en gedoen het, en het nie altyd die insig om te verstaan dat as hulle dit oor en oor gaan doen, die uitkoms dieselfde gaan wees nie.  Ek het verlede week 'n blog geskryf waarin ek mense in my lewe om verskoning gevra het, want ek maak baie mense om my seer.  Maar ek het skielik besef dat hulle my in 'n nuwe rigting wou stoot, omdat hulle omgegee het, maar ek was te hardkoppig om te luister.  Ek het so swaargekry in myself dat ek net erens vashouplek gesoek het, al was dit aan my krom idees.  Vandag verstaan ek dat ek baie van hulle weggejaag het, omdat ek beter wou weet.  Al het ek in my hart geweet hulle is reg, kon ek nooit hulle die respek toon om te luister en te verstaan  en te skuif nie.

Die Bybel leer ons dat jy yster met yster slyp.  Ek hoor in dit dat hoe meer "hardegat" ek is en hoe meer rigied ek nie wil skuif nie, hoe harder moet die yster wees om my te skuif na waar God wil he ek moet leef.  Dit is maklik om in goeie tye te kan skuif, maar dit is juis dan wat jy dit nie nodig het nie.  Dit is wanneer die alarms afgaan dat jy moet wakker skrik, en dan is daar die tyd vir jammer kry en ag-shamepies drukkies nie.  Ek het nie geluister nie, ek wou nie hoor nie, en ek het hulle wat raad gegee het, nie net hulle raad verontagsaam nie, maar hulle ook sommer weggestoot.  Maar ek het, genadiglik die laaste week besef dat die wat daar is met harde klinkharde ysterraad wat seermaak, werklik omgee.  Die wat nie omgee nie het lankal moed opgegee en geskuif, want niemand kan aanhou en aanhou as jy nie wil luister nie.

Ek het besef dat EK moet luister, na soveel as moontlik mense, veral die wat daar is in my donkerste uur.  Of hulle nou reg of verkeerd is is nie belangrik nie, maar dat hulle daar is beteken dat ek ten minste wat hulle se ter harte moet neem.  Logies maak dit tog sin.  As ek so slim was en al die mag en pag besit het en volmaak was, sou ek tog nie in die gat beland het nie.  En daar is ander mense wat dalk al by Sun City was en die pad daarheen ken, hoekom sal ek nou, soos meeste mans, nie vra vir aanwysings nie?  As ek verdwaal, vra ek vir rigting.  En hoe onlogies sal dit dan wees om skielik dan eerder om die N1 Kaapstad pad te bly, as my bestemming Sun City is?  En dan wonder ons, met groot verbasing hoekom ons nooit daar uitkom nie. 

As daar een persoon is wat verstaan hoe dit voel om te verdwaal, is dit ek.  En ek vra om verskoning weereens aan al die mense wat my probeer help het, en steeds doen, dat ek so hardegat is.  Maar een ding besef ek, dalk draai ek by Beaufort-Wes, kan ek enige tyd begin vra vir raad, luister na aanwysings, want ek gaan bietjie laat aankom by Sun City, ek het dalk tyd en petrol en moeite gemors, maar ek kan by my bestemming uitkom.

Albert Einstein het gese dat die toppunt van "stupidity" is om dieselfde ding oor en oor te doen en 'n ander uitkoms te verwag.  Soms is die groewe van aangeleerde gedrag so diep in ons, dat ons sukkel om uit dit te kom, maar die eerste stappie is om te weet dit is nie die enigste manier van dink en doen nie.  Om te dink dat jy reg is, is goed, maar om te dink dat jy die enigste een is wat reg is, dit is waar die probleem inkom.  Ek is besig om reuse spronge in my kop te maak die laaste week.  Ek besef so goed dat dit manier hoe ek dinge doen nie my gaan uitbring by waar ek wil wees nie.  Ek besef ook dat ek nie maar net die kar se neus in dieselfde rigting kan hou nie, want ek gaan net verder en verder weg van my bestemming.  Draai die neus om, luister na die raad, volg die raad en sorg ten minste dat jy in die rigting van die bestemming ry.  Geen meer mooi storietjies praat of skryf of vertel nie, want niemand glo dit meer nie, selfs ook nie meer jy nie.  En 'n nuwe storie maak, help niks, dit verwar net almal wat vir jou by Sun City wag.  Hulle speel al lekker gholf en swem in die see, terwyl jy nog karring met die hitte van die karoo en kindertjies wat vra:  "Hoe ver nog?"

Verstaan dit werk nie, wees bewus dat dit nie werk nie, want Sun City lê nie op die N1 Suid nie!

No comments:

Post a Comment